Die Europese Hoër Hof bekragtig die reg om in Griekeland te preek
WAAROM is ’n man wat deur sy bure geprys word al meer as 60 keer sedert 1938 gearresteer? Waarom is hierdie eerlike winkelier van die Griekse eiland Kreta al 18 keer voor Griekse howe gedaag en moes hy al vonnisse van meer as ses jaar in die tronk uitdien? Ja, waarom is hierdie hardwerkende gesinsman, Minos Kokkinakis, van sy vrou en kinders weggeneem en na verskeie strafkolonies verban?
Wette wat in 1938 en 1939 aangeneem is om proselitisme te verbied, is hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik. Hierdie wette is ingestel deur die Griekse diktator Ioannis Metaxas, wat onder die invloed van die Grieks-Ortodokse Kerk opgetree het.
As gevolg van hierdie wetgewing was daar tussen 1938 en 1992 19 147 arrestasies onder Jehovah se Getuies en het die howe vonnisse van altesaam 753 jaar opgelê, waarvan 593 uiteindelik uitgedien is. Dit is alles gedoen omdat die Getuies in Griekeland, soos elders, Jesus Christus se opdrag uitvoer om ‘dissipels van al die nasies te maak, en hulle te leer om alles te onderhou’ wat hy hulle beveel het.—Mattheüs 28:19.
Maar op 25 Mei 1993 is ’n groot oorwinning ten opsigte van godsdiensvryheid behaal! Op daardie dag het die Europese Hof van Menseregte in Strasbourg, Frankryk, ’n Griekse burger se reg bekragtig om sy oortuiging aan ander bekend te maak. Deur dié beslissing het hierdie Europese hoër hof breë riglyne vir die beskerming van godsdiensvryheid geskep wat ’n diepgaande invloed op die lewe van mense in alle wêrelddele kan hê.
Kom ons beskou die verwikkelinge wat tot hierdie betekenisvolle hofbeslissing aanleiding gegee het, met inbegrip van die vernederende behandeling wat deur net een Griekse burger verduur is.
Vroeë gebeure
In 1938 het hierdie burger, Minos Kokkinakis, die eerste Getuie van Jehovah geword wat skuldig bevind is ingevolge die Griekse wet wat bepaal dat proselitisme ’n misdryf is. Hy is sonder verhoor vir 13 maande na die Egeïese eiland Amorgós verban. In 1939 is hy twee keer gevonnis en het hy albei kere tronkstraf van twee en ’n half maande uitgedien.
In 1940 is Minos Kokkinakis vir ses maande na die eiland Mílos verban. Die volgende jaar, gedurende die Tweede Wêreldoorlog, is hy vir meer as 18 maande in die militêre gevangenis in Athene opgesluit. Hy sê aangaande daardie tydperk:
“Die kos in die tronk het al hoe minder geword. Ons het so swak geword dat ons nie kon loop nie. As dit nie vir die Getuies van die Athene- en Piraeus-omgewing was wat uit hulle beperkte voorrade aan ons kos voorsien het nie, sou ons gesterf het.” Later, in 1947, is hy weer gevonnis en het hy nog vier en ’n half maande in die tronk uitgedien.
In 1949 is Minos Kokkinakis verban na die eiland Makrónisos, ’n naam wat beelde van afgryse in die gedagtes van Grieke verwek vanweë die tronke daar. Ongeveer 40 van die sowat 14 000 gevangenes wat toe op Makrónisos opgesluit was, was Getuies. Die Griekse ensiklopedie Papyros Larousse Britannica sê: “Die wrede martelingsmetodes, . . . die lewensomstandighede, wat nie by ’n beskaafde nasie pas nie, en die wagte se vernederende optrede teenoor gevangenes . . . is ’n skandvlek op die geskiedenis van Griekeland.”
Minos Kokkinakis, wat ’n jaar in die tronk op Makrónisos was, het die toestande só beskryf: “Die soldate het, soos lede van die Inkwisisie, elke gevangene van die môre tot die aand ondervra. Die marteling wat hulle toegedien het, is onbeskryflik. Baie gevangenes het van hulle verstand af geraak; ander is doodgemaak; baie is vermink. Gedurende daardie verskriklike nagte het ons as ’n groep gebid wanneer ons die gille en gekerm van die gemarteldes gehoor het.”
Nadat Minos Kokkinakis dié lyding op Makrónisos deurgemaak het, is hy gedurende die vyftigerjare nog ses keer gearresteer en het hy tien maande in die tronk deurgebring. Gedurende die sestigerjare is hy weer vier keer gearresteer en tot agt maande tronkstraf gevonnis. Maar onthou dat Minos Kokkinakis maar een van honderde Getuies van Jehovah is wat deur die jare heen gearresteer en in die tronk gegooi is omdat hulle met ander oor hulle geloof gepraat het!
Hoe het dit gekom dat die verskriklike onregte wat teen Jehovah se Getuies in Griekeland gepleeg is uiteindelik voor die Europese Hof van Menseregte gebring is?
Die toetssaak
Die saak het op 2 Maart 1986 begin. Daardie dag het Minos Kokkinakis, toe al ’n afgetrede sakeman van 77, en sy vrou die huis van mev. Georgia Kyriakaki in Sitía, Kreta, besoek. Mev. Kyriakaki se man, wat die kantor by die plaaslike Ortodokse kerk was, het die polisie in kennis gestel. Die polisie het mnr. en mev. Kokkinakis kom arresteer en hulle na die plaaslike polisiestasie geneem. Hulle moes die nag daar deurbring.
Wat was die aanklag teen hulle? Dieselfde aanklag wat duisende kere gedurende die vorige 50 jaar teen Jehovah se Getuies ingebring is, naamlik dat hulle geproseliteer het. Die Griekse Grondwet (1975), Artikel 13, sê: “Proselitisme is verbode.” Beskou ook die Griekse wet, seksie 4, nommers 1363/1938 en 1672/1939, waarvolgens proselitisme ’n misdryf is. Dit sê:
“‘Proselitisme’ verwys, in die besonder, na enige regstreekse of onregstreekse poging om op die godsdiensopvattings van iemand met ’n ander godsdiensoortuiging inbreuk te maak . . . , met die doel om daardie opvattings te ondermyn, hetsy deur enige soort oorreding of die belofte van ’n beloning of morele ondersteuning of materiële bystand, of deur oneerlike metodes of deur die uitbuiting van sy onervarenheid, vertroue, behoeftes, lae intellek of naïwiteit.”
Die Kriminele Hof in Lasíthi, Kreta, het die saak op 20 Maart 1986 verhoor en mnr. en mev. Kokkinakis aan proselitisme skuldig bevind. Albei is tot vier maande tronkstraf gevonnis. Toe hulle skuldig verklaar is, het die hof gesê dat die verweerders inbreuk gemaak het “op die godsdiensopvattings van Ortodokse Christene . . . deur hulle onervarenheid, hulle lae intellek en hulle naïwiteit uit te buit”. Die verweerders is ook daarvan aangekla dat hulle mev. Kyriakaki “deur hulle skerpsinnige, slim verduidelikings aangemoedig het . . . om haar Ortodokse Christelike opvattings te verander”.
Die beslissing is na Kreta se Appèlhof geneem. Hierdie Kretensiese hof het mev. Kokkinakis op 17 Maart 1987 vrygespreek maar haar man se skuldigbevinding bekragtig, hoewel hulle sy tronkstraf tot drie maande verkort het. Volgens die uitspraak het mnr. Kokkinakis mev. Kyriakaki “se onervarenheid, haar lae intellek en haar naïwiteit uitgebuit”. Daar is gesê dat hy “gedeeltes uit die Heilige Skrif begin lees het, wat hy op so ’n slim manier verduidelik het dat die Christenvrou, vanweë ’n gebrek aan genoegsame basiese onderrig, dit nie kon betwis nie”.
Een van die appèlregters, wat nie met die uitslag saamgestem het nie, het geskryf dat mnr. Kokkinakis “ook vrygespreek moes gewees het, aangesien daar geen getuienis is dat Georgia Kyriakaki . . . besonder oningelig oor Ortodokse Christelike leerstellings is, as ’n mens in ag neem dat sy met ’n kantor getroud is, of ’n besondere lae intellek het of besonder naïef is, sodat die verweerder haar kon uitbuit en . . . haar [sodoende] kon oorreed om ’n lid van die Jehovah se Getuies-sekte te word nie”.
Mnr. Kokkinakis het die saak na die Griekse Hof van Kassasie, die hoogste hof in Griekeland, geappelleer. Maar daardie hof het die appèl op 22 April 1988 afgewys. Daarom het mnr. Kokkinakis hom op 22 Augustus 1988 tot die Europese Kommissie van Menseregte gewend. Sy petisie is uiteindelik op 21 Februarie 1992 aangeneem en is in die Europese Hof van Menseregte aanhangig gemaak.
Die geskilpunte van die saak
Aangesien Griekeland ’n lidstaat van die Raad van Europa is, moet hulle hulle aan die Artikels van die Europese Konvensie oor Menseregte onderwerp. Artikel 9 van die Konvensie lui: “Elkeen het die reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens; hierdie reg behels ook die vryheid om sy godsdiens of geloof te verander sowel as die vryheid om, hetsy alleen of in gemeenskap met ander en in die openbaar of privaat, sy godsdiens of geloof deur aanbidding, onderrig, gebruike en vieringe te bely.”
Die Griekse regering het dus die verweerder in ’n Europese hof geword. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle ’n Griekse burger se basiese mensereg om sy godsdiens in ooreenstemming met Jesus Christus se bevel te beoefen, naamlik ‘om mense te leer en dissipels te maak’, openlik geskend het (Mattheüs 28:19). Die apostel Petrus het ook gesê: “[Jesus] het ons beveel om vir die volk te preek en ’n grondige getuienis te gee.”—Handelinge 10:42, NW.
’n Spesiale 1992-uitgawe van die tydskrif Human Rights Without Frontiers het die volgende titel op sy buiteblad gehad: “Griekeland—opsetlike skending van menseregte.” Die tydskrif het op bladsy 2 verduidelik: “Griekeland is die enigste land in die EG [Europese Gemeenskap] en in Europa met strafwetgewing waarvolgens iemand wat ’n ander persoon oorhaal om sy godsdiens te verander boetes en tronkstraf opgelê kan word.”
Daar het dus nou groot opgewondenheid binne en buite regskringe geheers. Wat sou die beslissing wees oor die Griekse wet wat ’n mens verbied om jou oortuiging aan ander bekend te maak?
Die verhoor in Strasbourg
Uiteindelik het die dag van die verhoor—25 November 1992—aangebreek. Swaar wolke het oor Strasbourg gehang en dit was bitter koud, maar in die Hof het regsgeleerdes hulle argumente met ywer gestel. Getuienis is twee uur lank voorgelê. Professor Phedon Vegleris, ’n regsverteenwoordiger vir Minos Kokkinakis, het tot die kern van die kwessie deurgedring toe hy gevra het: ‘Moet daar toegelaat word dat hierdie beperkende wet wat keer dat lidmate van die Grieks-Ortodokse Kerk tot ander godsdiensoortuigings bekeer kan word van krag bly en toegepas word?’
Professor Vegleris het met ’n skeptiese uitdrukking gevra: “Ek wonder waarom hierdie wet [op proselitisme] ortodoksie met dwaasheid en onkunde gelykstel. Ek het nog altyd gewonder waarom ortodoksie teen dwaasheid, teen geestelike onbekwaamheid, beskerm moet word . . . Dit is iets wat my hinder en skok.” Dit is noemenswaardig dat die staatsverteenwoordiger nie een geval kon meld waar hierdie wet op enigiemand anders as Jehovah se Getuies toegepas is nie.
Die tweede regsverteenwoordiger vir Minos Kokkinakis, mnr. Panagiotis Bitsaxis, het getoon hoe onredelik die wet op proselitisme is. Hy het gesê: “Die aanvaarding van wedersydse invloed is ’n voorvereiste vir dialoog tussen volwassenes. Anders sou ons aan ’n eienaardige gemeenskap van stilswyende gediertes behoort het wat dink maar hulle nie uitspreek nie, wat praat maar nie kommunikeer nie, wat lewe maar nie saamlewe nie.”
Mnr. Bitsaxis het ook aangevoer dat “mnr. Kokkinakis nie veroordeel is ‘vir iets wat hy gedoen het’ nie maar [vir] ‘wat hy is’”. Mnr. Bitsaxis het getoon dat die beginsels van godsdiensvryheid dus nie net geskend is nie, maar heeltemal vertrap is.
Die verteenwoordigers van die Griekse regering het ’n prentjie probeer skilder wat heeltemal van die waarheid verskil en het beweer dat Griekeland “’n paradys vir menseregte” is.
Die beslissing
Die langverwagte dag waarop die beslissing gelewer moes word, het aangebreek—25 Mei 1993. Met ses stemme teen drie het die Hof beslis dat die Griekse regering die godsdiensvryheid van die 84-jarige Minos Kokkinakis geskend het. Hulle het nie net sy lewenslange openbare bediening geregverdig nie, maar hom ook skadevergoeding van R42 500 toegeken. Die Hof het sodoende die Griekse regering se argument verwerp dat Minos Kokkinakis en Jehovah se Getuies druk op mense uitoefen wanneer hulle hulle geloof met hulle bespreek.
Hoewel die Griekse Grondwet en ’n verouderde Griekse wet proselitisme verbied, het die hoër hof in Europa beslis dat dit verkeerd is om hierdie wet te gebruik om Jehovah se Getuies te vervolg. Dit is strydig met Artikel 9 van die Europese Konvensie oor Menseregte.
Die hofbeslissing het verduidelik: “Godsdiens is ’n deel van die ‘voortdurend hernieubare vloei van mensedenke’ en dit is ondenkbaar dat dit nie by ’n openbare debat ingesluit sou word nie.”
Een van die nege regters het hierdie mening onderskryf en gesê: “Proselitisme, wat as ‘ywer in die verspreiding van die geloof’ gedefinieer word, is nie as sodanig strafbaar nie; dit is ’n manier—op sigself heeltemal geoorloof—waarop ‘’n mens jou godsdiens bely’.
“In hierdie saak is die applikant [mnr. Kokkinakis] veroordeel bloot omdat hy, sonder dat hy enigsins onbetaamlik opgetree het, sulke ywer aan die dag gelê het.”
Gevolge van die beslissing
Die Europese Hof van Menseregte het onomwonde voorgeskryf dat die amptenare van die Griekse regering moet ophou om die wet wat proselitisme verbied te misbruik. Hopelik sal Griekeland hom aan die voorskrifte van die hof onderwerp en sy vervolging van Jehovah se Getuies staak.
Dit is nie Jehovah se Getuies se doel om maatskaplike veranderinge teweeg te bring of die regstelsel te hervorm nie. Vir hulle is die hoofsaak om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig in gehoorsaamheid aan Jesus Christus se opdrag. Maar om dit te doen, is hulle, soos die apostel Paulus in die eerste eeu, bereid om ‘die goeie nuus te verdedig en wetlik te bevestig’.—Filippense 1:7, NW.
Jehovah se Getuies is wetsgehoorsame burgers in elke land waar hulle woon. Maar hulle is bowenal onder verpligting om God se wet, wat in die Heilige Bybel opgeteken is, te gehoorsaam. As die wet van enige land hulle dus verbied om met ander oor hulle Bybelse oortuiging te praat, moet hulle dieselfde standpunt as die apostels inneem: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Handelinge 5:29.
[Venster op bladsy 28, 29]
NOG VERVOLGING WAT DEUR DIE GEESTELIKES AANGEHITS IS
Die geestelikes in Griekeland probeer al dekades lank om ‘moeilikheid deur die wet te beraam’ (Psalm 94:20, NW). Nog ’n saak is onlangs op die eiland Kreta opgelos. In 1987 het ’n plaaslike biskop en 13 priesters nege Getuies van proselitisme aangekla. Die saak is uiteindelik op 24 Januarie 1992 verhoor.
Die hofsaal was stampvol. Ongeveer 35 priesters was teenwoordig om die aanklaer se beskuldigings te ondersteun. Die meeste van die sitplekke was egter toe reeds ingeneem deur Getuies wat hulle Christenbroers kom ondersteun het. Nog voordat die gewone verrigtinge begin het, het die prokureur vir die verweerders daarop gewys dat die aanklaer ernstige geregtelike foute begaan het.
Die gevolg was dat die betrokkenes by die verrigtinge ’n private konsultasie moes gaan hou. Ná ’n vergadering van twee en ’n half uur het die Voorsitter van die Hof aangekondig dat die regsverteenwoordiger vir die verweerders reg was. Die aanklagte teen die nege Getuies is gevolglik teruggetrek! Hy het verklaar dat die ondersoeke van voor af sou begin moes word om vas te stel of the verweerders skuldig was aan proselitisme.
Die oomblik toe die aankondiging gemaak is, het pandemonium in die hof losgebars. Die priesters het dreigemente en beledigings begin uitskreeu. Een priester het die regsverteenwoordiger vir Jehovah se Getuies met ’n kruis aangeval en hom probeer dwing om dit te aanbid. Die polisie moes tussenbeide tree, en uiteindelik kon die Getuies die hof stilweg verlaat.
Nadat die saak teruggetrek is, het die staatsaanklaer ’n nuwe aanklag teen die nege Getuies voorberei. Die saak sou op 30 April 1993 verhoor word, slegs drie weke voor die Europese Hof van Menseregte sy beslissing in die Kokkinakis-saak gelewer het. Daar was weer eens baie priesters in die hof.
Die regsverteenwoordigers vir die nege verweerders het beswaar aangeteken dat die Getuies se beskuldigers nie in die hof was nie. Die staatsaanklaer het in sy haas om ’n nuwe aanklag voor te berei die ernstige fout begaan om nie dagvaardings aan die beskuldigers te stuur nie. Die Getuies se regsverteenwoordigers het die hof gevra om die saak terug te trek op grond van hierdie ernstige fout.
As gevolg hiervan het die regters die hof verlaat en byna ’n uur lank saam beraadslaag. Toe hulle teruggekeer het, het die Voorsitter van die Hof, met geboë hoof, verklaar dat al nege Getuies onskuldig was aan die aanklagte.
Die Getuies in Griekeland was dankbaar vir die uitslag van hierdie saak, sowel as vir die Europese Hof van Menseregte se beslissing in die Kokkinakis-saak op 25 Mei hierdie jaar. Hulle bede is dat hulle as gevolg van hierdie regsoorwinnings hulle Christelike lewe ‘rustig en stil kan lei in alle godsvrug en waardigheid’.—1 Timotheüs 2:1, 2.
[Prent op bladsy 31]
Minos Kokkinakis en sy vrou