Is dit werklik oneerlik?
“Verander jou ongeluksverslag ’n bietjie, en alles sal goed afloop.”
“Die belastingowerheid hoef nie alles te weet nie.”
“Die belangrikste is om nie betrap te word nie.”
“Waarom vir iets betaal as jy dit verniet kan kry?”
DIT is moontlik van die dinge wat jy sal hoor as jy raad oor finansiële sake vra. Dit lyk asof party mense slim “oplossings” vir alles het. Die vraag is: Is hierdie oplossings werklik eerlik?
Oneerlikheid is vandag so wydverspreid dat mense dikwels leuens, kullery en diefstal as aanvaarbare maniere beskou om straf vry te spring, geld te maak en vooruitgang te maak. Vooraanstaande lede van die gemeenskap stel dikwels ’n swak voorbeeld wanneer dit kom by eerlikheid. In een Europese land het gevalle van bedrog en geldverduistering van 2005 tot 2006 met meer as 85 persent toegeneem. En dit het talle geringe gevalle van oneerlikheid, wat party mense pikkedille, of “sondetjies”, noem, nie ingesluit nie. Dalk was dit nie so verbasend dat vooraanstaande sakemanne en politieke figure in daardie land betrokke was by ’n skandaal waarin hulle vervalste diplomas gebruik het om hulle loopbaan te bevorder nie.
Al is oneerlikheid so algemeen in die wêreld, is daar nogtans baie mense wat wil doen wat reg is. Jy is waarskynlik een van hulle. Jy is moontlik lief vir God, en daarom wil jy doen wat reg is in sy oë (1 Johannes 5:3). Jy voel dalk soos die apostel Paulus, wat geskryf het: “Ons vertrou dat ons ’n eerlike gewete het, aangesien ons ons in alles eerlik wil gedra” (Hebreërs 13:18). Om hierdie rede nooi ons jou om te kyk na ’n paar situasies wat ’n mens se begeerte om hom “in alles eerlik” te gedra, op die proef kan stel. Ons sal ook Bybelbeginsels bespreek wat in sulke omstandighede nuttig kan wees.
Wie moet vir ’n ongeluk betaal?
Terwyl ’n jong vrou genaamd Lisaa op ’n dag bestuur, maak sy ’n fout en bots met ’n ander motor. Niemand is beseer nie, maar albei voertuie is beskadig. In die land waar sy woon, betaal jong bestuurders hoë premies vir motorversekering, en daardie premies gaan ná elke ongeluk op. Aangesien Lisa se ouer neef Gregor by was, stel ’n vriend voor dat hulle in die verslag sê dat dit Gregor was wat bestuur het. So kan Lisa hoër versekeringskostes vermy. Dit lyk na ’n verstandige oplossing. Wat moet sy doen?
Versekeringsmaatskappye gebruik die premies wat hulle polishouers betaal, om eise uit te betaal. As Lisa dus haar vriend se voorstel volg, sal sy in werklikheid ander polishouers dwing om deur middel van hoër versekeringstariewe vir haar ongeluk te betaal. Sy sal nie net ’n valse verslag indien nie, maar ook by ander steel. Dieselfde sal waar wees as sy leuens vertel sodat haar versekering meer uitbetaal.
Geregtelike straf is dalk ’n sterk afskrikmiddel teen so ’n oneerlike daad. Maar ’n belangriker rede om oneerlikheid te vermy, word in God se Woord gevind. “Jy mag nie steel nie”, sê een van die Tien Gebooie (Eksodus 20:15). Die apostel Paulus het daardie gebod aan Christene herhaal deur te sê: “Laat die steler nie meer steel nie” (Efesiërs 4:28). As jy God se Woord gehoorsaam wanneer dit by versekering kom, sal jy nie iets doen wat God veroordeel nie. Jy toon ook jou liefde en respek vir God se wet en vir jou naaste.—Psalm 119:97.
‘Betaal aan die keiser wat aan die keiser behoort’
Peter is ’n sakeman. Sy rekenmeester stel voor dat hy die “aankoop” van duur rekenaartoerusting vir belastingdoeleindes aftrek. Sulke aankope is normaal vir ’n besigheid soos Peter s’n. Hoewel Peter nooit die aankope gemaak het nie, sal die regering waarskynlik nie so ’n uitgawe ondersoek nie. Daardie aftrekking sal Peter ’n aansienlike bedrag spaar op die belasting wat hy moet betaal. Wat moet hy doen? Wat kan hom help om ’n besluit te neem?
Die apostel Paulus het vir Christene in sy dag gesê: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede . . . Gee aan almal wat hulle toekom: aan hom wat die belasting verlang, die belasting; aan hom wat die skatting verlang, die skatting” (Romeine 13:1, 7). Diegene wat God se goedkeuring wil verkry, betaal al die belasting wat die owerhede van hulle verwag. Aan die ander kant, as die wet van die land verminderde belastingkoerse aan sekere individue of besighede toestaan, is daar niks mee verkeerd om sulke voordele te eis nie, mits jy wetlik daarvoor kwalifiseer.
Hier is nog ’n situasie wat die betaling van belasting behels. David werk as ’n timmerman by ’n plaaslike maatskappy. Maar sy vriende en bure vra hom om kaste en meubels vir hulle huise te maak, en hy doen dit na-ure. Hulle bied aan om hom meer te betaal as wat hy by sy werk verdien en sê dat hy nie vir hulle ’n faktuur hoef te gee nie. Niemand hou dus ’n rekord van die werk wat gedoen word nie en niemand betaal belasting nie. Min mense het ’n probleem hiermee, aangesien almal uit hierdie reëling voordeel trek. Hoe moet David, aangesien hy God wil behaag, werk beskou waarvan daar nie boekgehou word nie?
Hoewel iemand wat só werk dalk daarmee sal wegkom, betaal hy nie die belasting wat die regering toekom nie. Jesus het beveel: “Betaal dan aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Matteus 22:17-21). Jesus het dit gesê om sy toehoorders se denke oor die betaling van belasting reg te stel. Vir regeringsowerhede, wat Jesus die keiser genoem het, is belasting iets waarop hulle geregtig is. Gevolglik beskou volgelinge van Christus die betaling van alle belasting as hulle skriftuurlike plig.
Kullery tydens eksamens
’n Hoërskoolleerder met die naam Marta berei vir haar eindeksamen voor. Omdat haar vooruitsigte op ’n goeie werk daarvan afhang dat sy hoë punte behaal, het sy ure lank studeer. Party van haar klasmaats het ook voorberei—maar op ’n ander manier. Hulle gaan bliepers, geprogrammeerde sakrekenaars en selfone gebruik om te kul sodat hulle hoë punte kan kry. Moet Marta doen wat “almal” doen om te verseker dat sy goeie punte behaal?
Omdat dit so algemeen is om te kul, voel baie dat daar niks mee verkeerd is nie. “Die belangrikste is om nie betrap te word nie”, redeneer hulle. Hierdie redenasie is egter onaanvaarbaar vir ware Christene. Hoewel ’n onderwyser dalk nie sal sien as iemand kul nie, is daar iemand wat wel sien. Jehovah God weet wat ons doen en sal ons vir ons dade aanspreeklik hou. Paulus het geskryf: “Daar is nie ’n skepping wat nie vir sy oë sigbaar is nie, maar alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee” (Hebreërs 4:13). Die wete dat God ons dophou omdat hy wil hê dat ons moet doen wat reg is, is beslis ’n groot aansporing om eerlik te wees wanneer ons ’n toets skryf, nie waar nie?
Wat sal jy doen?
Lisa, Gregor, Peter, David en Marta het die erns besef van die omstandighede waarin hulle was. Hulle het besluit om eerlik op te tree en het sodoende ’n rein gewete en hulle sedelike onkreukbaarheid behou. Wat sal jy doen as jy voor soortgelyke omstandighede te staan kom?
Jou kollegas, klasmaats en bure het dalk geen probleem daarmee om leuens te vertel, te kul of te steel nie. Trouens, hulle spot jou dalk om jou te probeer dwing om soos hulle op te tree. Wat kan jou help om die regte besluit te neem ondanks die druk om oneerlik te wees?
Onthou, as ons in ooreenstemming met God se wil optree, sal ons ’n rein gewete hê en God se goedkeuring en guns geniet. Koning Dawid het geskryf: “O Jehovah, wie sal ’n gas in u tent wees? Wie sal op u heilige berg woon? Hy wat onberispelik wandel en regverdigheid beoefen en in sy hart die waarheid spreek. . . . Hy wat hierdie dinge doen, sal nooit wankel nie” (Psalm 15:1-5). ’n Rein gewete en vriendskap met die God van die hemel is meer werd as enige materiële voordeel wat deur oneerlikheid verkry word.
[Voetnoot]
a Van die name is verander.
[Lokteks op bladsy 12]
“Laat die steler nie meer steel nie.” Respek vir God se wet en liefde vir ons naaste beweeg ons om eerlik te wees wat versekering betref
[Lokteks op bladsy 12]
“Gee aan almal wat hulle toekom: aan hom wat die belasting verlang, die belasting.” Om God se goedkeuring te verkry, betaal ons al die belasting wat die wet vereis
[Lokteks op bladsy 13]
“Alles lê . . . oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee.” Hoewel onderwysers ons dalk nie sal betrap as ons kul nie, wil ons eerlik wees voor God
[Venster/Prente op bladsy 14]
Diefstal wat “onsigbaar” is
Jou vriend het die jongste uitgawe van ’n rekenaarprogram gekoop, en jy wil dit graag hê. Hy sê dat hy vir jou geld kan spaar deur vir jou ’n kopie van die sagteware te maak. Is dit oneerlik?
Wanneer gebruikers rekenaarsagteware koop, stem hulle in om te bly by die lisensievoorwaardes vir daardie program. Die lisensie laat die koper dalk toe om die program op net een rekenaar te installeer en te gebruik. Om in hierdie geval vir iemand anders ’n kopie van die sagteware te maak, is in stryd met die lisensievoorwaardes en is onwettig (Romeine 13:4). Hierdie soort kopiëring is ook diefstal omdat dit die kopiereghouer van inkomste ontneem waarop hy geregtig is.—Efesiërs 4:28.
Party redeneer dalk: ‘Niemand sal ooit weet nie.’ Hoe dit ook al sy, ons moet Jesus se woorde onthou: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Ons almal waardeer regverdige betaling vir ons werk en wil hê dat ander ons eiendom moet respekteer. Daarom moet ons dieselfde bedagsaamheid aan ander betoon. Ons vermy “onsigbare” diefstal, soos om intellektuele eiendomb te neem wat nie aan ons behoort nie.—Eksodus 22:7-9.
[Voetnoot]
b Intellektuele eiendom sluit dinge in soos musiek, boeke of sagteware wat deur kopiereg beskerm word, hetsy dit op papier gedruk is of elektronies gestoor word. Handelsmerke, patente, vakgeheime en publikasieregte val ook in hierdie kategorie.