Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Jesus kom met aanmoediging
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • Hoofstuk 4

      Jesus kom met aanmoediging

      1. Aan wie skryf Johannes nou, en wie behoort sy boodskap vandag baie interessant te vind?

      WAT hierop volg, behoort baie interessant te wees vir almal wat vandag met die gemeentes van God se volk omgaan. Hier is ’n reeks boodskappe. Hulle is veral van toepassing terwyl “die vasgestelde tyd” nader kom (Openbaring 1:3). Dit is tot ons ewige voordeel om op hierdie verklarings ag te slaan. Die verslag lui: “Johannes aan die sewe gemeentes wat in die landstreek Asië is: Mag julle onverdiende goedhartigheid en vrede hê van ‘Die Een wat is en wat was en wat kom’, en van die sewe geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus.”—Openbaring 1:4, 5a.

      2. (a) Wat dui die getal “sewe” aan? (b) Op wie is die boodskappe aan die “sewe gemeentes” gedurende die dag van die Here van toepassing?

      2 Hier skryf Johannes aan “sewe gemeentes”, en hulle word later in die profesie by name genoem. Hierdie getal, “sewe”, word dikwels in Openbaring herhaal. Dit dui volkomenheid aan, veral met betrekking tot die dinge van God en sy gesalfde gemeente. Aangesien die aantal gemeentes van God se volk gedurende die dag van die Here wêreldwyd tot tienduisende toegeneem het, kan ons seker wees dat wat in die eerste plek aan die “sewe gemeentes” van gesalfdes gesê word, ook op God se hele hedendaagse volk van toepassing is (Openbaring 1:10). Ja, Johannes het ’n lewensbelangrike boodskap vir alle gemeentes van Jehovah se Getuies oral op hierdie aarde en vir almal wat met hulle omgaan.

      3. (a) Wat is die bron van die “onverdiende goedhartigheid en vrede” in Johannes se begroeting? (b) Watter woorde van die apostel Paulus is soortgelyk aan Johannes se begroeting?

      3 “Onverdiende goedhartigheid en vrede”—hoe gewens is dit tog, veral wanneer ons besef waar dit vandaan kom! Die “Een” van wie dit kom, is die Soewereine Heer Jehovah self, “die Koning van die ewigheid”, wat “van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd” lewe (1 Timoteus 1:17; Psalm 90:2). “Die sewe geeste” is ook hierby betrokke. Hierdie uitdrukking slaan op die volledige werking van God se werkende krag, of heilige gees, terwyl dit almal wat op die profesie ag slaan, insig gee en seën. ’n Sleutelrol word ook gespeel deur “Jesus Christus”, van wie Johannes later geskryf het: “Hy is vol onverdiende goedhartigheid en waarheid” (Johannes 1:14). Johannes se begroeting bevat dus dieselfde elemente as wat die apostel Paulus in die slot van sy tweede brief aan die Korintiese gemeente gemeld het: “Mag die onverdiende goedhartigheid van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die deelgenootskap in die heilige gees met julle almal wees” (2 Korintiërs 13:14). Mag hierdie woorde ook van toepassing wees op elkeen van ons wat vandag waarheid liefhet!—Psalm 119:97.

      “Die Getroue Getuie”

      4. Hoe word Jesus Christus vervolgens deur Johannes beskryf, en waarom is hierdie beskrywing so gepas?

      4 Jesus is, naas Jehovah, die mees glorieryke persoon in die heelal, soos Johannes erken deur hom te beskryf as “‘die Getroue Getuie’, ‘Die eersgeborene uit die dode’ en ‘Die Heerser van die konings van die aarde’” (Openbaring 1:5b). Hy is, soos die maan in die hemel, stewig gevestig as die grootste Getuie van Jehovah se Godheid (Psalm 89:37). Nadat hy sy onkreukbaarheid tot ’n offerdood toe gehandhaaf het, het hy die eerste mens geword wat tot onsterflike geeslewe opgewek is (Kolossense 1:18). Hy is nou in Jehovah se teenwoordigheid en is hoog verhewe bo alle aardse konings omdat hy beklee is met “alle gesag in die hemel en op die aarde” (Matteus 28:18; Psalm 89:27; 1 Timoteus 6:15). Hy is in 1914 as Koning gekroon om te midde van die aardse nasies te regeer.—Psalm 2:6-9.

      5. (a) Hoe gaan Johannes voort om waardering vir die Here Jesus Christus uit te spreek? (b) Wie vind baat by Jesus se gawe, naamlik sy volmaakte menselewe, en hoe het ’n spesiale seën gesalfde Christene te beurt geval?

      5 Johannes gaan voort om waardering vir die Here Jesus Christus uit te spreek met hierdie mooi woorde: “Aan hom wat ons liefhet en wat ons deur middel van sy eie bloed van ons sondes losgemaak het—en hy het ons ’n koninkryk gemaak, priesters vir sy God en Vader—ja, aan hom die heerlikheid en die mag tot in ewigheid. Amen” (Openbaring 1:5c, 6). Jesus het sy volmaakte menselewe gegee sodat dié uit die mensdom wat geloof in hom beoefen, tot volmaakte lewe herstel kan word. Jy, liewe leser, kan hierby ingesluit word! (Johannes 3:16). Maar Jesus se offerdood het ’n spesiale seën moontlik gemaak vir dié wat, soos Johannes, gesalfde Christene word. Hulle is regverdig verklaar op grond van Jesus se losprysoffer. Die lede van die klein kuddetjie het, soos Jesus, enige vooruitsig op aardse lewe laat vaar en is deur God se gees verwek, met die vooruitsig om opgewek te word om as konings en priesters saam met Jesus Christus in sy Koninkryk te dien (Lukas 12:32; Romeine 8:18; 1 Petrus 2:5; Openbaring 20:6). Wat ’n wonderlike voorreg! Geen wonder nie dat Johannes so nadruklik uitgeroep het dat die heerlikheid en die mag aan Jesus behoort!

      “Hy kom met die wolke”

      6. (a) Wat kondig Johannes aan in verband met Jesus se koms “met die wolke”, en aan watter profesie van Jesus het Johannes moontlik teruggedink? (b) Hoe “kom” Jesus, en wie sal groot droefheid op die aarde ondervind?

      6 Johannes kondig vervolgens jubelend aan: “Kyk! Hy kom met die wolke, en elke oog sal hom sien, ook diegene wat hom deurboor het; en al die stamme van die aarde sal hulleself in droefheid slaan weens hom. Ja, Amen” (Openbaring 1:7). Johannes het hier ongetwyfeld teruggedink aan Jesus se vroeëre profesie oor die voleinding van die stelsel van dinge. Daar het Jesus gesê: “Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde hulleself in weeklag slaan, en hulle sal die Seun van die mens met krag en groot heerlikheid op die wolke van die hemel sien kom” (Matteus 24:3, 30). Jesus “kom” dus deur sy aandag te vestig op die voltrekking van Jehovah se oordele aan die nasies. Dit sal betekenisvolle veranderinge op die aarde tot gevolg hê, en aangesien “al die stamme van die aarde” die werklikheid van Jesus se koningskap geïgnoreer het, sal hulle inderdaad “die toorn van die gramskap van God die Almagtige” ondervind.—Openbaring 19:11-21; Psalm 2:2, 3, 8, 9.

      7. Hoe sal “elke oog”, met inbegrip van dié van die ongehoorsames, Jesus “sien”?

      7 Gedurende Jesus se laaste aand saam met sy dissipels het hy vir hulle gesê: “Nog ’n rukkie en die wêreld sal my nie meer sien nie” (Johannes 14:19). Hoe sal ‘elke oog hom dan sien’? Ons moenie verwag dat Jesus se vyande hom met fisiese oë sal sien nie, want die apostel Paulus het ná Jesus se hemelvaart gesê dat Jesus nou “in ontoeganklike lig woon” en dat “nie een van die mense [hom] gesien het of kan sien nie” (1 Timoteus 6:16). Johannes het klaarblyklik “sien” bedoel in die sin van “onderskei”, net soos ons God se onsigbare hoedanighede deur middel van sy skeppingswerke kan sien, of onderskei (Romeine 1:20). Jesus “kom met die wolke” in die sin dat hy vir die blote oog net so onsigbaar sal wees soos die son is wanneer dit agter die wolke is. Selfs wanneer die son in die dag agter wolke versteek is, weet ons dat dit daar is omdat daglig ons omring. Net so sal die Here Jesus, hoewel hy onsigbaar is, geopenbaar word soos ‘’n vlammende vuur, wanneer hy wraak uitoefen op dié wat die goeie nuus oor hom nie gehoorsaam nie’. Hulle sal ook gedwing word om ‘hom te sien’.—2 Tessalonisense 1:6-8; 2:8.

      8. (a) Wie was “diegene wat hom deurboor het” in 33 G.J., en wie is hulle vandag? (b) Hoe kan mense Jesus “deurboor”, aangesien hy nie meer hier op die aarde is nie?

      8 Jesus sal ook ‘gesien’ word deur “diegene wat hom deurboor het”. Wie sou dit wees? Toe Jesus in 33 G.J. tereggestel is, het die Romeinse soldate hom letterlik deurboor. Die Jode was ook aandadig aan daardie moord, want Petrus het op Pinkster vir party van hulle gesê: “God [het] hom Here sowel as Christus gemaak . . . , hierdie Jesus wat julle aan die paal gehang het.” (Handelinge 2:5-11, 36; vergelyk Sagaria 12:10; Johannes 19:37.) Daardie Romeine en Jode is nou al nagenoeg 2 000 jaar lank dood. Dié wat hom vandag “deurboor”, moet dus nasies en volke afbeeld wat dieselfde hatige gesindheid aan die dag lê wat getoon is toe Jesus aan die paal gehang is. Jesus is nie meer hier op die aarde nie. Maar wanneer teenstanders Jehovah se Getuies, wat van Jesus getuig, daadwerklik vervolg of sulke behandeling passief goedkeur, is dit asof sulke teenstanders Jesus “deurboor”.—Matteus 25:33, 41-46.

      “Die Alfa en die Omega”

      9. (a) Wie praat nou, en hoeveel keer praat hy in Openbaring? (b) Wat beteken dit wanneer Jehovah homself “die Alfa en die Omega” en “die Almagtige” noem?

      9 Nou, wonder bo wonder! Die Soewereine Heer Jehovah praat self. Hoe gepas is dit tog as ’n inleiding tot die visioene wat geopenbaar gaan word, aangesien hy ons Grootse Onderrigter en die oorspronklike Bron van Openbaring is! (Jesaja 30:20). Ons God sê: “Ek is die Alfa en die Omega, . . . die Een wat is en wat was en wat kom, die Almagtige” (Openbaring 1:8). Dit is die eerste van drie keer in Openbaring dat Jehovah self uit die hemel praat. (Sien ook Openbaring 21:5-8; 22:12-15.) Eerste-eeuse Christene sou alfa en omega gou herken het as die eerste en laaste letters van die Griekse alfabet. Die feit dat Jehovah homself by hierdie twee letters noem, beklemtoon dat daar voor hom geen almagtige God was nie en dat daar ná hom nie een sal wees nie. Hy sal die geskil oor Godheid vir ewig tot ’n suksesvolle einde bring. Hy sal tot in alle ewigheid geregverdig wees as die enigste almagtige God, die Allerhoogste Soewerein oor sy hele skepping.—Vergelyk Jesaja 46:10; 55:10, 11.

      10. (a) Hoe beskryf Johannes homself vervolgens, en waar was hy ’n gevangene? (b) Met wie se samewerking is die boekrol wat Johannes geskryf het, sekerlik na die gemeentes gestuur? (c) Hoe word geestelike voedsel dikwels vandag voorsien?

      10 Vol vertroue dat Jehovah die uitslag van sake sal rig, sê Johannes vir sy medeslawe: “Ek, Johannes, julle broer en ’n deelgenoot met julle in die verdrukking en die koninkryk en volharding in gemeenskap met Jesus, het my op die eiland bevind wat Patmos genoem word, omdat ek oor God gepraat en van Jesus getuig het” (Openbaring 1:9). Die bejaarde Johannes, wat ter wille van die goeie nuus ’n gevangene op Patmos is, saam met sy broers vervolging verduur en die vaste hoop koester om die komende Koninkryk deelagtig te word, sien nou die eerste van die visioene van Openbaring. Hy is ongetwyfeld grootliks aangemoedig deur hierdie visioene, net soos die Johannes-klas vandag aangespoor word wanneer hulle die vervulling daarvan sien. Ons weet nie hoe Johannes, wat destyds ’n gevangene was, die boekrol van Openbaring aan die gemeentes gestuur het nie (Openbaring 1:11; 22:18, 19). Jehovah se engele het sekerlik saamgewerk om dit gedoen te kry, net soos hulle getroue Getuies van Jehovah wat vandag onder verbooie en beperkinge dien, al baie dikwels beskerm het sodat hulle hulle broers wat na die waarheid honger, van tydige geestelike voedsel kan voorsien.—Psalm 34:6, 7.

      11. Watter voorreg, wat soortgelyk is aan dié wat Johannes waardeer het, stel die Johannes-klas vandag hoog op prys?

      11 Watter diepe waardering moes Johannes tog gehad het vir die voorreg om deur Jehovah gebruik te word as Sy kommunikasiekanaal met die gemeentes! Die Johannes-klas stel ook vandag hulle voorreg om die huisgesin van God van geestelike “voedsel op die regte tyd” te voorsien, hoog op prys (Matteus 24:45). Mag jy een van dié wees wat deur hierdie geestelike voorsiening versterk word sodat jy die glorieryke doelwit, die ewige lewe, kan bereik!—Spreuke 3:13-18; Johannes 17:3.

      [Venster op bladsy 21]

      Die verkryging van geestelike voedsel in moeilike tye

      Gedurende hierdie laaste dae, waartydens Jehovah se Getuies soveel vervolging en ontberinge ondervind, is dit vir hulle lewensbelangrik om geestelike voedsel te ontvang sodat hulle hulle geloof kan sterk hou. In die meeste gevalle word genoeg voedsel voorsien, dikwels danksy merkwaardige vertonings van Jehovah se krag.

      Byvoorbeeld, in Duitsland onder Hitler se beheer het Getuies eksemplare van Die Wagtoring, wat amptelik deur die wrede Nazi-owerheid verbied is, met ’n afrolmasjien gekopieer en versprei. In Hamburg het die Gestapo ’n klopjag uitgevoer op ’n huis waar sulke afrolwerk gedoen is. Die huis was klein, en daar was nêrens plek om iets veilig weg te steek nie. Die tikmasjien is in ’n kas gelaat, en die groot afrolmasjien is in ’n aartappelkis in die kelder gehou. Boonop was daar ’n tas vol tydskrifte agter die kis! Dit het onvermydelik gelyk dat dit ontdek sou word. Maar wat het gebeur? Die offisier wat die kas oopgemaak het, het dit só gedoen dat hy nie die tikmasjien gesien het nie. Wat die kelder betref, berig die huisbewoner: “Die drie offisiere het in die middel van die vertrek gestaan, reg langs die kis met die tas vol Wagtorings daaragter. Maar dit het gelyk of nie een van hulle dit raaksien nie; dit was asof hulle verblind was.” Danksy hierdie merkwaardige bestiering kon die gesin voortgaan om geestelike voedsel in moeilike en gevaarlike tye te voorsien.

      In die 1960’s was daar ’n burgeroorlog tussen Nigerië en die afgeskeie provinsie Biafra. Aangesien Biafra geheel en al deur Nigeriese gebied omring is, was die enigste skakel met die buitewêreld ’n landingstrook. Dit het beteken dat die gevaar bestaan het dat die Getuies in Biafra van hulle geestelike voedselvoorraad afgesny kon word. Toe, vroeg in 1968, het die Biafraanse owerheid een van hulle staatsdienspersoneellede na ’n belangrike pos in Europa en ’n ander na die Biafraanse landingstrook verplaas. Hierdie twee was toevallig Jehovah se Getuies, en hulle was nou aan die twee punte van die enigste skakel tussen Biafra en die buitewêreld. Hulle het besef dat die reëling ongetwyfeld deur Jehovah bewerkstellig is. Hulle het derhalwe aangebied om die moeilike en gevaarlike taak uit te voer om geestelike voedsel in Biafra in te bring. En hulle het dit tot aan die einde van die oorlog gedoen. Een van hulle het gesê: “Mense kon beslis nie hierdie reëling beplan het nie.”

      [Tabel op bladsy 19]

      Simboliese getalle in Openbaring

      Getal Simboliese betekenis

      2 Dui aan dat ’n saak deeglik bevestig is.

      (Openbaring 11:3, 4; vergelyk Deuteronomium 17:6.)

      3 Dui beklemtoning aan. Gee ook intensiteit te kenne

      (Openbaring 4:8; 8:13; 16:13, 19).

      4 Dui universaliteit of vierkantige simmetrie aan

      (Openbaring 4:6; 7:1, 2; 9:14; 20:8; 21:16).

      6 Dui onvolmaaktheid aan, iets abnormaals, monsteragtigs.

      (Openbaring 13:18; vergelyk 2 Samuel 21:20.)

      7 Dui goddelik vasgestelde volkomenheid aan, wat Jehovah

      se voornemens of dié van Satan betref (Openbaring 1:4, 12, 16; 4:5; 5:1, 6; 10:3, 4; 12:3).

      10 Dui geheelheid of volledigheid in ’n fisiese sin aan,

      wat dinge op die aarde betref (Openbaring 2:10; 12:3; 13:1; 17:3, 12, 16).

      12 Dui ’n goddelik ingestelde organisasie aan, hetsy in die

      hemele of op die aarde

      (Openbaring 7:5-8; 12:1; 21:12, 16; 22:2).

      24 Dui Jehovah se oorvloedige (verdubbelde) organisatoriese

      reëling aan (Openbaring 4:4).

      Sommige getalle wat in Openbaring gemeld word, moet letterlik opgeneem word. Die konteks help dikwels om dit te bepaal. (Sien Openbaring 7:4, 9; 11:2, 3; 12:6, 14; 17:3, 9-11; 20:3-5.)

  • Johannes sien die verheerlikte Jesus
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • Hoofstuk 5

      Johannes sien die verheerlikte Jesus

      Visioen 1—Openbaring 1:10–3:22

      Onderwerp: Jesus inspekteer geestelike Israel op die aarde en gee hartlike aanmoediging

      Tyd van vervulling: Hierdie aspek van die dag van die Here strek vanaf 1914 totdat die laaste van die getroue gesalfdes sterf en opgewek word

      1. Hoe word die eerste visioen aangebied, en hoe het Johannes aangedui wanneer dit eintlik van toepassing is?

      DIE eerste visioen in die boek Openbaring begin by hoofstuk 1, vers 10. Hierdie visioen, soos die ander in Openbaring, word ingelei deur ’n aankondiging dat Johannes iets buitengewoons hoor of sien (Openbaring 1:10, 12; 4:1; 6:1). Hierdie eerste visioen word aangebied teen ’n eerste-eeuse agtergrond waarin boodskappe gerig word aan sewe gemeentes in Johannes se tyd. Maar Johannes dui aan wanneer dit eintlik van toepassing is deur te sê: “Deur inspirasie het ek my in die dag van die Here bevind” (Openbaring 1:10a). Wanneer is hierdie “dag”? Hou die dramatiese gebeure van hierdie stormagtige tye enigsins daarmee verband? Indien wel, moet ons noukeurig aandag skenk aan die profesie, aangesien dit ons lewe—selfs ons oorlewing—raak.—1 Tessalonisense 5:20, 21.

      In die dag van die Here

      2. Wanneer begin die dag van die Here, en wanneer eindig dit?

      2 In watter tydperk plaas dit die vervulling van Openbaring? Wel, wat is die dag van die Here? Die apostel Paulus verwys daarna as ’n tyd van oordeel en van die vervulling van goddelike beloftes (1 Korintiërs 1:8; 2 Korintiërs 1:14; Filippense 1:6, 10; 2:16). Wanneer dié “dag” aanbreek, beweeg Jehovah se grootse voornemens progressief en seëvierend na hulle klimaks. Hierdie “dag” begin met die kroning van Jesus as hemelse Koning. Selfs nadat Jesus oordeel voltrek het aan Satan se wêreld, duur die dag van die Here voort, met die herstel van die Paradys en die vervolmaking van die mensdom, totdat Jesus uiteindelik “die koninkryk aan sy God en Vader oorgee”.—1 Korintiërs 15:24-26; Openbaring 6:1, 2.

      3. (a) Hoe help Daniël se profesie van die “sewe tye” ons om te sien wanneer die dag van die Here begin? (b) Watter gebeure op die aarde bevestig dat die dag van die Here in 1914 begin het?

      3 Die vervulling van ander Bybelprofesieë help ons om te sien wanneer die dag van die Here begin. Daniël het byvoorbeeld beskryf hoe heerskappy in die geslag van koning Dawid afgekap sou word; ná “sewe tye” sou dit bekend wees “dat die Allerhoogste die Heerser in die koninkryk van die mensdom is en dat hy dit gee aan wie hy wil” (Daniël 4:23, 24, 31, 32). Die grotere vervulling van hierdie profesie het begin met die verwoesting van die koninkryk van Juda, wat volgens Bybelse getuienis teen Oktober 607 v.G.J. voltooi is. Openbaring 12:6, 14 toon dat 3 1/2 tye gelyk is aan 1 260 dae; sewe tye (dubbel daardie getal) moet derhalwe 2 520 dae wees. As ons “’n dag vir ’n jaar” reken, is die “sewe tye” 2 520 jaar lank (Esegiël 4:6). Christus Jesus het dus laat in 1914 in die hemel begin regeer. Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in daardie jaar was “’n begin van weë van benoudheid” wat die mensdom nog steeds teister. Gebeure op hierdie bloedbevlekte aarde sedert 1914 het inderdaad op merkwaardige wyse bevestig dat die “dag” van Jesus se teenwoordigheid in daardie jaar begin het!—Matteus 24:3-14.a

      4. (a) Wanneer word die eerste visioen vervul volgens die woorde van Openbaring self? (b) Wanneer eindig die vervulling van die eerste visioen?

      4 Hierdie eerste visioen en die raad wat dit bevat, is derhalwe vir die dag van die Here, van 1914 af. Hierdie tydsbepaling word gestaaf deur die feit dat die verslag later in Openbaring die voltrekking van God se waaragtige en regverdige oordele beskryf—gebeure waarin die Here Jesus ’n vername rol speel (Openbaring 11:18; 16:15; 17:1; 19:2, 11). As die vervulling van die eerste visioen in 1914 begin het, wanneer eindig dit dan? Soos die boodskappe self toon, is die organisasie waaraan dit gerig word, God se gemeente van gesalfdes op die aarde. Die vervulling van hierdie eerste visioen eindig dus wanneer die laaste getroue lid van daardie gesalfde gemeente sterf en tot hemelse lewe opgewek word. Die dag van die Here, met seëninge vir die aardse ander skape, duur nietemin voort tot aan die einde van Jesus Christus se Duisendjarige Heerskappy.—Johannes 10:16; Openbaring 20:4, 5.

      5. (a) Wat beveel ’n stem Johannes om te doen? (b) Waarom het die ligging van “die sewe gemeentes” dit maklik gemaak om ’n boekrol aan hulle te stuur?

      5 Voordat Johannes enigiets in hierdie eerste visioen sien, hoor hy iets: “En ek het ’n sterk stem agter my gehoor, soos dié van ’n trompet, wat gesê het: ‘Skryf wat jy sien in ’n boekrol en stuur dit aan die sewe gemeentes: in Efese en in Smirna en in Pergamum en in Tiatira en in Sardis en in Filadelfia en in Laodisea’” (Openbaring 1:10b, 11). ’n Stem, gesaghebbend en gebiedend soos ’n trompetgeskal, beveel Johannes om aan “die sewe gemeentes” te skryf. Hy sal ’n reeks boodskappe ontvang en moet die dinge wat hy sal sien en hoor, bekend maak. Let daarop dat die gemeentes wat hier genoem word, in Johannes se dag werklik bestaan het. Hulle was almal in Klein-Asië geleë, oorkant die see van Patmos af. Die uitstekende Romeinse paaie in die omgewing het dit vir die gemeentes maklik gemaak om mekaar te bereik. Dit sou vir ’n boodskapper glad nie moeilik gewees het om die boekrol van een gemeente na die volgende te neem nie. Hierdie sewe gemeentes sou vergelyk kon word met ’n deel van ’n hedendaagse kring van Jehovah se Getuies.

      6. (a) Wat word bedoel met “die dinge wat is”? (b) Waarom kan ons seker wees dat toestande in die hedendaagse gemeente van gesalfde Christene soortgelyk moet wees aan dié in Johannes se dag?

      6 Die meeste van die profesieë in Openbaring sou ná Johannes se tyd vervul word. Dit het verwys na die dinge “wat hierna sal plaasvind”. Maar die raad aan die sewe gemeentes het te doen met “die dinge wat is”, situasies wat destyds werklik in die sewe gemeentes bestaan het. Die boodskappe was waardevolle hulpmiddels aan getroue aangestelde ouer manne in daardie sewe gemeentes, asook in alle ander gemeentes van gesalfde Christene van daardie tyd.b Aangesien die visioen hoofsaaklik in die dag van die Here van toepassing is, stel Jesus se woorde ons in kennis dat ons soortgelyke toestande in die hedendaagse gemeente van gesalfde Christene kan verwag.—Openbaring 1:10, 19.

      7. Wie sien Johannes in hierdie eerste visioen, en waarom is dit vandag vir ons so belangrik en opwindend?

      7 In hierdie eerste visioen sien Johannes die luisterryke Here Jesus Christus in Sy hemelse glorie. Wat kan tog meer gepas wees vir ’n boek van profesieë oor die groot dag van hierdie Here wat deur die Almagtige aangestel is? En wat kan belangriker wees vir ons, wat nou in daardie tydperk lewe en sorgvuldig ag slaan op elke bevel wat van hom af kom? Hoe opwindend is dit bowendien vir ondersteuners van Jehovah se soewereiniteit om verseker te word dat die Messiaanse Saad, wat al die toetse en vervolging wat deur Satan veroorsaak is, verduur het en ’n pynlike dood gesterf het toe hy byna 2 000 jaar gelede in Sy “hakskeen” gewond is, nou in die hemel lewe en die mag ontvang het om God se grootse voorneme tot sy seëvierende vervulling te bring!—Genesis 3:15.

      8. Vir watter optrede is Jesus nou gereed?

      8 Dit is duidelik dat Jesus nou gereed is om as gekroonde Koning op te tree. Hy is as Jehovah se Hoofskerpregter aangestel om Jehovah se finale oordele aan hierdie ou, goddelose stelsel van dinge en die duiwelse god daarvan, Satan, te voltrek. Hy is ook gereed om die lede van sy gemeente van gesalfdes en die groot menigte van hulle metgeselle, sowel as die wêreld, te oordeel.—Openbaring 7:4, 9; Handelinge 17:31.

      9. (a) Hoe beskryf Johannes die verheerlikte Jesus Christus tussen die goue lampstaanders? (b) Wat word aangedui deur die toneel wat aan die tempel herinner en die kleed wat Jesus dra? (c) Wat beteken sy goue gordel?

      9 Johannes draai om wanneer hy die geluid van die harde stem hoor, en dít is wat hy sien: “Ek het omgedraai om die stem te sien wat met my gepraat het, en toe ek omgedraai het, het ek sewe goue lampstaanders gesien” (Openbaring 1:12). Later vind Johannes uit wat hierdie sewe lampstaanders simboliseer. Maar dit is die persoon tussen die lampstaanders wat sy aandag trek. Daar was “tussen die lampstaanders iemand soos ’n seun van die mens, geklee in ’n kleed wat tot op die voete hang, en om die bors omgord met ’n goue gordel” (Openbaring 1:13). Jesus, die “seun van die mens”, verskyn hier as ’n luisterryke, gloeiende gedaante aan die sprakelose getuie, Johannes. Hy verskyn in glansende heerlikheid tussen brandende goue lampstaanders. Hierdie toneel, wat aan die tempel herinner, laat Johannes besef dat Jesus teenwoordig is in die rol van Jehovah se groot Hoëpriester met die mag om te oordeel (Hebreërs 4:14; 7:21-25). Sy lang, indrukwekkende kleed pas by sy priesteramp. Soos die eertydse Joodse hoëpriesters dra hy ’n gordel—’n goue gordel om sy bors waar dit sy hart bedek. Dit dui aan dat hy sy goddelike opdrag wat hy van Jehovah God ontvang het, heelhartig sal uitvoer.—Eksodus 28:8, 30; Hebreërs 8:1, 2.

      10. (a) Wat word aangedui deur Jesus se sneeuwit hare en vurige oë? (b) Wat beteken die feit dat Jesus se voete soos gloeiende koper is?

      10 Johannes se beskrywing gaan voort: “Verder was sy kop en sy hare wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam” (Openbaring 1:14). Sy sneeuwit hare dui op wysheid wat aan ’n lang lewe te danke is. (Vergelyk Spreuke 16:31.) En sy vurige oë toon dat hy skerpsinnig en wakker is terwyl hy ondersoek, toets of verontwaardiging toon. Selfs Jesus se voete trek Johannes se aandag: “En sy voete was soos fyn koper wanneer dit in ’n oond gloei; en sy stem was soos die geluid van baie waters” (Openbaring 1:15). In die visioen is Jesus se voete soos koper, gloeiend, helder—gepas vir iemand wat ywerig en met ’n goeie reputasie in Jehovah God se teenwoordigheid wandel. Wat meer is, terwyl goddelike dinge in die Bybel dikwels deur goud voorgestel word, word menslike dinge soms deur koper voorgestel.c Jesus se gloeiende voete soos fyn koper herinner ons derhalwe aan hoe “lieflik” sy voete was toe hy op die aarde gewandel en die goeie nuus verkondig het.—Jesaja 52:7; Romeine 10:15.

      11. (a) Waaraan herinner Jesus se glorieryke voete ons? (b) Wat word aangedui deur die feit dat Jesus se stem “soos die geluid van baie waters” was?

      11 As ’n volmaakte mens het Jesus inderdaad ’n heerlikheid gehad wat vir engele en mense sigbaar was (Johannes 1:14). Sy glorieryke voete herinner ons ook daaraan dat hy in Jehovah se organisasie, waarin hy die Hoëpriester is, op heilige grond loop. (Vergelyk Eksodus 3:5.) Daarbenewens weergalm sy stem dawerend soos ’n ontsaglike waterval. Dit is indrukwekkend en ontsagwekkend, gepas vir die een wat amptelik die Woord van God genoem word, die een wat kom “om die bewoonde aarde in regverdigheid te oordeel”.—Handelinge 17:31; Johannes 1:1.

      12. Wat beteken die “skerp, lang tweesnydende swaard”?

      12 “En in sy regterhand het hy sewe sterre gehad, en uit sy mond het ’n skerp, lang tweesnydende swaard gekom, en sy aangesig was soos die son wanneer hy in sy krag skyn. En toe ek hom sien, het ek asof dood voor sy voete neergeval” (Openbaring 1:16, 17a). Jesus verduidelik self ’n bietjie later wat die sewe sterre beteken. Maar let op wat uit sy mond kom: “’n skerp, lang tweesnydende swaard”. Hoe gepas tog! Want Jesus is die een wat aangestel is om Jehovah se finale oordele teen Sy vyande uit te spreek. Beslissende woorde uit sy mond lei tot die teregstelling van alle goddeloses.—Openbaring 19:13, 15.

      13. (a) Waaraan herinner Jesus se helder, glansende gesig ons? (b) Watter algemene indruk kry ons uit Johannes se beskrywing van Jesus?

      13 Jesus se helder, glansende gesig herinner ons daaraan dat Moses se gesig geglinster het nadat Jehovah op die berg Sinai met hom gepraat het (Eksodus 34:29, 30). Onthou ook dat toe Jesus byna 2 000 jaar gelede voor drie van sy apostels van gedaante verander het, ‘sy gesig geskyn het soos die son en sy boklere skitterend geword het soos die lig’ (Matteus 17:2). Nou, in ’n visioenêre voorstelling van Jesus gedurende die dag van die Here, weerspieël sy gesig ook die luisterryke glans van iemand wat in Jehovah se teenwoordigheid was (2 Korintiërs 3:18). Trouens, die algemene indruk wat Johannes se visioen skep, is dié van glansende heerlikheid. Van die sneeuwit hare, die vurige oë en die blink gesig tot die gloeiende voete is dit ’n voortreflike visioen van die Een wat nou “in ontoeganklike lig” woon (1 Timoteus 6:16). Wat ’n realistiese skouspel! Hoe het die verwonderde Johannes gereageer? Die apostel vertel ons: “En toe ek hom sien, het ek asof dood voor sy voete neergeval.”—Openbaring 1:17.

      14. Watter uitwerking behoort dit op ons te hê wanneer ons van Johannes se visioen van die verheerlikte Jesus lees?

      14 Vandag vul die kleurryke, gedetailleerde beskrywing van Johannes se visioen God se volk met hartgrondige waardering. Daar het reeds meer as 90 jaar van die dag van die Here verloop, waartydens die visioen steeds op opwindende wyse vervul word. Jesus se Koninkryksheerskappy is vir ons ’n lewende, teenswoordige werklikheid, nie ’n toekomsverwagting nie. Dit is dus gepas dat ons as lojale onderdane van die Koninkryk met verwondering verder kyk na wat Johannes in sy eerste visioen beskryf en gehoorsaam luister na die woorde van die verheerlikte Jesus Christus.

      [Voetnote]

      a Vir ’n breedvoerige verduideliking, sien die boek Wat leer die Bybel werklik? bladsye 88-92, 215-18, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

      b Wanneer ’n gemeente in die eerste eeu ’n brief van ’n apostel ontvang het, was dit gebruiklik om die brief aan ander gemeentes te stuur sodat almal by die raad kon baat vind.—Vergelyk Kolossense 4:16.

      c Die versierings en toebehore in Salomo se tempel was van goud gemaak of daarmee oorgetrek, terwyl koper gebruik is om die voorhof toe te rus.—1 Konings 6:19-23, 28-35; 7:15, 16, 27, 30, 38-50; 8:64.

      [Prente op bladsy 23]

      Argeologiese oorblyfsels van die stede waar die sewe gemeentes geleë was, bevestig die Bybelverslag. Dit was hier dat eerste-eeuse Christene Jesus se aanmoedigende boodskappe ontvang het wat vandag die wêreldwye gemeente aanspoor

      PERGAMUM

      SMIRNA

      TIATIRA

      SARDIS

      EFESE

      FILADELFIA

      LAODISEA

  • ’n Heilige geheim word onthul
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
    • Hoofstuk 6

      ’n Heilige geheim word onthul

      1. Hoe moet ons reageer op die treffende beskrywing wat in Openbaring 1:10-17 opgeteken is?

      DIE visioen van die verheerlikte Jesus is inderdaad ontsagwekkend! As ons saam met die apostel Johannes as toeskouers daar was, sou daardie luisterryke heerlikheid ons ongetwyfeld ook oorweldig het en sou ons, net soos hy, voor Jesus se voete neergeval het (Openbaring 1:10-17). Hierdie wonderlike geïnspireerde visioen is bewaar om ons vandag tot optrede aan te spoor. Ons moet, soos Johannes, nederige waardering toon vir alles wat die visioen beteken. Mag ons altyd eerbiedige ontsag hê vir Jesus se posisie as gekroonde Koning, Hoëpriester en Regter.—Filippense 2:5-11.

      “Die Eerste en die Laaste”

      2. (a) Met watter titel stel Jesus homself voor? (b) Wat beteken dit wanneer Jehovah sê: “Ek is die eerste en ek is die laaste”? (c) Waarop vestig Jesus se titel “die Eerste en die Laaste” die aandag?

      2 Ons ontsag hoef egter nie in morbiede vrees te verander nie. Jesus het Johannes gerusgestel, soos die apostel vervolgens vertel. “En hy het sy regterhand op my gelê en gesê: ‘Moenie bevrees wees nie. Ek is die Eerste en die Laaste, en die lewende’” (Openbaring 1:17b, 18a). In Jesaja 44:6 beskryf Jehovah tereg Sy posisie as die enigste almagtige God deur te sê: “Ek is die eerste en ek is die laaste, en buiten my is daar geen God nie.”a Wanneer Jesus homself met die titel “die Eerste en die Laaste” voorstel, maak hy nie aanspraak op gelykheid met Jehovah, die Grootse Skepper, nie. Hy gebruik ’n titel wat God met reg aan hom gegee het. In Jesaja het Jehovah ’n verklaring gemaak oor Sy unieke posisie as die ware God. Hy is vir ewig God, en buiten hom is daar inderdaad geen God nie (1 Timoteus 1:17). In Openbaring praat Jesus van die titel wat hy gegee is en vestig hy die aandag op sy unieke opstanding.

      3. (a) In watter sin was Jesus “die Eerste en die Laaste”? (b) Wat beteken die feit dat Jesus “die sleutels van die dood en van Hades” het?

      3 Jesus was inderdaad “die Eerste” mens wat tot onsterflike geeslewe opgewek is (Kolossense 1:18). Daarbenewens is hy “die Laaste” wat op hierdie manier deur Jehovah self opgewek is. Hy word derhalwe “die lewende . . . [wat] lewe vir ewig en altyd”. Hy het onsterflikheid. In hierdie opsig is hy soos sy onsterflike Vader, wat “die lewende God” genoem word (Openbaring 7:2; Psalm 42:2). Jesus self is vir alle ander mense “die opstanding en die lewe” (Johannes 11:25). In ooreenstemming hiermee sê hy vir Johannes: “Ek het doodgegaan, maar kyk! ek lewe vir ewig en altyd, en ek het die sleutels van die dood en van Hades” (Openbaring 1:18b). Jehovah het hom die gesag gegee om die dooies op te wek. Daarom kan Jesus sê dat hy die sleutels het om die poorte oop te sluit vir dié wat deur die dood en Hades (die doderyk) vasgehou word.—Vergelyk Matteus 16:18.

      4. Watter bevel herhaal Jesus, en tot voordeel van wie?

      4 Jesus herhaal hier sy bevel dat die visioen opgeteken moet word en sê vir Johannes: “Skryf . . . die dinge op wat jy gesien het, en die dinge wat is en die dinge wat hierna sal plaasvind” (Openbaring 1:19). Watter opwindende dinge sal Johannes nog tot ons onderrigting bekend maak?

      Die sterre en die lampstaanders

      5. Hoe verduidelik Jesus “die sewe sterre” en “die sewe lampstaanders”?

      5 Johannes het Jesus tussen sewe goue lampstaanders met sewe sterre in sy regterhand gesien (Openbaring 1:12, 13, 16). Nou verduidelik Jesus dit: “Wat die heilige geheim betref van die sewe sterre wat jy op my regterhand gesien het, en van die sewe goue lampstaanders: Die sewe sterre beteken die engele van die sewe gemeentes, en die sewe lampstaanders beteken sewe gemeentes.”—Openbaring 1:20.

      6. Wat word deur die sewe sterre afgebeeld, en waarom is die boodskappe spesifiek aan hulle gerig?

      6 Die “sterre” is “die engele van die sewe gemeentes”. In Openbaring beeld sterre soms letterlike engele af, maar Jesus sou beswaarlik ’n menslike skrywer gebruik het om aan onsigbare geesskepsele te skryf. Die “sterre” moet derhalwe die menslike opsieners, of ouer manne, in die gemeentes wees, wat as Jesus se boodskappers beskou word.b Die boodskappe word gerig aan die sterre, want hulle het die verantwoordelikheid om oor Jehovah se kudde toesig te hou.—Handelinge 20:28.

      7. (a) Waarom beteken die feit dat Jesus met net een engel in elke gemeente praat, nie dat elke gemeente net een ouer man het nie? (b) Wie word in werklikheid deur die sewe sterre in Jesus se regterhand afgebeeld?

      7 Beteken die feit dat Jesus met net een “engel” in elke gemeente praat dat elke gemeente net een ouer man het? Nee. Reeds in Paulus se dag het die gemeente in Efese etlike ouer manne gehad, nie net een nie (Openbaring 2:1; Handelinge 20:17). Toe boodskappe in Johannes se dag aan die sewe sterre gestuur is om aan die gemeentes (waaronder die gemeente in Efese) voorgelees te word, moes die sterre derhalwe almal afgebeeld het wat in die liggame van ouer manne in Jehovah se gesalfde gemeente gedien het. Opsieners lees ook vandag vir hulle gemeentes briewe voor wat ontvang word van die Bestuursliggaam, wat bestaan uit gesalfde opsieners wat onder Jesus se hoofskap dien. Die plaaslike liggame van ouer manne moet sorg dat hulle gemeentes Jesus se raad volg. Die raad is natuurlik tot voordeel van almal wat met die gemeentes omgaan, nie net die ouer manne nie.—Sien Openbaring 2:11a.

      8. Wat word aangedui deur die feit dat die ouer manne in Jesus se regterhand is?

      8 Aangesien Jesus die Hoof van die gemeente is, word daar tereg gesê dat die ouer manne in sy regterhand, dit wil sê onder sy beheer en leiding, is (Kolossense 1:18). Hy is die Hoofherder, en hulle is onderherders.—1 Petrus 5:2-4.

      9. (a) Wat beeld die sewe lampstaanders af, en waarom is lampstaanders ’n gepaste simbool daarvan? (b) Waaraan sou die visioen die apostel Johannes waarskynlik herinner het?

      9 Die sewe lampstaanders is die sewe gemeentes waaraan Johannes die boek Openbaring rig: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea. Waarom word gemeentes deur lampstaanders afgebeeld? Omdat Christene, hetsy individueel of gesamentlik as gemeentes, in hierdie duistere wêreld ‘hulle lig voor die mense moet laat skyn’ (Matteus 5:14-16). Daarbenewens was daar lampstaanders onder die toebehore in Salomo se tempel. Die feit dat die gemeentes lampstaanders genoem word, sou Johannes waarskynlik daaraan herinner het dat elke plaaslike gemeente van gesalfdes as ’t ware “God se tempel”, ’n woonplek vir God se gees, is (1 Korintiërs 3:16). Boonop dien lede van die gemeente van gesalfdes in die antitipe van die Joodse tempelreëling as “’n koninklike priesterdom” in Jehovah se groot geestelike tempelreëling, waarvan Jesus die Hoëpriester is en waar Jehovah in die hemelse Allerheiligste woon.—1 Petrus 2:4, 5, 9; Hebreërs 3:1; 6:20; 9:9-14, 24.

      Die groot afvalligheid

      10. Wat het in 70 G.J. met die Joodse stelsel en die onberouvolle ondersteuners daarvan gebeur?

      10 Toe Johannes Openbaring geskryf het, was die Christelike geloof meer as 60 jaar oud. Aan die begin het dit 40 jaar van voortdurende teenstand deur Judaïsme oorleef. Toe het die Joodse stelsel in 70 G.J. ’n doodhou gekry toe die onberouvolle Jode hulle nasionale identiteit verloor het sowel as iets wat vir hulle feitlik ’n afgod was—die tempel in Jerusalem.

      11. Waarom was dit so tydig vir die Hoofherder om die gemeentes teen ontwikkelende neigings te waarsku?

      11 Die apostel Paulus het nietemin voorspel dat daar afvalligheid onder die gesalfde Christene sou wees, en Jesus se boodskappe toon dat hierdie afvalligheid reeds in Johannes se oudag aan die ontwikkel was. Johannes was die laaste van dié wat as ’n teëhouer gedien het vir hierdie volskaalse poging deur Satan om die saad van die vrou te verderf (2 Tessalonisense 2:3-12; 2 Petrus 2:1-3; 2 Johannes 7-11). Dit was dus die gepaste tyd vir Jehovah se Hoofherder om aan die ouer manne in die gemeentes te skryf en hulle teen ontwikkelende neigings te waarsku en om regskapenes aan te moedig om vas te staan vir regverdigheid.

      12. (a) Hoe het die afvalligheid in die eeue ná Johannes se dag ontwikkel? (b) Hoe het die Christendom ontstaan?

      12 Ons weet nie hoe die gemeentes in 96 G.J. op Jesus se boodskappe gereageer het nie. Maar ons weet wel dat die afvalligheid ná Johannes se dood vinnig ontwikkel het. “Christene” het opgehou om Jehovah se naam te gebruik en het dit in Bybelmanuskripte deur “Here” of “God” vervang. Teen die vierde eeu het die valse Drie-eenheidsleer in die gemeentes ingesypel. Gedurende hierdie selfde tydperk is die idee van ’n onsterflike siel aangeneem. Uiteindelik het die Romeinse keiser Konstantyn staatsgoedkeuring aan die “Christelike” godsdiens gegee, en dit het tot die ontwikkeling van die Christendom gelei, waar Kerk en Staat duisend jaar lank saam regeer het. Dit was maklik om ’n nuwerwetse “Christen” te word. Hele stamme het hulle vroeëre heidense oortuigings by weergawes van hierdie godsdiens aangepas. Baie van die leiers in die Christendom het onderdrukkende politieke tiranne geword en het hulle afvallige beskouings deur die swaard op ander afgedwing.

      13. Watter weg het die afvallige Christene ingeslaan ondanks Jesus se waarskuwing teen sektarisme?

      13 Die afvallige Christene het Jesus se woorde aan die sewe gemeentes geheel en al geïgnoreer. Jesus het die Efesiërs gewaarsku dat hulle die liefde wat hulle eers gehad het, moet herwin (Openbaring 2:4). Tog het lede van die Christendom, wat nie meer in liefde vir Jehovah verenig was nie, wrede oorloë gevoer en mekaar verskriklik vervolg (1 Johannes 4:20). Jesus het die gemeente in Pergamum teen sektarisme gewaarsku. Nietemin het sektes alreeds in die tweede eeu verskyn, en vandag is daar duisende twistende sektes en godsdienste in die Christendom.—Openbaring 2:15.

      14. (a) Watter weg het verklaarde Christene ingeslaan, al het Jesus hulle teen ’n geestelik dooie toestand gewaarsku? (b) Op watter maniere het die verklaarde Christene versuim om ag te slaan op Jesus se waarskuwing teen afgodediens en onsedelikheid?

      14 Jesus het die gemeente in Sardis teen ’n geestelik dooie toestand gewaarsku (Openbaring 3:1). Soos diegene in Sardis het verklaarde Christene gou van Christelike werke vergeet en kort voor lank die uiters belangrike predikingswerk aan ’n klein, betaalde geestelikeklas oorgedra. Jesus het die gemeente in Tiatira teen afgodediens en hoerery gewaarsku (Openbaring 2:20). Nogtans het die Christendom die gebruik van beelde sowel as subtieler vorme van afgodediens, soos nasionalisme en materialisme, openlik goedgekeur. En hoewel onsedelikheid soms van die preekstoel af veroordeel word, is dit nog altyd algemeen geduld.

      15. Wat openbaar Jesus se woorde aan die sewe gemeentes omtrent die Christendom se godsdienste, en wat is die Christendom se geestelikes?

      15 Jesus se woorde aan die sewe gemeentes openbaar derhalwe die algehele versuim van al die Christendom se godsdienste om Jehovah se spesiale volk te wees. Trouens, die geestelikes van die Christendom is die prominentste lede van Satan se saad. Die apostel Paulus het hulle “die wettelose” genoem en voorspel dat hulle “teenwoordigheid . . . volgens die werking van Satan [is] met allerhande kragtige werke en leuenagtige tekens en voortekens en met allerhande onregverdige bedrog”.—2 Tessalonisense 2:9, 10.

      16. (a) Vir wie het die Christendom se leiers besondere haat getoon? (b) Wat het gedurende die Middeleeue in die Christendom plaasgevind? (c) Het die Protestantse opstand, of Hervorming, die Christendom se afvallige handelswyse laat verander?

      16 Hoewel die godsdienstige sowel as die sekulêre leiers van die Christendom beweer dat hulle die herders van die kudde van God is, het hulle besondere haat getoon vir enigiemand wat mense probeer aanspoor het om die Bybel te lees of enigiemand wat hulle onskriftuurlike gebruike aan die kaak gestel het. Johannes Hus en die Bybelvertaler William Tyndale is vervolg en doodgemaak. Gedurende die donker Middeleeue het die heerskappy van die afvalliges ’n hoogtepunt bereik met die diaboliese Katolieke Inkwisisie. Enigiemand wat die leerstellings of gesag van die kerk betwis het, is genadeloos onderdruk, en derduisende sogenaamde ketters is doodgemartel of op die brandstapel verbrand. Satan het sodoende probeer verseker dat enige ware saad van God se gemalinorganisasie gou vernietig sou word. Toe die Protestantse opstand, of Hervorming, plaasgevind het (van 1517 af), het baie Protestantse kerke ’n soortgelyke onverdraagsame gees geopenbaar. Hulle het ook bloedskuldig geword deur dié wat probeer het om teenoor God en Christus lojaal te wees, ’n marteldood te laat sterf. Waarlik, “die bloed van heiliges” is vryelik uitgestort!—Openbaring 16:6; vergelyk Matteus 23:33-36.

      Die saad bly bestaan

      17. (a) Wat het Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid voorspel? (b) Wat het in 1918 gebeur, en tot watter verwerping en watter aanstelling het dit gelei?

      17 In Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid het hy die tyd van duisternis voorspel wat sou bestaan terwyl die Christendom oppergesag voer. Nogtans sou daar deur al die eeue van afvalligheid heen individuele, koringagtige Christene, ware gesalfdes, wees (Matteus 13:24-29, 36-43). Toe die dag van die Here in Oktober 1914 aangebreek het, was daar dus nog steeds ware Christene op die aarde (Openbaring 1:10). Dit blyk dat Jehovah omtrent drie en ’n half jaar later, in 1918, na sy geestelike tempel gekom het om te oordeel, vergesel van Jesus as sy “boodskapper van die verbond” (Maleagi 3:1; Matteus 13:47-50). Dit was tyd vir die Heer om die valse Christene finaal te verwerp en ‘die getroue en verstandige slaaf oor al sy besittings’ aan te stel.—Matteus 7:22, 23; 24:45-47.

      18. Watter “uur” het in 1914 aangebreek, en wat was dit tyd vir die slaaf om te doen?

      18 Dit was ook tyd vir hierdie slaaf om spesiale aandag te skenk aan die dinge wat in Jesus se boodskappe aan die sewe gemeentes opgeteken is, soos ons kan sien uit die inhoud daarvan. Jesus meld byvoorbeeld dat hy kom om die gemeentes te oordeel, en hierdie oordeel het in 1918 begin (Openbaring 2:5, 16, 22, 23; 3:3). Hy sê ook dat hy die gemeente in Filadelfia sal beskerm in “die uur van beproewing, wat oor die hele bewoonde aarde gaan kom” (Openbaring 3:10, 11). Hierdie “uur van beproewing” het eers begin toe die dag van die Here in 1914 aangebreek het, waarna Christene getoets is ten opsigte van hulle lojaliteit teenoor die opgerigte Koninkryk van God.—Vergelyk Matteus 24:3, 9-13.

      19. (a) Wat beeld die sewe gemeentes vandag af? (b) Wie het in groot getalle by die gesalfde Christene aangesluit, en waarom is Jesus se raad en die toestande wat hy beskryf, ook op hulle van toepassing? (c) Hoe moet ons Jesus se boodskappe aan die sewe eerste-eeuse gemeentes beskou?

      19 Daarom is Jesus se woorde aan die gemeentes hoofsaaklik sedert 1914 van toepassing. Teen hierdie agtergrond beeld die sewe gemeentes al die gemeentes van gesalfde Christene gedurende die dag van die Here af. Daarbenewens het groot getalle gelowiges wat hoop om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe, gedurende die afgelope 70 jaar of meer aangesluit by die gesalfde Christene, wat deur Johannes afgebeeld is. Die raad van die verheerlikte Jesus Christus en die toestande wat hy tydens sy inspeksie in die sewe gemeentes aangetref het, is net soveel op hulle van toepassing, aangesien daar net een standaard van regverdigheid en getrouheid vir al Jehovah se knegte is (Eksodus 12:49; Kolossense 3:11). Jesus se boodskappe aan die sewe eerste-eeuse gemeentes in Klein-Asië is derhalwe nie bloot van geskiedkundige belang nie. Dit beteken lewe of dood vir elkeen van ons. Laat ons dan aandagtig na Jesus se woorde luister.

      [Voetnote]

      a In die oorspronklike Hebreeus is daar in Jesaja 44:6 nie ’n bepaalde lidwoord by die woorde “eerste” en “laaste” nie, terwyl die bepaalde lidwoord wel in die oorspronklike Grieks in Jesus se beskrywing van homself in Openbaring 1:17 voorkom. Grammaties dui Openbaring 1:17 dus ’n titel aan, terwyl Jesaja 44:6 Jehovah se Godheid beskryf.

      b Die Griekse woord agʹge·los (wat “anʹge·los” uitgespreek word) beteken “boodskapper” sowel as “engel”. In Maleagi 2:7 word ’n Levitiese priester ’n “boodskapper” (Hebreeus, mal·’akhʹ) genoem.—Sien voetnoot in NW.

      [Venster op bladsy 32]

      ’n Tyd van toetsing en oordeel

      Jesus is omstreeks Oktober 29 G.J. in die Jordaanrivier gedoop en as aangewese Koning gesalf. Hy het drie en ’n half jaar later, in 33 G.J., na Jerusalem se tempel gekom en dié wat dit ’n rowerspelonk gemaak het, uitgedryf. Daar is blykbaar ’n parallel tussen hierdie tydperk en die tydperk van drie en ’n half jaar wat strek vandat Jesus in Oktober 1914 in die hemele op die troon geplaas is totdat hy gekom het om verklaarde Christene te inspekteer toe die oordeel by die huis van God begin het (Matteus 21:12, 13; 1 Petrus 4:17). Vroeg in 1918 is die Koninkryksbedrywigheid van Jehovah se volk hewig teëgestaan. Dit was oor die hele aarde ’n tyd van toetsing, en vreesagtiges is uitgesif. In Mei 1918 het die Christendom se geestelikes die gevangesetting van ampsdraers van die Wagtoringgenootskap aangestig, maar hulle is nege maande later vrygelaat. Later is die valse aanklagte teen hulle teruggetrek. Sedert 1919 het die organisasie van God se volk, nou beproef en gelouter, hulle ywerig daarop toegelê om Jehovah se Koninkryk onder Christus Jesus as die hoop vir die mensdom te verkondig.—Maleagi 3:1-3.

      Toe Jesus in 1918 met sy inspeksie begin het, is die geestelikes van die Christendom ongetwyfeld veroordeel. Hulle het nie alleen die vervolging teen God se volk aangestig nie, maar het hulle ook groot bloedskuld op die hals gehaal deur die strydende nasies gedurende die Eerste Wêreldoorlog te ondersteun (Openbaring 18:21, 24). Daardie geestelikes het destyds hulle hoop op die mensgemaakte Volkebond gevestig. Teen 1919 het die Christendom, saam met die hele wêreldryk van valse godsdiens, God se guns heeltemal verloor.

      [Kaart op bladsy 28, 29]

      (Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

      EFESE

      SMIRNA

      PERGAMUM

      TIATIRA

      SARDIS

      FILADELFIA

      LAODISEA

      [Prente op bladsy 31]

      Die godsdiens van die Christendom het hom groot bloedskuld op die hals gehaal deur dié wat die Bybel vertaal, gelees of selfs besit het, te vervolg en dood te maak

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel