Meer hulp nodig by Bethel
1 As gevolg van die vermeerdering in verkondigers van die goeie nuus het ons meer mense nodig om by Bethel te dien (Jes. 6:8). Daar is baie werk, nie net om lektuur te druk en te versend nie, maar ook om ons nuwe gebou in stand te hou.
2 Weens die aard van die werk het ons ongetroude broers tussen 19 en 35 jaar nodig. Enkele egpare, wat nie ouer as 35 is nie, kan ook gebruik word. Kan julle broers, veral diegene wat nou pioniers is, julle beskikbaar stel? Die organisasie sal by julle hulp baat vind, en julle sal op julle beurt baat vind by die goeie opleiding en seëninge wat Betheldiens bied.
3 Diegene wat ouer as 35 jaar is, kan om vaste of tydelike Betheldiens aansoek doen as hulle vir ’n spesifieke werk bekwaam is. Hulle aansoeke sal gehou word totdat hulle dienste benodig word.
4 Almal wat aansoek doen, moet goeie liggaams-, geestes- en geestelike gesondheid geniet, moet met baie ander mense kan saamwerk en saamwoon en gewillig wees om dit te doen, en moet dit kan doen sonder om tyd af te neem weens gesondheidsprobleme. Hulle moet ’n goeie naam by die gemeente hê, ’n goeie rapport van die ouere manne en die kringopsiener hê, Engels goed kan praat en gewillig wees om enige werk te doen wat aan hulle toegewys word. Vaste aansoekers moet daaraan dink om ’n aantal jare te bly, te leer en ondervinding op te doen namate hulle hul heilige diens verruim.—2 Kor. 6:13.
5 As jy graag aansoek wil doen, kan jy ’n Bethelaansoekvorm kry deur aan die Genootskap te skryf of deur met jou kringopsiener in verbinding te tree. Nadat jy die aansoekvorm ingevul het, sal dit deur jou Gemeentelike Dienskomitee en dan deur jou kringopsiener oorweeg word. Diegene wat aan die vereistes voldoen en hulle beskikbaar stel, het, as hulle genooi word om by Bethel te dien, die voorreg om met “die hele gemeenskap van [ons] broers in die wêreld” saam te werk.—1 Pet. 5:9, NW.