Het jy geweet?
Wat was die stadspoort wat so dikwels in Bybelverslae gemeld word?
▪ In Bybeltye was die meeste stede deur beskermende mure omring. Binne baie poorte was daar ooptes waar mense bymekaargekom het om ander te ontmoet, handel te dryf en vir mekaar nuus te vertel. Openbare aankondigings is hier gemaak, en profete het soms hulle boodskappe hier bekend gemaak (Jeremia 17:19, 20). Die publikasie The Land and the Book sê dat “byna elke openbare transaksie by of naby die stadspoorte plaasgevind het”. In eertydse Israel was die stadspoorte baie soos die gemeenskapsentrums van hedendaagse dorpe.
Abraham het byvoorbeeld by Efron grond vir ’n familiegraf gekoop “ten aanhore van die seuns van Het, voor almal wat in die poort van sy stad ingaan” (Genesis 23:7-18). En Boas het tien ouer manne van Betlehem gevra om by die stadspoort te sit terwyl hy, in hulle teenwoordigheid, reëlings getref het in verband met Rut en haar afgestorwe man se erfenis, ooreenkomstig die wet aangaande swaershuwelike (Rut 4:1, 2). Wanneer die ouer manne van die stad as regters opgetree het, het hulle by die stadspoort gesit om sake te verhoor, beslissings te gee en oordele te vel.—Deuteronomium 21:19.
Waar was Ofir, waar daar volgens die Bybel hoëgehaltegoud was?
▪ Die boek Job maak eerste melding van “goud van Ofir” en stel dit gelyk aan “suiwer goud” (Job 28:15, 16). Omtrent 600 jaar ná Job se dag het koning Dawid “goud van Ofir” bymekaargemaak vir die bou van Jehovah se tempel in Jerusalem. Sy seun Salomo het ook goud van Ofir ingevoer.—1 Kronieke 29:3, 4; 1 Konings 9:28.
Volgens die Skrif het Salomo ’n vloot skepe laat bou in Eseon-Geber, langs die Rooisee, wat goud van Ofir af gebring het (1 Konings 9:26). Geleerdes plaas Eseon-Geber aan die bopunt van die Golf van Akaba in die algemene gebied van hedendaagse Elat en Akaba. Van daar af kon skepe enige deel van die Rooisee bereik, asook verder geleë handelsposte aan die kus van Afrika of die kus van Indië, waar Ofir moontlik geleë was. Ander het egter geglo dat Ofir in Arabië geleë was, waar goudmyne uit die ou tyd gevind is en afsettings selfs in moderne tye ontgin is.
Oor die bespiegeling of Salomo se goudmyne net legendaries was, soos sommige meen, het die Egiptoloog Kenneth A. Kitchen geskryf: “Ofir self is geen mite nie. Op ’n Hebreeuse ostrakon [of, erdeskerf] van moontlik die agtste eeu [VHJ] is ’n kort rekenkundige aantekening duidelik gegraveer: ‘Goud van Ofir vir Bet-Horon—30 sikkels.’ Dit verwys na Ofir as ’n werklike bron van goud, net soos in die geval van ‘Goud van ‛Amau’ of ‘Goud van Punt’ of ‘Goud van Koesj’ in Egiptiese tekste—goud wat óf afkomstig was van die land wat genoem word óf wat ooreengestem het met daardie land se soort of gehalte goud.”
[Prent op bladsy 15]
Abraham by die stadspoort, toe hy grond wou koop
[Prent op bladsy 15]
Hebreeuse ostrakon met inskripsie waarin ofir gemeld word
[Erkenning]
Collection of Israel Antiquities Authority, Photo © The Israel Museum, Jerusalem