Help nuwelinge om geestelike vooruitgang te maak
1 Het jy die vreugde gehad om met iemand te studeer tot op die stadium waar hy sy standpunt aan Jehovah se kant ingeneem het? Dit is ’n kosbare oomblik wanneer iemand sy toewyding deur waterdoop simboliseer. Tienduisende doen elke jaar hierdie stap, maar net soos kinders leiding nodig het wanneer hulle groei, het nuwelinge ook hulp nodig om geestelike vooruitgang te maak.—1 Kor. 4:14-17;2Kor. 6:13.
2 Ons almal is ongetwyfeld verheug om te sien dat so baie nuwelinge die Gedenkmaalviering op 12 April bygewoon het. Nou moet ons hulle help om Jehovah en sy organisasie beter te leer ken. Hoe kan ons dit doen? Nooi nuwe belangstellendes wat die Gedenkmaal bygewoon het uit en neem hulle gereeld na die gemeentevergaderinge, en help hulle om ander in die gemeente te leer ken. Spoor hulle aan om die volgende kringbyeenkoms, asook die “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms by te woon. Maak goed gebruik van die inligting op bladsye 14, 15, 18 en 19 van die Uitvoering van God se wil-brosjure. Moenie terughou en redeneer dat hulle nie daarvoor gereed is nie. Baie het begin assosieer kort nadat hulle met die waarheid kennis gemaak het.
STAAN BYBELSTUDENTE BY
3 Kan meer gedoen word om ons Bybelstudente by te staan? Het jy hulle geleer hoe om te studeer? Het hulle hulp nodig om vir gemeentevergaderinge voor te berei en daaraan deel te neem? Moedig hulle aan om by die Teokratiese Bedieningskool aan te sluit wanneer hulle aan die vereistes voldoen. Dit sal vir hulle waardevolle opleiding verskaf en hulle vertroue gee. Gereelde deelname aan die vergaderinge dra grootliks by tot geestelike vooruitgang.
4 Probeer om die Bybelstudent goed te leer ken sonder om jou neus in sy persoonlike sake te steek. Is daar struikelblokke wat hom terughou om geestelik vooruitgang te maak? As jy opmerk dat hy veranderinge ten opsigte van die Christelike leefwyse moet maak, kan jy hom vriendelik en taktvol hiermee help.
5 Gemeentelike Boekstudiehouers kan reël om diegene wat studeer te ontmoet en hulle aan te moedig om die boekstudie gereeld by te woon. Wanneer die diensopsiener ’n boekstudiegroep besoek, kan hy die Bybelstudieaktiwiteit in daardie groep met die boekstudiehouer bespreek. Hulle sal dalk party van die verkondigers na hulle tuisbybelstudie wil vergesel en geestelike aanmoediging wil gee. Wanneer die kringopsiener die gemeente besoek, sal hy of sy vrou ook graag verkondigers na Bybelstudies wil vergesel. Die diensopsiener kan die leer van Bybelstudierapporte nagaan en gepaste reëlings tref vir verkondigers om die kringopsiener of sy vrou na hulle Bybelstudies saam te neem.—Rom. 1:11; Filip. 1:25; hersien asseblief kmAF 7/81, Vraebus.
6 Nadat ’n nuweling gedoop is, help ons hom steeds om vordering te maak (Gal. 6:10; 1 Pet. 1:22; 4:8; Filip. 3: 13-16). Maak asseblief seker dat die twee aanbevole publikasies met die student voltooi word al het hy die Gemeentelike Boekstudie bygewoon waar een of albei hierdie publikasies gestudeer is (kmAF 5/83 bl. 8; kmAF 5/84 bl. 8). As dit nie gedoen word nie, kan die student geestelik onvoorbereid wees om op sy eie bene te staan. As enigiemand voel dat hy weens persoonlike omstandighede nie ’n Bybelstudent kan bystaan om geestelike volwassenheid te bereik nie, moet hy die saak met die ouere manne bespreek.—Kyk kmAF 5/86 Vraebus.
7 Die vreugde wat ons ervaar om te sien hoe ’n nuweling vooruitgang maak op die weg van die lewe bereik sy hoogtepunt wanneer ons sien dat hy tot Christelike volwassenheid groei. Hy sal dan ook in ’n posisie wees om ander nuwelinge by te staan om vooruitgang te maak namate ons almal eensgesind die lewe as doelwit nastreef.—1 Tim. 4:16.