Bied die Goeie Nuus—Aan Met die Redenering-boek
1 Wat ’n ontsaglike werk het Jehovah tog sy toegewyde volk opgedra om in hierdie laaste dae uit te voer! (Matt. 24:14; 28:19). Sonder goddelike hulp om hierdie wêreldwye kampanje uit te voer, sou dit ’n onbegonne taak wees. Hoe dankbaar is ons tog vir engele hulp om die ewige goeie nuus te verkondig!—Openb. 14:6, 7, vgl. NW.
2 Dit verg opregte inspanning van evangeliste om die harte van mense van “alle nasies en stamme en tale” te bereik. Maar deur middel van sy aardse organisasie het Jehovah die nodige hulp vir ons voorsien om dit te doen. Een so ’n voorsiening is die boek Redenering uit die Skrif, wat ’n skat van kennis bevat oor 76 onderwerpe wat in besprekings met mense van verskillende agtergronde en lewensterreine gebruik kan word.
3 Die bespreking van hierdie publikasie in die Teokratiese Bedieningskool strek jou ongetwyfeld geestelik tot nut. Maar probeer jy om hierdie informasie in jou bediening te gebruik? Kan jy ’n verbetering sien in jou vermoë om met mense te redeneer? Hoewel jy dalk persoonlik ja antwoord, is daar berig dat talle broers en susters nie die Redenering-boek gebruik nie en dat sommige dit nie saam met hulle dra wanneer hulle aan die bediening deelneem nie. Waarom nie? Miskien is dit omdat hulle nie met die boek se nuttige kenmerke vertroud geraak het nie. Talle wat hulle daarop toegelê het om die Redenering-boek te gebruik, het gevind dat hulle daarop kan staatmaak vir hulp op die regte tyd, en dat dit antwoorde verskaf op ’n menigte vrae wat mense stel.
4 Een van die talle nuttige kenmerke daarvan is die saakregister wat op bladsy 439 begin. Dit gee nie elke aspek van elke hoofonderwerp aan nie, maar dit verstrek talle verwysings wat jy nuttig sal vind wanneer jy sekere situasies teëkom.
5 Ons ontmoet soms mense wat byvoorbeeld die Bybel se betroubaarheid bevraagteken. Hulle probeer dalk die Skrifte of die leerstellings van Jehovah se Getuies diskrediteer. Hulle vra dalk ’n vraag soos: “Waar het Kain sy vrou gekry?” Hoewel jy dit nie onder “Hoofonderwerpe” voor in die boek sal vind nie, kan jy in die saakregister onder “Kain” kyk en sal jy vind dat die antwoord op daardie vraag op bladsy 339, 340 is. Of iemand sê dalk dat die liefde van God deur die vernietiging van die goddelose geskend word. As jy onder “Liefde” in die saakregister kyk, word bladsy 50 aangegee, waar jy ’n manier sal vind om met die persoon te redeneer.
6 Nog ’n nuttige kenmerk, wat op bladsy 445 gevind word, is “Tekste wat dikwels verkeerd toegepas word”, ’n Huisbewoner opper dalk ’n vraag oor ’n Bybelteks of probeer dit gebruik om ’n valse leerstelling te staaf. Hy haal moontlik 1 Thessalonicense 4:13-18 aan om sy leerstelling te staaf dat sommige sal opvaar hemel toe sonder om hier op die aarde te sterf. Daar word verwys na bladsy 430 vir ’n bespreking van hierdie verse. As iemand redeneer dat die aarde verbrand sal word en 2 Petrus 3:7 meld, kan informasie wat die saak opklaar op bladsye 26 en 436 gevind word. Hou jou Redenering-boek byderhand as jy dus gevra word om ’n teks te verduidelik, en kyk of die teks in hierdie deel van die boek aangegee word.
7 Jonk en oud kan die voordele van hierdie publikasie geniet. Dit is nie moeilik om dit te gebruik nie, maar dit verg inspanning en oefening. Raak vertroud met die 41 inleidings wat op bladsye 9-15 aangegee word. Daar is ook 47 maniere om potensiële gesprekdempers te bowe te kom, wat op bladsye 15-24 verstrek word. Wend jy ’n poging aan om sommige hiervan te gebruik, veral die wat doeltreffend sal wees wanneer jy met mense in jou gebied praat?
8 Ons is verheug oor die voorreg om die predikingswerk in hierdie tyd van die einde te doen. Jehovah het ons inderdaad gegee wat ons nodig het om ons werk doeltreffend te maak. Laat ons voortgaan om een van ons kosbaarste instrumente, die Redenering-boek, te gebruik.