Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g01 4/22 bl. 4-9
  • Die vernaamste teiken van die Sowjetaanval

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die vernaamste teiken van die Sowjetaanval
  • Ontwaak!—2001
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dramatiese vermeerdering begin
  • Aanvalle begin
  • ’n Gedenkwaardige gebeurtenis
  • Wat die ballingskap bereik het
  • Pogings om die groei te stuit
  • Waarom die vernaamste teiken van die aanval?
  • Dramatiese Groei
    Ontwaak!—1991
  • Hoe godsdiens voortbestaan het
    Ontwaak!—2001
  • Ek Dien God ondanks uitdagings
    Ontwaak!—2005
  • Die Sowjetaanval op godsdiens
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Ontwaak!—2001
g01 4/22 bl. 4-9

Die vernaamste teiken van die Sowjetaanval

ONDANKS toegewings wat die Sowjetunie aan die Russies-Ortodokse Kerk gemaak het ten einde die Tweede Wêreldoorlog te wen, het hulle ’n wurggreep oor die kerk se bedrywighede behou. Daarom “was die KGB (die Sowjet-staatsveiligheidskomitee) baie meer besorg oor die ‘ondermynende’ bedrywighede van daardie Christene waaroor hulle geen direkte beheer gehad het nie”, volgens The Sword and the Shield, ’n boek wat in 1999 oor die geskiedenis van die KGB geskryf is. Na watter godsdiensgroepe het dit verwys?

Die grootste was die Grieks-Katolieke Kerk van die Oekraïne, wat nou die Oekraïense Katolieke Kerk is. Dit het ongeveer 4 000 000 lidmate gehad. Volgens The Sword and the Shield “het almal behalwe twee van sy tien biskoppe, saam met derduisende priesters en gelowiges, in die Siberiese goelag [strafkampe] vir hulle geloof gesterf”. Ander teikens van die KGB was die ongeregistreerde Protestantse kerke, waaroor die Staat ook nie direkte beheer gehad het nie. In die laat 1950’s het die KGB geskat dat hierdie Protestantse groepe altesaam sowat 100 000 lidmate het.

Die KGB het Jehovah se Getuies as ’n Protestantse groep beskou, waarvan hulle in 1968 geskat het daar ongeveer 20 000 in die Sowjetunie is. Tot en met die begin van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 was daar min Getuies. Gevolglik is hulle amper heeltemal oor die hoof gesien. Maar die situasie het dramaties verander toe daar skielik duisende Getuies in die Sowjetunie verskyn het. Hoe het dit gebeur?

Dramatiese vermeerdering begin

In Walter Kolarz se boek Religion in the Soviet Union, wat in 1961 uitgegee is, het hy twee faktore genoem wat tot hierdie dramatiese vermeerdering bygedra het. Een, het hy gesê, was dat daar in “gebiede wat in 1939-40 deur die Sowjetunie geannekseer is”—Letland, Litaue, Estland en Moldowa—talle “bedrywige groepe van Jehovah se Getuies” was. Daarbenewens is dele van oostelike Pole en Tsjeggo-Slowakye, waarin daar meer as duisend Getuies was, ook deur die Sowjetunie geannekseer en het dit ’n deel van die Oekraïne geword. Al hierdie Getuies is dus as ’t ware oornag na die Sowjetunie verplaas.

Verdere vermeerdering, “al klink dit dalk ongelooflik”, het Kolarz geskryf, het gekom van “die Duitse konsentrasiekampe”. Die Nazi’s het duisende Getuies opgesluit omdat hulle geweier het om Hitler en sy aanvalsoorlog te ondersteun. Kolarz het verduidelik dat Russiese gevangenes in hierdie kampe “die moed en standvastigheid van die ‘Getuies’ bewonder het en waarskynlik om hierdie rede hulle teologie aantreklik gevind het”. Gevolglik het talle jong Russe van hierdie kampe af na die Sowjetunie teruggekeer met ’n nuutgevonde geloof in Jehovah God en sy wonderlike voorneme vir die aarde.—Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4.

Weens sulke faktore was daar spoedig duisende Getuies in die Sowjetunie. Vroeg in 1946 was daar ten minste 1 600, en teen die einde van die dekade ver oor die 8 000 Getuies. Die KGB was geskok oor hierdie groei, aangesien hulle, soos vroeër genoem is, veral besorg was oor die “bedrywighede van daardie Christene waaroor hulle geen direkte beheer gehad het nie”.

Aanvalle begin

Al was daar betreklik min Getuies in die Sowjetunie, het hulle ywerige predikingswerk spoedig die skyf van aanvalle deur die Sowjetowerheid geword. In Estland het die aanval in Augustus 1948 begin toe die vyf persone wat die leiding in die werk geneem het, gearresteer en in die tronk gesit is. “Dit was gou duidelik dat die KGB almal wou arresteer”, het ’n Estlandse Getuie, Lembit Toom, gesê. Dit was die geval waar die Getuies ook al in die Sowjetunie gevind is.

Die Sowjets het die Getuies as die slegste misdadigers en as ’n groot bedreiging vir die ateïstiese Sowjetstaat uitgebeeld. Hulle is dus oral agtervolg, gearresteer en opgesluit. The Sword and the Shield het gesê: “Hooggeplaaste KGB-amptenare se obsessie met Jehoviste was miskien die beste voorbeeld van hoe ongebalanseerd hulle was wanneer hulle met selfs die onbeduidendste vorme van verset te doen gehad het.”

’n Treffende bewys van hierdie obsessie was die goed beplande aanval op die Getuies in April 1951. Net twee jaar gelede, in 1999, het professor Sergei Iwanenko, ’n gesiene Russiese geleerde, in sy boek The People Who Are Never Without Their Bibles gesê dat daar vroeg in April 1951 “meer as 5 000 gesinne van Jehovah se Getuies van die Oekraïense, Belo-Russiese, Moldawiese en Baltiese Sowjetrepublieke na ‘’n permanente nedersetting’ in Siberië, die Verre-Ooste en Kazakstan gestuur is”.

’n Gedenkwaardige gebeurtenis

Kan jy jou al die werk voorstel wat by daardie aanval betrokke was—om in een dag duisende Getuiegesinne oor so ’n groot gebied aan te keer? Dink aan wat dit behels het om honderde personeellede, indien nie duisende nie, te koördineer—om eerstens die Getuies te identifiseer en dan, in die donker, gelyktydig klopjagte op hulle huise uit te voer. Daarna moes hulle die mense op perdekarre, waens en ander voertuie laai; na treinstasies neem en hulle na goederewaens oorplaas.

Dink ook aan die lyding van die slagoffers. Kan jy jou voorstel hoe dit moes wees om gedwing te word om—tot drie weke of meer—duisende kilometers te reis in oorvol, onhigiëniese goederewaens wat net ’n emmer as ’n toilet gehad het? En probeer jou voorstel hoe dit was om in die Siberiese wildernis afgelaai te word in die wete dat jy in daardie onherbergsame omgewing ’n bestaan sou moes probeer maak om aan die lewe te bly.

Hierdie maand is die 50ste herdenking van die ballingskap van Jehovah se Getuies in April 1951. Om die verhaal van hulle getrouheid ondanks dekades van vervolging te vertel, is die ondervindinge van oorlewendes op videoband opgeneem. Dit toon dat—net soos in die geval van die eerste-eeuse Christene—pogings om te keer dat mense God aanbid, op die ou end tot mislukking gedoem is.

Wat die ballingskap bereik het

Die Sowjets het gou uitgevind dat dit baie moeiliker sou wees as wat hulle gedink het om die Getuies te kry om hulle aanbidding van Jehovah te laat vaar. Ondanks besware deur hulle gevangenemers het die Getuies lofliedere tot Jehovah gesing terwyl hulle gedwing is om in ballingskap te gaan en het tekens aan hulle treinwaens gehang wat gesê het: “Jehovah se Getuies aan boord.” Een Getuie het verduidelik: “By die treinstasies het ons ander treine teëgekom waarop bannelinge was, en ons het die tekens gesien wat aan die treinwaens gehang is.” Hoe bemoedigend was dit tog!

Die bannelinge het dus nie ontmoedig geraak nie, maar het eerder die gees van Jesus se apostels weerspieël. Die Bybel sê dat hulle, nadat hulle geslaan is en beveel is om op te hou preek, ‘sonder ophou voortgegaan het om te leer en die goeie nuus oor die Christus bekend te maak’ (Handelinge 5:40-42). Dit is inderdaad soos Kolarz oor die ballingskap gesê het: “Dit was nie die einde van die ‘Getuies’ in Rusland nie, maar net die begin van ’n nuwe hoofstuk in hulle werk om bekeerlinge te maak. Hulle het selfs toe hulle in ballingskap gegaan het, probeer om hulle geloof uit te dra wanneer hulle by stasies stilgehou het.”

Toe die Getuies by hulle verskeie bestemmings aangekom en afgelaai is, het hulle ’n goeie reputasie as gehoorsame, harde werkers opgebou. Maar terselfdertyd het hulle, in navolging van Christus se apostels, in werklikheid vir hulle onderdrukkers gesê: ‘Ons kan nie ophou om oor God te praat nie’ (Handelinge 4:20). Baie het geluister na wat die Getuies geleer het en het God saam met hulle begin aanbid.

Die gevolg was net soos Kolarz verduidelik het: “Die Sowjetregering kon niks beters vir die verspreiding van hulle geloof gedoen het as om hulle te verban nie. Die ‘Getuies’ is uit hulle afgeleë dorpies [in die westelike Sowjetrepublieke] na ’n groter wêreld gebring, al was dit net die verskriklike wêreld van die konsentrasie- en strafkampe.”

Pogings om die groei te stuit

Mettertyd het die Sowjets verskillende metodes probeer om Jehovah se Getuies te stuit. Aangesien wrede vervolging onsuksesvol was, is ’n goed beplande program van valse propaganda van stapel gestuur. Boeke, rolprente en radioprogramme—asook infiltrasie van gemeentes deur opgeleide KGB-agente—is alles probeer.

Die algemene wanvoorstelling van die Getuies het veroorsaak dat baie mense hulle verkeerdelik gevrees en gewantrou het, soos blyk uit ’n artikel in die Reader’s Digest van Augustus 1982, die Kanadese uitgawe. Dit is geskryf deur Wladimir Boekofski, ’n Rus wat in 1976 toegelaat is om na Engeland te immigreer. Hy het geskryf: “Een aand in Londen het ek toevallig ’n teken op ’n gebou gesien waarop gestaan het: JEHOVAH SE GETUIES . . . Ek kon nie verder lees nie, ek was verstom en het amper paniekbevange geraak.”

Wladimir het verduidelik waarom hy onnodig bang was: “Dit is die kultus wat die owerheid in ons land as ’n kinderverskrikker gebruik . . . In die USSR is dit net in tronke en konsentrasiekampe wat jy ‘Getuies’ in vlees en bloed ontmoet. En hier was ek voor ’n gebou, ’n teken. Kon enigiemand werklik ingaan en ’n koppie tee saam met hulle drink?” het hy gevra. Om te beklemtoon waarom hy so ontsteld was, het Wladimir afgesluit: “In ons land word die ‘Getuies’ net so vurig vervolg soos die Mafia in hulle land, en hulle is in dieselfde geheimsinnigheid gehul.”

Maar ten spyte van wrede vervolging en valse propaganda het die Getuies volhard en toegeneem. Sowjetboeke soos The Truths About Jehovah’s Witnesses, waarvan 100 000 eksemplare in 1978 in Russies gedruk is, het voorgestel dat die propaganda teen die Getuies verskerp moes word. Die skrywer, W. W. Konik, wat beskryf het hoe die Getuies met hulle predikingswerk voortgegaan het ondanks kwaai beperkings, het voorgestel: “Godsdiensnavorsers in die Sowjetunie moet doeltreffender metodes leer om die leringe van Jehovah se Getuies te beveg.”

Waarom die vernaamste teiken van die aanval?

Kortom, Jehovah se Getuies was die vernaamste teiken van die Sowjetaanval omdat hulle Jesus se vroeë volgelinge nagevolg het. In die eerste eeu is die apostels beveel om “nie aan te hou om in [Jesus se] naam te leer nie”. Maar later het hulle vervolgers gekla: “Kyk! julle het Jerusalem . . . met julle leer vervul.” Die apostels het nie ontken dat hulle die goeie nuus verkondig het nie, hoewel hulle beveel is om dit nie te doen nie, maar het eerder respekvol geantwoord: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:27-29.

Jehovah se Getuies neem vandag ook Jesus se bevel aan sy volgelinge ernstig op “om vir die volk te preek en om ’n deeglike getuienis te gee” (Handelinge 10:42). In Maurice Hindus se boek The Kremlin’s Human Dilemma het hy verduidelik dat dit die Getuies se “onbedwingbare ywer vir die evangelisasiewerk” is wat hulle “veral ’n las vir Moskou” gemaak het “en hulle voortdurend in konfrontasie met die Sowjetpolisie” gebring het. Hy het bygevoeg: “Niks keer hulle nie. As jy hulle op een plek onderdruk, verskyn hulle op ’n ander plek.”

“So ver ek weet”, het die Russiese geskiedskrywer Sergei Iwanenko gesê, “was die organisasie van Jehovah se Getuies die enigste godsdiensorganisasie in die USSR wat ten spyte van die verbod en vervolging gegroei het.” Ander godsdienste het natuurlik ook bly funksioneer, met inbegrip van die vernaamste van hulle almal, die Russies-Ortodokse Kerk. Jy sal dit interessant vind om te sien hoe die kerk sowel as die Getuies in staat was om die Sowjetaanval te oorleef.

[Venster op bladsy 6]

‘Hulle is die ergste vervolg’

A Concise Encyclopaedia of Russia van 1964 het gesê dat Jehovah se Getuies “besonder bedrywig was met die werk om bekeerlinge te maak” en “die godsdiensgemeenskap [is] wat die ergste in die Sowjetunie vervolg is”.

[Venster/Prent op bladsy 7]

EEN VAN DUISENDE—Fiodor Kalin beskryf sy gesin se ballingskap

Ons gesin het in die dorpie Wilsjanitsa, in die westelike Oekraïne, gewoon. In die donker oggendure van 8 April 1951 het polisiemanne met honde gekom, ons wakker gemaak en vir ons gesê dat ons volgens ’n bevel van die regering in Moskou na Siberië gestuur word. Maar as ons ’n dokument onderteken het wat sê dat ons nie meer Jehovah se Getuies is nie, kon ons bly. Ons gesin van sewe, insluitende my ouers en my broers en susters, was vasbeslote om Getuies te bly. Ek was toe 19 jaar oud.

Een polisieman het gesê: “Neem boontjies, mielies, meel, piekels en kool saam—want hoe gaan julle die kinders andersins kos gee?” Ons is ook toegelaat om ’n paar hoenders en ’n vark te slag en die vleis saam met ons te neem. Hulle het twee perdekarre gebring, en alles is daarop gelaai en na die dorp Hriplin geneem. Daar is omtrent 40 of 50 van ons in ’n goederewa saamgehok, en die deur is toegemaak.

Die wa het ’n paar planke gehad waarop ons kon slaap—nie genoeg vir almal nie—en ’n stoof met ’n klompie kole en hout. Ons het op die stoof gekook met die potte wat ons gebring het. Maar daar was nie ’n toilet nie—ons het eenvoudig ’n emmer gebruik. Later het ons ’n ronde gat in die vloer gemaak, die emmer daarin vasgemaak en komberse daarom gehang vir ’n bietjie privaatheid.

Ons het saamgehok in daardie goederewa gelewe terwyl ons stadig na ’n onbekende bestemming duisende kilometers daarvandaan gereis het. Aanvanklik was ons ’n bietjie mismoedig. Maar terwyl ons Koninkryksliedere saamgesing het—met soveel geesdrif dat ons later skaars kon praat—het ons opgewek gevoel. Die bevelvoerder het die deure oopgemaak en vir ons gesê om stil te bly, maar ons het nie opgehou tot ons klaar was nie. Wanneer ons by stasies stilgehou het, het baie gehoor dat Jehovah se Getuies in ballingskap gestuur word. Uiteindelik, ná 17 of 18 dae in daardie goederewa, is ons in Siberië naby die Baikal-meer afgelaai.

[Prent]

Ek staan in die agterste ry, regs

[Venster/Prent op bladsy 8]

ARMAGEDDON—’n Propagandarolprent van die Sowjets

Die Sowjets het die rolprent Armageddon gemaak om Jehovah se Getuies te beswadder. Dit het gehandel oor die fiktiewe verhaal van ’n liefdesverhouding tussen ’n jong man in die Sowjetweermag en ’n meisie wat verlok is om by die Getuies aan te sluit. Aan die einde van die rolprent is die jonger suster van die meisie dood in ’n ongeluk wat deur ’n Getuie-opsiener veroorsaak is, en hy is as ’n agent van die Amerikaanse spioenasiediens uitgebeeld.

In ’n kommentaar oor die rolprent, wat die emosies van gehore gewek het, het die Oekraïense koerant The Red Flag van 14 Mei 1963 gesê: “Dit is doeltreffende, oortuigende ateïstiese propaganda, en dit kan in ander dorpies van die land gebruik word waar soortgelyke rolprente vertoon word.”

[Prent op bladsy 6]

Duisende is in goederewaens na Siberië geneem

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel