Kyk reguit vorentoe an ’n Christen
DIE robbejagters was hopeloos verdwaal in ’n wêreld wat net uit ys en verblindende sneeustorms bestaan het. Toe dinge op hul ergste was, het een van hulle gesê: “Ek dink nie dat een van ons sal lewe om die verhaal te vertel nie.” ’n Paar van die manne het egter botweg geweier om tou op te gooi. Een van hulle, ’n groepleier, het met teerheid aan sy verloofde gedink. Toe sy afgematte metgeselle wou tou opgooi, was haar gesig voortdurend voor hom. Hy was nie van plan om te sterf nie, en hy het sy kamerade aangespoor om nie in die sneeu te gaan lê nie, maar om aan te hou beweeg. Hy en sowat 50 ander mans het die ramp oorleef. Sy liefde vir sy verloofde, met wie hy later getrou het, en die duidelike beeld van haar gesig in sy geestesoog het baie van die dood gered.
Hierdie ware verhaal lig toe hoe belangrik dit is om nooit ons doelwit in die Christelike stryd om die lewe uit die oog te verloor nie. Die Christelike stryd om nie van die regverdige pad af te dwaal nie, kan soms net so moeilik wees soos die stryd van daardie afgematte robbejagters. Die dood tree in wanneer ’n persoon ophou om te “stry” en dan swig voor die oorweldigende begeerte om te gaan lê en slaap. Hoe gelukkig is diegene tog wat in hulle geestesoog ’n beeld het wat hulle aanspoor om reguit vorentoe te kyk en nie tou op te gooi nie!
Dit is presies wat getroue manne van die ou tyd gedoen het. In plaas daarvan om sy vorstelike lewenswyse in die hof van Farao van Egipte voort te sit, het Moses byvoorbeeld verkies “om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God”. En waarom het hy hierdie keuse gedoen? “Want hy het uitgesien na die beloning.” Ja, Moses het vorentoe gekyk en nie alleen die beloning nie, maar ook die Een wat so ’n beloning uitgehou het, gesien. Moses het as’t ware “die Onsienlike”, sy God Jehovah, gesien.—Hebr. 11:24-27.
Jesus Christus het ook nie die bittere stryd om sy onkreukbaarheid te handhaaf gewonne gegee nie, selfs al moes hy dit doen met “sterk geroep en trane” (Hebr. 5:7). Hy het gehoorsaamheid geleer uit wat hy gely het en voortdurend reguit vorentoe gekyk na die beloning wat sy Vader, Jehovah, hom voorgehou het.—Hebr. 12:2.
WAT ONS SIEN AS ONS REGUIT VORENTOE KYK
Die allerhoogste God openbaar homself aan die mensdom deur sy naam Jehovah en deur sy liefde, barmhartigheid, tere sorg en vrygewigheid (Ps. 83:18, NW; Hand. 14:17). Jehovah was so mildelik met hierdie dinge dat ons net soos getroue Job van die ou tyd behoort uit te roep: “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien” (Job 42:5). Met die geloofsoog sien ons ook hoe Jesus aan die regterhand van God in die hemel sit. Hy is die een wat sy lewe gegee het om ons uit slawerny aan sonde en die dood te verlos. Wat ’n verruklike gesig om te aanskou!—Kol. 3:1, 2; vergelyk Handelinge 7:55, 56.
Asof dit nie genoeg is nie, sien ons ook op die horison die gloed van ’n nuwe daeraad. Die dag wanneer God se koninkryk die aarde in ’n paradys gaan omskep, is ophande! Ons moet nooit hierdie werklikhede uit die oog verloor nie. Ons oog moet in fokus wees soos die akkuraat ingestelde lens van ’n goeie kamera, sodat die dinge wat op ons wag ’n duidelike indruk op ons gees en hart kan maak.
“Die lamp van jou liggaam is die oog”, het Jesus gesê. “As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig’’ (Luk. 11:34, NAB). Wanneer ’n regte oog na Jehovah God, sy Seun en die Koninkryk gerig is, sal ons selfs in die moeilikste omstandighede nie toegee aan die neiging om tou op te gooi nie. Ons sal dus deeglik ag slaan op die vermaning: “Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou. Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees.”—Spr. 4:25, 26.
INSPANNING IS NODIG OM REGUIT VORENTOE TE KYK
Uit die ware verhaal wat aan die begin vertel is, blyk dit dat groot inspanning nodig is om in uiterste situasies vorentoe te beur. Die neiging is om tou op te gooi en te gaan lê. Op hierdie oomblik van wêreldgeskiedenis lewe ons in die uiterste situasie waarteen Paulus ons in 2 Timotheüs 3:1 gewaarsku het: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.” Alhoewel baie Christene uitstekende voorbeelde van volharding bied, toon ander tekens van vermoeidheid en gee party selfs die stryd gewonne. Dit is ’n groot hulp om bewus te wees van party van die redes waarom ’n Christen simptome van vermoeienis begin toon en, bowenal, om te weet wat gedoen kan word om dit te verhelp. Die volgende faktore het sekere Christene gehelp om vorentoe te bly kyk wanneer hulle moed verloor het of amper tou opgegooi het.
VERKRY ’N POSITIEWE BESKOUING
Aanmoediging is ’n groot hulp om te volhard (Hand. 27:33-36). Om ander aan te moedig, het ’n mens ’n positiewe gesindheid nodig, want ’n negatiewe gesindheid het net die teenoorgestelde uitwerking en is ontmoedigend. Ken jy mense met ’n baie negatiewe gesindheid en wat so te sê alles kritiseer? Is hulle gelukkig? Nie alle kritiek hoef natuurlik verkeerd te wees nie, want soms is kritiek gegrond. Maar stem jy nie saam dat negatiewe kritiek so ’n kritikaster moeg maak en hom baie ongelukkig kan maak nie? Omdat die probleem in werklikheid ‘n mens se beskouing van sake is, lê die oplossing in die verkryging van ’n positiewe gesindheid.
Jehovah soek altyd na die goeie, selfs in oortreders. Alhoewel koning Josafat se oortreding God se toorn teen hom laat ontvlam het, het Jehovah die siener Jehu geïnspireer om vir hom te sê: “Tog is daar goeie dinge by u gevind” (2 Kron. 19:3). Wees dus gerus soos Jehovah in hierdie opsig en soek na die goeie in ander mense. As jy byvoorbeeld geneig is om ’n aangestelde ouere man in die Christengemeente te kritiseer, sal dit goed wees om sy talle goeie eienskappe in ag te neem—sy liefde vir Jehovah en die gemeente, sy harde werk om vir vergaderinge voor te berei en sy hulpvaardigheid. Dit sal jou help om van negatiewe gedagtes ontslae te raak. En wanneer jy voor oënskynlik negatiewe situasies te staan kom, kan jy gerus dink aan die goed wat daaruit sal voortspruit indien jy in sulke situasies reg reageer. Ons het die uitstekende voorbeeld van Jesus, wat baie deur die toedoen van sy vyande gely het, maar wat ‘gehoorsaamheid geleer het uit wat Hy gely het’.—Hebr. 5:8.
VERKRY GROTER GELOOF EN VERTROUE
Jy het moontlik ook al mense teëgekom wat toegelaat het dat hulle oorweldig word deur ’n minderwaardigheidskompleks. Selfs Christene kan so deur sulke gevoelens oorweldig word dat hulle hulself as nutteloos beskou en meen dat hulle nie langer geskik is om op die Christelike weg te wandel nie. Maar is dit die regte manier om die saak te beskou? Natuurlik nie. Jehovah se aardse kinders is vir hom baie kosbaar (Hag. 2:7). Niemand wat probeer doen wat reg is, is in sy oë minderwaardig nie. Wat ons dus nodig het, is groter vertroue in Jehovah en groter geloof in God se vermoë om ons deur middel van sy gees bekwame knegte te maak.—2 Kor. 3:5.
In plaas daarvan om onsself toe te laat om mismoedig te word en tou op te gooi, sal ons, met die gemelde punte in gedagte, aangemoedig word om met vertroue reguit vorentoe te kyk. Ons sal vreugde uit volharding put, want “hy wat op die HERE vertrou, is gelukkig”.—Spr. 16:20.
MOENIE BEKOMMERD WEES NIE
Onnodige bekommernis beroof mense ook van die lewensvreugde en put hulle uit. Dat dit op die oomblik ’n belangrike faktor is, word aangedui deur Jesus se woorde oor die “tyd van die einde’’ (Dan. 12:4). Hy het daarop gewys dat “mense se harte [sou] beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”.—Luk. 21:26.
Party mense praat voortdurend oor die veelbewoë tye, die moeilike ekonomiese situasie, die hoë inflasiekoers, die toenemende misdadigheid, die verbrokkeling van gesinslewe, eensaamheid en talle ander onaangename dinge. Weens hierdie bekommernis het selfs party Christene die wil verloor om teen die storm te beur en loop hulle gevaar om hulle lewens te verloor. Daar bestaan dus alle rede om ‘n heeltemal ander beskouing te hê. Hier is Paulus se aangrypende vermaning: “Verbly julle altyd [ja, selfs wanneer probleme ontstaan] in die Here: ek herhaal: Verbly julle! . . . Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” Met watter gevolg? Dan sal “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, . . . julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filip. 4:4-7). So ’n persoon sal nie moed verloor nie.
VERKRY GROTER GEESTELIKHEID
Dit verg baie lewenskrag om onverpoosd in ’n sneeustorm voort te beur. Verminderende energiereserwes in die liggaam moet aangevul word. ’n Christen wat nie voortdurend sy verstand en hart met geestelike voedsel voed nie, sal eweneens sy geluk verloor en moeg word. Indien hierdie toestand te lank duur, sal hy nie op die weg na die lewe bly nie.—Matt. 4:4.
Die klem wat deesdae op genot en afleiding geplaas word, kan selfs eens sterk Christene “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” laat word (2 Tim. 3:4). Dit sal hulle weer beroof van kosbare tyd om hulself geestelik te voed. En materialisme. die ‘besluit om ryk te word’, verg soveel van ’n persoon se tyd dat sy geestelike neiging daardeur vernietig kan word. Paulus se woorde van waarskuwing is veral gepas vir ons tyd: “Omdat sommige dit [geld] begeer, het hulle afgedwaal van die geloof.”—1 Tim. 6:9, 10.
’n Persoon wat in hierdie stormagtige tye vas wil staan, moet sy geestelikheid vergroot deur elke dag tyd af te staan vir ’n studie van die Bybel en Skriftuurlike publikasies. En hy moet probeer om gereeld met medegelowiges te assosieer (2 Tim. 3:16, 17; Hebr. 10:24, 25). Dit sal help om sy verstand en hart die krag te gee wat in Jesaja 40:29-31 beskryf word: “Hy [Jehovah] gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. . . . die wat op die HERE wag, . . . hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”
WANDEL MET GOD
Gelukkig is die persoon wat nie ‘alleen loop’ nie, maar ’n reisgesel het. Ja, “twee is beter as een . . . Want as hulle val, kan die een sy maat optel” (Pred. 4:9, 10). Getroue manne van die ou tyd soos Henog en Noag het die beste reisgesel gehad. Hulle het met die ware God gewandel (Gen. 5:24; 6:9). As ’n persoon met God wandel, ontvang hy die nodige hulp om die ergste storms te deurstaan. Die indiwidu se daaglikse kommunikasie met Jehovah en sterk persoonlike verhouding met sy hemelse Vader sal hom staande hou.
As ’n persoon byvoorbeeld eensaam voel omdat hy ’n geliefde huweliksmaat of kind aan die dood moes afstaan, sal hierdie intiemheid met God die verskriklike verlies draaglik maak. Wanneer die Christen sleg behandel word, ’n onreg aangedoen word, of selfs diep seergemaak word deur ’n broer in die geloof, sal hierdie kosbare verhouding met Jehovah hom daarvan weerhou om ooit die stryd gewonne te gee. Selfs al het ’n persoon gesondig en pla sy gewete hom baie na sy berou, sal sy verhouding met Jehovah hom herstel en sal sy sondes deur die losprysoffer van Jesus Christus vergewe word (1 Joh. 1:7). Hy sal as ’n Christen reguit vorentoe bly kyk en loop.
’N RYK BELONING WAG OP DIE WAT VORENTOE KYK
Soos ons gesien het, het ons ’n positiewe gesindheid nodig as ons die hewige persoonlike storms in ons lewens wil deurstaan. Daarbenewens gaan ons die “groot verdrukking” tegemoet, ’n hewige wêreldwye “storm” wat hierdie hele stelsel van dinge gaan verwoes (Matt. 24:21, 22; Jer. 25:31, 32). God se gees sal ons help om hierdie storm te deurstaan en om nog te lewe nadat dit bedaar het en die son opkom oor ’n gereinigde aarde, een wat in ’n globale paradys omskep gaan word.
Jehovah God wil nie hê dat ons moet moeg word en tou opgooi nie. Hy wil hê dat ons onder diegene moet wees wat Paulus in Hebreërs 6:11, 12 beskryf: “Ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe; sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is.” Laat ons dus nie moeg word nie, maar laat ons persoonlike verhouding met Jehovah God, ons geloof in die losprysoffer van Jesus en die wonderlike belofte van die Nuwe Orde ’n aansporing in ons lewens wees. Dan sal ons soos Moses wees wat Jehovah deur die geloof gesien het, en soos Jesus, wat vorentoe gekyk het na die vreugde wat hom voorgehou is. Ja, en soos die honderdduisende Christene rondom die aardbol wat reg uit vorentoe kyk en met vertroue sê: “By ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.”—Hebr. 10:39.