Het jy eens omgegaan met Jehovah se organisasie?
DIE jongman was skaam en baie terneergedruk. Dit was duidelik dat sy toiingrige en geskeurde klere eens op ’n tyd ’n deftige gewaad was. Nou het hulle onmiskenbaar verraai dat hy swaar tye deurmaak. Toe hy sy gedagtes na sy verafgeleë vaderland laat teruggaan, het hy ’n heftige afkeer gekry van die losbandige lewe wat hy gelei het en van die manier waarop hy die erfporsie verkwis het nadat hy daarop aangedring het om dit voortydig te ontvang. Sy leë maag het sy ellende vererger, en hy was vol heimwee. Selfs sy vader se knegte by die huis was dan beter daaraan toe as hy! O, hoe graag sou hy tog nie in hulle skoene wou wees nie!
Maar watter soort ontvangs kon hy van sy vader verwag as hy nou sou teruggaan? Hy kon nouliks verwag dat hy hartlik gegroet of selfs in die huis toegelaat sou word nadat hy sy vader se goedhartigheid so skandelik misbruik het. Nogtans het ’n gevoel sy verstand en hart oorheers: Hy moet huis toe gaan.
Hierdie jongman het beslis nie sy vader se gevoelens vir hom verstaan nie! Wat ’n verrassing het tog vir hom gewag toe hy sy gewese tuiste nader! Trouens, “toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen”.—Lukas 15:20.
Het jy, soos die verlore seun, jou tuiste verlaat? Het jy van jou Vader, Jehovah, en sy organisasie weggedryf? Het jy ook die begeerte om nou ‘huis toe te kom’?
In die meeste gevalle was diegene wat van Jehovah se organisasie weggedryf het nie presies soos die verlore seun nie. Vir talle was dit eenvoudig ’n geleidelike, feitlik onmerkbare, wegdrywingsproses—soos ’n bootjie wat losgeraak het en stadigaan al hoe verder van die land af dryf. Finansiële of gesinsprobleme, siekte of selfs die strewe om opgang in die wêreld te maak, het so swaar op sommige begin druk dat geestelike aangeleenthede verdring is. Ander het toegelaat dat hulle gestruikel word deur mense wat met die Christengemeente omgaan of het Jehovah se organisasie verlaat omdat hulle nie saamgestem het met ’n sekere siening wat dit van ’n Skriftuurlike kwessie gehad het nie. Nog ander het toegelaat dat hulle mismoedig word en het tou opgegooi toe die huidige stelsel nie ten einde gekom het toe hulle dit verwag het nie.
Waarskynlik pas een of meer van hierdie redes jou omstandighede as jy iemand is wat nie meer aktief met Jehovah se organisasie omgaan nie. Maar is dit nie nou, ongeag wat die oorsaak was, die tyd om dit te oorweeg om terug te keer nie?—Mattheüs 18:12-14.
Is jy gestruikel?
As jy in aanmerking neem hoe ver die mens van volmaaktheid wegbeweeg het, kan jy verwag dat daar van tyd tot tyd persoonlikheidsbotsings sal wees. Sommige is hierdeur gestruikel. Ander is gestruikel toe iemand vir wie hulle groot agting gehad het skielik op die een of ander oorhaastige of onchristelike manier opgetree het of hom aan ’n oortreding skuldig gemaak het.
Het dit met jou gebeur? Ongeag wat jou laat struikel het, dit was beslis nie Jehovah wat die struikeling veroorsaak het nie. (Vergelyk Galasiërs 5:7, 8.) Het dit dan enige sin om op grond van wat iemand anders gedoen het ons verhouding met hom te verbreek? Moet ons nie eerder aanhou om Jehovah getrou te dien in die vertroue dat hy weet wat plaasvind en liefdevol teenoor ons sal optree nie?—Kolossense 3:23-25.
Met verloop van tyd het party gevind dat wat hulle oorspronklik laat struikel het nou nie naastenby so belangrik lyk of dalk nie eens meer bestaan nie. Of wanneer hulle kalm oor die saak nadink, kom hulle dalk nou selfs tot die slotsom dat húlle in werklikheid ongelyk gehad het. Dit is dikwels die geval wanneer ’n persoon nie met raad of dissipline wat aan hom gegee is, saamgestem het nie en hy hom daaroor laat struikel het. As hy agterna die saak beskou, besef hy dalk dat sulke dissipline in ware liefde en vir sy eie beswil gegee is (Hebreërs 12:5-11). Hoe gepas is dit dan tog om die apostel Paulus se raad te gehoorsaam! Hy het geskryf: “Rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.”—Hebreërs 12:12, 13.
Het jy nie met ’n leerstelling saamgestem nie?
Dalk het jy Jehovah se organisasie verlaat omdat jy ’n ander siening van ’n Skriftuurlike punt gehad het. Net soos die Israeliete wat uit Egipte gered is gou “[God se] werke vergeet” het wat hy ten behoewe van hulle gedoen het en “op sy raadsbesluit nie gewag [het] nie”, het jy miskien oorhaastig besluit om jou bande met die organisasie te verbreek aangesien dit nie die siening wat jy as reg beskou het, gehuldig het nie (Psalm 106:13). Moontlik is die punt sedertdien opgehelder deurdat dit òf verander òf deur verdere Skriftuurlike navorsing onder die leiding van God se gees bewys is. Sou dit nie beter gewees het om eenvoudig by die organisasie te bly en op Jehovah te wag nie?
Dit is goed om in gedagte te hou dat Jehovah nog altyd deur net een organisasie gewerk het. In ons dag gee “die getroue en verstandige dienskneg” geestelike voedsel “op tyd”. Let op dat hierdie dienskneg ‘op hierdie manier besig sou wees wanneer die heer kom’ (Mattheüs 24:45-47). Wie besef vandag immers dat die heer reeds gekom het? En wie is besig met die werk wat beskryf is? Net diegene wat met Jehovah se organisasie van Christengetuies omgaan!
Toe ander Jesus verlaat het, het die apostel Petrus gesê: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.” Petrus het hoegenaamd nie daaraan getwyfel dat Jesus die Messias is nie. Toe baie dissipels Jesus se woorde dus skokkend gevind het, het Petrus besef dat dit onverstandig sou wees om die bron van “die woorde van die ewige lewe” te verlaat. Enige twyfel of misvatting sou met verloop van tyd opgehelder word. (Johannes 6:51-68; vergelyk Lukas 24:27, 32.) Vandag, terwyl Jehovah sy knegte progressief op die weg van die waarheid lei, is dit steeds die geval.—Spreuke 4:18.
Kom nou terug
“Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die HERE bekeer”, het die profeet Jeremia gesmeek (Klaagliedere 3:40). Tog aarsel sommige steeds, miskien omdat hulle bang is dat diegene in die gemeente hulle nie goed sal ontvang nie. Maar wat was die reaksie toe die verlore seun teruggekeer het huis toe? “Ons kan tog nie anders as om . . . bly te wees nie”, het die vader verduidelik, “want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry” (Lukas 15:32, NAV). ’n Soortgelyke hartlike verwelkoming wag op diegene wat ‘na Jehovah terugkeer’ met ’n opregte begeerte om sy wil te doen.—Vergelyk Lukas 15:7.
Maar die Christengemeente sit nie eenvoudig terug en wag om sulke persone te verwelkom as en wanneer hulle besluit om ‘huis toe te kom’ nie. In Jesus se gelykenis het die vader uitgehardloop om sy seun te ontmoet toe “hy nog ver was”. Jehovah se Getuies beskou dit insgelyks as ’n persoonlike verpligting om diegene wat eens met hulle omgegaan het op te soek om hulle te help om weer deel van Jehovah se organisasie te word.
Gestel egter dat iemand hom aan ’n ernstige misdryf skuldig gemaak het terwyl hy van Jehovah se organisasie afgesonder was. Of gestel dat iemand weens ernstige sonde omgang met God se volk ontsê moes word, maar dat hy sedertdien sy onchristelike gedrag gestaak het. Wat dan? Die ouere manne sal weet hoe om hom op ’n vriendelike en liefdevolle manier by te staan sodat hy sake met Jehovah kan regstel. Enigiemand wat nou graag wil terugkeer en in ooreenstemming met God se wil wil lewe, moet die ouere manne derhalwe van hierdie begeerte verwittig. “‘Kom nou, en laat ons sake regstel tussen ons’, sê Jehovah. ‘Al sou julle sondes soos skarlaken blyk te wees, hulle sal wit gemaak word soos sneeu.’”—Jesaja 1:18, NW.
Hoe vriendelik, hartlik en liefdevol is ons hemelse Vader tog! En hoe geduldig is hy tog, en watter belangstelling toon hy tog in elkeen van ons as ’n individu! Hy wil beslis nie hê dat ons saam met hierdie goddelose stelsel vernietig word nie (2 Petrus 3:9). Dit was Jehovah wat sy eertydse volk aangespoor het: “Keer terug na My, en Ek [sal] na julle terugkeer.” Daardie selfde uitnodiging geld vandag nog.—Maleagi 3:7.
Die tyd raak kort, moet dus nie talm nie. Geniet weer saam met Jehovah se volk die ‘groot vrede van die wat God se wet liefhet’. “Vir hulle is daar geen struikelblok nie”, het die psalmis gesê (Psalm 119:165). Het jy Jehovah se wet hartgrondig lief? As jy ’n toegewyde kneg van God is, is dit waarom jy jou aan hom toegewy het. Niks—ja, absoluut niks—kan belangriker wees as om jou verhouding met Jehovah te herstel nie. Moet hom nie die rug toekeer nie. Dink goed en biddend oor die saak na. As jy die eenheid en hartlikheid van Jehovah se volk mis, is dit nie te laat om na Jehovah se organisasie terug te keer nie. Doen dit onmiddellik.