Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 12/1 bl. 15-20
  • Jehovah beloon geloof en moed

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah beloon geloof en moed
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geloof en moed word op die proef gestel
  • Onverskrokkenheid om Nebukadnesar se drome uit te lê
  • ‘Die krag van vuur uitgeblus’
  • Nog ’n voorbeeld van geloof en moed
  • Getoets—Maar getrou aan Jehovah!
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Toe Jehovah heersers lesse geleer het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Glanspunte uit die boek Daniël
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Die boek Daniël en jy
    Gee ag op Daniël se profesie!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 12/1 bl. 15-20

Jehovah beloon geloof en moed

“Ons God wat ons dien, [kan] ons verlos. Uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, sal hy ons verlos.”—DANIËL 3:17, NW.

1. Watter les is in die vorige artikel beklemtoon, en waarom kan dit voordelig wees om die gebeure te hersien?

JEHOVAH GOD, die Universele Soewerein, het wêreldheersers belangrike lesse aangaande sy oppermag geleer. In die vorige artikel het ons gesien hoe dit waar was van gevalle wat in die eerste ses hoofstukke van die boek Daniël 1–6 opgeteken is. Ons kan nou hierdie selfde verslae hersien om te sien wat ons daaruit kan leer in ooreenstemming met die geïnspireerde woorde van die apostel Paulus: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.”—Romeine 15:4.

2, 3. Wie was onder koning Nebukadnesar se gevangenes, en wat kan ons uit die betekenis van hulle name aflei?

2 Dit was in die jaar 617 v.G.J., gedurende die kortstondige bewind van Jojagin, die seun van koning Jojakim, dat koning Nebukadnesar beveel het dat ’n paar van die beste en verstandigste Joodse jeugdiges na Babilon gebring moet word. Onder hulle was Daniël, Hananja, Misael en Asarja.—Daniël 1:3, 4, 6.

3 Te oordeel na die betekenis van hulle name is dit baie duidelik dat hierdie vier Hebreeuse jeugdiges ten spyte van die goddelose toestande in destydse Juda godvresende ouers gehad het. “Daniël” beteken “My regter is God”. Hananja se naam beteken “Jehovah het guns betoon; Jehovah was genadig”. Misael se naam beteken moontlik “Wie is soos God?” of “Wie behoort aan God?” En Asarja se naam beteken “Jehovah het gehelp”. Ongetwyfeld was hulle name op sigself vir hulle ’n aansporing om aan die enigste ware God getrou te wees. Pleks van hierdie name te gebruik, het die Chaldeërs die vier Hebreeuse jeugdiges Beltsasar, Sadrag, Mesag en Abednego genoem. As slawe van ’n buitelandse moondheid het hulle natuurlik geen keuse gehad oor die name waarby hulle gevangenemers hulle genoem het nie.—Daniël 1:7.

Geloof en moed word op die proef gestel

4. Wat toon dat Jehovah wou hê dat sy volk sy wette aangaande rein en onrein diere ernstig moes opneem?

4 Die vier Hebreërs se godvresende ouers het hulle nie net ’n goeie begin in die lewe gegee deur die name wat hulle hulle gegee het nie, maar het hulle seker ook streng volgens die Wet van Moses, met inbegrip van die wette oor dieet, grootgemaak. Jehovah God self het hierdie wette so belangrik geag dat hy ’n lys van talle soortgelyke verbooie gegee en toe gesê het: “Julle [moet] dan heilig wees, omdat Ek heilig is.”—Levitikus 11:44, 45.

5. Hoe is die goeie opvoeding van die vier Hebreeuse jeugdiges op die proef gestel?

5 Hierdie vier Hebreeuse jeugdiges se goeie opvoeding is weldra op die proef gestel. Hoe? Omdat daar vir hulle “’n daaglikse porsie bestem [is] uit die spys van die koning en van die wyn wat hy gedrink het” (Daniël 1:5). Hulle het geweet dat die Wet van Moses onder andere voedselsoorte soos varke, hase, oesters en palings verbied het. Selfs vleissoorte wat deur die Wet toegelaat is, was twyfelagtig aan die Babiloniese hof, aangesien dit onmoontlik was om vas te stel of dit behoorlik gebloei is. Buitendien is sulke vleis heel moontlik deur heidense rituele ontreinig.—Levitikus 3:16, 17.

6. Hoe het die vier Hebreërs op die toets gereageer?

6 Wat kon die vier Hebreërs doen? Ons lees dat Daniël, en ongetwyfeld ook die ander drie, hom in sy hart voorgeneem het om hom nie met sulke voedselsoorte te verontreinig nie. Daarom het hy gewone groente pleks van die koning se lekkernye en water in plaas van sy wyn “bly versoek”. Die kwessie van wat beter gesmaak het, het nie by hulle opgekom nie. Dit het beslis geloof en moed geverg om hierop aan te dring. Aangesien Jehovah in hierdie vier jeugdiges belanggestel het, het hy gesorg dat die owerste van die hofdienaars Daniël goedgesind was. Maar hierdie amptenaar wou nie aan Daniël se versoek voldoen nie, omdat hy bang was dat so ’n dieet nadelig sou wees vir Daniël se gesondheid. Daniël het dus gevra dat hulle toegelaat word om hierdie dieet tien dae lank op die proef te stel. Hy het sterk geloof gehad dat gehoorsaamheid aan God se Wet nie net vir hom ’n goeie gewete sou gee nie, maar ook gesondheidsvoordele sou inhou. Die vier Hebreërs moes ongetwyfeld baie bespotting verduur weens hulle standpunt.—Daniël 1:8-14; Jesaja 48:17, 18.

7. Hoe is daardie Hebreeuse jeugdiges vir hulle moedige standpunt beloon?

7 Dit het geloof en moed van die vier Hebreërs geverg om ’n geskilpunt van hulle voedsel te maak. Maar hoe is hulle tog nie daarvoor beloon nie, want aan die einde van die tien dae het hulle beter en gesonder as al die ander gelyk! Jehovah het hulle kennis, insig en wysheid gegee, sodat die koning, toe hulle aan die einde van hulle opleidingstydperk van drie jaar voor hom verskyn het, bevind het dat hulle “al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het”.—Daniël 1:20.

8. Watter les bevat dit vir Jehovah se hedendaagse knegte?

8 Dit bevat ’n les vir alle hedendaagse knegte van Jehovah God. Daardie Hebreeuse jeugdiges kon geredeneer het dat die dieetkundige beperkings van die Mosaïese Wet nie so belangrik was nie, altans nie vergeleke met die Tien Gebooie of die wette aangaande offerandes of die jaarlikse feeste nie. Maar nee, dit was vir die lojale Hebreërs ’n saak van erns om alle aspekte van God se Wet na te leef. Dit herinner ons aan die beginsel wat Jesus in Lukas 16:10 gemeld het: “Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.”—Vergelyk Mattheüs 23:23.

9. Hoe het sommige Getuies vandag soortgelyke moed geopenbaar?

9 Jehovah se Getuies openbaar dikwels soortgelyke geloof en moed, soos wanneer hulle hul werkgewers moet vra om tyd vry te kry om ’n streekbyeenkoms by te woon. En keer op keer word ’n uitsondering vir hulle gemaak. Getuies wat die pionierdiens wou betree of hulppioniers wou word, het nie geskroom om ’n deeltydse werk te vra nie en het telkens hierdie voorreg ontvang.

10. Watter les bevat hierdie gebeure vir Getuie-ouers?

10 Watter goeie les kan hedendaagse godvresende ouers tog uit die klaarblyklike opleiding van die vier Hebreeuse jeugdiges leer! Wanneer Christenouers werklik die geestelike belange van hulle kinders op die hart dra, sal hulle dit die voorkeur in hulle eie lewe gee, in ooreenstemming met Mattheüs 6:33. Dan sal hulle rede hê om te verwag dat hulle kinders weerstand sal kan bied aan portuurs en onderwysers se versoekings en druk om hulle verjaardae of vakansiedae te laat vier of Skriftuurlike beginsels op ander maniere te laat skend. Hierdie godvresende ouers bewys sodoende dat Spreuke 22:6 waar is.

Onverskrokkenheid om Nebukadnesar se drome uit te lê

11. Hoe kan ons vandag die voorbeelde van Daniël en sy drie vriende volg?

11 Die tweede hoofstuk van Daniël gee ons nog ’n voorbeeld van geloof en moed. Het Daniël en sy drie metgeselle paniekerig geraak toe Daniël gehoor het van die koning se bevel om al die wyse manne van Babilon dood te maak omdat hulle nie vir hom kon sê wat sy droom en die betekenis daarvan was nie? Hoegenaamd nie! Daniël het eerder, met volle geloof dat Jehovah hom die inligting sou gee wat die koning wou hê, voor daardie heerser verskyn en hom tyd gevra om die antwoord te voorsien. Hierdie versoek is toegestaan. Toe het Daniël en sy drie vriende die aangeleentheid ’n saak van ernstige gebed gemaak. Jehovah het hulle geloof beloon deur die nodige inligting te verskaf. Vervolgens het Daniël ’n hartgrondige dankgebed tot Jehovah gerig (Daniël 2:23). En toe Daniël die droom in Da hoofstuk 4 uitgelê het, moes hy vir koning Nebukadnesar sê dat hy sewe jaar lank soos ’n dier saam met wilde diere sou lewe. Dit het die soort geloof en moed geverg wat God se volk vandag aan die dag moet lê wanneer hulle die kragtige boodskap van Sy wraak teen Satan se wêreld verkondig.

‘Die krag van vuur uitgeblus’

12, 13. Watter toets waarvoor Daniël se drie vriende te staan gekom het, word in hoofstuk 3 van Daniël beskryf?

12 Daniël hoofstuk 3 meld een van die uitsonderlikste gevalle in die Bybelverslag wat toon hoe Jehovah die verbasende geloof en moed van drie Hebreeuse knegte beloon het. Stel jou die toneel voor. Al die hoogwaardigheidsbekleërs van Babilon het in die dal Dura byeengekom. Voor hulle staan ’n goue beeld wat sowat 27 meter hoog en 2,7 meter breed is. Die koning het ’n orkes byderhand om hulle emosies op te wek. Sodra hulle die geluid van die musiek hoor, moet die skare “neerval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnesar opgerig het. En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word”.—Daniël 3:5, 6.

13 Dit ly geen twyfel nie: Groot geloof en moed was nodig om te weier om daardie bevel te gehoorsaam. Maar ‘getrouheid in die minste’ het hulle voorberei om “in die grote getrou” te wees. Die feit dat hulle standpunt ander Jode in gevaar kon stel, was nie ter sake nie. Hulle sou hulle nie neerbuig en die beeld aanbid nie. Party van hulle afgunstige mede-amptenare het hulle opsigtelike weiering raakgesien en sonder versuim vir die koning daarvan gaan vertel.

14. Hoe het Nebukadnesar gereageer op hulle weiering om hulle neer te buig, en hoe het hulle op sy ultimatum geantwoord?

14 Nebukadnesar het, “toornig en woedend”, beveel dat die drie Hebreërs voor hom gebring moet word. Sy vraag: “Is dit werklik so?” toon dat hy nie kon begryp waarom hulle geweier het om hulle neer te buig en die goue beeld te aanbid nie. Hy was bereid om hulle nog ’n kans te gee, maar as hulle steeds geweier het, sou hulle in die brandende vuuroond gegooi word. “En”, het Babilon se hoogmoedige heerser gesê, “wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?” Met ware moed en geloof in Jehovah het die drie Hebreërs die koning eerbiedig geantwoord: “Dit is vir ons nie noodsaaklik om hieromtrent vir u ’n woord terug te sê nie. As dit moet, kan ons God wat ons dien, ons verlos. Uit die brandende vuuroond . . . , o koning, sal hy ons verlos. Maar so nie, laat dit u bekend word, o koning, dat ons u gode nie dien nie, en die goue beeld wat u opgerig het, sal ons nie aanbid nie.”—Daniël 3:13-18, NW.

15. Wat het Nebukadnesar gedoen?

15 Waar Nebukadnesar voorheen kwaad was, was hy nou woedend, want ons lees dat ‘sy gelaatstrekke verander het teenoor’ die drie Hebreërs (Daniël 3:19). Sy bevel om die oond sewe maal warmer as gewoonlik te maak, toon hoe woedend hy was. Toe het sekere sterk manne in sy leër die drie Hebreërs geneem en hulle in die vuuroond gegooi. Die vlamme was so erg dat die manne wat hierdie taak uitgevoer het daardeur gedood is.

16. Hoe is die geloof van die drie Hebreërs beloon?

16 Maar wat ’n verrassing was dit tog vir die koning toe hy nie net drie nie, maar vier manne heeltemal ongeskonde in die middel van die vuur sien rondloop het! Toe die koning die drie Hebreërs beveel het om uit te kom, het hy gevind dat nie ’n haar van hulle koppe geskroei was nie en dat die reuk van rook nie eens aan hulle klere was nie. Hoe ryklik het Jehovah hulle geloof en moed tog beloon! Die apostel Paulus het ongetwyfeld hulle voorbeeld in gedagte gehad toe hy diegene wat “die krag van vuur uitgeblus” het as ’n deel van die groot wolk van getuies beskryf het (Hebreërs 11:34). Wat ’n goeie voorbeeld was hulle tog sedertdien vir alle knegte van Jehovah!

17. Watter goeie, soortgelyke voorbeelde het ons vandag?

17 Vandag staan Jehovah se knegte nie voor die bedreiging van ’n letterlike vuuroond nie. Maar baie se onkreukbaarheid is al in hoë mate op die proef gestel ten opsigte van godsdienstige eerbetoning aan volksimbole. Ander se lojaliteit is op die proef gestel wat die koop van politieke partykaarte of militêre diens betref. Jehovah het al sulke persone versterk en hulle in staat gestel om die toets van hulle onkreukbaarheid die hoof te bied en sodoende te bewys dat die Duiwel ’n leuenaar en Jehovah die ware God is.

Nog ’n voorbeeld van geloof en moed

18. Hoe het Belsasar volgens die verslag in Daniël hoofstuk 5, verse 3, 4, Jehovah, die God van die Jode, geminag?

18 Nog ’n voorbeeld van geloof en moed is in die boek Daniël, in hoofstuk 5, opgeteken. Belsasar, koning van Babilon, het ’n oordadige, ontheiligende feesmaal saam met duisend van sy maghebbers, vroue en byvroue geniet. Skielik het vreemde skrif teen die muur verskyn. Dit het die koning dermate ontsenu dat sy heupgewrigte losgeraak en sy knieë teen mekaar geslaan het. Daniël, die kneg van die ware God, is weer eens gevra om dit uit te lê, aangesien al die wyse manne van Babilon dronkgeslaan was.

19. Wat was uitsonderlik toe Daniël die skrif teen die muur uitgelê het?

19 Die feit dat hy vingeralleen in daardie luisterryke en vyandige milieu gestaan het, het Daniël nie bang gemaak, hom sy boodskap laat afwater of die geskil uit die oog laat verloor nie. Selfversekerd en kalm, met duidelike, waardige spraak, het hy ’n getuienis oor sy God gegee. Daniël was nie met ’n blote uitlegging van die skrif tevrede nie, maar het die koning daaraan herinner dat Jehovah God sy grootvader verneder het deur hom soos ’n wilde dier te laat lewe totdat hy erken het dat die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens. “Alhoewel u dit alles weet”, het Daniël vir Belsasar gesê, ‘het u u nie verneder nie, maar die voorwerpe van Jehovah se tempel ontheilig en die gode van goud, silwer, koper, yster, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie weet nie, geprys. Maar die God voor wie al u paaie is, het u nie vereer nie. Daarom het hy hierdie bevel gegee. U is op die weegskaal geweeg en te lig bevind, en u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.’ Ja, Daniël het weer ’n voortreflike voorbeeld van geloof en moed vir God se hedendaagse knegte gestel.—Daniël 5:22-28.

20. Watter verdere voorbeeld van groot geloof het Daniël gedurende die bewind van Darius gestel?

20 In hoofstuk 6 van Daniël het ons nog ’n goeie voorbeeld van geloof en moed. Koning Darius was nou die heerser en het Daniël een van die drie vernaamste heersers van die koninkryk gemaak. Ander, wat jaloers was op Daniël, het die koning oorreed om ’n wet uit te vaardig dat niemand vir 30 dae ’n versoek aan enigiemand behalwe die koning mag rig nie. Hulle het besef dat dit die enigste manier was waarop hulle ’n voorwendsel teen Daniël kon kry. Hy het die wet geïgnoreer en aangehou om in sy dakkamer, met sy venster oop en in die rigting van Jerusalem, te bid. Daniël is skuldig bevind aan oortreding van die koning se bevel en is in ooreenstemming met die straf wat die wet voorgeskryf het in die leeukuil gegooi. God het Daniël weer vir sy geloof en moed beloon. Hoe? Soos Hebreërs 11:33 dit stel, het Jehovah die “bekke van leeus toegestop”.

21. Wat moet ons vaste voorneme wees met die oog op die goeie voorbeelde van geloof en moed in die eerste ses hoofstukke van die boek Daniël 1–6?

21 Daniël hoofstukke 1 tot 6 beskryf inderdaad geloofversterkende gebeure! Hoe ryklik het Jehovah God diegene tog beloon wat geloof en moed geopenbaar het! Dit het gebeur deurdat hulle enersyds verhoog is en andersyds wonderdadig verlos is. Ons kan waarlik vertroosting en hoop put uit wat hierdie getroue getuies ondervind het toe hulle voor beproewinge te staan gekom het. Dit is immers waarom hierdie dinge opgeteken is! Mag ons ons derhalwe voorneem om goeie navolgers van sulke geloof en moed te wees.—Romeine 15:4; Hebreërs 6:12.

Vrae ter hersiening

◻ Waarop dui die name van die vier Hebreeuse jeugdiges met betrekking tot hulle opvoeding?

◻ Wat leer ons uit hoe die Hebreërs die toets aangaande voedsel deurstaan het?

◻ Hoe is die onkreukbaarheid van Jehovah se hedendaagse knegte net soos die van dié drie Hebreërs op die proef gestel?

◻ Hoe het Daniël geloof en moed geopenbaar toe hy vir Belsasar getuig het?

[Prent op bladsy 17]

Daniël en sy metgeselle het geleer om nee te sê

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel