Hulle kan jou help om te preek
TOE Jesus sy dissipels die opdrag gegee het om te gaan preek, het hulle waarskynlik geen benul gehad van die volle betekenis van wat hy hulle beveel het om te doen nie (Mattheüs 10:7). Hulle het sy voorbeeld gehoorsaam nagevolg en “die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig” (Lukas 8:1). Dit was die klein begin van ’n predikingsveldtog wat uitgebrei het totdat dit die goeie nuus van die Koninkryk wêreldwyd onder mense se aandag gebring het.
In die vroeë dae van die Christengemeente is die predikingswerk hoofsaaklik mondeling gedoen. Christus se dissipels het met almal gepraat wat wou luister. “Hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.”—Handelinge 5:42.
Goddelike steun het geblyk uit die feit dat hulle tekens kon doen (Handelinge 14:3). Talle mense is fisies genees en het dan gebly om na woorde van geestelike genesing te luister. Gevolglik is “meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg”.—Handelinge 5:14-16.
Hedendaagse verkondiging van die goeie nuus
Met die dood van die apostels het wonderdadige genesing en talespraak tot ’n einde gekom. Maar het dit die opdrag wat Jesus sy dissipels gegee het enigsins verander? Nee! Hy het hulle die opdrag gegee om dissipels te maak “van al die nasies”, en terwyl hulle dit sou doen, sou hy met hulle wees “al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:19, 20). Vandag is die Skriftuurlike bewys dat ons gedurende die voleinding van die stelsel van dinge lewe onmiskenbaar. Het Jesus sy belofte nagekom om sy dissipels in die dissipelmaakwerk by te staan? Die bewyse antwoord ja!
Dit sou ’n menslik onmoontlike taak wees om die miljarde bewoners van die aarde met ’n bloot mondelinge boodskap te bereik. Daarom is hulp voorsien in die vorm van Bybellektuur wat mense in hul eie huise kan lees. In 1879 het ’n groep ywerige Bybelstudente wat die boodskap oor God se Koninkryk aan ander bekend wou maak lektuur begin produseer, soos die Bybeltydskrif wat nou as Die Wagtoring bekendstaan, sowel as traktate wat Bybelonderwerpe bespreek het. Aanvanklik het hulle die lektuur deur kommersiële uitgewers laat druk. Teen 1920 het hulle hul eie drukpers in ’n gehuurde gebou gehad, en teen 1927 het hulle reeds hulle eie fabriek gebou om Bybels, boeke, boekies, tydskrifte en traktate te druk vir almal wat dit wou gebruik om Jesus se opdrag aan sy dissipels te help uitvoer.
Die Wagtoringgenootskap is nie afgeskrik deur teenstanders wat gesê het dat hierdie drukkersonderneming sou misluk nie en bestuur tans drukkerye in lande dwarsdeur die wêreld. Verlede jaar alleen het hulle meer as 63 000 000 Bybels, boeke en boekies en meer as 582 000 000 tydskrifte in oor die 200 tale gepubliseer.
Die lektuur wat hulle uitgegee het, is van onskatbare waarde om in mense se geestelike behoeftes te voorsien. Daar is boeke gedruk wat so geskryf is dat dit mense met bepaalde sienings en oortuigings kan bereik. Miljoene jongmense het baat gevind by My boek met Bybelverhale en Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut. Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou het waardevolle hulp verskaf om gesinsbande te versterk en mans en vrouens te leer om groter liefde vir mekaar te toon. Verenig in die aanbidding van die enigste ware God is ’n hulpmiddel vir nuwelinge wat die waarheid hul eie wil maak. Mense wat hierdie boek gelees het, het gevind dat dit hulle gehelp het om ernstiger oor hulle verhouding met God na te dink en te redeneer.
Die boek wat dikwels die “blou bom” genoem is, Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, het ’n besondere invloed op miljoene mense se lewe gehad. Die tyd sal moet toon hoeveel ander nog deur die Bybelwaarhede wat hulle uit hierdie boek leer, beweeg sal word om God te dien.
Tans het diegene wat die goeie nuus onder Jesus se leiding verkondig die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe as hulpmiddel. Bybelstudies word met miljoene mense gehou, waarvan talle hulle lewe verander om met Bybelse standaarde te strook.
Een 68-jarige man in die staat New York se broer in Colorado het byvoorbeeld met hom in aanraking gekom en Wagtoring-lektuur aan hom gestuur om te lees. Die man het weldra al die boeke gelees wat aan hom gestuur is en was heel ingenome om ’n studie in die Paradys op aarde-boek te begin toe ’n Getuie hom tuis kom besoek het. Deur die jare heen het hierdie man ’n versameling waardevolle historiese vuurwapens bymekaargemaak, maar toe hy gelees het dat diegene wat Jehovah dien nie meer sal leer om oorlog te voer nie, het hy sy vuurwapens dadelik teen ’n groot finansiële verlies verkoop (Jesaja 2:4). Daarbenewens het hy, al was hy 53 jaar lank ’n strawwe roker, onmiddellik die rookgewoonte laat vaar toe hy gelees het dat dit Jehovah mishaag (2 Korinthiërs 7:1). Toe hy uit sy studie geleer het dat hy die goeie nuus met ander moet deel, het hy senuagtig voorbereidsels getref om sy seun en skoondogter te besoek om met hulle en sy kleinkinders te praat. Hy was verheug om die Paradys op aarde-boek op ’n tafel te sien lê toe hy die gastekamer binnegaan. Sy skoondogter het daaruit gestudeer en was nie seker hoe sy die saak by hom moes aanroer nie. Albei het reeds uitstekende geestelike vooruitgang gemaak.
In Spanje is ’n vergaderplek van Jehovah se Getuies langs ’n Katolieke kerk opgerig. Die priester was woedend. Hy het gesê dat as hy geweet het die Getuies ’n vergaderplek daar gaan bou hy die perseel sou gekoop het om te verhinder dat hulle dit gebruik. In een venster van hierdie Koninkryksaal is daar ’n Paradys op aarde-boek uitgestal. Elke dag het ’n gemeentelid dit na ’n nuwe bladsy omgeblaai. Dorpenaars het gereeld die nuwe bladsy gaan lees. Gevolglik het baie mense belangstelling getoon, en Bybelstudies is begin. Ja, die boek was ’n stil maar doeltreffende getuie.
Die rol van tydskrifte om die goeie nuus bekend te maak
Toe die eerste nommer van Die Wagtoring in Julie 1879 gepubliseer is, is net 6 000 eksemplare gedruk. Die groepie wat dit gelees het, het ander nogtans gretig van die inhoud daarvan vertel. Vandag gebruik meer as 3 500 000 van Jehovah se Getuies die 13 000 000 eksemplare wat van elke nommer gedruk word om God se Koninkryk as die enigste hoop vir die mensdom te verkondig.
Tydskrifte was nog altyd baie nuttig om verskillende Skriftuurlike onderwerpe uiteen te sit. Daar is ’n vaste rubriek in Die Wagtoring wat Jesus se lewe en bediening bespreek. Dit het miljoene gehelp om belangrike gebeure in die Evangelies te visualiseer en beter te verstaan.
Spesiale rubrieke in beide Die Wagtoring en Ontwaak! is daarop gemik om die harte van jongmense te bereik. Die reeks “God se Woord is lewend” het hulle baie beginsels geleer en hulle ’n beter begrip van talle kwessies gegee. Die rubriek “Jongmense vra . . . ” bespreek realistiese vrae en gee dan praktiese antwoorde wat deur tekste gestaaf word om die denke en optrede van jongmense in hierdie moeilike dae te rig. Wanneer Jehovah se Getuies die tydskrifte vir mense aanbied deur die aandag op hierdie artikels te vestig, is die reaksie baie gunstig.
Maar bo en behalwe die artikels oor spesiale onderwerpe is daar die studieartikels, wat die werklik vaste spys van Die Wagtoring is en die geloof en oortuiging van alle ware Christene versterk. Hierdie artikels wat op die Skrif gebaseer is, vestig die aandag op oortuigende bewys van die nabyheid van die einde van hierdie stelsel van dinge, bespreek die vervulling van Bybelprofesieë en gee hartdeursoekende raad oor hoe Christene behoort te lewe aangesien die tye so boos is. Christene wat hierdie kennis ingeneem het, is vasbeslote om die dinge wat hulle geleer het in die predikingswerk te gebruik.
Ons kan nie se hoe lank hierdie predikingswerk sal aanhou voordat die einde van hierdie stelsel van dinge kom nie. Maar ons kan nogtans seker wees dat die publikasies wat Jehovah se Getuies druk en versprei steeds van groot hulp sal wees vir Christene terwyl hulle die opdrag van hulle Leier, Jesus, uitvoer.