Behou ’n positiewe gesindheid
DIT was ’n oggend in die vroeë somer. Maar die Midde-Oosterse son het reeds helder geskyn toe ’n vader ontstellende nuus ontvang het. Sy oudste seun, 22 jaar oud, het gedurende die nag in ’n motorongeluk omgekom.
Hoe sou jy op daardie nuus gereageer het? Omdat die gesinslede so geheg aan mekaar was, soos hulle in die Midde-Ooste is, was die ouers inderdaad ontsteld. ’n Mens sou verwag dat hulle baie bitter sou word as gevolg van hierdie skielike tragedie. Maar tot die verbasing van die gemeenskap, het hulle ’n positiewe gesindheid geopenbaar, selfs op daardie eerste dag. Hoewel hulle baie hartseer was, het hulle volle vertroue gehad in Jehovah se vermoë om hulle seun op Sy vasgestelde tyd op te wek. Hulle het uitgesien na God se beloofde nuwe stelsel waar ‘daar geen dood meer sal wees nie’ (Openbaring 21:4). Selfs vandag, jare later, praat mense wat daardie gesin ken nog van die ouers se gesindheid en hulle voorbeeldige geloof.
Wat beteken dit om ’n positiewe gesindheid te hê? ’n Positiewe persoon bly gebalanseerd ondanks veranderende omstandighede. Selfs onder moeilike omstandighede raak hy nie versuur en laat hy nie toe dat negatiewe gedagtes die botoon voer nie. Hoe is dit moontlik? Kom ons beskou enkele Bybelse voorbeelde om ’n paar antwoorde te vind.
Wanneer mensevrees ontstaan
In die jaar 1512 v.G.J., terwyl die nasie Israel in die woestyn Paran was, het Moses 12 verkenners uitgestuur om die Beloofde Land te bespied (Numeri 13:17-20). Al die verkenners was owerstes in hulle stamme—invloedryke manne wat veronderstel was om goeie voorbeelde te wees (Numeri 13:1, 2). Maar wat ’n jammerte! Na 40 dae het tien van hulle so ’n ongunstige verslag gelewer dat die Israeliete teen Jehovah se leiding in opstand gekom het en na Egipte wou terugkeer! “Die volk wat in die land woon, is sterk”, het die verkenners gesê. “Ons kan nie teen die volk optrek nie.”—Numeri 13:28, 31.
Wat ’n negatiewe gesindheid tog! En wat ’n teenstelling met die positiewe gesindheid van Josua en Kaleb, die ander twee verkenners: “Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ’n buitengewoon goeie land. As die HERE ’n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning” (Numeri 14:7, 8; 13:30). Albei groepe het dieselfde dinge gesien toe hulle die land bespied het. Maar wat ’n verskil in gesindheid tog! Die negatiewe gesindheid van die tien verkenners het die hele nasie beïnvloed en hulle het begin murmureer. Dit het daartoe gelei dat almal wat ouer as 20 jaar was in die woestyn gesterf het. Slegs Josua en Kaleb het, danksy hulle positiewe vertroue in Jehovah, die voorreg gehad om die Beloofde Land binne te gaan (Numeri 14:22-30). Hulle voorbeeld moet ons aanspoor om vandag getrou te bly en ’n positiewe gesindheid te behou wanneer vervolging of teenstand ontstaan of toeneem.
In ’n land waar die werk baie jare al verbied is, is ’n spesiale pionier in die tronk gesit en baie sleg behandel. Hy onthou: “Hoe hardvogtiger die offisiere geword het, des te nader het ek aan Jehovah gevoel. Ek het Koninkryksliedere gesing. Ek het aan al die tekste gedink wat ek geken het. Ek het besef dat, hoewel Jehovah toelaat dat dit gebeur, hy my—enige oomblik—kon vrystel. Al hierdie dinge het my gehelp om ’n positiewe gesindheid te hê. Soos die apostels, was ek bly om ter.wille van Jehovah se almagtige naam geslaan te word. Ek het voortdurend tot Jehovah gebid om my te versterk. Hy het my gehelp sodat net die eerste hou seer was. Ek het elke geleentheid benut om vir die ander gevangenes te preek.”
Na sy ontslag uit die tronk het hierdie Christen gesê: “Aangesien ons ons lewe aan Jehovah toegewy en beloof het om aan hom getrou te bly, moet ons voortgaan om hom ondanks enige moeilikhede te dien. Hy verdien ons aanbidding en volle toewyding.”
Ons kan ook in die toekoms voor soortgelyke teenstand te staan kom. Laat ons net so vasbeslote wees om geen mensevrees te hê nie. Behou ’n positiewe gesindheid, en ons sal, soos Josua en Kaleb, talle seëninge en beloninge ontvang.
Wanneer diensvoorregte verloor word
Moses, as leier van die nasie Israel, was die een wat die 12 verkenners uitgestuur het. Hy het die nasie uit Egipte gelei en ongetwyfeld verwag dat hy hulle die Beloofde Land sou inlei. Moses het egter daardie voorreg verloor toe hy, in ’n oomblik van toorn, versuim het om Jehovah se naam te verheerlik (Numeri 20:2-13). Hoe het Moses toe gereageer? In ’n lied wat hy later gekomponeer het, het hy gesê: “Die Naam van die HERE roep ek uit . . . Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ’n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy” (Deuteronomium 32:3, 4). Wat ’n positiewe gesindheid het Moses tog gehad, hoewel hy ’n belangrike diensvoorreg verloor het!
As ons ooit voor ’n soortgelyke situasie te staan kom, sal dit ons help as ons hierdie ondervinding van Moses onthou. Dit mag gebeur dat ’n liggaam van ouere manne in ’n gemeente aanbeveel dat ’n ouere man of ’n bedieningskneg van sy amp onthef word, miskien omdat hy nou een of meer van die Skriftuurlike vereistes vir hierdie diensvoorreg kortkom. Die broer kan meen dat hy nie verdien het om van sy amp onthef te word nie, hy kan omgekrap raak en onnodige versteuring veroorsaak. As hy ’n negatiewe gesindheid het, kan hy begin murmureer, met ander foutvind, selfs skinder. Uiteindelik kan hy ophou om vergaderinge by te woon en aan die predikingswerk deel te neem. Wat ’n slegte toestand om in te verval! Hoeveel beter is dit tog om ’n positiewe gesindheid te behou en die ontheffing van sy amp te beskou as dissipline of opleiding om ’n beter kneg van Jehovah te word. Hy kan die geleentheid benut om te studeer en oor God se Woord te peins ten einde weer aan die nodige vereistes te voldoen om Hom ten volle te dien. Talle wat dit gedoen het, is later met selfs groter diensvoorregte geseën.—Hebreërs 12:11.
Wanneer onverwagte veranderinge plaasvind
Die lewe is vol onverwagte veranderinge wat party kan teleurstel en negatief kan laat word. Hoe het jy gereageer laas toe iets nie so goed verloop het soos jy gehoop het nie? Selfs onbeduidende gebeure kan ons ontmoedig as ons dit toelaat. Maar moet nooit vergeet nie: As jy ’n positiewe gesindheid behou, sal dit jou help om die veranderde situasie beter te hanteer.
Rut is ’n goeie voorbeeld om te onthou. Sy was jonk toe sy ’n weduwee geword het en het saam met haar skoonmoeder, Naomi, na Israel teruggekeer toe die hongersnood aldaar afgeneem het. Hoewel sy nie ’n man gehad het om selfs die lewensmiddele te voorsien nie, het Rut nietemin ’n positiewe gesindheid behou. Sy het blymoedig uitgegaan en ná die oesters are in die lande gaan optel sodat sy en haar skoonmoeder voedsel sou hê. Die harde werk het haar nie ontmoedig nie. Sy het nie ’n negatiewe gesindheid aangeneem en gekla oor die feit dat sy haar man verloor het en so ver van haar familie en vriende was nie. En die verslag toon dat Jehovah haar ryklik beloon het vir haar voortreflike handelwyse.—Rut 4:13-17.
Hoe om ’n positiewe gesindheid te behou
Dit is vir party moeilik om ’n positiewe gesindheid te behou. Die sorge van die lewe, veral in die veelbewoë tye waarin ons lewe, kan ’n mens jou vreugde ontneem—veral wanneer daar knaende probleme is. Maar ’n mens kan selfs onder ongunstige omstandighede ’n positiewe gesindheid behou. Talle het dit in die allermoeilikste situasies gedoen. Hoe kan ons dit ook doen?
Probeer om nie oor negatiewe dinge te tob nie. Selfs onder uiters moeilike omstandighede kan positiewe aspekte gevind word. Die apostels is dikwels vervolg of in die tronk gesit, maar hulle was nietemin bly dat hulle Jehovah kon loof (Handelinge 13:50-52; 14:19-22; 16:22-25). Ons kan nadink oor wat hulle en ander getroue knegte van Jehovah tydens beproewinge gedoen het en kyk of daar lesse vir ons is. Waarom was hulle so blymoedig en positief? Omdat hulle volkome vertroue en geloof in Jehovah gehad het. Hulle het vertrou op Jehovah se vermoë om hulle op te wek en te beloon (Openbaring 2:10). Hou eweneens jou hoop op Jehovah se regverdige nuwe stelsel helder in gedagte.—Vergelyk Hebreërs 12:2.
Ons moet onsself ook voortdurend noukeurig ondersoek sodat negatiewe denke nie ons hart binnedring en daar wortelskiet nie. Hoe voordelig is dit tog om na aan Jehovah te bly en om sy hulp te bid wanneer ons mismoedig raak! (Psalm 62:9). Ons kan ook die ouere manne om opbouende hulp nader. Kweek nederigheid en gehoorsaamheid aan (Psalm 119:69, 70). Stel heilsame, bereikbare lewensdoelwitte. Al hierdie voorstelle sal ons help om ’n positiewe gesindheid te behou en die “vrede van God” te hê wat ‘ons hart en ons sinne sal bewaar’.—Filippense 4:6, 7.
Dit is weliswaar nie altyd maklik om ’n positiewe gesindheid te hê nie. Maar as ons ons ywerig daarop toelê en deur sterk geloof beweeg word, kan ons so ’n gesindheid aankweek. Wat ons omstandighede ook al is, laat ons almal dus vasbeslote wees om ’n positiewe uitkyk te behou. Dit sal nooit ’n verlies vir ons beteken nie, maar sal eerder nou sowel as in die toekoms talle aangename beloninge meebring.
[Prent op bladsy 29]
Behou ’n positiewe gesindheid en jy sal talle seëninge en beloninge ontvang