Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 4/22 bl. 20-25
  • Verban na Siberië!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verban na Siberië!
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons word verban
  • Werk in ballingskap
  • Ons geestelike lewe
  • Ons volhard te midde van veranderende omstandighede
  • My geestelike groei
  • Hoe die werk vooruitgegaan het
  • Verheug oor die groot vermeerdering
  • Die vernaamste teiken van die Sowjetaanval
    Ontwaak!—2001
  • Ek Dien God ondanks uitdagings
    Ontwaak!—2005
  • Die hoofsaak in my lewe—Om lojaal te bly
    Ontwaak!—2000
  • Meer as 40 jaar onder Kommunistiese beperkings
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 4/22 bl. 20-25

Verban na Siberië!

SOOS VERTEL DEUR WASILI KALIN

Gestel jy sien ’n man wat kalm sit en Bybellees te midde van die gedreun van bomme, sou jy dan nie wou weet hoe hy so kalm kon bly nie? Meer as 56 jaar gelede het my pa presies so ’n toneel aanskou.

DIT was Julie 1942, toe die Tweede Wêreldoorlog op sy ergste was. Terwyl die Duitse frontlinie deur my pa-hulle se dorpie Wilsjanitsa, in die Oekraïne, beweeg het, het my pa by die huis van ’n bejaarde egpaar aangegaan. Bomme het oral ontplof, maar die man het by die stoof gesit, mielies warm gemaak en die Bybel gelees.

Ek is vyf jaar later gebore, naby die pragtige stad Iwano-Frankofsk in die westelike Oekraïne, wat toe ’n deel van die Sowjetunie was. My pa het my later vertel van sy onvergeetlike ontmoeting met daardie man, een van Jehovah se Getuies, en ook van die verskrikkinge van die oorlogsjare. Dit het die mense uitgeput en verbysterd gelaat, en baie het gewonder: ‘Waarom is daar soveel ongeregtigheid? Waarom sterf duisende onskuldige mense? Waarom laat God dit toe? Waarom? Waarom? Waarom?’

My pa en die bejaarde man het lank en openhartig oor sulke vrae gepraat. Die man het van die een teks na die ander in sy Bybel geblaai en vir my pa antwoorde gewys op vrae waaroor hy al lank gewonder het. Hy het verduidelik dat God van voorneme is om alle oorloë op sy vasgestelde tyd te beëindig en dat die aarde ’n lieflike paradys gaan word.—Psalm 46:10; Jesaja 2:4; Openbaring 21:3, 4.

My pa het huis toe gehardloop en uitgeroep: “Kan julle dit glo? Ná een bespreking met Jehovah se Getuies het my oë oopgegaan! Ek het die waarheid gevind!” Al het my pa gereeld dienste in die Katolieke Kerk bygewoon, het hy gesê dat die priesters nog nooit sy vrae kon beantwoord nie. My pa het dus die Bybel begin bestudeer, en my ma het by hom aangesluit. Hulle het ook hulle drie kinders begin leer—my suster, wat net 2 jaar oud was, en my broers, wat 7 en 11 was. Kort daarna het ’n bom hulle huis erg beskadig sodat hulle net een kamer oorgehad het om in te bly.

My ma het uit ’n groot gesin van ses susters en een broer gekom. Haar pa was een van die ryker mense in die omgewing, en hy het baie waarde aan sy gesag en status geheg. Familielede het dus aanvanklik ons gesin se nuutgevonde geloof teëgestaan. Maar mettertyd het baie van hierdie teenstanders opgehou om onskriftuurlike godsdiensgebruike te volg, soos hulle gebruik van ikone, en hulle het by my ouers in ware aanbidding aangesluit.

Die priesters het mense openlik teen die Getuies opgesweep. Gevolglik het die plaaslike inwoners my ouers se ruite gebreek en hulle gedreig. Ten spyte hiervan het my ouers aangehou om die Bybel te bestudeer. Ons gesin het Jehovah dus in gees en waarheid aanbid teen die tyd wat ek in 1947 gebore is.—Johannes 4:24.

Ons word verban

Ek kan die vroeë oggendure van 8 April 1951 nog baie goed onthou, al was ek toe net vier. Soldate met honde het in ons huis ingekom. Hulle het ’n deportasiebevel gehad en ons huis deursoek. Soldate met masjiengewere en honde het by die deur gestaan, en mans in militêre uniforms het by ons tafel gesit en vir ons gewag terwyl ons in die twee uur wat hulle ons toegelaat het haastig gereedgemaak het om te vertrek. Ek kon nie verstaan wat aan die gang was nie, en ek het gehuil.

My ouers is beveel om ’n dokument te teken wat sê dat hulle nie meer Jehovah se Getuies is nie en dat hulle niks meer met hulle te doen sal hê nie. As hulle dit sou teken, sou hulle toegelaat word om in hulle huis en in hulle vaderland te bly. Maar my pa het onomwonde gesê: “Ek is vol vertroue dat ons God, Jehovah, met ons sal wees ongeag waarheen julle ons neem.”

“Dink aan jou gesin, aan jou kinders”, het die offisier gepleit. “Julle word immers nie na ’n vakansie-oord toe geneem nie. Julle word na die verre noorde toe geneem, waar daar altyd sneeu is en waar ysbere in die strate rondloop.”

Destyds was die woord “Siberië” vir almal iets vreesliks en geheimsinnigs. Maar geloof en ’n innige liefde vir Jehovah was sterker as ons vrees vir die onbekende. Ons besittings is op ’n wa gelaai, en ons is stad toe geneem en saam met 20 tot 30 ander gesinne in goederewaens gelaai. En so het ons reis na die verre taiga, of wildernis, van Siberië begin.

By die stasies op ons pad het ons ander treine teëgekom wat bannelinge vervoer het, en ons het die tekens gesien wat aan die treinwaens gehang is: “Jehovah se Getuies op hierdie trein.” Dit was ’n getuienis op sigself, aangesien baie op hierdie manier te wete gekom het dat duisende Getuies en hulle gesinne na verskillende gebiede in die noorde en die verre ooste gestuur is.

Hierdie gevangeneming en verbanning van Jehovah se Getuies in April 1951 is goed gedokumenteer. Die geskiedskrywer Walter Kolarz het die volgende hieroor geskryf in sy boek Religion in the Soviet Union: “Dit was nie die einde van die ‘Getuies’ in Rusland nie, maar net die begin van ’n nuwe fase in hulle werk om bekeerlinge te maak. Hulle het selfs hulle geloof probeer verkondig wanneer hulle by stasies op hulle pad na ballingskap gestop het. Toe die Sowjetregering hulle verban het, kon hulle op geen beter manier bygedra het tot die verspreiding van die ‘Getuies’ se geloof nie. Die ‘Getuies’ is uit hulle isolasie in dorpies na ’n groter wêreld gebring, al was dit net die verskriklike wêreld van die konsentrasie- en slawearbeidskampe.”

Ons gesin was gelukkig, aangesien ons ’n bietjie kos kon saamneem—meel, graan en boontjies. My oupa is selfs toegelaat om ’n vark te slag, en dit het kos vir ons en ander Getuies voorsien. Terwyl ons gereis het, kon mense hoor hoe ons hartlik in die treinwaens sing. Jehovah het ons die krag gegee om te volhard.—Spreuke 18:10.

Ons het byna drie weke lank deur Rusland gereis en uiteindelik in die koue, eensame, afgesonderde Siberië aangekom. Ons is na die Toreja-stasie in die Tsjoensk-streek van die Irkoetsk-distrik geneem. Van daar af is ons dieper die taiga ingeneem na ’n klein dorpie, na wat ons dokumente as ons “ewige nedersetting” beskryf het. Die besittings van 15 gesinne het maklik op ’n slee gepas, en ’n trekker het dit oor die lentemodder gesleep. Omtrent 20 gesinne is in barakke gevestig, wat uit lang gange sonder afskortings bestaan het. Die owerheid het die plaaslike inwoners vooraf gewaarsku dat Jehovah se Getuies verskriklike mense is. In die begin was die mense dus bang vir ons en het hulle glad nie probeer om ons beter te leer ken nie.

Werk in ballingskap

Jehovah se Getuies se werk was om bome af te kap, en dít onder die moeilikste toestande. Alle werk is met die hand gedoen—om die stompe te saag, om dit te kap, om dit op perdewaens te laai en om dit daarna in treinwaens te laai. Die situasie is vererger deur swerms muggies waarvan ’n mens glad nie kon wegkom nie. My pa het baie gely. Sy hele liggaam was geswel, en hy het vurig tot Jehovah gebid om hom te help volhard. Maar ten spyte van al die probleme was die geloof van die oorgrote meerderheid van Jehovah se Getuies onwankelbaar.

Kort daarna is ons na die stad Irkoetsk geneem, waar ons gesin in ’n voormalige gevangenekamp gewoon het en in ’n steenmakery gewerk het. Stene is met die hand direk uit groot, warm oonde gehaal, en werkskwotas is gedurig verhoog, sodat selfs kinders hulle ouers moes help om die kwotas te vul. Dit het ons aan die slawearbeid van die Israeliete in die eertydse Egipte laat dink.—Exodus 5:9-16.

Dit het duidelik geword dat die Getuies hardwerkend en eerlik was, nie “vyande van die volk” soos daar beweer is nie. Mense kon sien dat nie een Getuie die owerheid beledig het nie en dat Getuies ook nie die besluite van diegene in gesagsposisies teëgestaan het nie. Baie het selfs hulle geloof begin waardeer.

Ons geestelike lewe

Alhoewel die Getuies herhaaldelik deursoek is—voordat hulle in ballingskap gestuur is, terwyl hulle daarheen op pad was en by die plekke waarna hulle verban is—het baie daarin geslaag om eksemplare van Die Wagtoring en selfs Bybels weg te steek. Dit is later met die hand en ander metodes gekopieer. Christelike vergaderinge is gereeld in die barakke gehou. Wanneer die kommandant van die barakke ingekom en op ’n groep van ons afgekom het wat ’n lied sing, het hy ons beveel om stil te bly. Ons het. Maar sodra hy na die volgende barak gegaan het, het ons weer begin sing. Dit was onmoontlik om ons te laat stilbly.

Ons predikingswerk het ook nooit opgehou nie. Getuies het met almal op alle plekke gepraat. My ouer broers en my ouers het my dikwels vertel hoe hulle dit reggekry het om ander van Bybelwaarhede te vertel. Gevolglik het Bybelwaarheid geleidelik die harte van opregtes begin bereik. Jehovah se Koninkryk is dus in die vroeë vyftigerjare in en om Irkoetsk bekend gemaak.

Aanvanklik is die Getuies as politieke vyande beskou, maar later is daar amptelik erken dat ons organisasie geheel en al godsdienstig is. Die owerheid het nietemin ons bedrywighede probeer stopsit. Ons het dus in klein groepies van twee of drie gesinne vir Bybelstudie bymekaargekom in ’n poging om te keer dat hulle daarvan uitvind. Vroeg een Februarie-oggend in 1952 is ’n deeglike soektog uitgevoer. Daarna is tien Getuies in hegtenis geneem, en die res van ons is na verskillende plekke toe geneem. Ons gesin is na die dorp Iskra geneem, wat ongeveer honderd inwoners gehad het en sowat 30 kilometer van die stad Irkoetsk af was.

Ons volhard te midde van veranderende omstandighede

Die dorpsbestuur het ons met onverwagse gasvryheid ontmoet. Die mense was nederig en vriendelik—’n hele paar het selfs uit hulle huise gekom om ons te help. Ons was die derde gesin wat in dieselfde klein kamertjie van ongeveer 17 vierkante meter moes woon. Ons enigste bron van lig was paraffienlampe.

Die volgende oggend was daar ’n verkiesing. My ouers het gesê dat hulle alreeds vir God se Koninkryk gestem het, wat die mense natuurlik nie verstaan het nie. Die volwasse lede van ons gesin het dus die hele dag in aanhouding deurgebring. ’n Hele paar mense het hulle agterna oor hulle opvattings uitgevra, en dit het ons gesin ’n goeie geleentheid gegee om oor God se Koninkryk as die enigste hoop vir die mensdom te praat.

Gedurende die vier jaar wat ons in die dorp Iskra gewoon het, was daar geen ander Getuies in die omgewing met wie ons kon assosieer nie. As ons die dorp wou verlaat, moes ons spesiale toestemming van die kommandant gehad het, en hy het dit selde gegee, aangesien die hoofrede vir ons verbanning was om ons van ander mense af te sonder. Maar die Getuies het altyd met mekaar in verbinding probeer tree sodat hulle enige geestelike voedsel wat hulle in die hande gekry het met mekaar kon deel.

Ná Stalin se dood in 1953 is al die veroordeelde Getuies se vonnisse van 25 jaar tot 10 jaar verkort. Diegene in Siberië het nie meer ’n spesiale dokument nodig gehad om te reis nie. Maar die owerheid het gou soektogte begin uitvoer en dan die Getuies in hegtenis geneem as hulle Bybels of Bybellektuur in hulle besit gevind het. Spesiale kampe is vir die Getuies opgerig, en sowat 400 broers en 200 susters is in die gebied om Irkoetsk in hierdie kampe aangehou.

Jehovah se Getuies regoor die wêreld het gehoor hoe ons in die Sowjetunie vervolg word. Gevolglik is daar tussen die middel van 1956 en Februarie van 1957 by 199 streekbyeenkomste wat in alle wêrelddele gehou is ’n petisie namens ons aangeneem. Altesaam 462 936 mense wat teenwoordig was, het die petisie goedgekeur wat aan die destydse Sowjetpremier Nikolai A. Boelganin gerig was. In die petisie is daar onder meer gevra dat ons vrygelaat moet word en dat ons “toestemming moet kry om Die Wagtoring te ontvang en uit te gee in Russies, Oekraïens en enige ander tale wat ons moontlik nodig ag, sowel as ander Bybelpublikasies wat deur Jehovah se getuies regoor die wêreld gebruik word”.

Intussen is ons gesin na die afgeleë dorp Choedjakowo, ongeveer 20 kilometer van Irkoetsk af, gestuur. Ons het sewe jaar lank daar gewoon. In 1960 het my broer Fiodor na Irkoetsk gegaan, en die jaar daarna is my ouer broer getroud en het my suster weggetrek. Toe, in 1962, is Fiodor in hegtenis geneem en weens sy predikingswerk in die tronk gesit.

My geestelike groei

Van ons dorp Choedjakowo af was dit ongeveer ’n 20 kilometer lange reis te voet of per fiets om saam met ander vir Bybelstudie te vergader. Ons het dus na Irkoetsk probeer trek sodat ons nader aan ander Getuies kon wees. Maar die hoof van die gebied waar ons gewoon het, wou nie hê dat ons trek nie, en hy het alles in sy vermoë gedoen om dit te voorkom. Ná verloop van tyd het hierdie man egter meer goedgesind teenoor ons geword, en ons kon na die dorp Piwowaricha trek, ongeveer 10 kilometer van Irkoetsk af. Daar was ’n gemeente van Jehovah se Getuies, en ’n nuwe lewe het vir my begin. In Piwowaricha was daar georganiseerde Gemeentelike Boekstudiegroepe en broers wat oor geestelike bedrywighede toesig gehou het. Hoe gelukkig was ek tog!

Teen hierdie tyd het ek ’n groot liefde vir Bybelwaarheid gehad, en ek wou my laat doop. In Augustus 1965 is my begeerte verwesenlik toe ek in die klein Olcherivier gedoop is, waar talle nuwe Getuies gedurende daardie tydperk gedoop is. Vir iemand wat ons toevallig gesien het, het dit gelyk asof ons op ’n piekniek was en in die rivier swem. Kort daarna het ek my eerste toewysing as opsiener van die Teokratiese Bedieningskool ontvang. Toe, in November 1965, het ons nog ’n rede gehad om bly te wees toe Fiodor uit die tronk vrygelaat is.

Hoe die werk vooruitgegaan het

In 1965 is alle bannelinge bymekaargeroep, en daar is aangekondig dat ons die reg het om te trek waarheen ons wil, wat sodoende die einde van ons “ewige nedersetting” was. Kan jy jou voorstel hoe verheug ons was? Hoewel baie onder ons toe na ander dele van die land getrek het, het ander besluit om te bly waar Jehovah ons in ons geestelike groei en bedrywighede geseën en onderskraag het. Baie van hulle het hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders grootgemaak in Siberië, wat op die ou end toe nie so vreeslik was nie.

In 1967 het ek Maria ontmoet, ’n meisie wie se gesin uit die Oekraïne na Siberië verban is. Toe ons jonk was, het ons albei in die Oekraïense dorp Wilsjanitsa gewoon. Ons is in 1968 getroud en is eindelik met ’n seun, Jaroslaf, en later met ’n dogter, Oksana, geseën.

Ons het voortgegaan om by begrafnisse en troues in groot getalle vir geestelike assosiasie bymekaar te kom. Ons het hierdie geleenthede ook gebruik om Bybelwaarhede te verduidelik aan familielede en vriende wat dit bygewoon het en wat nie Getuies was nie. Sekuriteitsbeamptes het dikwels hierdie geleenthede bygewoon, waar ons openlik uit die Bybel getuig het van die opstandingshoop of van Jehovah se voorsiening van die huwelik en die toekomstige seëninge in sy nuwe wêreld.

Eendag, toe ek ’n toespraak by ’n begrafnis afgesluit het, het daar ’n motor stilgehou, die deure het oopgeswaai en een van die mans in die motor het uitgeklim en my beveel om in te klim. Ek was nie bang nie. Ons was per slot van rekening nie misdadigers nie, net mense wat in God glo. Maar ek het in my sak mense in ons gemeente se verslae van die bediening gehad. Ek kon hiervoor in hegtenis geneem word. Ek het dus gevra of ek geld vir my vrou kon gee voordat ek saam met hulle gaan. Toe het ek, reg voor hulle oë, kalm my beursie sowel as die gemeentelike verslae vir haar gegee.

In 1974 het ek en Maria in die geheim Bybellektuur in ons huis begin voorberei. Aangesien ons ’n klein seuntjie gehad het, het ons dit laat in die nag gedoen sodat hy nie daarvan sou weet nie. Maar omdat hy nuuskierig was, het hy voorgegee dat hy slaap en geloer om te sien waarmee ons besig was. Later het hy gesê: “Ek weet wie maak die tydskrifte oor God.” Ons het ’n bietjie geskrik, maar ons het Jehovah altyd gevra om ons gesin in hierdie belangrike werk te beskerm.

Uiteindelik was die owerheid meer goedgesind teenoor Jehovah se Getuies, en ons het dus reëlings getref om ’n groot vergadering in die Mir-kuns- en ontspanningsentrum in die stad Oesole Siberskoje te hou. Ons het die stadsamptenare verseker dat ons vergaderinge uitsluitlik vir Bybelstudie en Christelike assosiasie gehou word. In Januarie 1990 het meer as 700 mense die saal gevul en groot openbare belangstelling uitgelok.

Ná die vergadering het ’n verslaggewer gevra: “Wanneer het julle tyd gehad om julle kinders te leer?” Hy, sowel as ander besoekers, was verbaas dat hulle gedurende die vier uur van hierdie eerste openbare vergadering aandagtig gesit en luister het. Kort daarna het ’n goeie artikel oor Jehovah se Getuies in die plaaslike koerant verskyn. Dit het gesê: “’n Mens kan waarlik iets by [Jehovah se Getuies] leer.”

Verheug oor die groot vermeerdering

In 1991 het ons sewe byeenkomste in die Sowjetunie gehad, wat deur 74 252 bygewoon is. Later, nadat voormalige republieke van die Sowjetunie onafhanklik geword het, het ek ’n toewysing van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies af ontvang om na Moskou te gaan. Daar is ek gevra of ek in staat was om my aandeel aan die Koninkrykswerk te vergroot. Teen daardie tyd was Jaroslaf getroud en het hy al ’n kind gehad, en Oksana was toe ’n tiener. In 1993 het ek en Maria dus ons voltydse bediening in Moskou begin. Daardie selfde jaar is ek aangestel as koördineerder van die Administratiewe Sentrum van die Streeksgodsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies in Rusland.

Ek en Maria woon en werk nou by ons nuwe takkantoor wat buite St. Petersburg geleë is. Ek ag dit ’n eer dat ek saam met ander getroue broers na die vinnig groeiende aantal Koninkryksverkondigers in Rusland kan omsien. Vandag is daar ruim 260 000 Getuies in die voormalige republieke van die Sowjetunie, en meer as 100 000 in Rusland alleen!

Ek en Maria dink dikwels aan ons dierbare familielede en vriende wat getrou voortgaan in hulle Koninkryksdiens in Siberië, die plek wat ons geliefde tuiste geword het. Vandag word groot byeenkomste gereeld daar gehou, en sowat 2 000 Getuies is in en om Irkoetsk bedrywig. Trouens, die profesie in Jesaja 60:22 word ook in daardie deel van die wêreld vervul: “Die kleinste sal ’n geslag word en die geringste ’n magtige nasie.”

[Prent op bladsy 20]

Saam met my pa, ons gesin en ander bannelinge in 1959 in Irkoetsk

[Prent op bladsy 23]

Kinders in ballingskap in Iskra

[Prent op bladsy 25]

Die jaar toe ons getroud is

[Prent op bladsy 25]

Saam met Maria vandag

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel