Van ons lesers
Jongmense vra . . . Waarom moet ek lees? (Mei 2006) Ek is 15 jaar oud, en hierdie artikel het my baie gehelp. Ek het die tydskrif skool toe geneem en my onderwyseres het dit gesien. Gedurende die klas het sy oor leesgewoontes gepraat en die Ontwaak! vir my klasmaats gewys. Sy het gesê dat sy die artikel baie geniet het en het aanbeveel dat almal dit lees.
D.A.C., Brasilië
In die verlede het ek gewoonlik net die artikels in die tydskrifte gelees waarin ek belangstel. Nou maak ek seker dat ek elke artikel lees, selfs as dit aanvanklik nie vir my interessant lyk nie. Ek het gevind dat dit juis daardie artikels is waarvan ek gewoonlik die meeste hou. Baie, baie dankie.
E. G., Verenigde State
Ek was bly om te sien dat daar vandag nog jongmense is wat graag die tydskrifte lees, iets wat ek ook gedoen het toe ek jonger was. Ek is op 14 gedoop en is nou 40 jaar oud. Van kort voor my doop af het ek ook ’n gewoonte daarvan gemaak om elke dag ’n paar bladsye van Die Wagtoring of Ontwaak! te lees. Ek dink dat hierdie gewoonte my gehelp het om nooit ’n artikel oor te slaan nie en om geestelik sterk te bly.
S. O., Japan
Michael Servetus—’n Man wat op sy eie na die waarheid gesoek het (Mei 2006) Dankie vir hierdie insiggewende artikel. Dit het my baie aangemoedig om vol te hou met die predikingswerk en Jehovah se naam te verdedig.
M. R., Brasilië
Die meeste mense ken Servetus as ’n vooraanstaande persoon op die gebied van die geneeskunde. Maar die artikel het ander indrukwekkende fasette van hierdie geleerde man se persoonlikheid aan die lig gebring, soos sy opregtheid en sy soeke na die waarheid. Dankie dat julle hierdie artikel gepubliseer het.
M. J., Spanje
Slaan ag op waarskuwings—Dit maak ’n verskil (Junie 2006) Dit is so wonderlik om ’n deel van Jehovah se liefdevolle organisasie te wees. Ek wil my opregte dank uitspreek aan al die broers en susters wat gehelp het om my huis te herstel, wat so erg deur die orkaan Katrina beskadig is. Dit is nou ’n tuiste wat ’n tasbare bewys is van hulle liefde.
I. F., Verenigde State
Sy—“die koningin van vesels” (Junie 2006) Ek wonder al van kleins af hoe sy gemaak word. Ek was so opgewonde toe ek hierdie artikel in die Ontwaak! sien. Ek het dit werklik geniet, en dit het definitief my waardering vir Jehovah se skepping vergroot.
A.C.L., Brasilië
Vernaamste waarskuwingstekens van kwaadaardige melanoom (8 Junie 2005) Met behulp van die kleurfoto’s wat in die artikel verskyn het, kon ek myself ondersoek en ’n verdagte swart swelsel ontdek wat as ’n kwaadaardige melanoom geïdentifiseer is. Gelukkig is die melanoom tydens ’n operasie verwyder, terwyl dit nog in die vroeë stadiums was. Ek is opreg dankbaar teenoor Jehovah vir sulke praktiese materiaal.
K. N., Japan