Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ct hfst. 7 bl. 103-119
  • Wat kan jy van die Skepper uit ’n boek leer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat kan jy van die Skepper uit ’n boek leer?
  • Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorspellings wat bewaarheid is
  • Ware voorspellings?
  • Hoe om die Outeur beter te leer ken
  • Sy voorneme en jou doel
  • Kan jy hom vind?
  • ’n Profeet van God bring lig vir die mensdom
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
  • Bybelboek nommer 23—Jesaja
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Jou Skepper—Leer watter soort persoon hy is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • ’n Boek van profesieë
    ’n Boek vir alle mense
Sien nog
Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
ct hfst. 7 bl. 103-119

Hoofstuk Sewe

Wat kan jy van die Skepper uit ’n boek leer?

JY SAL waarskynlik saamstem dat ’n leersame, interessante boek werklik nuttig is. Die Bybel is so ’n boek. Daarin vind jy boeiende lewensverhale wat hoë sedelike waardes uiteensit. Jy vind ook aanskoulike illustrasies van belangrike waarhede. Een van die skrywers wat vir sy wysheid bekend was, het gesê dat hy “gesoek [het] om die welgevallige woorde te vind en korrekte woorde van waarheid neer te skryf”.—Prediker 12:10, NW.

Die boek wat ons “Die Bybel” noem, is in werklikheid ’n versameling van 66 kleiner boeke wat oor ’n tydperk van meer as 1 500 jaar geskryf is. Moses het byvoorbeeld die eerste vyf boeke, wat met Genesis begin, tussen 1513 en 1473 v.G.J. geskryf. Johannes, een van Jesus se apostels, was die laaste Bybelskrywer. Hy het ’n geskiedenisverslag van Jesus se lewe (die Evangelie van Johannes) geskryf, sowel as korter briewe en die boek Openbaring, wat die laaste boek in die meeste Bybels is.

Gedurende die 1 500 jaar van Moses tot Johannes het ongeveer 40 mense ’n aandeel daaraan gehad om die Bybel te skryf. Hulle was opregte, godvrugtige manne wat ander wou help om van ons Skepper te leer. Uit hulle geskrifte kan ons insig in God se persoonlikheid verkry en leer hoe ons hom kan behaag. Die Bybel help ons ook om te verstaan waarom daar soveel goddeloosheid is en hoe dit beëindig sal word. Bybelskrywers het vooruitgewys na die tyd wanneer die mensdom meer regstreeks onder God se heerskappy sal lewe, en hulle het van die opwindende toestande beskryf wat ons dan sal kan geniet.—Psalm 37:10, 11; Jesaja 2:2-4; 65:17-25; Openbaring 21:3-5.

Jy besef waarskynlik dat baie die Bybel as ’n ou boek van mensewysheid verwerp. Maar miljoene mense is daarvan oortuig dat God die ware Outeur daarvan is, dat hy die gedagtes van die skrywers gerig het (2 Petrus 1:20, 21). Hoe kan jy vasstel of die dinge wat die Bybelskrywers geskryf het werklik van God kom?

Wel, daar is ’n aantal ineenlopende bewysvoerings wat jy kan oorweeg. Baie mense het dit gedoen voordat hulle tot die gevolgtrekking gekom het dat die Bybel nie bloot ’n menseboek is nie, dat dit van ’n bomenslike bron kom. Kom ons lig dit toe met net een soort bewys. Sodoende kan ons meer van die Skepper van ons heelal, die Bron van menselewe, leer.

Voorspellings wat bewaarheid is

’n Hele paar Bybelskrywers het profesieë neergeskryf. Hierdie skrywers het nooit beweer dat hulle self die toekoms kon voorspel nie, maar het eerder die eer aan die Skepper gegee. Jesaja het God byvoorbeeld geïdentifiseer as die Een ‘wat van die begin af die einde verkondig’ (Jesaja 1:1; 42:8, 9; 46:8-11). Die vermoë om gebeure te voorspel wat dekades of selfs eeue later sou plaasvind, is ’n kenmerk wat Jesaja se God uniek maak; hy is nie ’n blote afgod soos dié wat mense in die verlede aanbid het en vandag nog aanbid nie. Profesieë bied ons oortuigende bewys dat die Bybel nie sy oorsprong by mense het nie. Kyk hoe Jesaja se boek dit bevestig.

’n Vergelyking van die inhoud van Jesaja met geskiedkundige gegewens toon dat die boek omstreeks 732 v.G.J. geskryf is. Jesaja het voorspel dat rampspoed die inwoners van Jerusalem en Juda sou tref omdat hulle bloedskuldig was en afgode aanbid het. Jesaja het geprofeteer dat die land verwoes, Jerusalem en sy tempel vernietig en die oorlewendes as gevangenes na Babilon weggevoer sou word. Maar Jesaja het ook voorspel dat God nie die gevange volk sou vergeet nie. Die boek het voorspel dat ’n vreemde koning met die naam Kores Babilon sou verower en die Jode sou bevry om na hulle vaderland terug te keer. Trouens, Jesaja beskryf God as die Een “wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word.”—Jesaja 2:8; 24:1; 39:5-7; 43:14; 44:24-28; 45:1.

In Jesaja se dag, die agtste eeu v.G.J., het sulke voorspellings moontlik ongelooflik geklink. Babilon was destyds nie eens ’n belangrike militêre moondheid nie. Dit was onderworpe aan die destydse wêreldmoondheid, die Assiriese Ryk. Die idee dat ’n verowerde volk wat as ballinge na ’n vergeleë land geneem is, bevry kon word en hulle land kon terugkry, sou net so vreemd gewees het. “Wie het so iets gehoor?” het Jesaja geskryf.—Jesaja 66:8.

Maar wat vind ons twee eeue later? Die verdere geskiedenis van die eertydse Jode het bewys dat Jesaja se profesie in besonderhede vervul is. Babilon het inderdaad magtig geword en het Jerusalem vernietig. Die naam van die Persiese koning (Kores), sy gevolglike verowering van Babilon en die Jode se terugkeer is alles erkende geskiedenisfeite. Hierdie voorspelde besonderhede is so presies bewaarheid dat kritici in die 19de eeu beweer het dat Jesaja se boek ’n bedrogspul is; hulle het in werklikheid gesê: ‘Jesaja het miskien die eerste hoofstukke geskryf, maar ’n latere skrywer in die tyd van koning Kores het die res van die boek versin sodat dit soos ’n profesie sou lyk.’ Iemand verwerp dalk die profesie met sulke bewerings, maar wat toon die feite?

Ware voorspellings?

Die voorspellings in die boek Jesaja is nie beperk tot gebeure met betrekking tot Kores en die Joodse ballinge nie. Jesaja het ook Babilon se finale toestand voorspel, en sy boek het talle besonderhede verstrek oor ’n toekomstige Messias, of Verlosser, wat sou ly en daarna verheerlik sou word. Kan ons vasstel of sulke voorspellings lank vooruit geskryf is en dus profesieë was wat vervul moes word?

Dink aan die volgende. Jesaja het oor Babilon se finale toestand geskryf: “Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, [sal] wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het. Mense sal daar in ewigheid nie woon nie, en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie” (Jesaja 13:19, 20; hoofstuk 47). Hoe het dinge werklik verloop?

Die feite toon dat Babilon lank van ’n ingewikkelde besproeiingstelsel van damme en kanale tussen die Tigris- en die Eufraatrivier afhanklik was. Blykbaar is hierdie waterstelsel omstreeks 140 v.G.J. in die verwoestende Parthiese verowering beskadig en het dit as ’t ware ineengestort. Wat was die gevolg? The Encyclopedia Americana verduidelik: “Die grond het versadig geraak met minerale soute en ’n alkalikors het op die oppervlak gevorm, wat dit heeltemal ongeskik gemaak het vir landbougebruik.” Sowat 200 jaar later was Babilon nog steeds ’n dig bewoonde stad, maar dit het nie veel langer so gebly nie. (Vergelyk1 Petrus 5:13.) Teen die derde eeu G.J. het die geskiedskrywer Dio Cassius (c.150-235 G.J.) beskryf hoe ’n besoeker aan Babilon net “grondhope en klippe en ruïnes” aangetref het (LXVIII, 30). Dit is noemenswaardig dat Jesaja teen hierdie tyd al eeue lank dood en sy volledige boek al eeue lank in omloop was. En as jy Babilon vandag sou besoek, sou jy net ruïnes van daardie eens glorieryke stad sien. Hoewel ou stede soos Rome, Jerusalem en Atene vandag nog bestaan, is Babilon verlate, onbewoon, ’n puinhoop; dit is net soos Jesaja voorspel het. Die voorspelling is bewaarheid.

Kom ons vestig nou ons aandag op Jesaja se beskrywing van die toekomstige Messias. VolgensJesaja 52:13 sou hierdie spesiale kneg van God uiteindelik “verhewe, ja, baie hoog word”. Maar die volgende hoofstuk (Jesaja 53) het voorspel dat die Messias voor sy verheffing net die teenoorgestelde sou deurmaak. Jy sal dalk verbaas wees oor die besonderhede wat opgeteken is in daardie hoofstuk, wat deur baie mense as ’n Messiaanse profesie erken word.

Soos jy daar kan lees, sou die Messias deur sy landgenote verag word. Jesaja was so seker dat dit sou plaasvind dat hy geskryf het asof dit reeds gebeur het: “Hy was verag en deur die mense verlaat” (Vers 3). Hierdie mishandeling sou heeltemal ongegrond wees, omdat die Messias goeie dinge vir die volk sou doen. “Hý [het] óns krankhede op Hom geneem”, is hoe Jesaja die Messias se genesingsdade beskryf het (Vers 4). Ten spyte hiervan sou die Messias teregstaan en ten onregte veroordeel word terwyl hy voor sy aanklaers swyg (Verse 7, 8). Hy sou hom laat oorlewer om saam met misdadigers om die lewe gebring te word; gedurende sy teregstelling sou sy liggaam deurboor word (Verse 5, 12). Ondanks die feit dat hy soos ’n misdadiger sou sterf, sou hy begrawe word asof hy ’n ryk man was (Vers 9). En Jesaja het herhaaldelik gemeld dat die Messias se onregverdige dood versoeningskrag sou hê en die sondes van ander mense sou bedek.—Verse 5, 8, 11, 12.

Dit alles is bewaarheid. Die geskiedenisverslae wat deur Jesus se tydgenote—Matteus, Markus, Lukas en Johannes—opgeteken is, bevestig dat wat Jesaja voorspel het inderdaad gebeur het. Party van die gebeure het ná Jesus se dood plaasgevind; hy kon dus nie die situasie gemanipuleer het nie (Matteus 8:16, 17; 26:67; 27:14, 39-44, 57-60; Johannes 19:1, 34). Die algehele vervulling van Jesaja se Messiaanse profesie het deur die eeue heen ’n kragtige uitwerking op opregte Bybellesers gehad, met inbegrip van party wat Jesus vroeër nie aanvaar het nie. Die geleerde William Urwick sê: “Baie Jode, wat die rede vir hulle bekering tot die Christelike godsdiens opgeteken het, het erken dat dit die bestudering van hierdie hoofstuk [Jesaja 53] was wat hulle vertroue in hulle ou geloof en leermeesters laat verloor het.”—The Servant of Jehovah.a

Urwick het daardie kommentaar in die laat negentiende eeu gemaak, toe party moontlik nog getwyfel het ofJesaja hoofstuk 53 eeue voor Jesus se geboorte geskryf is. Maar ontdekkings sedertdien het in wese enige grond vir twyfel uit die weg geruim. In 1947 het ’n Bedoeïeneherder naby die Dooie See ’n ou rol van die hele boek Jesaja ontdek. Deskundiges op die gebied van ou skrif het gemeen dat die rol uit die jare 125 tot 100 v.G.J. dateer. Toe, in 1990, het ’n koolstof 14-ontleding aangedui dat dit uit die jare tussen 202 en 107 v.G.J. dateer. Ja, hierdie bekende rol van Jesaja was reeds taamlik oud toe Jesus gebore is. Wat bring ’n vergelyking daarvan met moderne Bybels aan die lig?

As jy Jerusalem besoek, kan jy na fragmente van die Dooie See-rolle gaan kyk. ’n Opname deur die argeoloog professor Yigael Yadin verduidelik: “Hoogstens vyf- of seshonderd jaar het verloop vandat die woorde van Jesaja geuiter is totdat hierdie rol in die 2de eeu v.C. oorgeskryf is. Hoewel die oorspronklike rol in die museum meer as 2 000 jaar oud is, is dit verbasend hoe goed dit ooreenkom met die Bybel wat ons vandag lees, hetsy dit die Hebreeus is of die vertalings wat uit die oorspronklike oorgesit is.”

Dit behoort gewis ons beskouing te raak. Waarvan? Wel, dit behoort enige kritiese twyfelgedagtes uit die weg te ruim dat die profesieë in die boek Jesaja ná die eintlike gebeure geskryf is. Daar is nou wetenskaplike bewys dat ’n afskrif van die geskrifte van Jesaja ruim honderd jaar voor Jesus se geboorte en lank voor die verwoesting van Babilon gemaak is. Hoe kan daar gevolglik enige twyfel bestaan dat Jesaja se geskrifte die finale uiteinde van Babilon voorspel het, asook die onregverdige lyding van die Messias en hoe hy sou sterf en behandel sou word? En in die lig van die geskiedkundige feite is daar geen grond om te betwis dat Jesaja die Jode se gevangenskap en hulle vrylating uit Babilon akkuraat voorspel het nie. Sulke vervulde voorspellings is maar net een van baie bewysvoerings dat die Skepper die ware Outeur van die Bybel is en dat die Bybel “deur God geïnspireer” is.—2 Timoteus 3:16.

Daar is baie ander aanduidings dat die Bybel ’n Goddelike oorsprong het. Dit sluit in die sterrekundige, geologiese en mediese juistheid van die Bybel; die interne harmonie van die Bybelboeke, wat deur tientalle manne oor ’n tydperk van baie honderde jare geskryf is; die feit dat dit met baie besonderhede van die sekulêre geskiedenis en die argeologie ooreenstem; en die sedewette daarin wat die wette van omliggende volke van daardie tye oortref het en steeds as ongeëwenaard beskou word. Hierdie en ander bewysvoerings het tallose ywerige en eerlike mense daarvan oortuig dat die Bybel waarlik ’n boek is wat van ons Skepper kom.b

Dit kan ons ook help om gegronde gevolgtrekkings oor die Skepper te maak—wat ons sal help om sy eienskappe te onderskei. Getuig sy vermoë om in die toekoms in te sien nie daarvan dat hy groter waarnemingsvermoëns het as wat ons as mense het nie? Mense weet nie wat in die verre toekoms sal gebeur nie, en hulle kan dit ook nie beheer nie. Die Skepper kan. Hy kan die toekoms vooruitsien sowel as gebeure reël sodat sy wil uitgevoer word. Jesaja beskryf die Skepper tereg as die Een “wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen.”—Jesaja 46:10; 55:11.

Hoe om die Outeur beter te leer ken

Ons leer iemand ken deur met hom te gesels en te sien hoe hy onder verskillende omstandighede reageer. Albei is moontlik wanneer ons ander mense leer ken, maar hoe kan ons die Skepper leer ken? Ons kan onmoontlik ’n regstreekse gesprek met hom voer. Maar soos ons vasgestel het, openbaar hy baie oor homself in die Bybel—deur wat hy gesê het sowel as hoe hy opgetree het. Daarbenewens nooi hierdie unieke boek ons om ’n verhouding met die Skepper op te bou. Dit spoor ons aan: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—Jakobus 2:23; 4:8.

Beskou ’n vername stap: As jy iemand se vriend wil wees, sal jy beslis uitvind wat sy naam is. Wel, wat is die Skepper se naam, en wat openbaar sy naam oor hom?

Die Hebreeuse deel van die Bybel (wat dikwels die Ou Testament genoem word) verstrek vir ons die unieke naam van die Skepper. Dit word in ou manuskripte deur vier Hebreeuse medeklinkers voorgestel wat as YHWH of JHVH getranslitereer kan word. Die Skepper se naam kom nagenoeg 7 000 keer voor, baie meer dikwels as titels soos God of Here. Mense wat die Hebreeuse Bybel gelees het, het eeue lank daardie persoonlike naam gebruik. Maar met verloop van tyd het baie Jode ’n bygelowige vrees ontwikkel om die Goddelike naam uit te spreek, en daarom het hulle nie die uitspraak daarvan bewaar nie.

“Die oorspronklike uitspraak het uiteindelik verlore gegaan; hedendaagse pogings om uit te vind wat dit was, berus op gissings”, sê ’n Joodse kommentaar oor Exodus. Ons kan weliswaar nie seker wees hoe Moses die Goddelike naam uitgespreek het nie, wat ons in Exodus 3:16 (NW) en 6:3 (NW) vind. Maar wie sou in alle eerlikheid vandag verplig voel om Moses se naam of Jesus se naam te probeer uitspreek met die presiese klank en stembuiging wat destyds gebruik is toe hulle op die aarde was? Nietemin skram ons nie daarvan weg om Moses en Jesus by name te noem nie. Met ander woorde: Ons kan gerus liewer die uitspraak gebruik wat in ons taal algemeen is as om uitermate besorg te wees oor presies hoe ’n volk van die ou tyd wat ’n ander taal gepraat het God se naam uitgespreek het. “Jehova” of “Jehovah” word byvoorbeeld al meer as 100 jaar lank in Afrikaans gebruik, en dit word steeds algemeen as die naam van die Skepper aanvaar.

Maar daar is iets wat belangriker is as besonderhede oor die uitspraak van die naam. Dit is die betekenis daarvan. Die naam in Hebreeus is ’n kousatiewe vorm van die werkwoord ha·wahʹ, wat “om te word” of “blyk te wees” beteken (Genesis 27:29, NW;Prediker 11:3, NW). The Oxford Companion to the Bible gee die betekenis “‘hy laat word’ of ‘sal laat word’”. Ons kan dus sê dat die Skepper se persoonlike naam letterlik beteken “Hy laat word”. Let daarop dat die klem nie op die Skepper se bedrywighede in die verre verlede val nie, waaraan party dalk gedink het wanneer die uitdrukking “Eerste Oorsaak” gebruik word. Waarom nie?

Omdat die Goddelike naam verband hou met wat die Skepper van voorneme is om te doen. Hebreeuse werkwoorde het basies net twee tye, en die een wat by die Skepper se naam betrokke is, “dui op handelinge . . . wat aan die ontwikkel is. Dit gee nie bloot die voortsetting van ’n handeling weer nie . . . maar die ontwikkeling daarvan vandat dit begin totdat dit voltooi word” (A Short Account of the Hebrew Tenses). Ja, deur sy naam openbaar Jehovah dat hy bedrywig is as ’n voornemer. Ons leer dus dat hy—deur progressiewe optrede—die Vervuller van beloftes word. Baie vind dit bevredigend en gerusstellend om te weet dat die Skepper altyd sy voornemens verwesenlik.

Sy voorneme en jou doel

Terwyl God se naam die gedagte van voorneme en doelgerigtheid oordra, vind baie mense dit moeilik om ’n ware doel in hulle eie bestaan te sien. Hulle sien hoe die een krisis na die ander die mensdom tref—oorloë, natuurrampe, siekte-epidemies, armoede en misdaad. Selfs die bevoorregte minderheid wat sulke skadelike gevolge op die een of ander manier vryspring, erken dikwels dat hulle knaende twyfelgedagtes oor die toekoms en die sin van hulle lewe het.

Die Bybel sê: “Die fisiese wêreld is aan frustrasie onderwerp, nie uit eie keuse nie, maar deur die wil van die Skepper, wat dit, deur dit so te onderwerp, hoop gegee het dat dit eendag verlos sal word . . . en aan die glorieryke vryheid van die kinders van God deel sal hê” (Romeine 8:20, 21, The New Testament Letters, deur J. W. C. Wand). Die verslag in Genesis toon dat die mens ’n tyd lank in vrede met sy Skepper verkeer het. As gevolg van die mens se wangedrag het God die mensdom tereg aan ’n situasie onderwerp wat in sekere sin frustrasie meegebring het. Kom ons kyk hoe dit gebeur het, wat dit oor die Skepper openbaar en wat ons in die toekoms kan verwag.

Volgens daardie geskrewe geskiedenis, wat in baie opsigte bewys kan word, was die name van die eerste mense wat geskep is Adam en Eva. Die verslag toon dat hulle nie aan hulle lot oorgelaat is om doelloos of sonder voorskrifte omtrent God se wil voort te sukkel nie. Soos selfs enige liefdevolle, bedagsame mensevader vir sy kinders sou doen, het die Skepper vir die mensdom nuttige riglyne gegee. Hy het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”—Genesis 1:28.

Die eerste mense het dus ’n sinvolle doel in die lewe gehad. Dit het ingesluit dat hulle na die aarde se ekologie moes omsien en die aardbol van ’n verantwoordelike bevolking moes voorsien. (VergelykJesaja 11:9.) Niemand kan die Skepper tereg vir die huidige toestand van ons besoedelde planeet blameer nie, asof hy die mens rede gegee het om die aarde uit te buit en te verderf. Die woord “onderwerp” was nie magtiging om dit uit te buit nie. Dit het beteken dat die planeet wat aan die mens se sorg toevertrou is, bewerk en voor gesorg moes word (Genesis 2:15). Boonop sou hulle ’n blywende toekoms hê waarin hulle daardie sinvolle taak sou kon volbring. Hulle vooruitsig om nie te sterf nie, strook met die feit dat mense ’n baie groter breinvermoë het as wat in ’n lewe van 70, 80 of selfs 100 jaar ten volle benut kan word. Die brein was bedoel om vir onbepaalde tyd gebruik te word.

Jehovah God het, as die voortbringer en beheerder van sy skepping, aan mense speelruimte gelaat ten opsigte van hoe hulle sy voorneme met die aarde en die mensdom sou volbring. Hy was nie uitermate veeleisend of oordrewe beperkend nie. Hy het Adam byvoorbeeld ’n toewysing gegee waaroor ’n soöloog in die wolke sou wees—om die diere te bestudeer en name te gee. Nadat Adam hulle eienskappe waargeneem het, het hy hulle name gegee, waarvan talle beskrywend was (Genesis 2:19). Dit is maar een voorbeeld van hoe mense hulle talente en vermoëns in ooreenstemming met God se voorneme kon gebruik.

Dit is te begrype dat die wyse Skepper van die ganse heelal maklik enige situasie op die aarde onder beheer kan hou, al het mense ’n dwase of skadelike weg ingeslaan. Die geskiedkundige verslag deel ons mee dat God Adam slegs een beperkende gebod gegee het: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”—Genesis 2:16, 17.

Daardie gebod het vereis dat die mensdom erken dat God die reg het om gehoorsaam te word. Mense van Adam se tyd af tot vandag toe moes die swaartekragwet aanvaar en in ooreenstemming daarmee lewe; dit sou dwaas en skadelik wees om dit nie te doen nie. Waarom sou mense dan weier om in ooreenstemming met ’n ander wet, of gebod, van die weldadige Skepper te lewe? Die Skepper het duidelik getoon wat die gevolg sou wees as sy wet verwerp word, maar hy het Adam en Eva die keuse gegee om hom uit vrye wil te gehoorsaam. Dit is nie moeilik om in die verslag van die mens se vroeë geskiedenis te sien dat die Skepper mense keusevryheid gee nie. Maar hy wil hê dat sy skepsele die allergrootste geluk moet smaak, wat ’n natuurlike gevolg is van ’n lewenswyse in ooreenstemming met die goeie wette wat hy gee.

In ’n vorige hoofstuk het ons gesien dat die Skepper intelligente skepsele voortgebring het wat nie gesien kan word nie—geesskepsele. Die geskiedenis van die mens se begin toon dat een van hierdie geeste behep geraak het met die idee om hom God se posisie toe te eien. (VergelykEsegiël 28:13-15.) Hy het die keusevryheid wat God gee, misbruik en die eerste mense verlei tot wat ons openlike opstand moet noem. Deur ’n vermetele daad van regstreekse ongehoorsaamheid—deur van “die boom van die kennis van goed en kwaad” te eet—het die eerste egpaar hulle onafhanklik van God se heerskappy verklaar. Maar wat meer is, hulle handelswyse het getoon dat hulle saamgestem het met die bewering dat die Skepper iets goeds van die mens weerhou. Dit was asof Adam en Eva daarop aangedring het om self te besluit wat goed en wat sleg is—ongeag wat hulle Maker se beoordeling was.

Hoe onredelik sou dit tog vir mans en vroue wees om te besluit dat hulle nie van die swaartekragwet hou nie en om in stryd daarmee te handel! Dit was net so onredelik van Adam en Eva om die Skepper se sedelike standaarde te verwerp. Ja, mense moet slegte gevolge verwag as hulle God se fundamentele wet van gehoorsaamheid oortree, net soos skadelike gevolge iemand tref wat die swaartekragwet verontagsaam.

Die geskiedenis vertel ons dat Jehovah toe handelend opgetree het. In die “dag” dat Adam en Eva die Skepper se wil verwerp het, het hulle begin agteruitgaan, totdat hulle gesterf het, net soos God gewaarsku het. (Vergelyk2 Petrus 3:8.) Dit openbaar nog ’n aspek van die Skepper se persoonlikheid. Hy is ’n God van geregtigheid, wat doelbewuste ongehoorsaamheid nie ongeërg ignoreer nie. Hy het wyse en regverdige standaarde en handhaaf dit.

In ooreenstemming met sy uitsonderlike eienskappe het hy uit barmhartigheid nie dadelik menselewe beëindig nie. Waarom nie? Dit was uit besorgdheid oor Adam en Eva se nageslag, wat nog nie eens verwek was nie en wat nie regstreeks vir hulle voorouers se sondige handelswyse verantwoordelik was nie. God se besorgdheid oor lewe wat nog verwek sou word, vertel ons iets omtrent die Skepper. Hy is nie ’n genadelose regter sonder enige gevoel nie. Hy is eerder regverdig, bereid om almal ’n geleentheid te gee, en hy toon respek vir die heiligheid van menselewe.

Dit wil nie sê dat latere mensegeslagte dieselfde aangename omstandighede as die eerste egpaar sou geniet nie. Deurdat die Skepper toegelaat het dat Adam se nageslag op die toneel verskyn, ‘is die fisiese wêreld aan frustrasie onderwerp’. Maar dit was nie algehele frustrasie of wanhoop nie. Onthou datRomeine 8:20, 21 ook gesê het dat die Skepper ‘dit hoop gegee het dat dit eendag verlos sal word’. Dit is iets waarvan ons meer behoort te wil weet.

Kan jy hom vind?

Die vyand wat die eerste mensepaar in opstand laat kom het, word in die Bybel Satan die Duiwel genoem, wat “Teenstander” en “Lasteraar” beteken. In die vonnis wat oor daardie hoofaanstigter van opstand uitgespreek is, het God hom as ’n vyand gebrandmerk, maar ’n grondslag gelê vir toekomstige mense om hoop te hê. God het gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou [Satan] en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15). Dit is vanselfsprekend figuurlike, of sinnebeeldige, taal. Wat beteken dit wanneer dit sê dat ’n “saad” sou kom?

Ander dele van die Bybel werp lig op hierdie interessante vers. Hulle toon dat dit verband hou met die feit dat Jehovah in ooreenstemming met sy naam optree en “word” wat nodig is om sy voorneme met mense op die aarde te vervul. So het dit gekom dat hy een spesifieke nasie gebruik het, en die geskiedenis van sy handelinge met daardie eertydse nasie maak ’n groot deel van die Bybel uit. Kom ons kyk kortliks na hierdie belangrike geskiedenis. Sodoende kan ons meer van ons Skepper se eienskappe leer. Ja, ons kan talle kosbare dinge van hom leer deur die boek wat hy aan die mensdom voorsien het, die Bybel, verder te ondersoek.

[Voetnote]

a Vergelyk Handelinge 8:26-38, waar Jesaja 53:7, 8 aangehaal word.

b Sien die brosjure ’n Boek vir alle mense, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, en die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir besonderhede oor die Bybel se oorsprong.

[Prent op bladsy 107]

Eeue nadat die Bybel dit voorspel het, het magtige Babilon ’n verlate puinhoop geword, en dit is wat dit vandag nog is

[Prente op bladsy 110]

Hierdie rol van Jesaja, wat in die tweede eeu v.G.J. oorgeskryf is, is in ’n grot naby die Dooie See gevind. Dit het in besonderhede gebeure voorspel wat plaasgevind het honderde jare nadat dit op skrif gestel is

[Prent op bladsy 115]

Hierdie brief wat in Ou Hebreeus op ’n potskerf geskryf is, is by Lagis opgegrawe. God se naam (sien pyltjies) kom twee keer voor, wat bewys dat die Skepper se naam bekend was en algemeen gebruik is

[Prent op bladsy 117]

Isaac Newton het die swaartekragwet geformuleer. Die Skepper se wette is redelik, en dit is in ons belang om daarmee saam te werk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel