Gebruik God se Woord en die Genootskap se publikasies ten volle
1 Met die wêreld onder die beheer van Satan die Duiwel moet knegte van Jehovah verwag dat beproewinge sal toeneem (Openb. 12:12). Dit verg geestelike krag om hierdie beproewinge te deurstaan, en dit met blydskap te doen. Gevolglik is dit nodig dat ons God se Woord daagliks gebruik om ons te versterk. Namate ons die Bybel met behulp van die Genootskap se publikasies bestudeer, kan ons bemoedig word om probleme wat deur die wêreld veroorsaak word die hoof te bied. Om ons geestelike oorlogvoering voort te sit, moet ons krag verkry ‘om in die dag van onheil weerstand te bied en staande te bly’.—Ef. 6:10-13.
2 Daarom moet elkeen hom gerus afvra: Maak ek ten volle gebruik van God se Woord en die Genootskap se publikasies sodat ek beproewinge met welslae kan deurstaan? Dit is nie genoeg om God se Woord nou en dan te lees nie. Ons moet dit daagliks doen (Ps. 1: 1, 2). Elke gesin, trouens, elkeen van ons, word aangemoedig om die dagteks uit Ondersoek die Skrif elke dag te bestudeer. Dit is ’n goeie voorsiening om ons te help om beproewinge met welslae te deurstaan. Nog ’n hulp is die Bybelleesprogram wat in die Rooster vir die Teokratiese Bedieningskool uiteengesit word. Volg ons dit pligsgetrou? Besluit gerus as ’n gesin om elke week genoeg tyd opsy te sit vir die weeklikse Skrifgedeelte. Ons sal nie net beter vertroud raak met die inhoud van ons Skrifgedeelte nie, maar ons sal ook nader kom aan Jehovah, die Bron van alle geestelike krag.—Jes. 40: 29-31.
3 Probleme kom byna daagliks voor. Besluite moet geneem word. Laat ons toe dat Bybelbeginsels ons rig om die regte besluite te neem? Die Watch Tower Publications Index vir 1930-1985 is ’n uitstekende hulpmiddel om ons hiermee te help. Ons kom van tyd tot tyd voor algemene probleme soos spanning, eensaamheid, geldelike probleme, chroniese siektes of hernieude siekteaanvalle en baie ander probleme te staan. As ons God se Woord en die Genootskap se publikasies ten volle gebruik, kan dit ons help om ons probleme die hoof te bied.
4 Die oorvloed smaaklike geestelike voedsel moet ons beweeg om ons waardering te toon deur die goeie dinge wat voorsien word ten volle te benut (Matt. 24:45). Geestelike voedsel word gereeld voorsien by die vyf weeklikse vergaderinge wat in die gemeente gereël word. Kan ons eerlik waar sê dat ons goed voorberei vir ons Wagtoring-studie of vir ons Gemeentelike Boekstudie? Sou dit nie juister wees om te sê dat ons dikwels vlugtig deur die studiemateriaal lees en die antwoorde op die vrae haastig onderstreep sonder om waarlik die besonderhede en die redes vir die gegewe verduidelikings in te neem nie? Ons moet dankbaar wees vir die “dienskneg”-klas wat “die verborge dieptes van God se voornemens” vir ons duideliker maak (1 Kor. 2:10, TEV). Maar dit bevry ons nie van die verantwoordelikheid om persoonlik dieper in God se Woord en die Genootskap se publikasies te delf om die verklaarde waarhede ten volle te verstaan nie.
5 Wat beteken dit dus? Dit beteken dat die teksverwysings in die materiaal nageslaan moet word en dat die voetnote in die Wagtoring-artikels, waarvan party na ’n vroeëre publikasie verwys wat ’n vollediger verduideliking van ’n sekere gedeelte of profesie bevat, gelees moet word. Dit vereis van ons dat ons die poging aanwend om daardie ouer publikasie op te spoor en dan die bladsye waarna daar verwys word te bestudeer. Die ryk geestelike seëninge wat ons uit sulke voorbereiding put, oortref egter enige moeite wat ons moontlik doen.
6 Die ‘hele wêreld lê in die mag van die Bose’. Maar ons vertrou op Jehovah God se versekering dat hy ons met sy krag en sterkte sal onderskraag (1 Joh. 5:19; Filip. 4:13). As ons die beproewinge waarmee ons tans te kampe het met welslae die hoof bied, sal dit ons voorberei om in die toekoms groter beproewinge te deurstaan. Mag ons almal God se Woord en die Genootskap se publikasies ten volle gebruik om ons voor te berei en te versterk sodat ons ons geestelike oorlogvoering met blydskap kan voortsit.—Kol. 1:11.