Lewensverhaal
Jehovah sorg altyd vir ons
SOOS VERTEL DEUR ENELESI MZANGA
Dit was 1972. Tien jong manne, lede van Malawi se Jeugbond, het by ons huis ingebars, my gegryp en na ’n nabygeleë suikerrietland gesleep. Daar het hulle my geslaan en vir dood agtergelaat.
Tallose Getuies van Jehovah in Malawi is op soortgelyke wyse wreed aangeval. Waarom is hulle vervolg? Wat het hulle gehelp om te volhard? Laat ek julle my gesin se verhaal vertel.
EK IS op 31 Desember 1921 in ’n godsdienstige gesin gebore. My pa was ’n pastoor van die Presbiteriaanse Kerk van Sentrale Afrika. Ek het grootgeword in Nkhoma, ’n klein dorpie naby Lilongwe, die hoofstad van Malawi. Toe ek 15 jaar oud was, het ek die vrou van Emmas Mzanga geword.
Eendag het ’n vriend van my pa, ook ’n pastoor, ons besoek. Hy het opgelet dat daar Jehovah se Getuies naby ons bly en het ons gewaarsku om niks met hulle te doen te hê nie. Hy het vir ons vertel dat die Getuies vol demone is en dat ons ook deur demone besete kon word as ons nie versigtig is nie. Daardie waarskuwing het ons so bang gemaak dat ons na ’n ander dorpie getrek het, waar Emmas werk as ’n winkelier gekry het. Maar ons het gou uitgevind dat ons nuwe tuiste ook naby Jehovah se Getuies was!
Kort voor lank het Emmas se innige liefde vir die Bybel hom egter beweeg om met een van die Getuies te praat. Nadat hy oortuigende antwoorde op sy talle vrae gekry het, het Emmas die Getuies se aanbod van ’n Bybelstudie aanvaar. Aanvanklik het hulle die Bybelstudie gehou by die winkel waar hy gewerk het, maar later is die weeklikse studie in ons huis gehou. Elke keer wanneer Jehovah se Getuies gekom het, het ek gesorg dat ek nie in die huis was nie omdat ek vir hulle bang was. Emmas het nietemin voortgegaan om die Bybel te studeer. In April 1951, omtrent ses maande nadat hy met sy studie begin het, is hy gedoop. Maar hy het my nie vertel nie omdat hy bang was dat die nuus die einde van ons huwelik sou beteken.
Moeilike weke
Eendag het my vriendin Ellen Kadzalero my egter vertel dat my man as een van Jehovah se Getuies gedoop is. Ek was woedend! Van daardie dag af het ek nie met hom gepraat of kos vir hom gemaak nie. Ek het ook opgehou om sy badwater te gaan haal en warm te maak—iets wat volgens ons gebruik as ’n vrou se werk beskou word.
Nadat Emmas hierdie behandeling drie weke lank verduur het, het hy my liefdevol gevra om by hom te kom sit, en hy het my toe vertel waarom hy besluit het om ’n Getuie te word. Hy het verskeie tekste gelees en verduidelik, soos byvoorbeeld 1 Korintiërs 9:16. Dit het my diep geraak, en ek het gevoel dat ek ook die goeie nuus moet verkondig. Ek het dus besluit om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te begin studeer. Daardie selfde aand, tot my liefdevolle man se groot verligting, het ek ’n lekker maaltyd vir hom voorberei.
Ons vertel familie en vriende van die waarheid
Toe ons ouers hoor dat ons met Jehovah se Getuies assosieer, het hulle ons hewig teëgestaan. My familie het vir ons ’n brief geskryf waarin hulle gesê het dat ons nie meer vir hulle moet kom kuier nie. Hulle reaksie het ons hartseer gemaak, maar ons het op Jesus se belofte vertrou dat ons baie geestelike broers en susters en vaders en moeders sou hê.—Matteus 19:29.
Ek het vinnig gevorder met my Bybelstudie en is in Augustus 1951 gedoop, net drie en ’n half maande ná my man. Ek het verplig gevoel om my vriendin Ellen van die waarheid te vertel. Gelukkig het sy ingestem tot ’n Bybelstudie. Ellen is in Mei 1952 gedoop en het my geestelike suster geword, wat ons vriendskapsband nog hegter gemaak het. Ons is tot vandag toe baie goeie vriendinne.
In 1954 is Emmas aangestel om gemeentes as ’n kringopsiener te besoek. Ons het toe reeds ses kinders gehad. In daardie dae het ’n reisende opsiener wat ’n gesin gehad het, een week ’n gemeente besoek en dan die volgende week saam met sy vrou en kinders deurgebring. Terwyl Emmas egter die reisende werk gedoen het, het hy altyd seker gemaak dat ek ons gesinsbybelstudie hou. Ons het die studie aangenaam probeer maak vir ons kinders. Ons het ook met hartgrondige oortuiging gepraat van ons liefde vir Jehovah en vir die waarheid van sy Woord, en ons het as ’n gesin die predikingswerk gedoen. Hierdie geestelike opleidingsprogram het ons kinders se geloof versterk en hulle help voorberei op die vervolging waarvoor ons binnekort te staan sou kom.
Godsdiensvervolging begin
In 1964 het Malawi ’n onafhanklike land geword. Toe amptenare van die heersende party hoor van ons neutrale standpunt wat die politiek betref, het hulle ons probeer dwing om partylidmaatskapskaarte te koop.a Omdat ek en Emmas geweier het om dit te doen, het lede van die Jeugbond ons mielieland verwoes—ons hoofvoedselbron vir die komende jaar. Terwyl lede van die Jeugbond die mielies afgekap het, het hulle gesing: “Die groen mielies van almal wat weier om Kamuzu [president Banda] se kaart te koop, sal deur die termiete opgeëet word, en hierdie mense sal daarvoor huil.” Maar al was ons kosvoorraad daarmee heen, het ons nie moed opgegee nie. Ons kon Jehovah se sorg aanvoel. Hy het ons liefdevol versterk.—Filippense 4:12, 13.
Laat een nag in Augustus 1964 was ek alleen by die huis met die kinders. Ons het geslaap, maar ’n gesing in die verte het my wakker gemaak. Dit was die Gulewamkulu, ’n gevreesde, geheime groep stamdansers wat mense aanval en voorgee dat hulle die geeste van afgestorwe voorouers is. Die Jeugbond het die Gulewamkulu gestuur om ons te kom aanval. Ek het die kinders gou wakker gemaak, en voordat die aanvallers by ons huis gekom het, het ons die bosse in gevlug.
Van ons skuilplek af het ons ’n helder lig gesien. Die Gulewamkulu het ons grasdakhuis aan die brand gesteek. Dit het tot op die grond afgebrand, saam met al ons besittings. Terwyl die aanvallers van die smeulende puin van ons huis af weggestap het, het ons hulle hoor sê: “Ons het ’n lekker vuur gemaak waarby daardie Getuie hom kan warm maak.” Hoe dankbaar was ons tog teenoor Jehovah dat ons veilig weggekom het! Hulle het weliswaar al ons besittings vernietig, maar hulle het nie ons vasbeslotenheid vernietig om eerder op Jehovah as op mense te vertrou nie.—Psalm 118:8.
Ons het gehoor dat die Gulewamkulu dieselfde verskriklike ding aan vyf ander gesinne van Jehovah se Getuies in ons omgewing gedoen het. Hoe bly en dankbaar was ons tog toe die broers in nabygeleë gemeentes ons te hulp gesnel het! Hulle het ons huise herbou en ons genoeg kos vir ’n hele paar weke gegee.
Die vervolging word hewiger
In September 1967 is ’n landwye kampanje aan die gang gesit om Jehovah se Getuies gevange te neem. Om ons te vind, het hartelose en aggressiewe jong manne—lede van die Jeugbond en die Malawi- Jong Pioniers, gewapen met kapmesse—van deur tot deur na Getuies gesoek. Wanneer hierdie manne hulle gevind het, wou hulle politieke partykaarte aan hulle verkoop.
Toe hulle by ons huis aankom, het hulle gevra of ons ’n partykaart het. Ek het gesê: “Nee, ek het nie een gekoop nie. Ek gaan dit nie nou koop nie, en ek gaan ook nie in die toekoms een koop nie.” Daarna het hulle my en my man gegryp en ons na die plaaslike polisiestasie geneem, sonder om ons kans te gee om enigiets saam te vat. Toe ons jonger kinders ná skool by die huis kom, was ons nie daar nie, en hulle het baie bekommerd geraak. Gelukkig het ons ouer seun, Daniel, kort daarna by die huis gekom en by ’n buurman gehoor wat gebeur het. Hy het sy jonger boeties en sussies dadelik bymekaargekry en polisiestasie toe gestap. Hulle het daar aangekom net toe die polisie ons in vragmotors laai om ons na Lilongwe te neem. Die kinders het saamgegaan.
In Lilongwe is ’n skynverhoor by die polisiehoofkwartier gehou. Die offisiere het ons gevra: “Gaan julle Jehovah se Getuies bly?” Ons antwoord was: “Ja!” al het hierdie antwoord outomaties ’n vonnis van sewe jaar tronkstraf beteken. Vir dié wat die organisasie “bestuur” het, was die vonnis 14 jaar.
Ná ’n nag sonder kos en rus het die polisie ons na die Maula-gevangenis geneem. Daar was die selle so oorvol dat ons nie eers ’n plekkie op die vloer kon kry om te slaap nie! Die enigste toiletgeriewe was een emmer in elke oorvol sel. Die kos was min en swak voorberei. Ná twee weke het die gevangenisowerheid besef dat ons vreedsame mense is en ons toegelaat om die gevangenis se binneplaas te gebruik. Daar was soveel van ons dat ons elke dag geleenthede gehad het om mekaar aan te moedig en ’n goeie getuienis vir die ander gevangenes te gee. Nadat ons sowat drie maande van ons vonnis uitgedien het, is ons tot ons verbasing vrygelaat weens internasionale druk wat op Malawi se regering uitgeoefen is.
Die polisieoffisiere het ons aangespoor om terug te gaan na ons huise, maar hulle het ook vir ons gesê dat die werk van Jehovah se Getuies in Malawi verbied is. Hierdie verbod het van 20 Oktober 1967 tot 12 Augustus 1993 geduur—amper 26 jaar. Dit was moeilike jare, maar met Jehovah se hulp kon ons ons streng neutraliteit handhaaf.
Soos diere gejag
In Oktober 1972 het ’n staatsbesluit tot ’n nuwe vlaag van wrede vervolging aanleiding gegee. Die besluit het bepaal dat al Jehovah se Getuies by hulle werksplekke ontslaan moet word en dat alle Getuies wat in dorpies woon, uit hulle huise gedryf moet word. Getuies is soos diere gejag.
Gedurende hierdie tyd het ’n jong Christenbroer met ’n dringende boodskap vir Emmas by ons huis aangekom: ‘Die Jeugbond beplan om jou te onthoof, jou kop op ’n paal te sit en dit na die plaaslike hoofmanne te neem.’ Nadat Emmas gereël het dat ons hom so gou as moontlik volg, is hy vinnig by die huis weg. Ek het die kinders inderhaas weggestuur. Toe ek op die punt was om te vertrek, het tien lede van die Jeugbond daar aangekom, op soek na Emmas. Hulle het by ons huis ingebars, maar ontdek dat Emmas weg is. Die manne was kwaad en het my na ’n nabygeleë suikerrietland gesleep, waar hulle my geskop en met suikerriete geslaan het. Daar het hulle my vir dood agtergelaat. Nadat ek my bewussyn herwin het, het ek terug huis toe gekruip.
Daardie aand, toe dit donker was, het Emmas sy lewe gewaag om terug te keer huis toe om my te soek. Toe Emmas my in daardie toestand kry, het hy en ’n vriend wat ’n kar gehad het, my versigtig in die voertuig gelaai. Toe het ons na die huis van ’n broer in Lilongwe gery, waar ek ná die aanval stadigaan herstel het en Emmas planne begin maak het om uit die land te vlug.
Vlugtelinge sonder ’n heenkome
Ons dogter Dinesi en haar man het ’n vyftonvragmotor gehad. Hulle het ’n bestuurder in diens geneem wat voorheen ’n Malawi- Jong Pionier was, maar nou simpatiek teenoor ons situasie was. Hy het aangebied om ons en ander Getuies te help. ’n Hele paar aande na mekaar het die bestuurder Getuies by voorafgereëlde skuilplekke opgelaai. Dan het hy die uniform van die Malawi- Jong Pioniers aangetrek en met die volgelaaide vragmotor deur verskeie padblokkades van die polisie gery. Hy het hom aan groot gevaar blootgestel om honderde Getuies te help om oor die grens na Zambië te gaan.
Ná ’n paar maande het die Zambiese owerhede ons na Malawi teruggestuur; maar ons kon nie na ons tuisdorpie terugkeer nie. Al ons besittings wat ons agtergelaat het, is gesteel. Selfs die sinkplate van ons huis se dak is gesteel. Omdat ons nêrens kon gaan waar ons veilig sou wees nie, het ons na Mosambiek gevlug en twee en ’n half jaar lank in die Mlangeni-vlugtelingkamp gebly. Maar in Junie 1975 het ’n nuwe regering wat in Mosambiek aan die bewind gekom het, die kamp toegemaak en ons gedwing om terug te gaan na Malawi, waar die situasie vir Jehovah se volk nog nie verander het nie. Ons het geen ander keuse gehad as om ’n tweede keer na Zambië te vlug nie. Daar het ons die Chigumukire-vlugtelingkamp bereik.
Twee maande later het ’n konvooi busse en militêre vragmotors langs die hoofpad stilgehou, en honderde swaargewapende Zambiese soldate het die kamp binnegestroom. Hulle het gesê dat mooi huise vir ons gebou is en dat hulle vervoer voorsien om ons te help om tot daar te kom. Ons het geweet dat dit nie waar is nie. Die soldate het mense begin dwing om op die vragmotors en busse te klim, en paniek het ontstaan. Die soldate het met hulle outomatiese wapens in die lug begin vuur, en duisende van ons broers en susters het vreesbevange in alle rigtings gehardloop.
In die verwarring is Emmas per ongeluk omgestamp, en hy het onder die ander se voete beland, maar een van die broers het hom weer opgehelp. Ons het gedink dat dit die begin van die groot verdrukking is. Al die vlugtelinge het in die rigting van Malawi gehardloop. Terwyl ons nog in Zambië was, het ons by ’n rivier gekom, en die broers het verskeie menslike kettings gevorm om almal te help om veilig deur te kom. Maar aan die ander kant van die rivier het Zambiese soldate ons voorgekeer en gedwing om na Malawi terug te gaan.
In Malawi was ons weer eens sonder heenkome. Ons het gehoor dat mense by politieke samekomste en in die koerante gewaarsku is om op die uitkyk te wees na “nuwe gesigte” wat in hulle dorpies aankom, met verwysing na Jehovah se Getuies. Daarom het ons besluit om na die hoofstad te gaan, waar ons nie so maklik opgemerk sou word soos in ’n dorpie nie. Ons het daarin geslaag om ’n huisie te huur, en Emmas het sy geheime besoeke aan die gemeentes as ’n reisende opsiener hervat.
Bywoning van gemeentelike vergaderinge
Wat het ons gehelp om getrou te bly? Gemeentelike vergaderinge! In die vlugtelingkampe van Mosambiek en Zambië kon ons vergaderinge wat in eenvoudige grasdak-Koninkryksale gehou is, openlik bywoon. In Malawi was die bywoning van vergaderinge egter gevaarlik en moeilik—maar altyd die moeite werd. Ons het vergaderinge gewoonlik laat in die nag op afgeleë plekke gehou om te voorkom dat ons opgemerk word. Omdat ons nie aandag wou trek nie, het ons nie by vergaderinge hande geklap om ons waardering teenoor ’n spreker te toon nie, maar eenvoudig ons hande teen mekaar gevryf.
Doopplegtighede is laat in die nag gehou. Ons seun Abiyudi is by so ’n geleentheid gedoop. Ná die dooptoespraak is hy en die ander doopkandidate in die donker na ’n moerasagtige gebied gelei waar ’n vlak gat gegrawe was. Daar is hulle gedoop.
Ons huisie word ’n veilige hawe
Gedurende die latere jare van die regeringsverbod is ons huis in Lilongwe as ’n geheime lektuurdepot gebruik. Briewe en lektuur van die takkantoor in Zambië is in die geheim by ons huis afgelewer. Broers wat as koeriers gedien het, het met hulle fietse na ons huis toe gekom om die besending van Zambië op te laai en die pos en lektuur na alle dele van Malawi te vervoer. Die eksemplare van Die Wagtoring wat versprei is, was dun omdat dit op Bybelpapier gedruk is. Gevolglik kon die koeriers twee maal soveel tydskrifte vervoer as wat moontlik sou wees as die tydskrifte op gewone papier gedruk is. Die koeriers het ook mini-eksemplare van Die Wagtoring versprei, wat net studieartikels bevat het. ’n Minitydskrif kon maklik in ’n hempsak weggesteek word omdat dit uit net een vel papier bestaan het.
Hierdie koeriers het hulle vryheid en lewe op die spel geplaas wanneer hulle deur die bos gery het, soms in die donker nag, met kartonhouers vol verbode lektuur hoog op hulle fietse gestapel. Ondanks padblokkades van die polisie en ander gevare het hulle honderde kilometers ver in alle weersomstandighede gery om geestelike voedsel by hulle broers af te lewer. Hoe dapper was daardie dierbare koeriers tog nie!
Jehovah sorg vir weduwees
Emmas het in Desember 1992, terwyl hy ’n toespraak tydens ’n kringbesoek gehou het, ’n beroerte gekry. Daarna kon hy nie meer praat nie. ’n Ruk later het hy ’n tweede beroerte gekry, wat hom aan die een kant van sy liggaam verlam het. Al was dit vir hom moeilik omdat hy nie meer goeie gesondheid gehad het nie, het die liefdevolle ondersteuning wat ons van ons gemeente ontvang het, my gehelp om moed te hou. Ek het by die huis na my man omgesien tot sy dood in November 1994 op 76-jarige ouderdom. Ons was 57 jaar getroud, en voor sy dood het Emmas nog die opheffing van die verbod gesien. Maar ek treur nog steeds oor die dood van my getroue metgesel.
Nadat ek ’n weduwee geword het, het my skoonseun die verantwoordelikheid op hom geneem om nie net vir sy vrou en vyf kinders te sorg nie, maar ook vir my. Ongelukkig is hy in Augustus 2000 ná ’n kort siekbed oorlede. Hoe sou my dogter kos en blyplek vir ons kon kry? Ek het weer eens gevind dat Jehovah vir ons sorg en waarlik “’n vader van vaderlose seuns en ’n regter van weduwees” is (Psalm 68:5). Jehovah het, deur middel van sy knegte op aarde, vir ons ’n pragtige nuwe huis voorsien. Hoe het dit gebeur? Toe die broers en susters in ons gemeente ons verknorsing sien, het hulle in net vyf weke vir ons ’n huis gebou! Broers van ander gemeentes wat messelaars was, het kom help. Die liefde en goedhartigheid wat al hierdie Getuies teenoor ons betoon het, het ons baie diep geraak, want die huis wat hulle vir ons gebou het, is beter as die huise waarin baie van hulle bly. Hierdie liefde wat die gemeente betoon het, het as ’n goeie getuienis in ons omgewing gedien. Wanneer ek snags gaan slaap, voel dit asof ek in die Paradys is! Ja, ons pragtige nuwe tuiste is van stene en messelklei gemaak, maar soos so baie mense gesê het, is dit ’n huis wat waarlik met liefde gebou is.—Galasiërs 6:10.
Jehovah sorg nog steeds vir my
Hoewel daar tye was dat ek heeltemal wanhopig gevoel het, was Jehovah goed vir my. Sewe van my nege kinders lewe nog, en my familie bestaan nou uit 123 lede. Hoe dankbaar is ek tog dat die meeste van hulle Jehovah getrou dien!
Vandag, op die ouderdom van 82, vul dit my met vreugde wanneer ek sien wat God se gees in Malawi vermag het. Net in die afgelope vier jaar het ek gesien hoe die getal Koninkryksale van een tot meer as 600 toeneem. Ons het ook nou ’n nuwe takkantoor in Lilongwe, en ons ontvang ’n nimmereindigende stroom versterkende geestelike voedsel. Ek voel werklik dat ek die vervulling van God se belofte in Jesaja 54:17 ondervind het, waar ons verseker word: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie.” Nadat ek Jehovah meer as 50 jaar lank gedien het, is ek daarvan oortuig dat Jehovah altyd vir ons sorg, ongeag die beproewinge waarvoor ons te staan kom.
[Voetnoot]
a Sien die 1999 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 149-223, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir meer inligting oor die geskiedenis van Jehovah se Getuies in Malawi.
[Prent op bladsy 24]
My man, Emmas, is in April 1951 gedoop
[Prent op bladsy 26]
’n Groep dapper koeriers
[Prent op bladsy 28]
’n Huis wat met liefde gebou is