Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 10/1 bl. 8-13
  • “Jehovah, ’n barmhartige en genadige God”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Jehovah, ’n barmhartige en genadige God”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Opstandige seun verlaat die huis
  • Wanhoop in ’n ver land
  • Die verlore seun kom tot besinning
  • ’n Hartverblydende ontvangs
  • Volg Jehovah se barmhartigheid na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • ’n Hartlike verwelkoming vir die wat terugkeer
    Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Die verhaal van ’n verlore seun
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Hoe kan ek my lewe regkry?
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 10/1 bl. 8-13

“Jehovah, ’n barmhartige en genadige God”

“Jehovah, Jehovah, ’n barmhartige en genadige God, stadig tot toorn en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid en waarheid.”—EXODUS 34:6, NW.

1. (a) Watter vertroosting bied die Bybel vir diegene wat gesien het hoe geliefdes van ware aanbidding afdwaal? (b) Hoe beskou Jehovah oortreders?

“MY DOGTER het vir my gesê dat sy nie meer deel van die Christengemeente wil wees nie”, sê ’n Christenvader. “Ek het dae, weke, selfs maande daarna ’n knaende pyn in my liggaam gehad. Dit was erger as die dood.” Dit is inderdaad ontstellend om te sien hoe ’n geliefde van die pad van ware aanbidding afdwaal. Het dit al met jou gebeur? Indien wel, sal jy dit vertroostend vind om te weet dat Jehovah empatie vir jou het (Exodus 3:7; Jesaja 63:9). Maar hoe beskou hy hierdie oortreders? Die Bybel toon dat Jehovah hulle in sy barmhartigheid nooi om in sy guns herstel te word. Hy het die opstandige Jode in Maleagi se dag gesmeek: “Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer.”—Maleagi 3:7.

2. Hoe toon die Bybel dat barmhartigheid ’n inherente deel van Jehovah se persoonlikheid is?

2 God se barmhartigheid is op die berg Sinai onder Moses se aandag gebring. Daar het Jehovah homself as “’n barmhartige en genadige God, stadig tot toorn en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid en waarheid” geopenbaar (Exodus 34:6, NW). Hierdie verklaring beklemtoon die feit dat barmhartigheid ’n inherente deel van Jehovah se persoonlikheid is. Hy “wil hê dat almal tot berou moet kom”, het die Christenapostel Petrus geskryf (2 Petrus 3:9). God se barmhartigheid is natuurlik nie sonder perke nie. “Hy sal geensins vrystelling van straf gee nie”, is daar vir Moses gesê (Exodus 34:7, NW; 2 Petrus 2:9). Maar “God is liefde”, en barmhartigheid is ’n belangrike faset van daardie eienskap (1 Johannes 4:8; Jakobus 3:17). Jehovah sal sy “toorn nie vir ewig [vashou] nie”, en hy het “’n welbehae in goedertierenheid”.—Miga 7:18, 19.

3. Hoe het Jesus se beskouing van barmhartigheid verskil van dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs?

3 Jesus het sy hemelse Vader volmaak weerspieël (Johannes 5:19). Die feit dat hy oortreders met barmhartigheid behandel het, was nie ’n vergoeliking van hulle sondes nie, maar was ’n blyk van dieselfde tere gevoelens wat hy vir diegene gehad het wat liggaamlik siek was. (Vergelyk Markus 1:40, 41.) Ja, Jesus het barmhartigheid onder die “gewigtiger sake” van God se Wet gereken (Matteus 23:23). Kyk in teenstelling hiermee na die skrifgeleerdes en Fariseërs, wie se wettiese idees van geregtigheid barmhartigheid gewoonlik heeltemal verdring het. Toe hulle sien hoe Jesus met sondaars omgaan, het hulle gekla: “Hierdie man verwelkom sondaars en eet saam met hulle” (Lukas 15:1, 2). Jesus het sy beskuldigers met drie illustrasies beantwoord, wat elk God se barmhartigheid beklemtoon.

4. Watter twee illustrasies het Jesus vertel, en wat het elkeen toegelig?

4 Jesus het eerstens van ’n man vertel wat 99 skape laat staan het om na een te soek wat verlore was. Wat het hy toegelig? ‘Daar sal meer vreugde in die hemel wees oor een sondaar wat berou het as oor nege-en-negentig regverdiges wat geen berou nodig het nie.’ Daarna het Jesus van ’n vrou vertel wat na ’n verlore dragma gesoek het en haar verheug het toe sy dit vind. Hoe het hy dit toegepas? “[Daar ontstaan] vreugde onder die engele van God oor een sondaar wat berou het.” Jesus het sy derde illustrasie in die vorm van ’n gelykenis vertel.a Baie beskou dit as die beste kortverhaal wat nog vertel is. ’n Ondersoek van hierdie gelykenis sal ons help om God se barmhartigheid te waardeer en na te volg.—Lukas 15:3-10.

’n Opstandige seun verlaat die huis

5, 6. Hoe het die jonger seun in Jesus se derde illustrasie ’n skokkende gebrek aan waardering getoon?

5 “’n Sekere man het twee seuns gehad. En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: ‘Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom.’ Toe het hy sy middele vir lewensonderhoud tussen hulle verdeel. Later, nie baie dae daarna nie, het die jongste seun alles bymekaargemaak en na die buiteland gereis, na ’n ver land, en daar sy eiendom verkwis deur ’n losbandige lewe te lei.”—Lukas 15:11-13.b

6 Die jonger seun het hier ’n skokkende gebrek aan waardering getoon. Hy het eers sy erfenis geëis en dit toe verkwis “deur ’n losbandige lewe te lei”. Die uitdrukking “losbandige lewe” is ’n vertaling van ’n Griekse woord wat “wilde lewe” beteken. Een geleerde sê dat die woord “die algehele afwyking van beginsels uitdruk”. Die jong man in Jesus se gelykenis word tereg dikwels verlore genoem, ’n woord wat iemand beskryf wat sedelik afgedwaal het.

7. Wie is vandag soos die verlore seun, en waarom soek baie van hulle onafhanklikheid in “’n ver land”?

7 Is daar mense wat vandag soos die verlore seun is? Ja. ’n Betreklike klein aantal het ongelukkig die veilige “huis” van ons hemelse Vader, Jehovah, verlaat (1 Timoteus 3:15). Party van hulle voel dat God se huisgesin te beperkend is, dat Jehovah se waaksame oog eerder ’n hindernis as ’n beskerming is. (Vergelyk Psalm 32:8.) Neem byvoorbeeld een Christenvrou wat volgens Bybelbeginsels grootgemaak is, maar later alkohol en dwelms begin misbruik het. Wanneer sy terugkyk op daardie donker tyd in haar lewe, sê sy: “Ek wou bewys dat ek ’n beter lewe vir myself kon skep. Ek wou my eie kop volg, en niemand moes my van iets anders probeer oortuig nie.” Soos die verlore seun het hierdie jong vrou onafhanklikheid gesoek. Ongelukkig moes sy uit die Christengemeente gesit word as gevolg van haar onskriftuurlike gedrag.—1 Korintiërs 5:11-13.

8. (a) Watter hulp kan aangebied word aan diegene wat in stryd met God se standaarde wil lewe? (b) Waarom moet ’n mens jou keuse wat aanbidding betref deeglik oorweeg?

8 Dit is werklik hartverskeurend wanneer ’n medegelowige ’n begeerte openbaar om in stryd met God se standaarde te lewe (Filippense 3:18). Wanneer dit gebeur, probeer ouer manne en ander met geestelike bekwaamhede die oortreder reghelp (Galasiërs 6:1). Nogtans word niemand gedwing om die juk van Christendissipelskap op hom te neem nie (Matteus 11:28-30; 16:24). Wanneer jongmense groot word, moet selfs hulle ’n persoonlike besluit neem wat aanbidding betref. Op die ou end is elkeen van ons mense met wilsvryheid wat vir hulleself aan God rekenskap sal gee (Romeine 14:12). Ons sal natuurlik ook ‘maai wat ons saai’—’n les wat die verlore seun in Jesus se gelykenis gou sou leer.—Galasiërs 6:7, 8.

Wanhoop in ’n ver land

9, 10. (a) Hoe het die verlore seun se omstandighede verander, en wat het hy toe gedoen? (b) Lig toe hoe sommige wat vandag ware aanbidding verlaat in ’n soortgelyke benarde toestand as die verlore seun beland.

9 “Toe hy alles deurgebring het, het daar ’n swaar hongersnood dwarsdeur daardie land voorgekom, en hy het gebrek begin ly. Hy het hom selfs aan een van die burgers van daardie land gaan verbind, en hy het hom na sy veld gestuur om varke op te pas. En hy het begeer om versadig te word met die karobpeule wat die varke geëet het, en niemand het hom enigiets gegee nie.”—Lukas 15:14-16.

10 Hoewel die verlore seun behoeftig was, het hy dit nog nie oorweeg om terug te keer huis toe nie. In plaas daarvan het hy ’n burger ontmoet wat hom die werk gegee het om varke op te pas. Aangesien die Mosaïese Wet bepaal het dat varke onrein diere was, sou sulke werk waarskynlik onaanvaarbaar vir ’n Jood wees (Levitikus 11:7, 8). Maar as die verlore seun enige gewetenswroeging gehad het, moes hy dit onderdruk het. Hy kon tog nie verwag dat sy werkgewer, ’n plaaslike burger, hom kwel oor die gevoelens van ’n armsalige buitelander nie. Die benarde toestand van die verlore seun is soortgelyk aan die ondervinding van baie wat vandag die reguit pad van rein aanbidding verlaat. Sulke persone doen dikwels dinge wat hulle voorheen as verlagend sou beskou het. ’n Jong man het byvoorbeeld in opstand gekom teen sy Christelike opvoeding toe hy 17 was. “Onsedelikheid en dwelmmisbruik het jare se Bybelonderrig tot niet gemaak”, erken hy. Hierdie jong man het kort voor lank in die tronk beland weens gewapende roof en moord. Hoewel hy later geestelik herstel het, het hy ’n hoë prys vir “die tydelike genieting van sonde” betaal!—Vergelyk Hebreërs 11:24-26.

11. Hoe is die verlore seun se verknorsing vererger, en hoe het sommige vandag gevind dat die wêreld se aanloklikhede “leë bedrog” is?

11 Die verlore seun se verknorsing is vererger deur die feit dat ‘niemand hom enigiets gegee het nie’. Waar was sy nuutgevonde vriende? Noudat hy platsak was, was hy soos “’n voorwerp van haat” vir hulle (Spreuke 14:20, NW). Baie wat vandag van die geloof afdwaal, ontdek eweneens dat die aanloklikhede en beskouings van hierdie wêreld “leë bedrog” is (Kolossense 2:8). “Ek het baie pyn en hartseer ervaar sonder Jehovah se leiding”, sê ’n jong vrou wat God se organisasie ’n tyd lank verlaat het. “Ek het my by die wêreld probeer aanpas, maar omdat ek nie werklik soos ander was nie, het hulle my verwerp. Ek het soos ’n verlore kind gevoel wat ’n vader nodig gehad het om my te lei. Dit is toe dat ek besef het ek het Jehovah nodig. Ek wou nooit weer onafhanklik van hom lewe nie.” Die verlore seun in Jesus se illustrasie het tot ’n soortgelyke besef gekom.

Die verlore seun kom tot besinning

12, 13. Watter faktore het sommige vandag gehelp om tot besinning te kom? (Sien venster.)

12 “Toe hy tot besinning kom, het hy gesê: ‘Hoeveel huurlinge van my vader het brood in oorvloed, terwyl ek hier van die honger vergaan! Ek sal opstaan en na my vader toe reis en vir hom sê: “Vader, ek het teen die hemel en teen u gesondig. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maak my soos een van u huurlinge.”’ Hy het dus opgestaan en na sy vader toe gegaan.”—Lukas 15:17-20.

13 Die verlore seun het ‘tot besinning gekom’. Hy het hom ’n tyd lank aan die najaging van plesier oorgegee, asof hy in ’n droomwêreld gelewe het. Maar nou het hy intens bewus geword van sy ware geestelike toestand. Ja, al het hy geval, daar was nog hoop vir hierdie jong man. Iets goeds kon in hom gevind word. (Spreuke 24:16; vergelyk 2 Kronieke 19:2, 3.) Wat van diegene wat God se kudde vandag verlaat? Sal dit redelik wees om te dink dat daar geen hoop vir hulle is nie, dat hulle opstandige weg in elke geval bewys dat hulle teen God se heilige gees gesondig het? (Matteus 12:31, 32). Nie noodwendig nie. Sommige van hulle word deur hulle eiesinnige weg gepynig, en na verloop van tyd kom baie van hulle tot besinning. “Ek het nooit, selfs vir een dag, van Jehovah vergeet nie”, sê een suster met verwysing na die tyd toe sy buite God se organisasie was. “Ek het altyd gebid dat hy my eendag, op die een of ander manier, weer in die waarheid sou aanvaar.”—Psalm 119:176.

14. Wat het die verlore seun hom voorgeneem, en hoe het hy sodoende nederigheid aan die dag gelê?

14 Maar wat kan diegene wat afgedwaal het omtrent hulle situasie doen? In Jesus se gelykenis het die verlore seun besluit om terug huis toe te gaan en sy vader om vergifnis te smeek. “Maak my soos een van u huurlinge”, het die verlore seun hom voorgeneem om te sê. ’n Gehuurde kneg was ’n dagwerker wat ’n dag kennis gegee en afgedank kon word. Dit was selfs laer as ’n slaaf wat in ’n sekere sin soos ’n gesinslid was. Die verlore seun het dus nie in gedagte gehad om te vra dat hy tot sy voormalige posisie as ’n seun herstel word nie. Hy sou heeltemal bereid wees om die laagste posisie te aanvaar sodat hy sy hernieude lojaliteit van dag tot dag aan sy vader kon bewys. Maar daar het ’n verrassing op die verlore seun gewag.

’n Hartverblydende ontvangs

15-17. (a) Hoe het die vader gereageer toe hy sy seun sien? (b) Wat word aangedui deur die lang gewaad, ring en sandale wat die vader vir sy seun gegee het? (c) Wat leer ons uit die feit dat die vader ’n fees gereël het?

15 “Terwyl hy nog ’n hele ent weg was, het sy vader hom gesien en is hy deur medelye ontroer, en hy het gehardloop en hom om die hals geval en hom teer gesoen. Daarop het die seun vir hom gesê: ‘Vader, ek het teen die hemel en teen u gesondig. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maak my soos een van u huurlinge.’ Maar die vader het vir sy slawe gesê: ‘Maak gou! Bring ’n lang gewaad, die beste, en trek dit vir hom aan, en sit ’n ring aan sy hand en sandale aan sy voete. En bring die vetgemaakte jong bul, slag dit en laat ons eet en vrolik wees, want hierdie seun van my was dood en het weer lewend geword; hy was verlore en is gevind.’ En hulle het vrolik begin word.”—Lukas 15:20-24.

16 Enige liefdevolle ouer sal gretig uitsien na die geestelike herstel van ’n kind. Ons kan ons dus net voorstel hoe die vader van die verlore seun elke dag in die paadjie na sy huis afgekyk het en verlangend gehoop het dat sy seun sou terugkeer. Nou sien hy sy seun wat in die paadjie opkom! Sy seun se voorkoms het ongetwyfeld verander. Tog herken sy vader hom terwyl hy “nog ’n hele ent weg was”. Hy sien meer as net die verflenterde klere en neerslagtige gees; hy sien sy seun, en hy hardloop hom tegemoet!

17 Toe die vader by sy seun kom, het hy hom om die hals geval en hom teer gesoen. Toe het hy sy slawe beveel om vir sy seun ’n lang gewaad, ’n ring en sandale te gee. Hierdie lang gewaad was nie sommer enige kledingstuk nie, maar “die beste”—miskien ’n ryklik geborduurde kleed wat gewoonlik aan ’n geëerde gas gegee word. Aangesien slawe nie gewoonlik ’n ring en sandale gedra het nie, het die vader dit duidelik gemaak dat sy seun as ’n volwaardige gesinslid terugverwelkom word. Maar die vader het selfs meer gedoen. Hy het beveel dat ’n fees gehou word om die terugkeer van sy seun te vier. Dit is duidelik dat hierdie man sy seun nie teësinnig vergewe het of bloot omdat die terugkeer van sy seun hom verplig het om dit te doen nie; hy wou hom vergewe. Dit het hom verheug.

18, 19. (a) Wat leer die gelykenis van die verlore seun jou omtrent Jehovah? (b) Hoe wag Jehovah “gretig” op ’n sondaar se terugkeer, soos gesien kan word uit sy handelinge met Juda en Jerusalem?

18 Wat leer die gelykenis van die verlore seun ons tot dusver omtrent die God wat ons bevoorreg is om te aanbid? Eerstens dat Jehovah ‘barmhartig en genadig, stadig tot toorn en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid en waarheid’ is (Exodus 34:6, NW). Barmhartigheid is inderdaad een van God se uitstaande eienskappe. Dit is hoe hy gewoonlik teenoor mense optree wat hulp nodig het. Jesus se gelykenis leer ons dus dat Jehovah “vergewensgesind” is (Psalm 86:5). Hy is as ’t ware op die uitkyk na enige verandering in die gesindheid van sondige mense wat vir hom ’n grondslag sal voorsien om barmhartigheid te betoon.—2 Kronieke 12:12; 16:9.

19 Dink byvoorbeeld aan God se handelinge met Israel. Die profeet Jesaja is deur Jehovah geïnspireer om te sê dat Juda en Jerusalem ‘siek is van die voetsool af tot die hoof toe’. Maar hy het ook gesê: “Die Here [is] gretig om julle genadig te wees en [Hy wil] Hom oor julle ontferm” (Jesaja 1:5, 6; 30:18, NAV; 55:7; Esegiël 33:11). Soos die vader in Jesus se gelykenis, hou Jehovah die ‘paadjie’ as ’t ware dop. Hy wag gretig op die terugkeer van enigeen wat sy huis verlaat het. Is dit nie wat ons van ’n liefdevolle vader sou verwag nie?—Psalm 103:13.

20, 21. (a) Waartoe beweeg God se barmhartigheid baie vandag? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

20 Baie word elke jaar deur Jehovah se barmhartigheid beweeg om tot besinning te kom en na ware aanbidding terug te keer. Hoeveel vreugde verskaf dit hulle geliefdes tog! Neem byvoorbeeld die Christenvader wat aan die begin gemeld is. Sy dogter het gelukkig geestelik herstel en dien nou as ’n voltydse bedienaar. “Ek is so gelukkig soos wat enigeen in hierdie ou stelsel van dinge kan wees”, sê hy. “My trane van droefheid is in trane van vreugde verander.” Jehovah verheug hom beslis ook!—Spreuke 27:11.

21 Maar dit is nie die einde van die gelykenis van die verlore seun nie. Jesus het sy verhaal voortgesit sodat hy die kontras kon uitwys tussen Jehovah se barmhartigheid en die onbuigsame, veroordelende houding wat algemeen was onder die skrifgeleerdes en Fariseërs. Hoe hy dit gedoen het—en wat dit vir ons beteken—sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a Gelykenisse en ander illustrasies in die Bybel het nie noodwendig in die werklike lewe plaasgevind nie. Wat meer is, aangesien die doel van hierdie verhale is om ’n sedeles oor te dra, is dit nie nodig om ’n simboliese betekenis in elke besonderheid te soek nie.

b Die profetiese betekenis van hierdie gelykenis word in Die Wagtoring van 15 Februarie 1989, bladsye 16, 17, bespreek.

Ter hersiening

◻ Hoe het Jesus se gesindheid ten opsigte van barmhartigheid verskil van dié van die Fariseërs?

◻ Wie is vandag soos die verlore seun, en hoe is hulle soos hy?

◻ Watter omstandighede het die verlore seun tot besinning gebring?

◻ Hoe het die vader barmhartigheid aan sy berouvolle seun bewys?

[Venster op bladsy 11]

HULLE HET TOT BESINNING GEKOM

Wat het sommige wat vroeë uit die Christengemeente gesit is, gehelp om tot besinning te kom? Die volgende kommetare werp lig op die saak.

“In my hart ek nog steeds geweet waar die waarheid is. Jare se Bybelstudie en bywoning van Christelike vergaderinge het ’n groot invloed op my gehad. Hoe kon ek Jehovah enigsins langer ignoreer? Hy het my nie verlaat nie; ek het hom verlaat. Ek het uiteindelik erken hoe verkeerd en hardkoppig ek was en dat Jehovah se Woord al die tyd reg was—‘jy maai wat jy saai.’”—C.W.

“My babadogtertjie het begin praat, en dit het my hart geraak, aangesien ek haar dinge wou leer, soos wie Jehovah is en hoe om tot hom te bid. Ek kon nie slaap nie, en laat een aand het ek na ’n park gery en net gehuil. Ek het gehuil en vir die eerste keer in ’n lang tyd tot Jehovah gebid. Al wat ek geweet het, was dat ek Jehovah weer in my lewe nodig gehad het, en ek het gehoop dat hy my kon vergewe.”—G.H.

“Wanner ons oor godsdiens begin praat het, het ek vir mense gesê dat ek een van Jehovah se Getuies sou word as ek die godsdiens moes kies wat die waarheid leer. Dan het ek gesê dat ek een van hulle was, maar ek kon nie die standaarde naleef nie, en daarom het ek hulle verlaat. Omdat ek dit besef het, het ek dikwels skuldig en ongelukkig gevoel. Ek het uiteindelik erken: ‘Ek voel ellendig. Ek moet drastiese veranderinge aanbring.’”—C.N.

“Ek en my man is vyf-en-dertig jaar gelede uitgesit. In 1991 is ons aangenaam verras toe twee ouer manne ons besoek het en ons vertel het van die moontlikheid om na Jehovah terug te keer. Ses maande later was ons oorstelp van vreugde toe ons herstel is. Ek en my man is onderskeidelik 63 en 79 jaar oud.”—C.A.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel