Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Tekste met regte klem gelees
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
    • STUDIE 21

      Tekste met regte klem gelees

      Wat moet jy doen?

      Beklemtoon woorde en uitdrukkings wat jou redenasie laat uitstaan. Lees met gepaste gevoel.

      Waarom is dit belangrik?

      Regte beklemtoning maak die volle betekenis van tekste wat gelees word, duidelik.

      WANNEER jy met ander oor God se voornemens praat, hetsy dit privaat of van die verhoog af is, moet jou bespreking gegrond wees op God se Woord. Dit beteken gewoonlik dat ons tekste uit die Bybel moet lees, en dat dit goed gedoen moet word.

      Regte beklemtoning vereis gevoel. Tekste moet met gevoel gelees word. Neem ’n paar voorbeelde. Wanneer jy Psalm 37:11 hardop lees, moet jou stem die blye afwagting oordra van die vrede wat daar belowe word. Wanneer jy in Openbaring 21:4 oor die einde van lyding en die dood lees, moet ander die opregte waardering vir die wonderlike verlossing wat daar voorspel word, in jou stem kan hoor. Openbaring 18:2, 4, 5, wat ’n beroep op mense doen om uit die sondige “Babilon die Grote” uit te gaan, moet met ’n toon van dringendheid gelees word. Die gevoel wat uitgedruk word, moet natuurlik opreg wees, maar nie oordryf word nie. Die regte hoeveelheid emosie word bepaal deur die teks self en deur die manier waarop dit gebruik word.

      Beklemtoon die regte woorde. As jy oor slegs ’n deel van ’n vers kommentaar lewer, moet jy daardie deel beklemtoon wanneer jy die teks lees. Wanneer jy byvoorbeeld Matteus 6:33 lees, sal jy nie die klem op “sy regverdigheid” of op “al hierdie ander dinge” laat val as jy wil bespreek wat dit beteken “om eers die koninkryk . . . te soek” nie.

      In ’n toespraak tydens die Diensvergadering wil jy miskien Matteus 28:19 lees. Watter woorde moet jy beklemtoon? As jy die broers wil aanspoor om tuisbybelstudies te begin, moet jy “maak dissipels” beklemtoon. Aan die ander kant, as jy die Christen se verantwoordelikheid wil bespreek om Bybelwaarheid aan ’n immigrantebevolking te verkondig of as jy sekere verkondigers wil aanspoor om te dien waar hulp nodig is, kan jy “mense van al die nasies” beklemtoon.

      Dikwels word ’n teks gebruik om ’n vraag te beantwoord of ’n redenasie te staaf waarmee ander nie saamstem nie. As elke gedagte in die teks ewe veel beklemtoon word, sal jou gehoor moontlik nie die verband sien nie. Vir jou is die punt dalk voor die hand liggend, maar nie vir hulle nie.

      Wanneer jy byvoorbeeld Psalm 83:18 uit ’n Bybel lees wat God se naam bevat, maar jy die uitdrukking “die Allerhoogste” beklemtoon, sal die huisbewoner miskien nie die skynbaar voor die hand liggende feit dat God ’n persoonlike naam het, sien nie. Jy moet die naam “Jehovah” beklemtoon. Maar wanneer jy dieselfde teks in ’n bespreking van Jehovah se soewereiniteit gebruik, moet jy die klem op die uitdrukking “die Allerhoogste” laat val. Wanneer jy eweneens Jakobus 2:24 gebruik om te toon hoe belangrik dit is om dade by ons geloof te voeg en jy die klem op “regverdig verklaar” in plaas van “werke” laat val, kan party wat na jou luister, die punt mis.

      Nog ’n nuttige voorbeeld kan in Romeine 15:7-13 gevind word. Dit is ’n deel van ’n brief wat deur die apostel Paulus aan ’n gemeente geskryf is wat uit nie-Jode sowel as Jode bestaan het. Hier redeneer die apostel dat die bediening van Christus nie net besnede Jode tot voordeel strek nie, maar ook mense van die nasies sodat “die nasies God weens sy barmhartigheid sou verheerlik”. Dan haal Paulus vier tekste aan wat die aandag vestig op daardie geleentheid wat die nasies het. Hoe moet jy daardie aanhalings lees om die punt wat Paulus in gedagte gehad het, te beklemtoon? As jy woorde merk wat jy wil beklemtoon, kan jy “die nasies” in vers 9, “o nasies” in vers 10, “alle nasies” en “al die volke” in vers 11 en “nasies” in vers 12 merk. Probeer hierdie woorde beklemtoon terwyl jy Romeine 15:7-13 lees. Wanneer jy dit doen, sal Paulus se hele redenasie duideliker en makliker verstaanbaar word.

      Metodes om gedagtes te beklemtoon. Die gedagtedraende woorde wat jy wil laat uitstaan, kan op etlike maniere beklemtoon word. Die metode wat jy gebruik, moet by die teks en die agtergrond van die toespraak pas. ’n Paar wenke word hier gegee.

      Stemnadruk. Dit behels enige stemwisseling wat die gedagtedraende woorde van die res van die sin laat uitstaan. ’n Gedagte kan beklemtoon word deur die stemsterkte te verander, met ander woorde deur harder of sagter te praat. In baie tale gee ’n verandering in toonhoogte groter klem. Maar in party tale kan dit die betekenis heeltemal verander. Wanneer ’n mens stadiger praat as jy by belangrike uitdrukkings kom, gee dit groter klem daaraan. In tale waarin stemnadruk nie gebruik kan word om sekere woorde te beklemtoon nie, sal dit nodig wees om te doen wat ook al in daardie taal gebruiklik is om die gewenste resultate te bereik.

      Pousering. Dit kan gedoen word voor of ná, of selfs voor en ná, die sleutelgedagte van ’n teks gelees is. As ’n mens pouseer onmiddellik voor jy ’n hoofgedagte lees, skep dit afwagting; as jy daarna pouseer, laat dit die gedagte insink. Maar as daar te veel pouses is, sal niks uitstaan nie.

      Herhaling. Jy kan ’n spesifieke punt beklemtoon deur jouself te onderbreek en weer die woord of frase te lees. ’n Metode wat dikwels beter werk, is om die hele teks te lees en dan die belangrikste uitdrukking te herhaal.

      Gebare. Liggaamsbewegings sowel as gesigsuitdrukkings kan dikwels groter gevoel aan ’n woord of frase gee.

      Stemtoon. In party tale kan woorde soms op ’n toon gelees word wat hulle betekenis beïnvloed en hulle laat uitstaan. Weer eens moet goeie oordeel aan die dag gelê word, veral wat sarkasme betref.

      Wanneer ander tekste lees. Wanneer ’n huisbewoner ’n teks lees, beklemtoon hy dalk die verkeerde woord of hoegenaamd niks nie. Wat kan jy dan doen? Gewoonlik is dit die beste om die betekenis duidelik te maak deur die teks toe te pas. Nadat jy die toepassing gemaak het, kan jy die aandag direk op die gedagtedraende woorde in die Bybel vestig.

      HOE OM TE LEER OM GEDAGTES TE BEKLEMTOON

      • Elke keer wanneer jy ’n teks wil lees, vra jou af: ‘Watter gevoel of emosie druk hierdie woorde uit? Hoe moet ek dit oordra?’

      • Ontleed tekste wat jy wil lees. Vra jou aangaande elkeen af: ‘Watter doel sal hierdie teks dien? Watter woorde moet beklemtoon word om daardie doel te bereik?’

      OEFENINGE: (1) Ontleed ’n teks wat jy in die velddiens wil gebruik. Oefen om dit met gepaste gevoel te lees. Hou in gedagte hoe jy die teks wil gebruik, en lees dit hardop terwyl jy die regte woord(e) beklemtoon. (2) Kies uit ’n publikasie wat ons tans bestudeer, een paragraaf wat aangehaalde tekste bevat. Ontleed hoe die tekste gebruik word. Merk die gedagtedraende woorde. Lees die hele paragraaf hardop en lees die tekste met die regte klem.

  • Tekste reg toegepas
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
    • STUDIE 22

      Tekste reg toegepas

      Wat moet jy doen?

      Maak seker dat enige toepassing van ’n teks met die konteks en met die Bybel in sy geheel strook. Die toepassing moet ook in ooreenstemming wees met wat deur “die getroue en verstandige slaaf” gepubliseer is.

      Waarom is dit belangrik?

      Dit is ’n ernstige verantwoordelikheid om ander uit God se Woord te onderrig. Dit is sy wil dat mense tot “juiste kennis van die waarheid” moet kom (1 Tim. 2:3, 4). Dit plaas die verantwoordelikheid op ons om ander akkuraat uit God se Woord te onderrig.

      WANNEER ons ander onderrig, verg dit meer as om net verse uit die Bybel te lees. Die apostel Paulus het aan sy metgesel Timoteus geskryf: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer.”—2 Tim. 2:15.

      Om dit te doen, beteken dat ons verduideliking van tekste in ooreenstemming moet wees met wat die Bybel self leer. Dit vereis dat ons die konteks in ag moet neem en nie net uitdrukkings moet kies waarvan ons hou en dan ons eie toepassings daarvan maak nie. Deur die profeet Jeremia het Jehovah teen profete gewaarsku wat beweer het dat hulle uit die mond van Jehovah spreek, maar wat in werklikheid “die visioen van hulle eie hart” verkondig het (Jer. 23:16). Die apostel Paulus het Christene gewaarsku om nie God se Woord met mensefilosofieë te besoedel nie, toe hy geskryf het: “Ons het afstand gedoen van die agterbakse dinge waaroor ’n mens jou moet skaam en wandel nie met listigheid nie en vervals ook nie die woord van God nie.” In daardie dae het oneerlike wynhandelaars water by hulle wyn gevoeg sodat hulle meer geld kon maak. Ons vervals nie die Woord van God deur dit met mensefilosofieë te meng nie. “Ons is nie smouse van die woord van God soos baie mense nie”, het Paulus gesê, “maar uit opregtheid, ja, as van God gestuur, ten aanskoue van God, in gemeenskap met Christus, spreek ons.”—2 Kor. 2:17; 4:2.

      Soms sal jy dalk ’n teks aanhaal om die aandag op ’n beginsel te vestig. Die Bybel is vol beginsels wat betroubare leiding gee om ’n verskeidenheid situasies die hoof te bied (2 Tim. 3:16, 17). Maar jy moet seker maak dat jou toepassing reg is en dat jy nie ’n teks verkeerd gebruik sodat dit lyk of dit sê wat jy wil hê dit moet sê nie (Ps. 91:11, 12; Matt. 4:5, 6). Die toepassing moet in ooreenstemming met Jehovah se voorneme wees, in harmonie met die hele Woord van God.

      ‘Om die woord van die waarheid reg te hanteer’, beteken ook dat jy die gees van wat die Bybel sê, moet verstaan. Dit is nie ’n “stok” om ander mee te slaan nie. Godsdiensonderrigters wat Jesus Christus teëgestaan het, het uit die Skrif aangehaal, maar hulle het hulle oë gesluit vir die gewigtiger sake wat deur God vereis word—dié wat met geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid te doen het (Matt. 22:23, 24; 23:23, 24). Wanneer Jesus ander uit God se Woord onderrig het, het hy sy Vader se persoonlikheid weerspieël. Jesus se ywer vir die waarheid het hand aan hand gegaan met sy innige liefde vir die mense wat hy onderrig het. Ons moet sy voorbeeld probeer volg.—Matt. 11:28.

      Hoe kan ons seker wees dat ons ’n teks reg toepas? Gereelde Bybellees sal help. Ons moet ook waardering hê vir Jehovah se voorsiening van “die getroue en verstandige slaaf”, die liggaam van geesgesalfde Christene deur wie hy geestelike voedsel vir die huisgenote van die geloof voorsien (Matt. 24:45). Persoonlike studie sowel as gereelde bywoning van gemeentelike vergaderinge en deelname daaraan sal ons help om baat te vind by die onderrigting wat deur daardie “getroue en verstandige slaaf”-klas voorsien word.

      As die boek Redenering uit die Skrif in jou taal beskikbaar is en jy leer om dit goed te gebruik, sal jy die nodige inligting tot jou beskikking hê om honderde tekste wat dikwels in ons bediening gebruik word, reg toe te pas. As jy ’n onbekende teks wil gebruik, sal beskeidenheid jou beweeg om navorsing te doen sodat jy die woord van die waarheid reg sal hanteer wanneer jy praat.—Spr. 11:2.

      Maak die toepassing duidelik. Wanneer jy ander onderrig, moet jy seker maak dat hulle duidelik sien wat die verband is tussen die onderwerp wat jy bespreek en die tekste wat jy gebruik. As jy die teks met ’n vraag inlei, moet dié wat na jou luister, kan sien hoe die teks daardie vraag beantwoord. As jy die teks ter bevestiging van ’n verklaring gebruik, moet jy seker maak dat die student duidelik sien hoe die teks die punt staaf.

      Dit is gewoonlik nie voldoende om die teks net te lees nie—al doen jy dit met die regte beklemtoning. Onthou dat die gemiddelde persoon die Bybel nie goed ken nie en waarskynlik nie jou punt sal snap nadat hy dit slegs een keer gelees het nie. Vestig die aandag op die deel van die teks wat direk van toepassing is op wat julle bespreek.

      Dit vereis gewoonlik dat jy sleutelwoorde uitsonder, dié wat direk verband hou met die punt wat bespreek word. Die eenvoudigste metode is om daardie gedagtedraende woorde te herhaal. As jy met een persoon praat, kan jy vrae vra wat hom sal help om die sleutelwoorde te identifiseer. Wanneer party sprekers met ’n groep praat, verkies hulle om sinonieme te gebruik of die gedagte te herhaal. Maar as jy dit doen, moet jy seker maak dat die gehoor nog steeds die verband kan sien tussen die punt wat bespreek word en die bewoording van die teks.

      As jy die sleutelwoorde uitgesonder het, het jy ’n goeie grondslag gelê. Voer dit nou verder. Het jy duidelik gesê waarom jy die teks gebruik toe jy die vers ingelei het? Indien wel, verduidelik hoe die woorde wat jy uitgesonder het, verband hou met die antwoord wat jou gehoor nou verwag. Toon duidelik wat daardie verband is. Al het jy die teks nie so duidelik ingelei nie, moet jy een of ander verduideliking gee nadat jy die teks gelees het.

      Die Fariseërs het aan Jesus ’n vraag gestel wat hulle gedink het moeilik was om te antwoord, naamlik: “Is dit ’n man geoorloof om op sommer enige grond van sy vrou te skei?” Jesus het sy antwoord op Genesis 2:24 gebaseer. Let op dat hy die aandag op slegs een deel daarvan gevestig het en toe die nodige toepassing gemaak het. Nadat hy getoon het dat die man en sy vrou “een vlees” word, het Jesus gesê: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.”—Matt. 19:3-6.

      Hoe breedvoerig moet jou verduideliking wees om die toepassing van ’n teks duidelik te maak? Jou gehoor en die belangrikheid van die punt onder bespreking moet dit bepaal. Eenvoud en ondubbelsinnigheid moet jou oogmerk wees.

      Redeneer uit die Skrif. Aangaande die apostel Paulus se bediening in Tessalonika sê Handelinge 17:2, 3 vir ons dat hy ‘uit die Skrif geredeneer’ het. Dit is ’n vermoë wat elke kneg van Jehovah moet probeer ontwikkel. Paulus het byvoorbeeld feite oor die lewe en bediening van Jesus genoem, getoon dat dit in die Hebreeuse Geskrifte voorspel is en sy redenasie toe op ’n kragtige wyse afgesluit deur te sê: “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, hý is die Christus.”

      Toe Paulus aan die Hebreërs geskryf het, het hy herhaaldelik uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal. Wanneer hy ’n punt wou beklemtoon of opklaar, het hy dikwels een woord of ’n kort frase uitgesonder en dan die betekenis daarvan verduidelik (Heb. 12:26, 27). In die verslag inHebreërs hoofstuk 3 het Paulus uit Psalm 95:7-11 aangehaal. Let op dat hy dan oor drie gedeeltes daarvan uitwei: (1) die verwysing na die hart (Heb. 3:8-12), (2) die betekenis van die uitdrukking “Vandag” (Heb. 3:7, 13-15; 4:6-11) en (3) die betekenis van die verklaring: “Hulle sal in my rus nie ingaan nie” (Heb. 3:11, 18, 19; 4:1-11). Probeer altyd hierdie voorbeeld volg wanneer jy tekste toepas.

      Let op hoe doeltreffend Jesus uit die Skrif geredeneer het in die verslag in Lukas 10:25-37. ’n Man wat met die Wet vertroud was, het gevra: “Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?” In antwoord hierop het Jesus die man eers gevra om sy mening te gee, en toe het Jesus die belangrikheid daarvan beklemtoon om te doen wat God se Woord sê. Toe dit duidelik word dat die man nie die punt insien nie, het Jesus net een woord uit die teks—“naaste”—breedvoerig bespreek. Hy het nie bloot ’n definisie daarvan gegee nie, maar hy het ’n illustrasie gebruik om die man te help om self tot die regte gevolgtrekking te kom.

      Dit is duidelik dat Jesus nie net tekste aangehaal het wat ’n direkte, voor die hand liggende antwoord gegee het wanneer hy vrae beantwoord het nie. Hy het ontleed wat die tekste sê en het dit dan op die vraag onder bespreking toegepas.

      Toe die Sadduseërs die opstandingshoop betwis het, het Jesus die aandag op een spesifieke deel van Eksodus 3:6 gevestig. Maar hy het nie opgehou nadat hy die teks aangehaal het nie. Hy het daaroor geredeneer en duidelik getoon dat die opstanding ’n deel van God se voorneme is.—Mark. 12:24-27.

      Dit sal jou baie help om ’n bekwame onderrigter te word as jy die vermoë aanleer om reg en doeltreffend uit die Skrif te redeneer.

      HOE OM DIE VERMOË TE ONTWIKKEL

      • Lees die Bybel gereeld. Bestudeer Die Wagtoring noukeurig en berei goed voor vir gemeentelike vergaderinge.

      • Maak seker dat jy die betekenis van die woorde verstaan in enige teks wat jy wil gebruik. Lees die teks noukeurig sodat jy die betekenis daarvan reg verstaan.

      • Maak ’n gewoonte daarvan om navorsing in ons Christelike publikasies te doen.

      OEFENING: Redeneer oor die betekenis van 2 Petrus 3:7. Bewys dit dat die aarde met vuur vernietig sal word? (Wanneer jy “aarde” verklaar, verduidelik ook waarna “hemele” verwys. Watter tekste toon dat “aarde” in figuurlike sin gebruik kan word? Wie of wat word eintlik vernietig, soos vers 7 sê? Hoe stem dit ooreen met wat in Noag se dag gebeur het, waarna daar in verse 5 en 6 verwys word?)

  • Praktiese waarde duidelik gemaak
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
    • STUDIE 23

      Praktiese waarde duidelik gemaak

      Wat moet jy doen?

      Help jou gehoor om te sien hoe jou onderwerp hulle lewe raak of hoe dit vir hulle van nut kan wees.

      Waarom is dit belangrik?

      As mense nie die praktiese waarde sien van wat jy sê nie, sal hulle moontlik vir jou sê dat hulle nie belangstel nie of hulle gedagtes sal begin dwaal.

      HETSY jy met ’n individu of met ’n groter gehoor praat, dit is onverstandig om aan te neem dat jou gehoor in jou onderwerp sal belangstel net omdat jy daarin belangstel. Jou boodskap is belangrik, maar jy sal waarskynlik nie jou gehoor se aandag baie lank boei as jy nie die praktiese waarde daarvan duidelik maak nie.

      Dit is selfs waar van ’n gehoor by die Koninkryksaal. Hulle sal moontlik luister wanneer jy ’n illustrasie gebruik of ’n ondervinding vertel wat hulle nog nie gehoor het nie. Maar hulle sal moontlik ophou luister wanneer jy oor dinge praat wat hulle reeds ken, veral as jy nie daarop voortbou nie. Jy moet hulle help om te sien waarom en hoe jou aanbieding van ware nut vir hulle is.

      Die Bybel spoor ons aan om in praktiese terme te dink (Spr. 3:21). Jehovah het Johannes die Doper gebruik om mense “tot die praktiese wysheid van regverdiges” te bring (Luk. 1:17). Dit is wysheid wat op ’n heilsame vrees vir Jehovah gegrond is (Ps. 111:10). Diegene wat hierdie wysheid waardeer, word gehelp om ’n sukses te maak van die teenswoordige lewe en ’n houvas te kry op die werklike lewe, die ewige lewe in die toekoms.—1 Tim. 4:8; 6:19.

      Hoe om ’n toespraak prakties te maak. As jy jou toespraak prakties wil maak, moet jy nie net goed nadink oor die materiaal nie, maar ook oor jou gehoor. Moenie net aan hulle dink as ’n groep nie. Daardie groep bestaan uit individue en gesinne. Daar is dalk klein kindertjies, tieners, volwassenes en party wat bejaard is. Daar is dalk nuwe belangstellendes sowel as dié wat Jehovah begin dien het voordat jy gebore is. Party is moontlik geestelik volwasse; ander word miskien nog grootliks beïnvloed deur sekere gesindhede en gebruike van die wêreld. Vra jou af: ‘Hoe kan die materiaal wat ek gaan bespreek, diegene in die gehoor tot voordeel strek? Hoe kan ek hulle help om die punt te snap?’ Jy besluit moontlik om jou net op een of twee van die groepe wat hier genoem is, toe te spits. Maar moenie die ander heeltemal vergeet nie.

      Sê nou jy moet ’n basiese Bybelleerstelling bespreek? Hoe kan jy so ’n toespraak leersaam maak vir ’n gehoor wat reeds daaraan glo? Probeer om hulle selfs meer oortuig daarvan te laat word. Hoe? Deur te redeneer oor die skriftuurlike bewyse waardeur dit bevestig word. Jy kan ook hulle waardering vir daardie Bybelleerstelling vergroot. Dit kan gedoen word deur te toon hoe die leerstelling met ander Bybelwaarhede en met Jehovah se persoonlikheid strook. Gebruik voorbeelde—werklike ondervindinge indien moontlik—wat toon hoe ’n begrip van hierdie spesifieke leerstelling mense tot voordeel gestrek het en hoe dit hulle uitkyk op die toekoms beïnvloed het.

      Moenie die praktiese toepassing van die materiaal tot ’n paar kort kommentare aan die einde van jou toespraak beperk nie. Van die begin af moet elkeen in jou gehoor voel: “Dit is op my van toepassing.” Nadat jy daardie grondslag gelê het, moet jy voortgaan om die materiaal prakties toe te pas; in die hoofdeel van jou toespraak, terwyl jy elke hoofpunt ontwikkel, sowel as in die slot.

      Wanneer jy ’n toepassing maak, moet jy sorg dat jy dit op ’n manier doen wat met Bybelbeginsels strook. Wat beteken dit? Dit beteken dat jy dit op ’n liefdevolle manier moet doen en empatie moet betoon (1 Pet. 3:8; 1 Joh. 4:8). Selfs toe die apostel Paulus moeilike probleme in Tessalonika bespreek het, het hy ’n punt daarvan gemaak om die positiewe aspekte van die geestelike vooruitgang van sy Christenbroers en -susters daar te beklemtoon. Hy het ook die vertroue uitgespreek dat hulle in die saak onder bespreking die regte ding sou wou doen (1 Tess. 4:1-12). Wat ’n goeie voorbeeld!

      Is jou toespraak bedoel om jou broers aan te spoor om die goeie nuus te verkondig en aan ander te leer? Bou geesdrif en waardering vir die voorreg op. Maar terwyl jy dit doen, moet jy in gedagte hou dat almal nie ewe veel in hierdie werk kan doen nie, en die Bybel neem dit in aanmerking (Matt. 13:23). Moenie jou broers skuldig laat voel nie. Hebreërs 10:24 moedig ons aan om mekaar “tot liefde en goeie werke aan te spoor”. As ons ander tot liefde aanspoor, sal hulle werke voortbring wat uit goeie beweegredes spruit. Moenie gelykvormigheid probeer voorskryf nie, maar erken eerder dat Jehovah wil hê dat ons “gehoorsaamheid deur geloof” moet bevorder (Rom. 16:26). Met dit in gedagte probeer ons ons eie geloof en dié van ons broers versterk.

      Help ander om die punt te snap. Wanneer jy vir ander getuig, moet jy nie nalaat om die praktiese waarde van die goeie nuus duidelik te maak nie. Dit beteken dat jy moet dink aan wat mense in julle gebied kwel. Hoe kan jy uitvind wat dit is? Luister na die nuus op die radio of televisie. Kyk na die voorblad van die koerant. Probeer ook mense by die gesprek betrek, en luister wanneer hulle praat. Jy sal dalk uitvind dat hulle met ernstige probleme te kampe het—werkloosheid, verblyfkoste, siekte, die dood van ’n familielid, gevaar weens misdaad, onregverdige behandeling deur iemand in gesag, verbrokkeling van ’n huwelik, die uitdaging om jong kinders onder beheer te hou, ensovoorts. Kan die Bybel hulle help? Beslis.

      Wanneer jy ’n gesprek begin, sal jy waarskynlik ’n onderwerp in gedagte hê. Maar as die persoon aandui dat ’n ander saak vir hom van groter belang is, moet jy nie huiwer om eerder dit te bespreek indien moontlik nie, of jy kan aanbied om met nuttige inligting terug te keer. Natuurlik ‘bemoei ons ons nie met wat ons nie aangaan nie’, maar ons dra die praktiese raad van die Bybel met graagte aan ander oor (2 Tess. 3:11). Bybelraad wat op mense se eie lewe betrekking het, sal natuurlik die grootste indruk op hulle maak.

      As mense nie kan sien hoe ons boodskap hulle raak nie, sal hulle moontlik die gesprek gou beëindig. Al laat hulle ons praat, sal ons boodskap nie eintlik ’n uitwerking op hulle lewe hê as ons nie vir hulle toon wat die praktiese waarde daarvan is nie. Maar as ons die praktiese waarde van die boodskap duidelik maak, kan ons bespreking ’n keerpunt in die persoon se lewe wees.

      Wanneer jy Bybelstudies hou, moet jy voortdurend wys hoe belangrik dit is om die materiaal prakties toe te pas (Spr. 4:7). Help studente om skriftuurlike raad, beginsels en voorbeelde te verstaan wat vir hulle toon hoe om in Jehovah se weë te wandel. Beklemtoon die voordele wat dit inhou (Jes. 48:17, 18). Dit sal studente beweeg om die nodige veranderinge in hulle lewe aan te bring. Bou in hulle ’n liefde vir Jehovah en ’n begeerte om hom te behaag, en laat die motivering om die raad van God se Woord toe te pas uit hulle eie hart kom.

      HOE OM DIT TE DOEN

      • Wanneer jy ’n toespraak voorberei, moet jy nie net die materiaal in ag neem nie, maar ook jou gehoor. Bied dit op ’n manier aan waarby hulle werklik baat sal vind.

      • Moenie net in jou slot praktiese toepassing maak nie. Dit moet in jou hele toespraak ingevleg wees.

      • Dink aan dinge wat mense in julle gebied kwel wanneer jy voorberei om ’n getuienis te gee.

      • Luister aandagtig na die ander persoon wanneer jy getuig, en pas jou aanbieding dienooreenkomstig aan.

      OEFENING: Hersien nommers van Ons Koninkryksbediening wat aan jou beskikbaar is, en kies een of twee aanbiedings wat jy dink veral in julle gebied prakties sal wees. Gebruik dit in die velddiens.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel