Moet jy altyd eerlik wees?
ALMAL is soms eerlik; baie dalk die meeste van die tyd. Maar hoeveel mense ken jy wat probeer om altyd eerlik te wees?
Vandag is daar ’n algemene gebrek aan eerlikheid in talle fasette van die lewe. Nietemin weet baie mense wat God se beskouing van eerlikheid is. Die meeste mense ken byvoorbeeld die woorde van die agtste van die Tien Gebooie: “Jy mag nie steel nie” (Eksodus 20:15). Baie meen egter dat omstandighede soms diefstal of ander vorme van oneerlikheid regverdig. Kom ons bespreek drie voorbeelde van diefstal wat meestal verskoon word.
Regverdig armoede diefstal?
’n Romeinse staatsman het eenkeer gesê: “Armoede is die moeder van misdaad.” ’n Arm persoon voel dalk geregverdig om te steel. Omstanders stem dalk saam. Watter standpunt het Jesus hieroor ingeneem? Hy was baie medelydend in sy handelinge met die behoeftiges. ‘Hy het innig jammer vir hulle gevoel’ (Matteus 9:36). Tog het hy nooit—onder enige omstandighede—diefstal verskoon nie. Wat moet ’n arm persoon dan doen?
God het medelye vir diegene wat hom opreg probeer gehoorsaam, en hy sal hulle pogings seën om te kry wat hulle nodig het (Psalm 37:25). Die Bybel belowe: “Jehovah sal die siel van die regverdige nie laat honger ly nie, maar die begeerte van die goddeloses sal hy wegstoot” (Spreuke 10:3). Kan ’n arm persoon hierop staatmaak? Victorine is oortuig daarvan.
As ’n weduwee met vyf skoolgaande kinders het Victorine dit nie maklik nie. Sy woon in ’n ontwikkelende land met beperkte maatskaplike voordele. Daaglikse bedrywighede vind meestal buitenshuis plaas, waar daar volop geleenthede is om te steel. Maar Victorine kom nie in die versoeking om te steel nie. Sy probeer eerder ’n eerlike bestaan as ’n straatverkoper maak. Waarom bly sy eerlik?
“Eerstens, ek glo dat God eerlik is en dat hy my eerlik sal behandel as ek hom navolg. Tweedens, my kinders kan net leer om eerlik te wees as hulle sien dat ek eerlik is.”
Hoe vaar sy? “Ons het kos, klere en verblyf. Maar daar was al tye wanneer ek vriende om hulp moes vra—om byvoorbeeld onverwagte mediese onkoste te dek. Ek het nog altyd gekry wat ek nodig gehad het. Waarom? Omdat my vriende weet dat ek eerlik oor my omstandighede is en dat ek nie meer probeer kry as wat ek nodig het nie.
“Die kinders word groot as eerlike persone. ’n Buurvrou het onlangs ’n paar muntstukke op ons tafel sien lê en my gevra of ek nie bang is dat die kinders dit sal vat nie. Sy kon dit byna nie glo toe ek vir haar sê dat my kinders dit nooit sal doen nie. Sonder my medewete het sy besluit om hulle te toets. Sy het stilweg twee 100-frankmuntstukke in ons huis gelos waar die kinders dit maklik in die hande kon kry. Toe sy die volgende dag ’n draai kom maak het, was sy verbaas om te sien dat die muntstukke nog steeds daar was. Dit maak my gelukkiger om eerlike kinders te hê as om baie materiële dinge te hê.”
“Almal doen dit”
Diefstal by die werk is algemeen. Gevolglik meen baie: “Almal doen dit, waarom kan ek nie?” In teenstelling hiermee sê die Bybel: “Jy mag die menigte nie volg met bose oogmerke nie” (Eksodus 23:2). Victoire het hierdie raad gevolg. Het dit goeie resultate gehad?
Toe sy 19 was, het Victoire werk in ’n palmoliefabriek gekry. Sy het kort voor lank opgelet dat die 40 vroue wat daar gewerk het, hulle mandjies gebruik het om palmpitte uit die fabriek te smokkel. Hulle het elke naweek die pitte verkoop vir ’n bedrag gelykstaande aan drie tot vier dae se salaris. Victoire sê: “Letterlik almal het dit gedoen. Hulle het van my verwag om by hulle aan te sluit, maar ek het geweier en gesê dat ek ’n eerlike lewe lei. Hulle het my bespot en gesê dat ek aan die verloorkant sal wees.
“Toe ons eendag uit die fabriek geloop het, het die bestuurder skielik sy verskyning gemaak. Hy het almal se mandjies deursoek en palmpitte in elke mandjie gekry behalwe myne. Almal wat betrap is, sou óf dadelik afgedank word óf moes twee weke sonder salaris werk. Gedurende daardie twee weke is die vroue oortuig dat ek nie aan die verloorkant was nie.”
“Optelgoed is hougoed”
Hoe voel jy wanneer jy iets waardevols vind wat iemand verloor het? Baie dink onmiddellik dat dit nou aan hulle behoort en dat hulle dit nie hoef terug te gee nie. Hulle glo “optelgoed is hougoed”. Party meen dat dit geen skade doen nie. Hulle redeneer dat die eienaar dit sekerlik in elk geval as verlore afgeskryf het. Ander sê dat dit nie hulle verantwoordelikheid is om die eienaar op te spoor nie—iets wat moontlik baie moeite sal verg.
Hoe beskou God die saak? Deuteronomium 22:1-3 toon dat ’n persoon wat iets gevind het, die item nie eenvoudig vir homself kon hou nie, maar dat hy dit moes hou “totdat [die eienaar] daarna gesoek het. En [hy] moet dit vir hom teruggee.” As die persoon wat iets gevind het, niemand daarvan gesê het nie, kon hy van diefstal aangekla word (Eksodus 22:9). Is dit vandag nog prakties? Christine is oortuig daarvan.
Christine is die hoof van ’n privaat skool. Een Woensdag het sy haar maand se salaris in kontant ontvang. In tipiese Wes-Afrikaanse styl het sy die note in ’n bondel in haar sak gedruk. Toe het sy ’n motorfietstaxi voorgekeer en haar na ’n vergadering gehaas. Toe sy daar aankom, het sy in haar sak gesoek na muntstukke om die bestuurder te betaal. In die donker het die bondel note op die grond geval sonder dat sy dit besef het.
Minute later het die 19-jarige Blaise, wat onbekend was met die gebied, in die straat afgekom. Hy het gereël om ’n vriend by dieselfde vergadering te ontmoet wat Christine bygewoon het. Hy het die bondel note gesien en dit in sy sak gesit. Aan die einde van die vergadering het hy vir sy vriend vertel dat hy iets buite opgetel het en dat enigiemand wat iets verloor het, hom kon skakel om dit te identifiseer.
Toe Christine daardie aand by die huis kom, was sy geskok om te ontdek dat sy haar maand se salaris verloor het. ’n Week later, toe sy haar vriendin Josephine daarvan vertel, het Josephine gesê dat ’n besoeker by daardie vergadering iets opgetel het. Christine het Blaise geskakel en gesê hoeveel geld sy verloor het. Sy was in die wolke toe Blaise die geld teruggee. Hoe het Blaise gevoel? Hy het die geld ’n week lank gehou, maar hy het gesê: “Om die geld terug te gee, het my gelukkiger gemaak as om dit te hou.”
Waarom hulle altyd eerlik probeer wees
Victorine, Victoire en Blaise woon in verskillende gebiede en ken mekaar nie. Maar hulle het iets in gemeen. Hulle is Jehovah se Getuies, wat bly by wat die Bybel oor eerlikheid sê. Hulle wag op die vervulling van God se belofte van ’n nuwe wêreld. “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon.” Alle mense wat dan lewe, sal regverdig wees—en eerlik.—2 Petrus 3:13.
Victorine het min hoop dat haar finansiële situasie grootliks sal verbeter voordat God dinge verander. Maar sy is geestelik ryk, iets wat geld nie kan koop nie. Haar kinders is eerlik en goedgemanierd. Elke Sondag loop hulle oor van vreugde wanneer hulle met hulle bure praat oor God se goedheid en verduidelik hoe hy in “almal wat hom in waaragtigheid aanroep”, se behoeftes sal voorsien en “almal wat hom liefhet”, sal beskerm.—Psalm 145:7, 18, 20.
Victoire het mettertyd haar werk by die palmoliefabriek opgegee. Sy het haar eie besigheid begin en garri (’n soort growwe kassawemeel) by die mark verkoop. Haar eerlikheid het baie klante gelok. Trouens, sy kon weldra minder tyd by die mark deurbring en meer tyd daaraan bestee om met ander te praat oor die vooruitsig om in ’n wêreld vry van oneerlikheid te lewe. Sy is later getroud, en sy en haar man dien nou as voltydse bedienaars.
Christine het haar geld voor ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies verloor. Blaise het nie baie mense by die vergadering geken nie, maar hy het geweet dat hulle sy Christenbroers en -susters is, wat altyd eerlik probeer wees.
Hoeveel mense ken jy wat opreg daarna streef om altyd eerlik te wees? Stel jou voor hoe dit is om saam met 50, 100 of 200 eerlike mense te wees. Dit is die wonderlike ondervinding wat Jehovah se Getuies by hulle Koninkryksale geniet. Gaan besoek hulle gerus en leer hulle ken.
[Lokteks op bladsy 12]
“Dit maak my gelukkiger om eerlike kinders te hê as om baie materiële dinge te hê.”—VICTORINE
[Venster op bladsy 14]
Word diefstal in Spreuke 6:30 verskoon?
Spreuke 6:30 sê: “Mense verag nie ’n dief bloot omdat hy diefstal pleeg om sy siel te vul wanneer hy honger is nie.” Verskoon hierdie stelling diefstal? Glad nie. Die konteks toon dat die dief nog steeds aanspreeklik voor God is vir sy oortreding. Die volgende vers sê: “Maar as hy uitgevind word, sal hy dit sewevoudig vergoed; al die waardevolle dinge van sy huis sal hy gee” (Spreuke 6:31). Hoewel die dief wat steel omdat hy honger is, nie so afkeurenswaardig is as die een wat steel weens gierigheid of met die doel om sy slagoffer leed aan te doen nie, is hy nietemin nog steeds verantwoordelik om daarvoor te “vergoed”. Diegene wat God se goedkeuring wil wegdra, moet hulle onder geen omstandighede aan diefstal skuldig maak nie.