“Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan”
IN PSALM 19 loof Dawid die heerlikheid van God se fisiese skepping en spreek hy voorts innige waardering uit vir Jehovah se wet, vermanings, bevele, gebooie en regterlike beslissings. Die apostel Paulus het ook waardering vir hierdie dinge getoon. Hy het uit hierdie psalm aangehaal en dit ’n grotere toepassing op die lewensbelangrike werk van ware Christene gegee. Hy het van hulle gesê: “Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde.”—Romeine 10:18.
Hierdie “woorde” is vandag van lewensbelang vir die hele mensdom, want Jehovah se regterlike beslissings gaan binnekort aan die goddelose stelsel van dinge op aarde voltrek word (Sefanja 2:2, 3, NW; 3:8, NW). Die mensdom moet beslis die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk hoor. Waar jy ook al vandag kyk, is daar verdeeldheid, wetteloosheid, misdadigheid, onsedelikheid, verbroke gesinne. O ja, daar is vredespraatjies, maar die groot moondhede bou steeds wapens wat meer gevorderd as ooit tevore is, terwyl die lidmaatskap van die ‘kernklub’ altyd tot meer nasies uitbrei. Toestande op aarde strook duidelik met “die laaste dae” wat deur Paulus in 2 Timotheüs 3:1-5 beskryf word.
Wie sal uit hierdie moeilikhede gered word, en hoe? Paulus antwoord duidelik deur die profesie in Joël 2:32 aan te haal: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Romeine 10:13). Maar hoe kan die volke op aarde “die Naam van die Here aanroep”? Baie weet nie eers dat God se naam Jehovah is nie! Hoe kan hierdie mense gehelp word? Paulus antwoord dat predikers na hulle gestuur moet word.—Romeine 10:14-16.
Gelukkig het Jehovah sy Getuies uitgestuur om die mense in te lig dat God se Koninkryk ophande is en dat dit redding sal beteken wat tot die ewige lewe sal lei vir diegene wat God en sy Seun, Jesus Christus, leer ken (Jesaja 43:10, 12; Lukas 21:25, 26, 31; Johannes 17:3). Hierdie goeie nuus word “oor die hele aarde” verkondig.
Miljoene slaan ag op hierdie predikingswerk, soos blyk uit die 9 201 071 wat wêreldwyd die vergadering bygewoon het wat Jesus se dood op 1 April 1988 herdenk het. Gedurende daardie jaar is ’n hoogtepunt van 3 592 654 Koninkryksverkondigers vir die wêreldveld bereik, en 239 268 nuwe bedienaars is gedoop—’n vermeerdering van 3,6 persent vergeleke met die vorige jaar. Getroue sendelinge het baie van die voorbereidingswerk vir hierdie vermeerdering gedoen, soos later in hierdie tydskrif bespreek word. Maar in die laaste jare het honderdduisende plaaslike Getuies, diegene wat ‘geloof gestel het in die dinge wat hulle gehoor het’, ook die pioniergees geopenbaar, en hulle ‘verkondig daagliks die evangelie van die goeie’. ’n Gemiddelde van 455 561 Getuies het as pioniers gerapporteer, ’n vermeerdering van 4,4 persent vir die jaar. Gevolglik is ’n groottotaal van 785 521 697 uur aan die predikingswerk bestee, meer as dubbel soveel ure as net 6 jaar gelede.
Die tabel op die volgende vier bladsye van hierdie tydskrif toon breedvoerig hoe omvangryk daardie predikingswerk is. Ons nooi jou om hierdie verslag oor 1988 se wêreldwye Christenbedrywigheid te bestudeer.
[Tabel op bladsy 4-7]
WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1988-DIENSJAAR
(See bound volume)