Die wetlike beskerming van die goeie nuus
VANDAT die mens stede begin bou het, het hy ook nog altyd mure opgerig. Hierdie verskansings was veral in vervloë tye ’n beskerming. Van bo-op hierdie versperring kon verdedigers veg om te keer dat aanvallers deur die muur breek of dit ondermyn. Dit was nie net die inwoners van die stad wat beskerm is nie, maar dikwels het diegene wat in die omliggende dorpies gewoon het, ook toevlug binne die mure gevind.—2 Samuel 11:20-24; Jesaja 25:12.
Jehovah se Getuies het eweneens ’n muur—’n regsmuur—gebou om hulleself te beskerm. Hierdie muur is nie opgerig om die Getuies van die res van die gemeenskap af te sonder nie, want Jehovah se Getuies is bekend as sosiale, spontane mense. Dit bevestig eerder wetlike waarborge van basiese vryhede vir alle mense. Terselfdertyd beskerm dit die Getuies se wetlike regte sodat hulle hulle aanbidding vryelik kan beoefen. (Vergelyk Matteus 5:14-16.) Hierdie muur beskerm hulle manier van aanbidding en hulle reg om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Wat is hierdie muur, en hoe is dit opgerig?
Hoe die beskermende regsmuur opgerig is
Hoewel Jehovah se Getuies godsdiensvryheid in die meeste lande geniet, was hulle die skyf van ongeregverdigde aanvalle in party lande. Wanneer hulle vryheid om te aanbid deur te vergader of van huis tot huis te getuig, betwis is, het hulle geregtelike stappe gedoen. Daar was wêreldwyd al duisende regsake waarby die Getuies betrokke was.a Nie almal is gewen nie. Maar wanneer laer howe teen hulle beslis het, het hulle dikwels by hoër howe appèl aangeteken. Wat was die resultaat?
Gedurende die dekades van die 20ste eeu het regsoorwinnings in baie lande gesaghebbende presedente geskep waarop Jehovah se Getuies hulle in latere sake beroep het. Soos die bakstene of klippe waaruit ’n muur bestaan, vorm hierdie gunstige beslissings ’n beskermende regsmuur. Met behulp van hierdie muur van presedente gaan die Getuies voort om te stry vir die godsdiensvryheid om hulle aanbidding te beoefen.
Neem as voorbeeld die saak van Murdock v. Commonwealth of Pennsylvania waaroor die Hooggeregshof van die Verenigde State op 3 Mei 1943 uitspraak gelewer het. Die vraag wat in die saak geopper is, was: Moet Jehovah se Getuies ’n kommersiële smouslisensie uitneem om hulle godsdienslektuur te versprei? Jehovah se Getuies het volgehou dat daar nie van hulle vereis moet word om dit te doen nie. Hulle predikingswerk is nie—en was nog nooit—kommersieel nie. Hulle oogmerk is nie om geld te maak nie, maar om die goeie nuus te verkondig (Matteus 10:8; 2 Korintiërs 2:17). In die Murdock-beslissing het die Hof met die Getuies saamgestem en verklaar dat enige vereiste dat lisensiegeld betaal moet word voordat godsdienslektuur versprei kan word ongrondwetlik is.b Hierdie beslissing het ’n belangrike presedent geskep, en die Getuies het hulle sedertdien in baie sake suksesvol daarop as gesag beroep. Die Murdock-beslissing is ’n sterk baksteen in die beskermende regsmuur.
Sulke sake het baie bygedra tot die beskerming van godsdiensvryheid vir alle mense. Die University of Cincinnati Law Review het die volgende aangaande die bydrae gesê wat die Getuies tot die verdediging van burgerregte in die Verenigde State gemaak het: “Jehovah se Getuies het ’n diepgaande invloed op die ontwikkeling van staatsreg gehad, veral deurdat hulle die grense uitgebrei het waarvolgens vryheid van spraak en godsdiens beskerm word.”
Hoe die muur versterk word
Met elke regsoorwinning word die muur sterker. Neem ’n paar van die beslissings van die negentigerjare wat Jehovah se Getuies, sowel as alle ander liefhebbers van vryheid, regoor die wêreld tot voordeel gestrek het.
Griekeland. Op 25 Mei 1993 het die Europese Hof van Menseregte die reg van ’n Griekse burger bevestig om sy godsdiensopvattings aan ander te leer. Minos Kokkinakis, wat toe 84 jaar oud was, was by die saak betrokke. As een van Jehovah se Getuies is Kokkinakis sedert 1938 meer as 60 keer in hegtenis geneem, moes hy 18 keer voor Griekse howe verskyn en het hy meer as ses jaar in die tronk deurgebring. Hy is hoofsaaklik skuldig bevind ingevolge ’n Griekse wet uit die dertigerjare wat proselitisme verbied—’n wet wat verantwoordelik was vir byna 20 000 inhegtenisnemings van Jehovah se Getuies van 1938 tot 1992. Die Europese Hof het beslis dat die Griekse regering Kokkinakis se godsdiensvryheid geskend het en hom skadevergoeding van R42 500 toegeken. In die Hof se beslissing het hulle verklaar dat Jehovah se Getuies beslis ’n “bekende godsdiens” is.—Sien Die Wagtoring van 1 September 1993, bladsye 27-31.
Mexiko. Op 16 Julie 1992 is ’n groot stap in die verdediging van godsdiensvryheid in Mexiko gedoen. Op daardie dag is die Wet van Godsdiensverenigings en Openbare Aanbidding uitgevaardig. Deur middel van hierdie wet kan ’n godsdiensgroep wetlike status as ’n godsdiensinstelling ontvang deur die vereiste registrasie te verkry. Vroeër het Jehovah se Getuies, soos ander godsdienste in die land, wel daar bestaan maar nie wetlike erkenning geniet nie. Op 13 April 1993 het die Getuies om registrasie aansoek gedoen. Op 7 Mei 1993 is hulle wetlik geregistreer as La Torre del Vigía, A. R., en Los Testigos de Jehová en México, A. R., wat albei godsdiensverenigings is.—Sien die Ontwaak! van 22 Julie 1994, bladsye 12-14.
Brasilië. In November 1990 het Brasilië se Nasionale Instituut vir Bestaansbeveiliging (INSS) die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in kennis gestel dat vrywillige bedienaars by Bethel (die naam van takfasiliteite van Jehovah se Getuies) nie meer as godsdiensbedienaars beskou sou word nie en derhalwe onder Brasilië se arbeidswette sou kom. Die Getuies het appèl aangeteken teen die beslissing. Op 7 Junie 1996 het die Regterlike Adviesraad van die Kantoor van die Prokureur-generaal in Brasília ’n beslissing uitgevaardig wat die posisie van bedienaars by Bethel bevestig het as lede van ’n wetlike godsdiensorde, en nie as sekulêre werkers nie.
Japan. Op 8 Maart 1996 het Japan se Hooggeregshof ’n uitspraak gelewer oor die kwessie van opvoeding en godsdiensvryheid—tot voordeel van almal in Japan. Die hof het eenparig beslis dat die Kobe- Munisipale Industriële Tegniese Kollege die wet oortree het toe hulle Koenihito Kobajasji uit die kollege gesit het omdat hy geweier het om aan verweerkunsoefeninge deel te neem. Dit was die eerste keer dat die Hooggeregshof ’n beslissing gelewer het oor godsdiensvryheid wat deur die Japannese Grondwet gewaarborg word. Omdat hierdie jong Getuie sy Bybelopgeleide gewete gevolg het, het hy gevoel dat hierdie oefeninge in stryd was met Bybelbeginsels soos die een in Jesaja 2:4, wat sê: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” Die Hof se beslissing het ’n presedent vir toekomstige sake geskep.—Sien Die Wagtoring van 1 November 1996, bladsye 19-21.
Op 9 Februarie 1998 het Tokio se Hoër Hof nog ’n epogmakende uitspraak gelewer wat die reg van ’n Getuie met die naam Misae Takeda gehandhaaf het om mediese behandeling te weier wat nie in ooreenstemming met die Bybel se bevel is om ons ‘van bloed te onthou’ nie (Handelinge 15:28, 29). Hierdie saak is na die Hooggeregshof geappelleer en daar sal nog gesien moet word of die Hoër Hof se beslissing gehandhaaf sal word.
Die Filippyne. Op 1 Maart 1993 het die Filippynse Hooggeregshof eenparig ten gunste van Jehovah se Getuies beslis in ’n saak rakende Getuie-jeugdiges wat uit die skool gesit is omdat hulle beleefd geweier het om die vlag te salueer.
Elke gunstige hofbeslissing is soos nog ’n klip of baksteen wat die regsmuur versterk wat nie net die regte van Jehovah se Getuies beskerm nie, maar ook dié van alle mense.
Hoe die muur beskerm word
Jehovah se Getuies is wetlik geregistreer in 153 lande en geniet tereg, soos ander erkende godsdienste, baie vryhede. Nadat Jehovah se Getuies dekades lank in Oos-Europa en die voormalige Sowjetunie vervolg en verban is, word hulle nou wetlik erken in lande soos Albanië, Belaroes, Georgië, Hongarye, Kazakstan, Kirgizstan, Roemenië, Slowakye en die Tsjeggiese Republiek. Maar in sekere lande, onder meer in sommige Wes-Europese lande wat langgevestigde regstelsels het, word die regte van Jehovah se Getuies vandag ernstig betwis of ontken. Teenstanders probeer hard om ‘deur verordening moeilikheid te beraam’ teen die Getuies (Psalm 94:20, NW). Hoe reageer hulle hierop?c
Jehovah se Getuies wil met alle regerings saamwerk, maar hulle wil ook die wetlike vryheid hê om hulle aanbidding te beoefen. Dit is hulle vaste oortuiging dat enige wette of hofbeslissings wat hulle verbied om gehoorsaam te wees aan God se bevele—onder andere die bevel om die goeie nuus te verkondig—ongeldig is (Markus 13:10). As minlike skikkings nie getref kan word nie, sal Jehovah se Getuies die inisiatief neem in die regsarena en waar nodig appèl aanteken om wetlike beskerming te verkry vir hulle godgegewe reg om hulle aanbidding te beoefen. Jehovah se Getuies stel algehele vertroue in God se belofte: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie.”—Jesaja 54:17.
[Voetnote]
a Sien asseblief hoofstuk 30 van die boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee word, vir ’n breedvoerige bespreking van die regsake waarby Jehovah se Getuies al betrokke was.
b In die Murdock-beslissing het die Hooggeregshof sy eie posisie in die saak van Jones v. City of Opelika verander. In die Jones-saak, in 1942, het die Hooggeregshof die beslissing van ’n laer hof gehandhaaf wat Rosco Jones, een van Jehovah se Getuies, skuldig bevind het omdat hy lektuur op straat in Opelika, Alabama, versprei het sonder om lisensiegeld te betaal.
c Sien die artikels “Gehaat weens hulle geloof” en “Hoe ons ons geloof verdedig” op bladsye 8-18.
[Venster op bladsy 21]
Die regte van Jehovah se Getuies word verdedig
Die vervolging van Jehovah se Getuies het daartoe gelei dat hulle wêreldwyd voor regters en regeringsamptenare gesleep word (Lukas 21:12, 13). Jehovah se Getuies het alles in hulle vermoë gedoen om hulle regte wetlik te verdedig. Oorwinnings in die hof in baie lande het gehelp om Jehovah se Getuies se wetlike vryheid te beskerm, asook hulle reg om:
◻ die predikingswerk van huis tot huis te doen sonder die beperkings wat op kommersiële verkoopsmense geplaas word—Murdock v. Commonwealth of Pennsylvania, Hooggeregshof van die Verenigde State (1943); Kokkinakis v. Griekeland, die Europese Hof van Menseregte (ECHR) (1993).
◻ vryelik vir aanbidding bymekaar te kom—Manoussakis en ander v. Griekeland, ECHR (1996).
◻ te besluit hoe hulle gewetensgetrou respek vir die landsvlag of embleem kan toon—West Virginia State Board of Education v. Barnette, Hooggeregshof van die Verenigde State (1943); Hooggeregshof van die Filippyne (1993); Hooggeregshof van Indië (1986).
◻ militêre diens te weier wat hulle Christelike gewete skend—Georgiadis v. Griekeland, ECHR (1997).
◻ behandeling en geneesmiddels te kies wat nie hulle gewete skend nie—Malette v. Shulman, Ontario, Kanada, Appèlhof (1990); Watch Tower v. E.L.A., Hoërhof, San Juan, Puerto Rico (1995); Fosmire v. Nicoleau, New York, die Appèlhof van die Verenigde State (1990).
◻ hulle kinders volgens hulle Bybelse oortuigings groot te maak, selfs wanneer hierdie oortuigings in geskille oor kindertoesig aangeval word—St-Laurent v. Soucy, Hooggeregshof van Kanada (1997); Hoffmann v. Oostenryk, ECHR (1993).
◻ wetlike liggame te hê wat dieselfde vrystellings van belasting ontvang as die liggame wat deur ander erkende godsdienste gebruik word—People v. Haring, New York, die Appèlhof van die Verenigde State (1960).
◻ dieselfde gunstige belastingvoordele te ontvang vir diegene in een of ander vorm van spesiale voltydse diens wat aan voltydse godsdienswerkers van ander godsdienste toegestaan word—Brasilië se Nasionale Instituut vir Bestaansbeveiliging, Brasília, (1996).
[Prent op bladsy 20]
Minos Kokkinakis saam met sy vrou
[Prent op bladsy 20]
Koenihito Kobajasji
[Foto-erkenning op bladsy 19]
The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck