Vredeliewende mense is waarlik nodig!
DIE tema was belowend: “Internasionale literatuurkongres—Skrywers vir vrede.” Die plek was skilderagtig: die ou Duitse stad Keulen wat oor die Rynrivier uitkyk. Die atmosfeer by die kongres was rustig totdat dit verpletter is deur onenigheid tussen afgevaardigdes. Volgens nuusberigte oor die 1982-byeenkoms het sommige aanwesiges geskreeu, gestoot en gestamp—selfs geworstel om beheer van die verhoog. Die bakleiery was oor wie se regering die aggressor in wêreldkonflikte is.
Hetsy die slagveld ’n afgeleë land, ’n byeenkomssaal of jou buurman se sitkamer is, waarom kan meer mense nie in vrede met mekaar oor die weg kom nie? Die antwoord is eenvoudig: Ware vrede kan nie bestaan as die God van vrede, Jehovah, uit mense se lewens uitgesluit word nie.—1 Thessalonicense 5:23.
In Galasiërs 5:22, 23 meld die Bybel vrede as een van die vrugte van God se heilige gees. Ons kan alleen ware en blywende vrede in ons lewens geniet as God se gees die groei daarvan in ons harte bevorder. Hoe word dit gedoen? Ons moet Jehovah God en sy Seun Jesus Christus eerstens leer ken en dan geloof in hulle beoefen (Johannes 17:3). Dan sal die apostel Paulus se innige versoek ten opsigte van ons vervul word: “Mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!” En let op dat Paulus sy vermaning in dieselfde brief met hierdie verdere versoek afsluit: “En die God van vrede sy met julle almal!”—Romeine 15:13, 33.
Die vrede wat God se heilige gees voortbring, is anders as die vrede wat die wêreld nastreef. In watter opsig?
’n Ander soort vrede
Op internasionale gebied is ’n vredemaker iemand wat bedrewe is met woorde en protokol; iemand wat deur bemiddeling twee teenpartye kan versoen sonder om noodwendig hulle gesindhede en beweegredes te verander. ’n Kommunis kan sodoende versoen word met ’n kapitalis sonder dat een van die twee sy filosofie verander. Versoening met God is egter anders. God stel die voorwaardes vir vrede. Hy definieer hulle en toon hoe hulle toegepas word. Met Jehovah God is dit nie ’n kompromie nie, maar ’n algehele oorgawe van ons beweegredes, gesindhede en lewenswyse—ons hele lewe.—Mattheüs 22:37.
Wat derhalwe vandag nodig is, is vrede wat berus op goddelike wysheid en nie menslike wysheid nie. As ons Jakobus 3:13-18 lees, sien ons watter voordele hemelse wysheid inhou:
“Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy werke en sagmoedige wysheid toon. Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dit is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels. . . . Die wysheid van bo is ten eerste rein, dan vredeliewend, vriendelik, geseglik, vol barmhartigheid en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.”
Die vrede wat uit God se wysheid voortspruit, voorkom nie net konflik nie; dit streef ’n goeie verhouding met ander ernstig en daadwerklik na.
Wanneer ’n mens op godvrugtige wyse vredeliewend is, help dit boonop om te voorkom dat skadelike neigings, wat sedert die opstand in Eden in die mens se hart gewortel is, tot dodelike sondes ontwikkel (Genesis 8:21; Mattheüs 15:19; Romeine 5:12). Met verwysing na die doeltreffendheid van hierdie beskermende skild het die apostel Paulus geskryf dat “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, . . . julle harte [beweegredes] en julle sinne [sal] bewaar in Christus Jesus”.—Filippense 4:7.
Dit toon dat “die vrede van God” deur die Seun oorgedra word. Jesus het gesê: “My vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (Johannes 14:27).
Ware vrede is nie die gevolg van maatskaplike, ekonomiese, politieke of omgewings-hervorming nie, maar spruit eerder uit die aanbidding van Jehovah in navolging van sy Seun, Jesus Christus. Dit is derhalwe gepas dat die apostel Paulus so baie van sy briewe inlei met uitdrukkings soos: “Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!”—Romeine 1:7; 1 Korinthiers 1:3; 2 Korinthiers 1:2.
Is jy vredeliewend?
Vredeliewende Christene besef dat hulle sonder Jehovah geen blywende vermoë het om vrede te bevorder nie. Die mensevlees is swak. Dit moet deur God se gees ondersteun word. Paulus het Christene daaraan herinner: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Toe het hy bygevoeg: “Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie. Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.”—Galasiërs 5:14-17.
Wanneer ’n persoon deur iemand teengestaan word, kan sy ‘vleeslike begeertes’ hom bedrieg sodat hy dink dat hy reg is terwyl hy in werklikheid verkeerd is. Die lelike eienskappe, naamlik egotisme, jaloesie en onbeheerste wedywer, word verbloem. In die persoon se verstand neem dit die vorm aan van aggressiwiteit en ywer, wat volgens hom die sleutels tot oorwinning of sukses is. Dit is wat met sommige eerste-eeuse Christene in die provinsie Galasië gebeur het. Hulle het toegelaat dat hulle ‘vleeslike begeertes’ die vrede versteur, nie net in hulle eie lewens nie maar ook in die gemeente. “Vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer” het hulle gemeente se geestelike voorkoms bevlek, en hulle moes daardie vlekke verwyder om die vrede te herstel.—Galasiërs 5:20, 22.
Onchristelike eienskappe kan vandag eweneens ons geestelike paradys van sy vrede beroof. Sake-, werk-, skool-, sosiale en gemeentelike bedrywighede skep omstandighede wat beproef of ons ’n stewige houvas op die vrug van vrede het of nie. Om seker te maak dat jy ’n vredemaker eerder as ’n vredesteurder is, kan jy jou hierdie vrae afvra:
◻ Smag ek na aansien en erkenning, of is ek nederig en beskeie?—Spreuke 11:2; Mattheüs 18:1-4.
◻ Het ek ’n sterk begeerte na materiële besittings, of is ek tevrede met voedsel en klere?—1 Timotheüs 6:4-10; Hebreërs 13:5.
◻ Begunstig ek die vooraanstaandes of die rykes in die gemeente, of verwelkom ek almal in die geloof?—Romeine 15:7; Jakobus 2:1-4.
Vervang menslike wysheid deur goddelike wysheid
Die slegte gees wat gewoontevredesteurders voortdryf, spruit uit selfsugtige begeertes. Let op hoe die dissipel Jakobus wys op die oorsprong van slegte vrugte waar hy in Jakobus 4:1 skryf: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie?” Versteurders van gemeentelike harmonie weier om vredeliewend te word omdat hulle selfsugtige begeertes ‘in hulle laat stryd voer’. Hulle laat ’n strydlustige gees in hulle liggame kamp opslaan. Gevolglik gaan hulle selfsugtige begeertes soos ’n invallende leër op die oorlogspad en strewe dit na aansien, groter invloed, besittings, en so meer, terwyl dit vrede uit hulle verhouding met God en met medegelowiges wegruk.
Ons het waarskynlik elke dag te doen met ’n situasie, of met iemand, waarvan ons nie hou nie. Hoe hanteer ons die saak? Party protesteer dalk luid en kwaai in die hoop dat dit die probleem uit die weg sal ruim. Ander wat hulle posisie en status in die lewe wil beskerm, trek moontlik daadwerklik te velde teen beter metodes. Sulke dade vernietig vrede. Dit vertraag vooruitgang en prestasie by die huis, by die werk of in die gemeente. Aan die ander kant is “die wysheid van bo . . . vredeliewend” (Jakobus 3:17). En daadwerklike vrede verenig mense met mense, en mense met God (Efesiërs 4:3). Dit is waarom goddelike wysheid verder beveel:
◻ “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.”—Mattheüs 5:23, 24.
◻ “As dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, lewe in vrede met alle mense.”—Romeine 12:18.
◻ “Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien.”—Romeine 14:19.
Vredemakers is evangeliedienaars
Die apostel Petrus het besef dat Jehovah God die Bron van ’n wêreldwye vredesboodskap is en gesê: “Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus—Hy is die Here van almal” (Handelinge 10:36). Jesus het nie net self “die evangelie van vrede verkondig” nie, maar het ook sy volgelinge opgelei om dit te doen (Efesiërs 2:17). Hy het verduidelik dat dit gedoen sou word deur van huis tot huis te ‘soek wie waardig is’, en het hulle beveel: “In watter huis julle ook al mag ingaan, sê eers: Vrede vir hierdie huis!”—Mattheüs 10:11; Lukas 10:5.
Maar soos in die eerste eeu waardeer nie almal vandag “die evangelie van vrede” nie. Dit wek nie by hulle ’n vreedsame reaksie nie, maar eerder ’n veglus. Jesus het hierdie soort reaksie op die evangelisasiewerk voorsien, want hy het gese: “As julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer” (Mattheüs 10:12, 13). Sommige sou hierdie vrede van God gretig aanvaar; ander sou nie. Maar wat ook al die geval, die Christen sou nie sy vrede met God of met die mens verloor nie.
Mense wat God se vrede verwerp, verkeer in werklikheid in oorlog met hom. Jesus se profesie oor gebeure wat die teken van sy teenwoordigheid in Messiaanse Koninkryksmag kenmerk, sluit hierdie waarskuwende illustrasie in: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy . . . al die nasies . . . van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei” (Mattheüs 25:31-33). Die geskil waarom die skeiding draai, is God se Koninkryk in die hande van Christus. Die oordeel wat mense sal ontvang, hang hoofsaaklik af van hulle reaksie op die “evangelie van die koninkryk” wat die ‘geringstes van Christus se broeders’ na hulle toe bring (Mattheüs 24:14; 25:34-46). Christus gebruik slegs vredeliewende mense om die boodskap van goeie nuus in sy skeidingswerk uit te dra. Daar sal dus hoegenaamd geen rede vir enige teenstander wees om te sê nie: ‘Hulle het my so kwaad gemaak dat ek nie “die boodskap van vrede” kon verstaan nie.’
In ’n wêreld wat vol is van daaglikse konflikte van persoonlike sowel as internasionale aard is vredeliewende mense derhalwe waarlik nodig. Jy sal sulke persone in die ware Christengemeente vind. Laat die “God van vrede” jou sy heilige gees gee. Kalmte, rus en stilte sal dan jou blye lot wees, en wrywing, twis, twyfel en vrees sal tot die verlede behoort (Jesaja 32:17, 18). Deur “die evangelie van vrede” te verkondig, sal jy boonop die wonderlike voorreg geniet om ander te help om vredeliewend te word.—Efesiërs 2:17; Mattheüs 28:19
[Lokteks op bladsy 15]
Die vrede wat uit God se wysheid voortspruit, voorkom nie net konflik nie; dit streef ’n goeie verhouding met ander ernstig en daadwerklik na
[Prent op bladsy 13]
Die vrede wat God se heilige gees voortbring, is anders as die vrede wat die wêreld nastreef