Wat is die belangrikste in jou lewe?
HY WAS na bewering die rykste man in die wêreld. Sy persoonlike fortuin het miljarde dollars beloop. Talle het hom bewonder as iemand wat die toppunt van sukses behaal het. Maar twee jaar voor sy dood het J. Paul Getty gesê: „Geld hou nie noodwendig verband met geluk nie. Miskien met ongelukkigheid.”
In die najaging van wat talle as belangrik in die lewe beskou, het die beroemde oliemagnaat ongetwyfeld ’n uitsonderlike mate van sukses behaal. Maar het hy geklink na ’n man wat geluk gevind het in die dinge waarvoor hy so hard gewerk het? Of het hy liewer geklink na iemand wat uiteindelik besef het dat dit waarvoor hy so hard gewerk het tog nie so belangrik is nie?
Die ideaal en die werklikheid
Wat beskou jy as die belangrikste in jou lewe? Party mense sê miskien dat vryheid vir hulle die kosbaarste is. Ander sê dalk dat sukses vir hulle die belangrikste is. Nog ander gee voorkeur aan persoonlike voldoening.
Ofskoon hulle dit nie wil erken nie, verraai talle mense se lewenspatroon en dade dat geld en plesier in werklikheid die belangrikste dinge in hulle lewe is. Hulle is so vasbeslote om ryk te word, of so daarop uit om ,die lewe te geniet’, dat hulle nie omgee dat hulle hulle gesin, hulle gesondheid en hulle geestelike welsyn in die proses verwaarloos nie. En dit is interessant dat die Bybel voorspel het dat mense in „die laaste dae” „liefhebbers van hulleself, geldgieriges” en „meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” sou wees.—2 Timotheüs 3:1, 2, 4.
Iets belangrikers
Jesus Christus, die stigter van die Christelike godsdiens, het ’n gedagteprikkelende vraag gestel: „Wat help dit ’n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?” het hy gevra (Markus 8:36, NAV). Dink daaraan. Wat sou ’n persoon sonder lewe kon doen? Niks nie!—Prediker 9:5, 10.
Jy is dalk nog jonk en dink dus dat daar nog baie tyd is om alles te doen wat jy wil doen. Maar is daar werklik? Oorloë, misdadigheid, siekte en ongelukke het tallose gesonde manne en vroue—skielik en onverwags—getref. Wat het van al hulle planne en doelwitte geword?
Jy het moontlik ’n gesin of is dalk bejaard. Jy meen gevolglik dat jy al jou tyd en krag moet inspan om ’n veilige toekoms vir jou en jou dierbares te bou voordat jy aan enigiets anders kan dink. Maar wat beskou jy as veilig? Soos jy weet, het inflasie, resessie en werkloosheid baie se spaargeld verslind en hulle brandarm en dakloos gelaat. Watter waarborg is daar buitendien, met die oog op die toestande wat wêreldwyd so onbestendig is, dat die dinge waarvoor jy hard gewerk het nie deur die een of ander onverwagte gebeurtenis vernietig sal word nie?
Jy kan dus ongetwyfeld sien hoe belangrik dit is om jou persoonlike doelwitte te ondersoek. Wat beskou jy derhalwe as die belangrikste in jou lewe?