Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 8/1 bl. 20-25
  • Ek wag geduldig op Jehovah van my jeug af

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek wag geduldig op Jehovah van my jeug af
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Opgelei om op Jehovah te vertrou
  • Die vervolging verskerp
  • ’n Kort tydjie van geestelike bedrywigheid
  • Ondersteuning van my geestelike broers
  • Jehovah verlos sy lojale knegte
  • Hoe kan ek Jehovah vergoed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Ek het op Jehovah se liefdevolle sorg vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God
    Ontwaak!—1998
  • Meer as 50 jaar van ‘oorkom en help’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 8/1 bl. 20-25

Ek wag geduldig op Jehovah van my jeug af

SOOS VERTEL DEUR RUDOLF GRAICHEN

Toe ek maar 12 jaar oud was, is ons gesin deur ’n reeks droewige gebeurtenisse oorval. Eers is my pa in die gevangenis gegooi. Daarna is ek en my suster onder dwang van ons huis weggeneem en gestuur om by vreemdelinge te woon. Later is ek en my ma deur die Gestapo in hegtenis geneem. Ek is in ’n gevangenis gesit en sy het in ’n konsentrasiekamp beland.

DAARDIE opeenvolging van gebeurtenisse was net die begin van ’n tydperk van smartvolle vervolging wat ek in my jeug as een van Jehovah se Getuies verduur het. Die berugte Nazi-Gestapo en daarna die Oos-Duitse Stasi het my probeer kry om my onkreukbaarheid teenoor God prys te gee. Nou, ná 50 jaar van toegewyde diens aan hom, kan ek soos die psalmis sê: “Alreeds te veel het hulle my as vyand behandel van my jeug af; tog het hulle my nie oorwin nie” (Psalm 129:2). Hoe dankbaar is ek tog teenoor Jehovah!

Ek is op 2 Junie 1925 in die dorpie Lucka naby Leipzig, Duitsland, gebore. Selfs voordat ek gebore is, het my ouers, Alfred en Teresa, die waarheid van die Bybel raakgesien in die publikasies van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Ek onthou hoe ek elke dag na die prente van Bybeltonele gekyk het wat teen die mure van ons huis gehang het. Een prent was ’n voorstelling van die wolf en die lam, die bokkie en die luiperd, die kalf en die leeu—almal in vrede met mekaar, en wat deur ’n klein seuntjie aangeja word (Jesaja 11:6-9). Hierdie prente het ’n blywende indruk op my gemaak.

Wanneer dit ook al moontlik was, het my ouers my in gemeentelike bedrywighede betrek. Byvoorbeeld, in Februarie 1933, net ’n paar dae ná Hitler aan die bewind gekom het, is die “Fotodrama van die Skepping”—wat uit skyfies, rolprente en ’n opname van ’n vertelling bestaan het—in ons dorpie vertoon. Hoe opgewonde was ek tog toe ek, ’n seuntjie van sewe jaar, agterop ’n bakkie deur die dorp se strate gery het as deel van ’n reklame-optog vir die “Fotodrama”! By hierdie en ander geleenthede het die broers my soos ’n nuttige lid van die gemeente laat voel, al was ek maar klein. Ek is dus van ’n baie vroeë ouderdom af deur Jehovah onderrig en deur sy Woord beïnvloed.

Opgelei om op Jehovah te vertrou

As gevolg van streng Christelike neutraliteit het Jehovah se Getuies nie in die Nazi-politiek betrokke geraak nie. In 1933 het die Nazi’s gevolglik wette gemaak wat ons verbied het om die predikingswerk te doen, vergaderinge te hou en selfs om ons eie Bybellektuur te lees. In September 1937 het die Gestapo al die broers in ons gemeente, onder andere my pa, in hegtenis geneem. Dit het my baie hartseer gemaak. My pa is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.

By die huis het dinge vir ons baie moeilik geraak. Maar ons het gou geleer om op Jehovah te vertrou. Eendag toe ek ná skool by die huis gekom het, was my ma besig om Die Wagtoring te lees. Sy wou gou vir my middagete maak en het dus die tydskrif bo-op ’n kassie neergesit. Ná ete, terwyl ons die skottelgoed weggepak het, was daar ’n harde klop aan die deur. Dit was ’n polisieman wat ons huis vir Bybellektuur wou deursoek. Ek het baie bang geword.

Dit was ’n buitengewone warm dag. Die eerste ding wat die polisieman dus gedoen het, was om sy helm af te haal en dit bo-op ’n tafel te sit. Toe het hy begin soek. Terwyl hy onder die tafel gekyk het, het sy helm begin afgly. My ma het dus vinnig die helm gegryp en dit op die kas gesit, reg bo-op Die Wagtoring! Die polisieman het ons huis gefynkam maar geen lektuur gekry nie. Hy het natuurlik nooit daaraan gedink om onder sy helm te kyk nie. Toe hy gereed was om te vertrek, het hy my ma mompelend om verskoning gevra en sy helm agter sy rug opgetel. Hoe verlig het ek tog gevoel!

Ondervindinge soos daardie een het my op moeiliker beproewinge voorberei. By die skool is daar byvoorbeeld druk op my geplaas om aan te sluit by die Hitlerjeug-organisasie, waarin kinders opleiding in militêre dissipline ontvang het en met Nazi-filosofie geïndoktrineer is. Party onderwysers het die persoonlike doel gehad om 100-persent-leerlingdeelname te hê. My onderwyser, Herr Schneider, het seker gemeen dat hy ’n algehele mislukking is, want in teenstelling met al die ander onderwysers in my skool het hy een leerling nodig gehad om deelname van 100 persent te hê. Ek was daardie leerling.

Eendag het Herr Schneider vir die hele klas gesê: “Seuns, môre gaan ons op ’n klasuitstappie.” Almal het van die idee gehou. Toe het hy bygevoeg: “Julle moet almal julle Hitlerjeug-uniforms aantrek sodat almal kan sien dat julle pragtige Hitlerseuns is wanneer ons deur die strate loop.” Die volgende oggend het almal behalwe ek in ’n uniform opgedaag. In die klaskamer het die onderwyser my vorentoe geroep en gesê: “Kyk na die ander seuns en kyk dan na jouself.” Hy het bygevoeg: “Ek weet dat jou ouers arm is en nie kan bekostig om vir jou ’n uniform te koop nie, maar laat ek jou iets wys.” Hy het my na sy lessenaar geneem, ’n laai oopgetrek en gesê: “Ek wil vir jou hierdie splinternuwe uniform gee. Is dit nie mooi nie?”

Ek sou liewer gesterf het as om ’n Nazi-uniform aan te trek. Toe my onderwyser sien dat ek nie van plan was om dit te dra nie, het hy kwaad geword, en die hele klas het my uitgejou. Hy het ons toe op die uitstappie geneem maar het my probeer wegsteek deur my in die middel van al die ander seuns in hulle uniforms te laat loop. Maar baie mense in die dorp kon my sien omdat ek afgesteek het teen my klasmaats. Almal het geweet dat ek en my ouers Jehovah se Getuies is. Ek dank Jehovah dat hy my die nodige geestelike krag gegee het toe ek jonk was.

Die vervolging verskerp

Eendag vroeg in 1938 is ek en my suster uit die skool gehaal en in ’n polisiemotor na ’n verbeteringskool in Stadtroda, sowat 80 kilometer daarvandaan, geneem. Waarom? Die hof het besluit om ons weg te neem van die invloed van ons ouers af en ons in Nazi-kinders te verander. Dit was nie lank nie of die personeel in beheer van die verbeteringskool het opgemerk dat ek en my suster eerbiedig en onderdanig was, maar standvastig was wat ons Christelike neutraliteit betref. Die hoof was so beïndruk dat sy my ma persoonlik wou ontmoet. ’n Uitsondering is gemaak, en my ma is toegelaat om ons te besoek. Ek, my suster en my ma was baie bly en dankbaar teenoor Jehovah dat hy ons die geleentheid gegun het om ’n hele dag lank saam te wees vir wedersydse aanmoediging. Ons het dit werklik nodig gehad.

Ons het omtrent vier maande lank in die verbeteringskool gebly. Toe is ons gestuur om by ’n gesin in Pahna te gaan woon. Hulle is opdrag gegee om ons van ons familie weg te hou. My ma is nie eers toegelaat om ons te besoek nie. Tog het sy by ’n paar geleenthede wel ’n manier gevind om met ons in aanraking te kom. My ma het daardie sonderlinge geleenthede benut en haar bes gedoen om ’n vasbeslotenheid by ons in te boesem om getrou aan Jehovah te bly, ongeag die beproewinge en omstandighede wat hy toelaat.—1 Korintiërs 10:13.

En die beproewinge hét gekom. Op 15 Desember 1942, toe ek maar 17 was, het die Gestapo my kom haal en in ’n aanhoudingsplek in Gera gesit. Omtrent ’n week later is my ma ook in hegtenis geneem en in dieselfde gevangenis geplaas. Omdat ek nog ’n minderjarige was, kon ek nie in die hof verskyn nie. Ek en my ma het gevolglik ses maande in aanhouding deurgebring terwyl die hof gewag het dat ek 18 word. Die dag waarop ek 18 geword het, is ek en my ma verhoor.

Voordat ek dit besef het, was dit alles verby. Min het ek geweet dat ek my ma nie weer sou sien nie. My laaste herinnering aan haar is waar sy in die hof op ’n donker houtbankie langs my gesit het. Ons is albei skuldig bevind. Ek is tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis en my ma tot een en ’n half jaar.

In daardie dae is duisende van Jehovah se Getuies in gevangenisse en kampe aangehou. Ek is egter na ’n gevangenis in Stollberg gestuur waar ek die enigste Getuie was. Ek het meer as ’n jaar in alleenopsluiting deurgebring, maar Jehovah was met my. Die liefde wat ek in my jeug vir hom aangekweek het, was die sleutel tot my geestelike oorlewing.

Op 9 Mei 1945, nadat ek twee en ’n half jaar in die gevangenis was, het ons goeie nuus ontvang—die oorlog was verby! Op daardie dag is ek vrygelaat. Nadat ek 110 kilometer geloop het, het ek letterlik siek as gevolg van uitputting en verhongering by die huis aangekom. Dit het etlike maande geduur voor my gesondheid herstel het.

Kort nadat ek daar aangekom het, het ek baie ontstellende nuus ontvang. Eers oor my ma. Nadat sy ’n jaar en ’n half in die gevangenis was, het die Nazi’s haar gevra om ’n dokument te teken waarin sy haar geloof in Jehovah afsweer. Sy het geweier. Die Gestapo het haar gevolglik na ’n vrouekonsentrasiekamp, in Ravensbrück, geneem. Daar het sy aan tifus gesterf kort voor die oorlog geëindig het. Sy was ’n baie moedige Christen—sy het hard gestry en nooit tou opgegooi nie. Mag Jehovah goedgunstig aan haar dink.

Daar was ook nuus van my ouer broer, Werner, wat hom nooit aan Jehovah toegewy het nie. Hy het by die Duitse leër aangesluit en het in Rusland gesneuwel. My pa? Hy het huis toe gekom, maar ongelukkig was hy een van die baie min Getuies wat daardie veragtelike dokument onderteken het om hulle geloof te verloën. Toe ek hom sien, het hy swaarmoedig en verstandelik versteurd gelyk.—2 Petrus 2:20.

’n Kort tydjie van geestelike bedrywigheid

Op 10 Maart 1946 het ek my eerste byeenkoms ná die oorlog in Leipzig bygewoon. Hoe opwindend was dit tog toe daar aangekondig is dat daar ’n doopplegtigheid op daardie selfde dag sou wees! Hoewel ek baie jare tevore my lewe aan Jehovah toegewy het, was dit my eerste geleentheid om my te laat doop. Ek sal daardie dag nooit vergeet nie.

Op 1 Maart 1947, nadat ek ’n maand lank pionierdiens gedoen het, is ek na die Bethel in Maagdenburg genooi. Die Genootskap se kantore was aansienlik beskadig deur die bomaanvalle. Wat ’n voorreg was dit tog om met die herstelwerk te help! Ná daardie somer is ek as ’n spesiale pionier na die stad Wittenberge gestuur. Party maande het ek meer as 200 uur daaraan bestee om met ander oor die goeie nuus van God se Koninkryk te praat. Hoe bly was ek tog om weer vry te wees—geen oorlog, geen vervolging en geen gevangenisse nie!

Ongelukkig was daardie vrede van korte duur. Ná die oorlog is Duitsland verdeel, en die deel waar ek gewoon het, het onder Kommunistiese beheer gekom. In September 1950 het die Oos-Duitse geheime polisie, bekend as die Stasi, op stelselmatige wyse die broers in hegtenis begin neem. Die aanklagte teen my was belaglik. Ek is daarvan beskuldig dat ek ’n spioen vir die Amerikaanse regering was. Hulle het my na die ergste Stasi-gevangenis in die land gestuur, die een in Brandenburg.

Ondersteuning van my geestelike broers

Daar het die Stasi my nie in die dag laat slaap nie. En dan het hulle my die hele nag lank ondervra. Nadat ek ’n paar dae aan hierdie marteling onderwerp is, het dinge vererger. Pleks van my na my sel terug te neem, het hulle my een oggend geneem na een van hulle U-Boot Zellen (wat as duikbootselle bekend gestaan het omdat hulle diep in ’n kelder geleë was). Hulle het ’n ou, verroeste ysterdeur oopgemaak en my gevra om in te gaan. Ek moes oor ’n hoë drumpel trap. Toe ek my voet neersit, het ek besef dat die vloer heeltemal onder water was. Die deur is met ’n vreeslike kraakgeluid toegeslaan. Daar was geen lig of vensters nie. Dit was pikdonker.

As gevolg van die etlike sentimeters water op die vloer kon ek nie sit, lê of slaap nie. Dit het soos ’n ewigheid gevoel voordat ek teruggeneem is om verder onder sterk ligte ondervra te word. Ek weet nie wat erger was nie—om die hele dag lank in byna volslae duisternis in water te staan of om die hele nag lank die pynlike skerp spreiligte wat reg op my gerig was te verduur.

By verskeie geleenthede het hulle gedreig om my te skiet. Nadat ek ’n paar nagte ondervra is, is ek een oggend deur ’n hooggeplaaste Russiese leëroffisier besoek. Ek het die geleentheid gehad om vir hom te sê dat die Duitse Stasi my selfs erger as die Nazi-Gestapo behandel het. Ek het vir hom gesê dat Jehovah se Getuies onder die Nazi-regering neutraal was en ook onder die Kommunistiese regering neutraal is en dat ons ons op geen plek in die wêreld met die politiek bemoei nie. Daarenteen, het ek gesê, was baie van diegene wat nou Stasi-offisiere is lede van die Hitlerjeug-organisasie, waar hulle waarskynlik geleer het hoe om onskuldige mense wreed te vervolg. Terwyl ek gepraat het, het my liggaam van die koue, honger en uitputting gebewe.

Die Russiese offisier het verbasend genoeg nie vir my kwaad geword nie. Inteendeel, hy het ’n kombers om my gesit en my vriendelik behandel. Kort ná sy besoek is ek na ’n geriefliker sel teruggestuur. ’n Paar dae later is ek aan die Duitse hof oorgelewer. Terwyl my saak nog hangende was, het ek die wonderlike voorreg gehad om saam met vyf ander Getuies in ’n sel te wees. Hoe verkwikkend was die assosiasie met my geestelike broers tog vir my nadat ek soveel wrede behandeling verduur het!—Psalm 133:1.

In die hof is ek skuldig bevind aan spioenasie en tot vier jaar in ’n strafgevangenis gevonnis. Dit is as ’n ligte vonnis beskou. Party broers is tot meer as tien jaar gevonnis. Ek is na ’n maksimumsekuriteit-strafgevangenis gestuur. Ek dink nie eers ’n muis kon by daardie gevangenis in- of uitkruip nie—so streng was die sekuriteit. Maar met Jehovah se hulp kon party moedige broers ’n hele Bybel insmokkel. Dit is uitmekaargehaal en in individuele boeke verdeel en gesirkuleer onder die broers wat gevangenes was.

Hoe het ons dit gedoen? Dit was baie moeilik. Die enigste tyd wat ons mekaar gesien het, was wanneer ons elke twee weke geneem is om te stort. By een geleentheid, terwyl ek gestort het, het ’n broer in my oor gefluister dat hy ’n paar Bybelbladsye in sy handdoek versteek het. Nadat ek klaar gestort het, moes ek sy handdoek pleks van myne gryp.

Een van die wagte het gesien dat die broer vir my fluister en het hom kwaai met ’n polisieknuppel bygedam. Ek moes die handdoek vinnig gryp en het tussen die ander gevangenes inbeweeg. Gelukkig het hulle my nie met die Bybelbladsye gevang nie. Anders sou ons geestelike voedingsprogram in gevaar gewees het. Ons het talle soortgelyke ondervindinge gehad. Ons moes ons Bybellees altyd in die geheim en in groot gevaar doen. Die woorde van die apostel Petrus: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam”, was inderdaad baie gepas.—1 Petrus 5:8.

Om die een of ander rede het die owerheid besluit om party van ons herhaaldelik van een strafgevangenis na ’n ander te verskuif. Ek is gedurende ’n tydperk van vier jaar na ongeveer tien verskillende strafgevangenisse verskuif. Maar ek kon altyd die broers vind. Ek het al hierdie broers innig lief leer kry, en elke keer wanneer ek verskuif is, het ek hulle met groot droefheid in my hart verlaat.

Ek is uiteindelik na Leipzig gestuur, en daar is ek uit die gevangenis vrygelaat. Die bewaarder wat my vrygelaat het, het my nie gegroet nie, maar eerder gesê: “Ons sal jou gou weer sien.” In sy bose gedagtes wou hy my weer agter die tralies sien. Ek dink dikwels aan Psalm 124:2, 3, waar dit sê: “As die HERE nie vir ons was toe die mense teen ons opgestaan het nie, dan het hulle ons lewendig verslind toe hulle toorn teen ons ontvlam het.”

Jehovah verlos sy lojale knegte

Nou was ek weer vry. My tweelingsuster, Ruth, en suster Herta Schlensog het daar by die hek vir my gewag. Gedurende al daardie jare in gevangenisskap het Herta elke maand vir my ’n klein kospakkie gestuur. Ek is daarvan oortuig dat ek in die gevangenis sou gesterf het as sy nie daardie pakkies gestuur het nie. Mag Jehovah goedgunstig aan haar dink.

Sedert my vrylating het Jehovah my met talle diensvoorregte geseën. Ek het weer as ’n spesiale pionier in Gronau, Duitsland, gedien en as ’n kringopsiener in die Duitse Alpe. Later is ek genooi om die 31ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead vir sendelinge by te woon. Ons graduering het by die Yankee-stadion gedurende die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in 1958 plaasgevind. Ek het die voorreg gehad om die groot skare broers en susters toe te spreek en hulle van party van my ondervindinge te vertel.

Ná die graduering het ek na Chili gereis om as ’n sendeling te dien. Daar het ek weer as ’n kringopsiener gedien, in die suidelikste deel van Chili—ek is letterlik na die uithoeke van die aarde gestuur. In 1962 is ek met Patsy Beutnagel, ’n lieflike sendeling van San Antonio, Texas, VSA, getroud. Ek het talle wonderlike jare van diens aan Jehovah met haar aan my sy geniet.

In my meer as 70 lewensjare het ek talle gelukkige oomblikke en baie teëspoede gehad. Die psalmis het gesê: “Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom” (Psalm 34:20). In 1963, terwyl ek en Patsy nog in Chili was, was die dood van ons babadogtertjie vir ons ’n tragiese gebeurtenis. Later het Patsy baie siek geword en het ons na Texas verhuis. Toe sy maar 43 jaar oud was, is sy ook onder tragiese omstandighede oorlede. Ek bid dikwels dat Jehovah goedgunstig aan my lieflike vrou sal dink.

Hoewel ek nou sieklik en oud is, het ek die voorreg om as ’n gewone pionier en ouer man in Brady, Texas, te dien. My lewe was weliswaar nie altyd maklik nie, en daar wag dalk nog beproewinge op my. Maar soos die psalmis kan ek sê: “o God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek u wonders.”—Psalm 71:17.

[Prent op bladsy 23]

(1) Ek dien as ’n ouer man en pionier, (2) saam met Patsy, kort voor ons troue, (3) in Herr Schneider se klaskamer, (4) my moeder, Teresa, wat in Ravensbrück gesterf het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel