Michael Servetus—’n Man wat op sy eie na die waarheid gesoek het
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE
Op 27 Oktober 1553 het Michael Servetus in Genève, Switserland, op die brandstapel gesterf. Guillaume Farel—die teregsteller en die een wat namens Johannes Calvyn opgetree het—het die omstanders gewaarsku: “[Servetus] is ’n wyse man wat ongetwyfeld gedink het dat hy die waarheid aan ander leer, maar hy het in die Duiwel se hande geval. . . . Pas op dat dit nie ook met julle gebeur nie!” Wat het hierdie ongelukkige slagoffer gedoen om so ’n tragiese dood te verdien?
MICHAEL SERVETUS is in 1511 in die dorp Villanueva de Sijena, Spanje, gebore. Hy het van ’n vroeë ouderdom af as ’n student uitgeblink. Volgens een biograaf “het hy, teen die tyd dat hy 14 jaar oud was, Grieks, Latyn en Hebreeus geleer, en hy het ’n breë kennis van filosofie, wiskunde en teologie gehad”.
Toe Servetus nog ’n tiener was, het Juan de Quintana, die persoonlike biegvader van die Spaanse keiser Karel V, hom as ’n livreikneg in diens geneem. Tydens sy amptelike reise kon Servetus die onderliggende godsdiensverdeeldheid in Spanje waarneem, waar Jode en Moslems verban was of gedwing is om hulle tot Katolisisme te bekeer.a
Toe Servetus 16 jaar oud was, het hy aan die Universiteit van Toulouse, in Frankryk, in die regte gaan studeer. Daar het hy vir die eerste keer ’n volledige Bybel gesien. Hoewel die lees van die Bybel ten strengste verbied is, het Servetus dit in die geheim gedoen. Nadat hy dit die eerste keer deurgelees het, het hy gesweer dat hy dit “nog ’n duisend keer” sou lees. Die Bybel wat Servetus in Toulouse bestudeer het, was waarskynlik die Complutensiese Poliglot, ’n uitgawe wat hom in staat gestel het om die Skrif in die oorspronklike tale (Hebreeus en Grieks) te lees, sowel as die Latynse vertaling daarvan.b Sy studie van die Bybel, sowel as die sedelike verdorwenheid van die geestelikes wat hy in Spanje gesien het, het sy geloof in die Katolieke godsdiens ’n knou gegee.
Servetus het selfs meer getwyfel toe hy die kroning van Karel V bygewoon het. Die Spaanse koning is deur pous Klemens VII as die keiser van die Heilige Romeinse Ryk gekroon. Die pous, wat op sy draagbare troon gesit het, het die koning verwelkom, en dié het die pous se voete gesoen. Servetus het later geskryf: “Ek het met my eie oë gesien hoe die pous met groot vertoon op die skouers van die prinse gedra en deur omstanders in die strate vereer is.” Servetus kon nie hierdie vertoon en oordadigheid met die eenvoud van die Evangelie vereenselwig nie.
Sy soeke na godsdienswaarheid
Servetus het opgehou om vir Quintana te werk en op sy eie na die waarheid begin soek. Hy het geglo dat Christus se boodskap nie aan teoloë of filosowe gerig is nie, maar aan gewone mense wat dit sou verstaan en toepas. Hy het hom dus voorgeneem om die Bybelteks in die oorspronklike tale te raadpleeg en om enige lering te verwerp wat met die Skrif bots. Dit is interessant dat die woord “waarheid” en afleidings daarvan meer dikwels as enige ander woord in sy geskrifte verskyn.
Servetus se studie van die geskiedenis en die Bybel het hom tot die slotsom laat kom dat die Christelike godsdiens gedurende die eerste drie eeue van die Gewone Jaartelling verdorwe geraak het. Hy het geleer dat Konstantyn en sy opvolgers valse leringe bevorder het wat uiteindelik daartoe gelei het dat die Drie-eenheid as ’n amptelike leerstelling aangeneem is. Toe Servetus 20 jaar oud was, het hy sy boek Oor die dwalinge aangaande die Drie-eenheid gepubliseer, ’n werk wat hom ’n vername teiken van die Inkwisisie gemaak het.
Servetus het ’n duidelike begrip van hierdie saak gehad. “Die Bybel”, het hy geskryf, “maak glad nie melding van die Drie-eenheid nie. . . . Ons leer God ken, nie deur ons trotse filosofiese konsepte nie, maar deur middel van Christus.”c Hy het ook tot die slotsom gekom dat die heilige gees nie ’n persoon is nie, maar eerder God se krag in aksie.
Van die reaksies op Servetus se idees was wel gunstig. Die Protestantse Hervormer Sebastian Franck het geskryf: “Die Spanjaard, Servetus, voer in sy traktaat aan dat God net een persoon is. Die Roomse kerk is van mening dat daar drie persone in een wese is. Ek stem eerder met die Spanjaard saam.” Nogtans het nie die Rooms-Katolieke Kerk of die Protestantse kerke Servetus ooit daarvoor vergewe dat hy teen hulle sentrale leerstelling te velde getrek het nie.
Servetus se studie van die Bybel het hom ook ander kerkleerstellings laat verwerp, en hy het die gebruik van beelde as onskriftuurlik beskou. Om hierdie rede het Servetus, ’n jaar en ’n half nadat hy Oor die dwalinge aangaande die Drie-eenheid gepubliseer het, van die Katolieke sowel as die Protestante gesê: “Ek is dit nie eens of oneens met alles wat een van die twee partye leer nie. Want dit lyk vir my of daar waarheid en onwaarheid in albei is, maar almal sien die ander se foute raak en niemand onderskei sy eie foute nie.” Hy het inderdaad op sy eie na die waarheid gesoek.d
Servetus se opregtheid het egter nie verhoed dat hy verkeerde gevolgtrekkings maak nie. Hy het byvoorbeeld bereken dat Armageddon en die Duisendjarige Heerskappy van Christus gedurende sy leeftyd sou kom.
Sy soeke na wetenskaplike waarheid
Servetus, wat noodgedwonge van sy vervolgers moes wegvlug, het sy naam na Villanovanus verander en hom in Parys gevestig, waar hy grade in die kuns en die geneeskunde verwerf het. Weens sy wetenskaplike weetgierigheid het hy disseksies gedoen om uit te vind hoe die menseliggaam werk. Servetus was moontlik die eerste Europeër wat die longbloedsomloopstelsel beskryf het. Sy bevindinge is in sy werk Die herstel van die Christelike godsdiens ingesluit. Servetus se kommentare is gemaak 75 jaar voordat die volledige bloedsomloopstelsel deur William Harvey beskryf is.
Servetus het ook ’n nuwe uitgawe van Ptolemeus se Geografie voorberei. Dit was so suksesvol dat party hom al die vader van vergelykende geografie en etnografie genoem het. Later is Servetus, tydens sy verhoor in Genève, gekritiseer omdat hy Palestina as ’n kaal, dor land beskryf het. Servetus het homself verdedig deur te sê dat sy beskrywing op die hede van toepassing is en nie op Moses se tyd nie, toe dit ongetwyfeld oorgeloop het van melk en heuning.
Servetus het ook die Universele verhandeling oor strope geskryf wat ’n nuwe, gebalanseerde benadering tot ’n soort geneeskunde gebied het. Die oorvloed van mediese kennis in hierdie boek het hom ’n pionier gemaak op die gebied van farmakologie en die gebruik van vitamiene. As gevolg van Servetus se vakkennis op soveel gebiede het ’n geskiedskrywer hom beskryf as “een van die briljantste persone in die mensegeskiedenis, iemand wat tot die universele kultuur bygedra het”.
’n Gedugte teenstander
Waarheidsoekers het nog altyd baie teenstanders gehad (Lukas 21:15). Een van Servetus se talle teenstanders was Johannes Calvyn, wat ’n Protestantse gesagstaat in Genève gestig het. Volgens die geskiedskrywer Will Durant was Calvyn se “diktatorskap nie gegrond op wet of geweld nie, maar op wilskrag en karakter”, en Calvyn “was net so gekant teen individualistiese oortuigings as enige pous”.
Servetus en Calvyn het waarskynlik in Parys ontmoet toe hulle al twee nog jong manne was. Hulle persoonlikhede het uit die staanspoor gebots, en Calvyn het Servetus se meedoënloosste vyand geword. Hoewel Calvyn ’n leier van die Hervorming was, het hy Servetus uiteindelik by die Katolieke Inkwisisie aangekla. Servetus het ternouernood uit Frankryk ontsnap, waar ’n afbeelding van hom verbrand is. Maar hy is in die grensstad Genève, waar Calvyn se woord wet was, herken en in hegtenis geneem.
Calvyn het Servetus wreed behandel in die tronk. In sy debat met Calvyn tydens die verhoor, het Servetus nietemin gesê dat hy sy beskouings sou wysig as sy teenstander hom skriftuurlike bewyse kon gee om hom te oortuig. Calvyn kon dit nie doen nie. Ná die verhoor is Servetus tot die brandstapel veroordeel. Party geskiedkundiges beweer dat Servetus die enigste godsdiensandersdenkende was van wie die Katolieke ’n afbeelding verbrand het en wat die Protestante lewendig verbrand het.
’n Bydraer tot godsdiensvryheid
Hoewel Calvyn van sy persoonlike teenstander ontslae geraak het, het hy sy eie sedelike gesag verloor. Oral in Europa was denkende mense woedend oor die onregverdige teregstelling van Servetus, en dit het ’n kragtige argument voorsien vir voorstanders van burgerlike vryheid wat daarop aangedring het dat niemand weens sy godsdiensoortuigings doodgemaak behoort te word nie. Hulle het meer vasbeslote as ooit tevore geword om voort te beur in die stryd om godsdiensvryheid.
Die Italiaanse digter Camillo Renato het beswaar aangeteken: “Nie God of sy gees het hierdie optrede gerig nie. Christus het nie mense wat hom verwerp het, so behandel nie.” En die Franse humanis Sébastien Chateillon het geskryf: “Wanneer jy iemand doodmaak, beskerm jy nie ’n leerstelling nie, jy maak iemand dood.” Servetus self het gesê: “Vir my is dit ’n ernstige saak om mense dood te maak omdat hulle die een of ander skriftuurlike punt verkeerd geïnterpreteer het, want ons weet dat selfs die uitverkorenes op ’n dwaalspoor gebring kan word.”
Aangaande die blywende impak van Servetus se teregstelling sê die boek Michael Servetus—Intellectual Giant, Humanist, and Martyr: “Servetus se dood was die keerpunt in die ideologie en denkwyse wat sedert die vierde eeu oorheersend was.” Dit voeg by: “Uit ’n geskiedkundige oogpunt beskou, het Servetus gesterf sodat gewetensvryheid ’n burgerreg van die individu in die moderne samelewing kon word.”
In 1908 is ’n monument ter ere van Servetus opgerig in die Franse stad Annemasse, ongeveer vyf kilometer van die plek waar hy gesterf het. ’n Inskripsie lui: “Michel Servet[us], . . . geograaf, geneesheer, fisioloog, het tot die welsyn van die mensdom bygedra deur sy wetenskaplike ontdekkings, sy toewyding aan die siekes en die armes asook deur die ontembare onafhanklikheid van sy intelligensie en sy gewete. . . . Sy oortuigings was onwrikbaar. Hy het sy lewe ter wille van die waarheid opgeoffer.”
[Voetnote]
a Die Spaanse owerheid het 120 000 Jode verban wat geweier het om Katolisisme aan te neem, en derduisende More het op die brandstapel gesterf.
b Sien die artikel “Die Complutensiese Poliglot—’n geskiedkundige vertaalhulpmiddel” in Die Wagtoring van 15 April 2004.
c In sy werk ’n Verklaring aangaande Jesus Christus het Servetus die Drie-eenheidsleer as ingewikkeld en verwarrend beskryf en gesê dat die Skrif “nie eers een lettergreep” ter ondersteuning daarvan bevat nie.
d Terwyl Servetus in die gevangenis was, het hy sy laaste brief met hierdie woorde afgesluit: “Michael Servetus, alleen, maar met vertroue in Christus se onfeilbare beskerming.”
[Venster/Prente op bladsy 21]
Servetus en die naam Jehovah
Servetus se soeke na die waarheid het hom ook die naam Jehovah laat gebruik. ’n Paar maande nadat William Tyndale hierdie naam in sy vertaling van die Pentateug gebruik het, het Servetus Oor die dwalinge aangaande die Drie-eenheid gepubliseer—waarin hy die naam Jehovah deurgaans gebruik het. Hy het in sy werk verduidelik: “Die ander naam, die heiligste van alle name, יהוה, . . . kan soos volg verklaar word: . . . ’Hy laat word’, ‘hy wat in aansyn bring’, ‘die oorsaak van bestaan’.” Hy het gesê: “Die naam Jehovah kan na regte slegs met verwysing na die Vader gebruik word.”
In 1542 het Servetus ook die beroemde Latynse vertaling van die Bybel deur Santes Pagninus (hieronder) geredigeer. In sy uitvoerige kantaantekeninge het Servetus weer eens God se naam beklemtoon. Hy het die naam Jehovah ingesluit in die kantaantekeninge by sleuteltekste soos Psalm 83:18, waar die woord vir “Here” in die hoofteks verskyn het.
In sy laaste werk, Die herstel van die Christelike godsdiens, het Servetus aangaande God se naam, Jehovah, gesê: “[Dit] is duidelik . . . dat baie hierdie naam in antieke tye uitgespreek het.”
[Prent]
Die monument in Annemasse, Frankryk
[Prent op bladsy 18]
’n 15de-eeuse graveerwerk wat uitbeeld hoe Moslems in Spanje gedwing word om gedoop te word
[Erkenning]
Capilla Real, Granada
[Prent op bladsy 19]
Eerste bladsy van “Oor die dwalinge aangaande die Drie-eenheid”
[Erkenning]
From the book De Trinitatis Erroribus, by Michael Servetus, 1531
[Prent op bladsy 20]
Servetus het die longbloedsomloopstelsel bestudeer
[Erkenning]
Anatomie descriptive et physiologique, Paris, 1866-7, L. Guérin, Editor
[Prent op bladsy 20]
Servetus se boek “Universele verhandeling oor strope” was ’n baanbrekerswerk op die gebied van die farmakologie
[Prent op bladsy 21]
Johannes Calvyn het ’n verwoede vyand van Servetus geword
[Erkenning]
Biblioteca Nacional, Madrid
[Foto-erkenning op bladsy 18]
Biblioteca Nacional, Madrid