Hoofstuk 26
Die vervaardiging van Bybellektuur vir gebruik in die bediening
DIE geskrewe woord het nog altyd ’n belangrike rol in ware aanbidding gespeel. Jehovah het die Tien Gebooie eers mondelings en toe in skrif aan die Israeliete gegee (Ex. 20:1-17; 31:18; Gal. 3:19). Om te verseker dat sy Woord juis oorgedra sou word, het God Moses en baie profete en apostels ná hom die opdrag gegee om dit neer te skryf.—Ex. 34:27; Jer. 30:2; Hab. 2:2; Openb. 1:11.
Die meeste van daardie vroeë skryfwerk is op rolle gedoen. Maar teen die tweede eeu G.J. is die kodeks, of boek met blaaie, ontwikkel. Dit was meer ekonomies en makliker om te gebruik. En die Christene was van die eerstes wat hiervan gebruik gemaak het, want hulle het besef hoe waardevol dit sou wees in die verspreiding van die goeie nuus aangaande die Messiaanse Koninkryk van God. Professor E. J. Goodspeed sê in sy boek Christianity Goes to Press oor hierdie vroeë Christene as boekuitgewers: “Hulle was nie net op die hoogte van hulle tyd in sulke aangeleenthede nie, hulle was hulle tyd vooruit, en die uitgewers van die daaropvolgende eeue het hulle nagevolg.”—1940, bl. 78.
Dit verbaas ’n mens dus nie dat Jehovah se Getuies van vandag, as verkondigers van God se Koninkryk, al in sekere opsigte onder die baanbrekers van die druknywerheid was nie.
Verskaffing van lektuur aan vroeë Bybelstudente
Een van die eerste artikels wat deur C. T. Russell geskryf is, is in 1876 in die Bible Examiner, onder redaksie van George Storrs van Brooklyn, New York, gepubliseer. Nadat broer Russell ’n medewerker van N. H. Barbour van Rochester, New York, geword het, het broer Russell die geld voorsien vir die publisering van die boek Three Worlds en die blad Herald of the Morning. Hy het as ’n mederedakteur van die blad gedien en in 1877 die drukfasiliteite van die Herald gebruik om die boekie The Object and Manner of Our Lord’s Return uit te gee. Broer Russell het ’n skerp verstand vir geestelike aangeleenthede asook goeie sakevernuf gehad, maar dit was mnr. Barbour wat ervare was in setwerk en die samestelling van bladsye.
Maar toe mnr. Barbour die soenofferwaarde van Jesus Christus se losprys verwerp het, het broer Russell betrekkinge met hom verbreek. Toe broer Russell Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence in 1879 begin uitgee het, moes hy dus op handelsdrukkers staatmaak.
Die jaar daarna is die eerste van ’n lang reeks traktate vir publikasie voorberei met die doel om mense se belangstelling in Bybelwaarhede te prikkel. Hierdie werk het gou geweldige afmetings aangeneem. Om dit te behartig, is Zion’s Watch Tower Tract Society op 16 Februarie 1881 gestig, met W. H. Conley as president en C. T. Russell as sekretaris en tesourier. Reëlings is met drukkersfirmas in verskeie stede in Pennsilvanië, New York en Ohio, asook Brittanje, getref om die drukwerk te doen. In 1884 is Zion’s Watch Tower Tract Societya, met C. T. Russell as president, met wetlike regspersoonlikheid beklee, en die handves daarvan het getoon dat dit meer is as net ’n genootskap wat lektuur sou uitgee. Die Genootskap se eintlike oogmerk was godsdienstig van aard: dit is gestig vir “die verspreiding van Bybelwaarhede in verskillende tale”.
Met watter ywer is hierdie oogmerk tog nie nagestrewe nie! In 1881 is daar, binne ’n tydperk van vier maande, 1 200 000 traktate gepubliseer wat altesaam sowat 200 000 000 bladsye beslaan het. (Baie van hierdie “traktate” was in werklikheid in boekievorm.) Daarna het die produksie van Bybeltraktate vir gratis verspreiding jaar na jaar met tienmiljoene die hoogte ingeskiet. Hierdie traktate is in nagenoeg 30 tale gedruk en is nie net in Amerika versprei nie, maar ook in Europa, Suid-Afrika, Australië en ander lande.
Nog ’n sy van die werk het in 1886 begin toe broer Russell The Divine Plan of the Ages voltooi het, die eerste in ’n reeks van ses boekdele wat hy self geskryf het. Hy het die Tower-uitgewersmaatskappyb gebruik om die eerste vier boekdele in hierdie reeks (1886-97), asook traktate en Die Wagtoring (Engelse uitgawes) van 1887 tot 1898, uit te gee. Mettertyd is die setwerk en die bladsysamestelling deur die broers by die Bible House in Pittsburgh gedoen. Om koste te besnoei, het hulle ook die papier vir die drukwerk aangekoop. Wanneer dit by die druk- en bindwerk gekom het, het broer Russell dikwels bestellings by meer as een firma geplaas. Hy het sorgvuldig beplan en bestellings lank genoeg voor die tyd geplaas om goeie pryse te bekom. Vandat die eerste boek van C. T. Russell verskyn het tot 1916 is altesaam 9 384 000 van daardie ses boekdele gedruk en versprei.
Die publisering van Bybellektuur het nie met die dood van broer Russell opgehou nie. Die jaar ná sy dood is die sewende boekdeel van Studies in the Scriptures gedruk. Dit is op 17 Julie 1917 aan die Bethelgesin vrygestel. Die aanvraag daarvoor was so groot dat die Genootskap teen die einde van daardie jaar bestellings vir 850 000 Engelse eksemplare by handelsdrukkers en -boekbinders geplaas het. Uitgawes in ander tale is in Europa gepubliseer. Daardie jaar is daar ook sowat 38 miljoen traktate gedruk.
Maar toe is hulle hoofkwartier (wat in Brooklyn, New York, geleë was) gedurende ’n tydperk van hewige vervolging in 1918 gestroop en die ampsdraers van die Genootskap ten onregte in die gevangenis gewerp. Die drukplate is vernietig. Die personeel wat nou baie kleiner was, het die kantoor na die tweede verdieping van ’n gebou te Federalstraat 119 in Pittsburgh teruggeskuif. Sou dit ’n einde maak aan hulle vervaardiging van Bybellektuur?
Moet hulle self hulle drukwerk doen?
Nadat die Genootskap se president, J. F. Rutherford, en sy metgeselle uit die gevangenis vrygelaat is, het die Bybelstudente in 1919 in Cedar Point, Ohio, byeengekom. Hulle het in oënskou geneem wat gedurende die vorige jaar met God se toelating gebeur het, asook wat sy Woord aangedui het hulle in die dae wat voorlê, moes doen. Daar is aangekondig dat ’n nuwe tydskrif, The Golden Age, uitgegee gaan word as ’n instrument om mense na God se Koninkryk as die mensdom se enigste hoop te rig.
Soos in die verlede, het die Genootskap gereël dat ’n drukkersfirma die tydskrif druk. Maar tye het verander. Daar was arbeidsprobleme in die druknywerheid en probleme op die papiermark. ’n Betroubaarder reëling was nodig. Die broers het oor die saak gebid en gewag op die Here se leiding.
Eerstens moes hulle besluit waar hulle die Genootskap se kantoor moet vestig. Moet hulle die hoofkwartier terugskuif na Brooklyn? Die Genootskap se direksie het dit bespreek en ’n komitee aangestel om op die aangeleentheid in te gaan.
Broer Rutherford het C. A. Wise, die Genootskap se onderpresident, opdrag gegee om na Brooklyn toe te gaan en ondersoek in te stel na die moontlikheid om die Bethel weer daar te open en om ’n gebou te huur waar die Genootskap drukwerk kon begin doen. Begerig om te weet watter optrede God sou seën, het broer Rutherford gesê: “Gaan kyk of dit die Here se wil is dat ons na Brooklyn toe teruggaan.”
“Hoe sal ek weet of dit die Here se wil is dat ons teruggaan of nie?” het broer Wise gevra.
“Dit was omdat ons in 1918 nie genoeg steenkool kon kry nie dat ons uit Brooklyn na Pittsburgh teruggedryf is”,c was broer Rutherford se antwoord. “Kom ons maak steenkool die toets. Gaan jy, en gaan bestel ’n voorraad steenkool.”
“Hoeveel ton dink u moet ek vir die toets bestel?”
“Wel, maak dit ’n goeie toets”, het broer Rutherford aan die hand gegee. “Bestel 500 ton.”
Dit is presies wat broer Wise gedoen het. En wat was die uitslag? Toe hy by die owerheid aansoek doen, het hy ’n permit vir 500 ton steenkool ontvang—genoeg om etlike jare in hulle behoeftes te voorsien! Maar waar sou hulle al die steenkool hou? Groot dele van die Bethelhuis se kelderverdieping is omgeskep in bergruimte vir die steenkool.
Die uitslag van hierdie toets is beskou as ’n onmiskenbare aanduiding van God se wil. Teen die eerste Oktober 1919 het hulle weer eens begin om hulle werksaamhede van Brooklyn af voort te sit.
Nou was die vraag: Moet hulle self hulle drukwerk doen? Hulle het ’n tydskrifrotasiepers probeer koop, maar is meegedeel dat daar in die Verenigde State net ’n paar van hierdie perse is en dat hulle baie maande sou moes wag voordat hulle miskien een sou kry. Hulle was nietemin daarvan oortuig dat die Here die weg kon open indien dit sy wil is. En hy het!
Slegs enkele maande nadat hulle na Brooklyn teruggekeer het, het hulle daarin geslaag om ’n rotasiepers te koop. Hulle het drie verdiepings in ’n gebou te Myrtlelaan 35, agt blokke van die Bethelhuis af, gehuur. Vroeg in 1920 het die Genootskap sy eie drukkery—klein, maar goed toegerus—gehad. Broers wat voldoende ondervinding gehad het om met die toerusting te werk, het hulle beskikbaar gestel om met die drukwerk te help.
Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Februarie is daardie jaar op die Genootskap se eie pers gedruk. Teen April het hulle ook self The Golden Age gedruk. Dit was met genoeë dat Die Wagtoring (Engelse uitgawe) aan die einde van die jaar kon berig: “Gedurende die grootste deel van die jaar is al die werk aan THE WATCH TOWER, THE GOLDEN AGE en baie van die boekies deur toegewyde hande gedoen, maar daar was een dryfveer agter hulle werksaamhede, en hierdie dryfveer is liefde vir die Here en sy regverdige saak. . . . Toe ander tydskrifte en publikasies weens ’n papiertekort of arbeidsprobleme gestaak moes word, het die produksie van ons publikasies sonder enige probleme voortgegaan.”
Die fabrieksruimte was bra beperk, maar die hoeveelheid werk wat gedoen is, was verstommend. Gereelde oplae van Die Wagtoring was 60 000 eksemplare per nommer. Maar The Golden Age is ook daar gedruk, en gedurende die eerste jaar was die nommer van 29 September ’n spesiale uitgawe. Dit het ’n uitvoerige ontmaskering bevat van die aanstigters van die vervolging van die Bybelstudente van 1917 tot 1920. Viermiljoen eksemplare is gedruk! Een van die persoperateurs in die fabriek het later gesê: ‘Almal behalwe die kok moes hand bysit om daardie tydskrif gedruk te kry.’
In die eerste jaar wat hulle die tydskrifrotasiepers gebruik het, het broer Rutherford die broers gevra of hulle ook boekies op daardie pers kon druk. Aanvanklik het dit nie uitvoerbaar gelyk nie. Die vervaardigers van die pers het gesê dit kan nie gedoen word nie. Die broers het egter probeer en goeie welslae behaal. Hulle het ook hulle eie voumasjien ontwerp en sodoende die aantal werkers wat vir hierdie sy van die werk nodig was van 12 tot 2 verminder. Waaraan kon hulle welslae toegeskryf word? “Ondervinding en die Here se seën” is hoe die fabrieksbestuurder dit opgesom het.
Maar die Genootskap het nie net in Brooklyn met ’n drukkery begin nie. ’n Kantoor in Michigan het toesig gehou oor drukwerk in sommige ander tale. Om daardie werk te behartig, het die Genootskap in 1921 ’n Linotype-masjien, drukperse en ander nodige toerusting in Detroit, Michigan, opgestel. Dáár is lektuur in Pools, Russies, Oekraïns en ander tale gedruk.
In dieselfde jaar het die Genootskap die boek Die harp van God vrygestel, wat só geskryf is dat beginners dit in Bybelstudie kon gebruik. Tot 1921 het die Genootskap nie self hulle boeke probeer druk en bind nie. Moes hulle hierdie werk ook aanpak? Weer eens het hulle die Here se leiding gesoek.
Toegewyde broers druk en bind boeke
In 1920 het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) berig dat talle kolporteurs noodgedwonge hierdie diens moes verlaat omdat drukkers en boekbinders nie die Genootskap se bestellings kon uitvoer nie. Die broers by die hoofkwartier het geredeneer dat as hulle onafhanklik kon wees van die handelsdrukkers met al hulle arbeidsprobleme hulle ’n groter getuienis aangaande God se voorneme met die mensdom sou kon gee. As hulle self hulle boeke druk en bind, sou dit ook nie vir teenstanders so maklik wees om die werk aan bande te lê nie. En hulle het gehoop om mettertyd ook die koste van die boeke te besnoei en dit sodoende vir die publiek makliker verkrygbaar te maak.
Maar dit sou meer ruimte en toerusting verg, en hulle sou nuwe vaardighede moes aanleer. Kon hulle dit doen? Robert J. Martin, die fabrieksopsiener, het gedink aan hoe Jehovah in die dae van Moses ‘Besaleël en Oholiab met wysheid van hart vervul het om al die werk te doen’ wat nodig was om die heilige tabernakel op te rig (Ex. 35:30-35, NW). Met hierdie Bybelverhaal in gedagte was broer Martin oortuig dat Jehovah ook die nodige sal doen sodat sy knegte lektuur kan publiseer om die Koninkryk te adverteer.
Ná baie oordenking en gebed het duidelike planne begin vorm aanneem. In ’n terugblik op wat gebeur het, het broer Martin later aan broer Rutherford geskryf: “Die allergrootste dag was dié dag toe u wou weet of daar enige goeie rede is waarom ons nie al ons boeke self kan druk en bind nie. Dit was ’n gedagte wat ons na ons asem laat snak het, omdat dit beteken het dat ons ’n fabriek sou moes open wat ten volle toegerus is met setmasjiene, elektroplateertoerusting, drukperse en ’n bindery—’n klomp onbekende masjiene waarmee ons sou moes werk; meestal masjiene wat ons nie eers geweet het bestaan nie, en ons sou ’n hele aantal nuwe ambagte moes leer. Maar dit het gelyk of dit die beste manier was om die naoorlogse hoë pryse vir boeke teë te werk.
“U het die sesverdiepinggebou te Concordstraat 18 (waarvan twee verdiepings nog huurders ingehad het) gehuur; en op 1 Maart 1922 het ons die gebou betrek. U het vir ons alles gekoop wat nodig was, naamlik setmasjiene, elektroplateertoerusting, drukperse en bindmasjinerie—die meeste nuut, party tweedehands; en ons het aan die werk gespring.
“Een van die groot drukkersfirmas wat vantevore die meeste van ons werk gedoen het, het gehoor wat ons doen, en die president van die firma het ons kom besoek. Hy het die nuwe toerusting gesien en beterwetend gesê: ‘Hier het julle ’n eersteklas drukkery, en daar is niemand in die plek wat die vaagste benul het wat om daarmee te doen nie. Binne ses maande sal dit alles net ’n hoop rommel wees; en julle sal agterkom dat die mense wat julle drukwerk moet doen diegene is wat dit altyd gedoen het en wat in die drukkersbedryf is.’
“Dit het logies genoeg geklink, maar dit het nie rekening gehou met die feit dat die Here met ons is nie; en hy wás altyd met ons. Toe ons met die bindery begin het, het hy ’n broer voorsien wat sy hele lewe lank in die bindbedryf gewerk het. Hy was ’n groot hulp op die tydstip toe ons hom die nodigste gehad het. Met sy hulp en met die Here se gees wat ingewerk het op die broers wat probeer leer het, het dit nie lank geneem voor ons boeke begin maak het nie.”
Aangesien die fabriek in Concordstraat genoeg ruimte gehad het, is die drukwerk wat in Detroit gedoen is toe ook in Brooklyn behartig. Teen die tweede jaar in hierdie fabriek het die broers 70 persent van die boeke en boekies gedruk wat benodig is, benewens tydskrifte, traktate en strooibiljette. Weens die toename in die werk moes die ander twee verdiepings van die fabriek die daaropvolgende jaar ook gebruik word.
Kon hulle boeke nog vinniger produseer? Hulle het vir hierdie spesifieke doel ’n drukpers in Duitsland laat bou, na Amerika laat stuur en dit in 1926 begin gebruik. Na hulle beste wete was dit die eerste rotasiepers wat in Amerika gebruik is om boeke te druk.
Maar die drukwerk onder toesig van die Bybelstudente is nie alles in Amerika gedoen nie.
Vroeë drukwerk in ander lande
Broer Russell het reeds in 1881 drukwerk in Brittanje deur drukkersfirmas laat doen. Dit is teen 1903 in Duitsland gedoen; 1906 in Griekeland; 1910 in Finland en teen 1913 selfs in Japan. Gedurende die jare net ná die Eerste Wêreldoorlog is ’n ontsaglike hoeveelheid drukwerk—boeke, boekies, tydskrifte en traktate—op hierdie manier in Brittanje, die Skandinawiese lande, Duitsland en Pole gedoen, en ’n bietjie is in Brasilië en Indië gedoen.
Toe is daar in 1920, dieselfde jaar wat die Genootskap onderneem het om self tydskrifte in Brooklyn te druk, reëlings getref vir ons broers in Europa om ook van hierdie werk te doen. ’n Groep van hulle in Switserland het ’n drukkery in Bern georganiseer. Dit was hulle eie drukkersfirma. Maar hulle was almal Bybelstudente en het lektuur teen baie redelike pryse vir die Genootskap in Europese tale gedruk. Mettertyd het die Genootskap eiendomsreg op hierdie drukkery verkry en dit vergroot. Om in ’n dringende behoefte in die destydse ekonomies verarmde lande van Europa te voorsien, is ontsaglike hoeveelhede gratis lektuur daar gedruk. Gedurende die laat twintigerjare is publikasies in ’n stuk of twaalf tale van hierdie fabriek af uitgestuur.
In dieselfde tyd was daar baie belangstelling in die Koninkryksboodskap in Roemenië. Ondanks kwaai teëstand teen ons werk daar het die Genootskap ’n drukkery in Cluj geopen ten einde die prys van die lektuur te verlaag en dit makliker verkrygbaar te maak vir mense wat in Roemenië en nabygeleë lande na die waarheid gehonger het. In 1924 het hierdie drukkery bykans ’n kwartmiljoen boeke, benewens tydskrifte en boekies, in Roemeens en Hongaars gedruk. Maar die persoon wat daar toesig oor die werk gehad het, was ontrou met die pand wat aan hom toevertrou is, en het dinge gedoen wat daartoe gelei het dat die Genootskap sy eiendom en toerusting verloor het. Getroue broers in Roemenië het ondanks hierdie terugslag gedoen wat hulle kon om Bybelwaarhede aan ander mee te deel.
In Duitsland het groot getalle mense ná die Eerste Wêreldoorlog na die vergaderinge van die Bybelstudente gestroom. Maar die Duitse volk het ekonomies baie swaar gekry. Om vir hulle die prys van Bybellektuur laag te hou, het die Genootskap ook daar sy eie drukwerk begin doen. Die drukwerk is in 1922 in Barmen gedoen met behulp van ’n platvormpers op die trapportaal in die Bethelhuis en nog een in die houtskuur. Die jaar daarna het die broers na Maagdenburg en geskikter fasiliteite verskuif. Daar het hulle goeie geboue gehad, meer is aangebou en toerusting om boeke te druk en te bind is geïnstalleer. Teen die einde van 1925 sou die produksievermoë van hierdie fabriek volgens berig minstens net so groot wees as dié van die fabriek wat destyds by die hoofkwartier in Brooklyn gebruik is.
Die meeste van die drukwerk wat deur die broers self gedoen is, het op ’n klein skaal begin. Dit was die geval in Korea, waar die Genootskap in 1922 ’n klein drukkery begin het wat toegerus was om lektuur in Koreaans sowel as Japannees en Chinees te vervaardig. Ná ’n paar jaar is die toerusting na Japan toe oorgeplaas.
Teen 1924 is daar ook in Kanada en in Suid-Afrika kleiner stukke lektuur gedruk. In 1925 is ’n klein pers in Australië en nog een in Brasilië geïnstalleer. Die broers in Brasilië het gou hulle toerusting begin gebruik om die Portugese uitgawe van Die Wagtoring te druk. Die Genootskap se tak in Engeland het sy eerste druktoerusting in 1926 gekry. In 1929 is die geestelike honger van nederige mense in Spanje gestil deur Die Wagtoring wat op ’n klein pers daar gedruk is. Twee jaar later het ’n pers in die kelderverdieping van die takkantoor in Finland begin loop.
By die wêreldhoofkwartier was daar egter ook uitbreiding aan die gang.
Hulle eie fabriek by die wêreldhoofkwartier
Sedert 1920 het die Genootskap fabrieksruimte in Brooklyn gehuur. Selfs die gebou wat hulle van 1922 af gebruik het, was nie in ’n goeie toestand nie; die hele gebou het kwaai geskud wanneer die rotasiepers in die kelderverdieping geloop het. Meer ruimte was buitendien nodig om die toenemende werk te behartig. Die broers het geredeneer dat die beskikbare geld beter gebruik kon word as hulle hulle eie fabriek het.
’n Stuk grond net ’n paar blokke van die Bethelhuis af het na ’n ideale plek gelyk, en hulle het dus ’n aanbod daarvoor gemaak. Die Squibb- farmaseutiese korporasie het egter ’n hoër aanbod ingedien; maar toe hulle op hierdie eiendom wou bou, moes hulle 1 167 heipale in die grond indryf om ’n vaste fondament te verseker. (Jare later het die Wagtoringgenootskap hierdie geboue van Squibb gekoop, met daardie goeie fondament reeds in!) Maar die grond wat die Genootskap in 1926 gekoop het, het ’n goeie drakrag gehad om op te bou.
In Februarie 1927 het hulle hulle splinternuwe gebou te Adamsstraat 117 in Brooklyn betrek. Dit het hulle van bykans dubbel soveel ruimte voorsien as wat hulle tot op daardie tydstip gebruik het. Dit is goed ontwerp sodat die werk van die boonste verdiepings af ondertoe na die verskillende afdelings beweeg het totdat dit die Versendingsafdeling op die grondverdieping bereik het.
Die uitbreiding het egter nie hier opgehou nie. Binne tien jaar moes hierdie fabriek vergroot word; en later sou daar nog aanbouings wees. Benewens die miljoene tydskrifte en boekies wat jaarliks gedruk is, het die fabriek tot 10 000 boeke per dag vervaardig. Toe hierdie boeke in 1942 ook volledige Bybels begin insluit het, het die Wagtoringgenootskap weer eens baanbrekerswerk op ’n nuwe gebied in die drukkersbedryf gedoen. Die broers het proefnemings gedoen totdat hulle dun Bybelpapier op rotasieperse kon gebruik—iets wat ander drukkers eers jare later probeer doen het.
Terwyl sulke grootskaalse produksie aan die gang was, is groepe met besondere behoeftes nie oor die hoof gesien nie. Reeds in 1910 het ’n Bybelstudent in Boston, Massachusetts, en een in Kanada saamgewerk om die Genootskap se lektuur in braille oor te sit. Teen 1924 het die Genootskap van ’n kantoor in Logansport, Indiana, af publikasies vir die blindes voorsien. Omdat daar destyds egter baie min aanvraag daarna was, is die braille in 1936 gestaak, en die klem is daarop geplaas om die blindes deur middel van grammofoonplate asook persoonlike aandag te help. Later, in 1960, is daar weer eens met die vervaardiging van braillelektuur begin—hierdie keer in groter verskeidenheid, en die aanvraag daarna het geleidelik toegeneem.
Kwaai teëstand word die hoof gebied
In ’n aantal lande is die drukwerk ondanks uiters moeilike omstandighede gedoen. Maar ons broers het volhard in die besef dat die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk ’n werk is wat Jehovah God ons, deur sy Seun, beveel het om te doen (Jes. 61:1, 2; Mark. 13:10). In Griekeland het die broers byvoorbeeld net hulle drukkery in 1936 ingerig gehad en dit ’n paar maande gebruik toe ’n ander regering aan die bewind gekom en die owerheid hulle fabriek gesluit het. In Indië het Claude Goodman insgelyks in 1940 maande gewerk om ’n pers te monteer en te leer hoe om dit te gebruik; maar kort daarna het die polisie wat deur die maharaja gestuur is, toegeslaan, die pers op ’n vragmotor gelaai en dit weggeneem en die drukletters wat hy so sorgvuldig gesorteer het alles saam in groot blikke gegooi.
In baie ander lande is die broers deur wette op die invoer van lektuur gedwing om die werk aan plaaslike handelsdrukkers te gee, al het die Genootskap in ’n naburige land ’n drukkery gehad wat die werk kon doen. Dit was die geval in die middel-dertigerjare in plekke soos Denemarke, Letland en Hongarye.
In 1933 het die Duitse regering, aangehits deur die geestelikes, stappe begin doen om ’n einde te maak aan die drukwerk van Jehovah se Getuies in Duitsland. Die polisie het die Wagtoringgenootskap se fabriek in Maagdenburg beset en in April daardie jaar gesluit verklaar, maar omdat hulle geen beswarende getuienis kon vind nie, het hulle die fabriek ontruim. Hulle het nietemin weer in Junie ingegryp. Om met die verspreiding van die Koninkryksboodskap voort te gaan, het die Genootskap ’n drukkery in Praag, Tsjeggo-Slowakye, begin en baie toerusting van Maagdenburg af daarheen verskuif. Onder hierdie reëling is tydskrifte in twee tale en boekies in ses tale gedurende die volgende paar jaar gedruk.
Toe, in 1939, het Hitler se troepe na Praag toe opgeruk; daarom het die broers gou hulle toerusting uitmekaargehaal en dit uit die land uitgestuur. Van die toerusting het na Nederland toe gegaan. Hierdie stap kon nie tydiger gewees het nie. Dit het al hoe moeiliker vir die broers in Nederland geword om kommunikasie met Switserland te behou. Dus het hulle nou ’n plek gehuur en met hulle pasverkreë perse hulle eie drukwerk gedoen. Hierdie drukkery was egter net ’n kort rukkie in gebruik voordat die Nazi-invallers hierop beslag gelê het. Maar die broers het hierdie toerusting so lank moontlik gebruik.
Toe die publisering van Die Wagtoring gedurende die oorlog in Finland deur eiemagtige amptelike optrede verbied is, het die broers daar mimeograafkopieë van die hoofartikels gemaak en dit deur ’n koerier laat aflewer. Nadat Oostenryk in 1938 onder Nazi-oorheersing gekom het, is Die Wagtoring op ’n mimeograafmasjien gedruk wat voortdurend van die een plek na die ander verskuif is om dit uit die Gestapo se hande te hou. In Kanada het die Getuies, toe hulle onder ’n oorlogstydse verbod gebuk gegaan het, insgelyks hulle toerusting herhaaldelik verskuif sodat hulle ononderbroke geestelike voedsel aan hulle broers kon voorsien.
In Australië het die broers gedurende die tyd dat die werk van Jehovah se Getuies verbied was hulle tydskrifte self gedruk, en selfs boeke gedruk en gebind—iets wat hulle daar nie eers onder gunstiger omstandighede gedoen het nie. Hulle moes hulle bindery 16 keer verskuif om te voorkom dat die toerusting gekonfiskeer word, maar hulle het dit reggekry om 20 000 hardebandboeke betyds te druk vir vrystelling by ’n byeenkoms wat in 1941 ondanks ontsaglike struikelblokke gehou is!
Uitbreiding ná die Tweede Wêreldoorlog
Ná die einde van die oorlog het Jehovah se Getuies in 1946 in Cleveland, Ohio, ’n internasionale byeenkoms gehou. Daar het Nathan H. Knorr, destyds die president van die Wagtoringgenootskap, oor herbouing en uitbreiding gepraat. Sedert die begin van die Tweede Wêreldoorlog het die aantal Getuies met meer as 157 persent vermeerder, en sendelinge was besig om die werk vinnig in nuwe gebiede te open. Om in die wêreldaanvraag na Bybellektuur te voorsien, het broer Knorr planne om die fasiliteite van die wêreldhoofkwartier te vergroot in breë trekke verduidelik. Ná die voorgestelde uitbreiding sou die fabriek meer as twee keer soveel ruimte as die oorspronklike gebou van 1927 hê, en ’n baie groter Bethelhuis sou vir die vrywillige werkers voorsien word. Hierdie aanbouings is vroeg in 1950 voltooi en in gebruik geneem.
Die fabrieks- en kantoorfasiliteite by die wêreldhoofkwartier in Brooklyn moes sedert 1950 telkens vergroot word. In 1992 het hulle ongeveer agt stadsblokke beslaan en 230 071 vierkante meter vloerruimte bevat. Hierdie geboue is nie maar net geboue wat vir die maak van boeke gebruik word nie. Hulle is geboue wat aan Jehovah toegewy is en wat gebruik word om lektuur te vervaardig om mense in sy vereistes vir die lewe te onderrig.
In sommige gebiede was dit moeilik om die Genootskap se drukkerye weer ná die Tweede Wêreldoorlog aan die gang te kry. Die fabrieks-en-kantoor-kompleks wat in Maagdenburg, Duitsland, aan die Genootskap behoort het, was in die Kommunisties-beheerde sone. Die Duitse Getuies het dit weer betrek, maar hulle kon slegs ’n kort rukkie daarin werk voordat dit weer eens gekonfiskeer is. Om in die behoefte in Wes-Duitsland te voorsien, moes daar ’n drukkery geopen word. Die stede het in puin gelê as gevolg van bomaanvalle. Maar die Getuies het spoedig ’n klein drukkery in Karlsruhe bekom wat voorheen deur die Nazi’s gebruik is. Teen 1948 het hulle twee platvormperse gehad wat dag en nag geloop het in ’n gebou wat vir hulle in Wiesbaden beskikbaar gestel is. Die volgende jaar het hulle die Wiesbaden-fasiliteite vergroot en die aantal perse verviervoudig ten einde in die behoeftes van die snelgroeiende aantal Koninkryksverkondigers in hierdie deel van die veld te voorsien.
Toe die Genootskap in 1946 weer in Griekeland openlik begin drukwerk doen het, was die elektrisiteitstoevoer alles behalwe betroubaar. Soms was dit ure lank afgesny. In Nigerië het die broers in 1977 met ’n soortgelyke probleem te kampe gehad. Totdat die Nigeriese tak sy eie kragopwekker gekry het, het die fabriekswerkers enige tyd, dag of nag, teruggegaan werk toe wanneer die krag aangekom het. Met so ’n gees het hulle nooit ’n nommer van Die Wagtoring oorgeslaan nie.
Ná ’n besoek van broer Knorr aan Suid-Afrika in 1948 is grond in Elandsfontein gekoop; en vroeg in 1952 het die tak in ’n nuwe fabriek daar ingetrek—die eerste gebou wat deur die Genootskap in Suid-Afrika gebou is. Met ’n nuwe platvormpers het hulle tydskrifte begin druk in agt van die tale wat in Afrika gepraat word. In 1954 is die takkantoor in Swede toegerus om sy tydskrifte op ’n platvormpers te druk, en so ook die takkantoor in Denemarke in 1957.
Namate die aanvraag na lektuur toegeneem het, is snelrotasiehoogdrukperse aan die een tak na die ander voorsien. Kanada het sy eerste een in 1958 ontvang; Engeland in 1959. Teen 1975 het die Wagtoringgenootskap 70 groot rotasieperse wêreldwyd in sy drukkerye in gebruik gehad.
’n Wêreldwye netwerk om Bybelwaarheid te publiseer
In die laat sestigerjare en daarná is ’n doelbewuste poging aangewend om die Wagtoringgenootskap se drukwerk nog verder te desentraliseer. Die getalle van Jehovah se Getuies het vinnig toegeneem. Meer fabrieksruimte was nodig om Bybellektuur vir hulle eie gebruik en vir verspreiding onder die publiek te voorsien. Maar die uitbreiding in Brooklyn was ’n stadige proses weens die skaarste aan beskikbare eiendom asook wetlike rompslomp. Planne is beraam om meer van die drukwerk elders te doen.
So het dit gekom dat daar in 1969 begin is met die optrek van planne vir ’n nuwe drukkery wat naby Wallkill, New York, ongeveer 150 kilometer noordwes van Brooklyn, gebou sou word. Dit sou die hoofkwartierfasiliteite aanvul en versprei, en mettertyd sou feitlik al die eksemplare van Die Wagtoring en die Ontwaak! vir Amerika van Wallkill af kom. Drie jaar later was ’n tweede fabriek vir Wallkill op die tekenbord; hierdie een baie groter as die eerste. Teen 1977 het die rotasiehoogdrukperse daar meer as 18 miljoen tydskrifte per maand gedruk. In 1992 was groot MAN-Roland- en Hantscho-rubberdrukperse (net 4 rubberdrukperse pleks van die vorige 15 hoogdrukperse) in gebruik, en die produksievermoë was ver oor ’n miljoen tydskrifte per dag.
Toe planne vir ’n drukkery te Wallkill aanvanklik opgetrek is, is Die Wagtoring in Brooklyn in 32 van sy destydse 72 tale gedruk; die Ontwaak! in 14 van sy 26 tale. Nagenoeg 60 persent van die totale aantal eksemplare wat wêreldwyd gedruk is, is dáár by die wêreldhoofkwartier gedoen. Dit sou voordelig wees om meer van hierdie werk in lande buite die Verenigde State te laat doen, en deur ons broers dáár, pleks van deur drukkersfirmas. Indien toekomstige wêreldkrisisse of staatsbemoeiing met die werk van Jehovah se Getuies hulle werksaamhede in enige deel van die aarde aan bande sou lê, sal noodsaaklike geestelike voedsel dus steeds voorsien kan word.
So het dit gekom dat werk aan ’n pragtige nuwe drukkery in Numazu, Japan, in 1971 begin het, bykans twee jaar vóór die eerste Wagtoringfabriek te Wallkill met produksie begin het. Die meer as vyfvoudige vermeerdering in Koninkryksverkondigers in Japan gedurende die vorige dekade het aangedui dat daar baie Bybellektuur nodig gaan wees. Terselfdertyd is die takfasiliteite in Brasilië uitgebrei. Dit was ook die geval in Suid-Afrika, waar Bybellektuur in ’n stuk of vier-en-twintig Afrikatale gedruk is. Die daaropvolgende jaar, 1972, is die oppervlakte van die Genootskap se uitgewersfasiliteite in Australië vervierdubbel, met die oogmerk om elke nommer van Die Wagtoring en die Ontwaak! in daardie deel van die wêreld sonder lang skeepsvertragings te voorsien. Addisionele fabrieke is ook in Frankryk en die Filippyne opgerig.
Vroeg in 1972 het N. H. Knorr en die Brooklynse fabrieksopsiener, M. H. Larson, ’n internasionale reis onderneem om die werk wat gedoen word na te gaan ten einde dinge só te organiseer dat hierdie fasiliteite ten beste benut word en om die grondslag vir verdere uitbreiding te lê. Hulle het altesaam 16 lande in Suid-Amerika, Afrika en die Verre-Ooste besoek.
Kort daarna het die tak in Japan self die nodige tydskrifte in Japannees vir daardie deel van die veld begin druk pleks van op ’n handelsdrukker staat te maak. Daardie selfde jaar, 1972, het die tak in Ghana Die Wagtoring in drie van die plaaslike tale begin druk pleks van te wag vir besendings uit die Verenigde State en Nigerië. Toe het die Filippynse tak die set- en drukwerk van Die Wagtoring en die Ontwaak! in agt plaaslike tale (benewens die druk van die nodige Engelse tydskrifte) begin doen. Dit was nog ’n groot stap in die desentralisering van die Wagtoringdrukwerk.
Teen die einde van 1975 het die Wagtoringgenootskap Bybellektuur in sy eie drukkerye in 23 lande oor die wêreld heen gedruk—boeke in drie lande; boekies of tydskrifte of albei in al 23 plekke. In 25 ander lande het die Genootskap kleiner stukke lektuur op sy eie toerusting gedruk.
Die Genootskap se vermoë om boeke te produseer, is ook verhoog. Reeds in die middel-twintigerjare is boeke in Switserland en in Duitsland gebind. Ná die Tweede Wêreldoorlog, in 1948, het die broers in Finland onderneem om boeke te bind (aanvanklik grotendeels met die hand) hoofsaaklik om in die behoeftes van daardie land te voorsien. Twee jaar later het die tak in Duitsland weer eens ’n bindery in werking gehad, en hulle het mettertyd die boekbindwerk wat in Switserland gedoen is, oorgeneem.
Toe, in 1967, met meer as ’n miljoen Getuies dwarsoor die wêreld en met die vrystelling van sakformaatboeke vir gebruik in hulle bediening, het die vraag na hierdie tipe Bybellektuur die hoogte ingeskiet. Binne nege jaar was daar meer as ’n sesvoudige toename in bindvoerlyne in Brooklyn. Teen 1992 het die Wagtoringgenootskap altesaam 28 bindvoerlyne in agt verskillende lande in werking gehad.
In dieselfde jaar, 1992, het die Wagtoringgenootskap nie net in die Verenigde State Bybellektuur in 180 tale gedruk nie, maar vier van sy grootste drukkerye in Latyns-Amerika het die meeste van die lektuur voorsien wat plaaslik sowel as in ander lande in daardie deel van die wêreld benodig is. Elf ander drukkerye het lektuur in Europa gedruk, en hulle almal het gehelp om in die lektuurbehoeftes van ander lande te voorsien. Frankryk, een van hierdie takke, het gereeld lektuur aan meer as 14 lande voorsien, en Duitsland, wat drukwerk in meer as 40 tale gedoen het, het aansienlike voorrade na minstens 20 ander lande en kleiner hoeveelhede na baie ander lande gestuur. In Afrika het ses Wagtoringdrukkerye Bybellektuur in altesaam 46 tale gelewer. Nog 11 drukkerye—party groot, ander klein—het die Midde-Ooste en die Verre-Ooste, eilande van die Stille Oseaan, Kanada en ander dele van lektuur voorsien om in die verkondiging van die dringende boodskap aangaande God se Koninkryk te gebruik. In nog 27 ander lande het die Genootskap kleiner stukke lektuur gedruk wat die gemeentes nodig het om vlot te funksioneer.
Nuwe metodes, nuwe toerusting
Gedurende die sestiger- en sewentigerjare het daar ’n omwenteling in die drukkerswese plaasgevind. Hoogdruk is teen ’n verbasende tempo ten gunste van rubberdruk afgeskaf.d Die Wagtoringgenootskap het nie gou na hierdie nuwe drukmetode oorgeskakel nie. Plate wat vir rubberdrukperse beskikbaar was, was nie baie geskik vir die groot oplae wat die Genootskap van sy lektuur moes druk nie. Boonop sou so ’n oorskakeling heeltemal nuwe stelsels vir setwerk en bladsysamestelling vereis. Nuwe drukperse sou aangeskaf moes word. Nuwe tegnologie sou geleer moes word. Feitlik al die druktoerusting in die Genootskap se fabrieke sou vervang moes word. Die koste sou ontsettend hoog wees.
Dit het egter mettertyd geblyk dat die benodigdhede vir hoogdruk nie veel langer beskikbaar sou wees nie. Die duursaamheid van rubberdrukplate het ook baie vinnig verbeter. Die verandering moes gemaak word.
Reeds in 1972 het drie lede van die Bethelgesin in Suid-Afrika, vanweë hulle lewendige belangstelling in die ontwikkeling van rubberdruk, ’n klein tweedehandse velgevoerde rubberdrukpers gekoop. ’n Mate van ondervinding is opgedoen deur smoutwerk daarop te doen. Toe, in 1974, is hierdie pers gebruik om ’n sakformaatboek, Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, in Ronga te druk. Die feit dat hulle dit gou kon doen, het dit moontlik gemaak om waardevolle Bybelonderrig aan duisende mense wat na die waarheid gehonger het te voorsien voordat die werk van Jehovah se Getuies weer in die land verbied is waar daardie mense gewoon het. Nog ’n velgevoerde rubberdrukpers wat aan die Genootskap se Suid-Afrikaanse tak geskenk is kort nadat die broers die eerste een gekoop het, is na Zambië toe gestuur en daar gebruik.
Die Genootskap se fabriek in Duitsland het ook vroeg met rubberdruk begin. In April 1975 het die broers daar ’n velgevoerde pers begin gebruik om tydskrifte op Bybelpapier vir Jehovah se Getuies in Oos-Duitsland te druk, waar die Getuies destyds in die ban gedoen was. En die volgende jaar is boeke op daardie rubberdrukpers geproduseer vir daardie broers wat so onder vervolging gely het.
Min of meer dieselfde tyd, in 1975, het die Wagtoringgenootskap in Argentinië sy eerste rolrubberdrukpers vir tydskrifte begin gebruik. Hierdie pers het egter net ’n rapsie oor ’n jaar geloop voordat die Argentynse regering die werk van die Getuies verbied en hulle drukkery gesluit het. Maar rubberdrukwerk het in ander lande steeds uitgebrei. Vroeg in 1978 het ’n rolrubberdrukpers by die Wagtoringgenootskap se hoofkwartierdrukkery in Brooklyn, New York, boeke in drie kleure begin druk.e Dieselfde jaar is ’n tweede pers gekoop. Daar was egter nog baie meer toerusting nodig om geheel en al oor te skakel.
Die Bestuursliggaam was vol vertroue dat Jehovah die nodige toerusting sou voorsien om die werk te volbring wat hy gedoen wil hê. In April 1979 en Januarie 1980 is briewe aan die gemeentes in die Verenigde State gestuur waarin die situasie verduidelik is. Bydraes het ingekom—aanvanklik stadig, maar mettertyd was daar genoeg om die hele wêreldwye netwerk van Wagtoringfabrieke vir rubberdrukwerk toe te rus.
Om goeie gebruik van bestaande toerusting te maak en om die oorskakeling te bespoedig, het die Wagtoringgenootskap intussen ’n kontrak met ’n firma aangegaan om die Genootskap se jongste model MAN-perse na rubberdrukperse te verander. Hierdie perse is aan twaalf lande voorsien, waaronder ses lande wat nie vantevore hulle tydskrifte plaaslik gedruk het nie.
Vierkleurdruk
Die tak in Finland was die eerste wat met rubberdruk elke nommer van sy tydskrifte in vier kleure gedruk het, deur met ’n eenvoudige metode met die nommers vir Januarie 1981 te begin en gaandeweg verbeterde tegnieke te gebruik. Die volgende was Japan wat ’n boek in vier kleure gedruk het. Ander Wagtoringdrukkerye het ook vierkleurdrukwerk begin doen namate toerusting beskikbaar gekom het. Party van die perse is deur die wêreldhoofkwartier aangekoop en uitgestuur. Ander is betaal deur Jehovah se Getuies in die land waar die fabriek geleë is. In ander gevalle weer het die Getuies in een land die nodige toerusting aan hulle broers in ’n ander land geskenk.
Gedurende die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog het die wêreld in ’n groot mate op leesstof met prente ingestel geraak, en die gebruik van lewensgetroue kleure het baie daartoe bygedra om publikasies aantrekliker vir die oog te maak. Hierdie gebruik van kleur het die leesstof groter byval laat vind en mense gevolglik aangemoedig om te lees. Op talle plekke is gevind dat die verspreiding van Die Wagtoring en die Ontwaak! aansienlik toegeneem het nadat hulle voorkoms so verbeter is.
Geskikte rekenaarstelsels word ontwikkel
Vir vierkleurdruk moes daar ’n gerekenariseerde stelsel vir persvoorwerk ontwikkel word; en die besluit om hiermee voort te gaan is in 1977 geneem. Getuies wat deskundiges op die gebied is, het aangebied om by die wêreldhoofkwartier met die werk te gaan help sodat die Genootskap gou in hierdie behoeftes kon voorsien. (Kort hierna, in 1979, het ’n span in Japan wat mettertyd sowat 50 Getuies ingesluit het, begin werk aan rekenaarprogramme wat vir Japannees nodig is.) Beskikbare kommersiële rekenaarhardeware is gebruik, en programme is deur die Getuies voorberei om in die Genootskap se administratiewe en veeltalige uitgewersbehoeftes te help voorsien. Om hoë standaarde te handhaaf en die nodige aanpasbaarheid te hê, was dit nodig om gespesialiseerde programme vir setwerk en fotosetwerk te ontwikkel. In baie van die 167 tale waarin die Genootskap destyds gedruk het, was daar geen kommersiële programme vir teksinvoer en fotosetwerk beskikbaar nie; daarom moes die Getuies hulle eie programme ontwikkel.
Destyds het die handelswêreld geen winste gesien in tale wat deur klein bevolkings of deur mense met ’n baie beperkte inkomste gebruik word nie, maar Jehovah se Getuies stel in lewens belang. Binne ’n betreklike kort tydjie is die setwerkprogramme wat hulle ontwikkel het, gebruik om lektuur in meer as 90 tale te druk. Oor hulle werk het die gesiene Seybold Report on Publishing Systems gesê: “Ons het net lof vir die ondernemingsgees, inisiatief en insig van die Wagtoringmense. Daar is min mense wat vandag vooruitstrewend of moedig genoeg is om so ’n taak aan te pak, veral as hulle feitlik van meet af moet begin.”—Jaargang 12, Nr. 1, 13 September 1982.
Drukwerk en instandhouding sou grootliks vergemaklik word indien die toerusting wêreldwyd volkome versoenbaar is. Daarom is daar in 1979 besluit dat die Wagtoringgenootskap sy eie fotosetstelsel moet ontwikkel. Die span wat hieraan gewerk het, het hulle daarop toegelê om die vernaamste hardeware te maak pleks van in so ’n groot mate op kommersiële toerusting staat te maak.
So het dit gekom dat ’n span Jehovah se Getuies in 1979 met Watchtower Farms, Wallkill, New York, as hulle basis begin het om die Multilanguage Electronic Phototypesetting System (MEPS) te ontwerp en te bou. Teen Mei 1986 het die span wat aan hierdie projek gewerk het nie net MEPS-rekenaars, -fotosetters en grafiese terminale ontwerp en gebou nie, maar nog belangriker, hulle het ook die nodige sagteware ontwikkel om materiaal te verwerk sodat dit in 186 tale gepubliseer kan word.
Saam met hierdie ontwikkeling van sagteware is ’n groot werk in fontversyfering aangepak. Dit het vereis dat die kenmerkende eienskappe van elke taal deeglik bestudeer word. Tekeninge moes gemaak word van elke karakter in ’n taal (byvoorbeeld elke letter in hoof- en onderkas, asook diakritiese tekens en leestekens—alles in verskillende groottes), met afsonderlike tekeninge vir elke letterbeeld (soos maerbeeld, kursief, vetbeeld en ekstra vet), moontlik in ’n aantal verskillende fonte, of lettersoorte. Elke romeinfont het 202 karakters nodig gehad. Die 369 romeinfonte het dus altesaam 74 538 karakters vereis. Die voorbereiding van Chinese fonte het vereis dat 8 364 karakters vir elke font geteken moes word, en nog karakters sou later bygevoeg word.
Nadat die tekenwerk gedoen is, is sagteware ontwerp wat dit moontlik sou maak om die karakters in ’n skoon, skerp beeld te druk. Die sagteware moes nie net met die Romeinse alfabet kon werk nie, maar ook met Bengaals, Cirillies, Grieks, Hindi, Kambodjaans en Koreaans, asook Arabies en Hebreeus (albei tale wat van regs na links gelees word) en Japannees en Chinees (wat nie ’n alfabet gebruik nie). Teen 1992 was sagteware beskikbaar om materiaal in meer as 200 tale te verwerk, en daar word nog gewerk aan programme vir ander tale wat deur miljoene mense gepraat word.
Om in die takkantore na hierdie stelsel oor te skakel, het vereis dat nuwe prosedures gevolg en nuwe vaardighede aangeleer word. Personeellede is na die wêreldhoofkwartier gestuur om te leer hoe om groot rolrubberdrukperse te monteer, te bedien en in stand te hou. Party is geleer hoe om kleurskeiding met ’n laseraftaster te doen. Addisionele personeellede is opgelei om rekenaartoerusting te gebruik en in stand te hou. Produksieprobleme wat op enige plek in die wêreld opduik, kan dus gou opgelos word sodat die werk kan aangaan.
Die Bestuursliggaam het besef dat dit ’n kragtig verenigende uitwerking sou hê indien Jehovah se Getuies oor die hele wêreld week na week dieselfde materiaal in hulle vergaderinge kon bestudeer en dieselfde lektuur in die veldbediening kon aanbied. In die verlede was die lektuur wat in Engels gepubliseer is gewoonlik eers minstens vier maande later in ander tale beskikbaar; in baie tale was dit ’n jaar, of dikwels jare, later. Maar nou was ’n verandering moontlik. Die feit dat dié wat drukwerk doen nou oor volkome versoenbare toerusting beskik het, was ’n belangrike faktor wat hulle in staat gestel het om lektuur gelyktydig in verskillende tale te publiseer. Teen 1984 is Die Wagtoring gelyktydig in 20 tale gedruk. In 1989, toe die kragtige boodskap soos vervat in die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! slegs enkele maande ná sy vrystelling onder die publiek versprei is, was hierdie boek in 25 tale beskikbaar. Teen 1992 het die gelyktydige publisering van Die Wagtoring uitgebrei om 66 tale in te sluit—tale wat deur ’n groot deel van die wêreldbevolking gebruik word.
Sedert die MEPS-projek in 1979 aangepak is, het die rekenaarnywerheid merkwaardige vooruitgang gemaak. Kragtige persoonlike rekenaars met groot veelsydigheid is nou beskikbaar teen ’n fraksie van die prys van die vroeëre toerusting. Om tred te hou met die behoeftes van sy uitgewersbedrywighede, het die Wagtoringgenootskap besluit om ook hierdie persoonlike rekenaars saam met die Genootskap se eie sagteware te gebruik. Dit het die produksieproses grootliks bespoedig. Dit het dit ook moontlik gemaak om die voordele van die uitgewersprogramme aan meer van die Genootskap se takke te verskaf, en die aantal takke wat hiervan gebruik maak, het gou tot 83 gestyg. Teen 1992 het die Wagtoringgenootskap wêreldwyd meer as 3 800 terminale besit waarop die Genootskap sy eie rekenaarprogramme gebruik. Nie al die takke wat so toegerus is, doen drukwerk nie, maar enige tak wat oor ’n klein rekenaar en die Genootskap se sagteware asook ’n klein laserdrukker beskik, kan die persvoorwerk doen vir traktate, tydskrifte, boeke en enige ander drukwerk wat gedoen moet word.
Meer rekenaarhulp aan vertalers
Kon rekenarisering ook gebruik word om groter hulp te verleen aan diegene wat die vertaalwerk doen? Vertalers van Wagtoringpublikasies doen nou in die meeste gevalle hulle werk by rekenaarterminale. Baie van hierdie vertalers is by die Genootskap se takkantore. Ander, wat vertaalwerk tuis doen en baie jare hulle werk op tikmasjiene of selfs met die hand gedoen het, is geleer om hulle vertaalwerk in te voer by rekenaarwerkstasies of op skootrekenaars (wat gerieflik klein is) wat deur die Genootskap aangekoop is. Veranderinge in die vertaling kan maklik reg daar op die rekenaarskerm aangebring word. As die vertaling elders gedoen word as in die kantoor van ’n tak waar die drukwerk gedoen sal word, moet die teks net op ’n dun, slap disket oorgedra en aan die tak wat die drukwerk doen vir verwerking gestuur word.
Gedurende 1989-90 het die vinnige verandering van regerings in baie lande internasionale kommunikasie makliker gemaak. Jehovah se Getuies het sonder versuim ’n seminaar vir hulle vertalers uit Oos-Europa gereël. Die doel van die seminaar was om hulle te help om die gehalte van hulle werk te verhoog, om hulle voordeel te laat put uit beskikbare rekenaartoerusting en om gelyktydige publisering van Die Wagtoring in hulle tale te bewerkstellig. Daar is ook aan vertalers in Suidoos-Asië soortgelyke hulp verleen.
Maar kon die rekenaar gebruik word om vertaalwerk te bespoedig of die gehalte daarvan te verbeter? Ja. Teen 1989 is kragtige rekenaarstelsels deur Jehovah se Getuies benut om met Bybelvertaling te help. Ná omvattende voorwerk is elektroniese lêers voorsien wat ’n vertaler in staat stel om in ’n kits ’n visuele beeld van enige bepaalde woord in die oorspronklike Bybeltaal op die rekenaarskerm op te roep saam met ’n lys van al die maniere waarop dit volgens die teksverband reeds in Engels in die New World Translation vertaal is. Hy kan ook ’n sleutelwoord in Engels selekteer en al die woorde in die oorspronklike taal waaruit hierdie woord (en moontlik woorde met ’n soortgelyke betekenis) afgelei is, oproep. Dit bring dikwels aan die lig dat ’n groep woorde in Engels gebruik is om die gedagte weer te gee wat in ’n enkele woord in die oorspronklike taal opgesluit lê. Dit gee die vertaler gou ’n deeglike begrip van wat hy besig is om te vertaal. Dit help hom om die bepaalde grondbetekenis van die uitdrukking in die oorspronklike taal te snap, asook die presiese betekenis wat deur die teksverband vereis word en om dit sodoende akkuraat in sy taal weer te gee.
Met die gebruik van hierdie rekenaarlêers gaan ervare vertalers al die plekke na waar ’n bepaalde woord in die Bybel voorkom en kies hulle, volgens die teksverband, ooreenstemmende woorde in die plaaslike taal vir elk van hierdie gevalle. Dit verseker ’n hoë mate van konsekwentheid. Die werk van elke vertaler word deur ander vertalers op die span nagegaan sodat hulle almal se navorsing en evaring tot ’n beter vertaling kan bydra. Nadat dit gedoen is, kan die rekenaar gebruik word om ’n bepaalde Skrifgedeelte op die skerm te vertoon, wat elke woord in die Engelse teks, ’n verwysingsnommer na die woord wat in die oorspronklike taal voorkom en die gekose ooreenstemmende woord in die plaaslike taal aangee. Dit voltooi nie die werk nie. Die vertaler moet nog aan die sinsbou skaaf sodat dit lekker in sy taal lees. Maar terwyl die vertaler dit doen, is dit noodsaaklik dat hy ’n duidelike begrip van die teks se betekenis het. Om hom hiermee te help, het hy onmiddellike rekenaartoegang tot gepubliseerde kommentaar in Wagtoringpublikasies oor die Bybelvers of enige uitdrukking wat daarin voorkom.
Navorsingstyd word sodoende besnoei en ’n hoë mate van konsekwentheid word bereik. Daar word gehoop dat verdere ontwikkeling van hierdie potensiaal dit moontlik sal maak om nog waardevolle publikasies vinnig beskikbaar te stel, selfs in tale met min vertalers. Die gebruik van hierdie sagteware om lektuur te voorsien ter bevordering van die verkondiging van die Koninkryksboodskap het ’n ontsaglike veld in die uitgewersbedryf geopen.
Net soos hulle vroeë Christenbroers, gebruik Jehovah se Getuies dus in hedendaagse tye die nuutste metodes om God se Woord te versprei. Om soveel mense as moontlik met die goeie nuus te bereik, was hulle nie bang om nuwe uitdagings in die uitgewersbedryf te aanvaar nie.
[Voetnote]
a In 1896 is die naam van die korporasie amptelik verander na Watch Tower Bible and Tract Society.
b Hierdie firma het aan Charles Taze Russell behoort. In 1898 het hy die bates van die Tower-uitgewersmaatskappy as geskenk aan die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap oorgedra.
c Die feit dat die broers nie steenkool kon kry nie, was nie net as gevolg van ’n tekort tydens die oorlog nie. Hugo Riemer, wat destyds ’n lid van die hoofkwartierpersoneel was, het later geskryf dat dit hoofsaaklik te wyte was aan die haat wat destyds in New York teen die Bybelstudente gekoester is.
d Hoogdruk word gedoen van ’n verhoogde oppervlak waarop daar ’n spieëlbeeld is van wat op die gedrukte bladsy sal verskyn. Hierdie verhoogde oppervlak word met ink bedek en teen die papier gedruk. Rubberdruk word gedoen deur ’n inkafdruk van ’n drukplaat af op ’n silinder te maak wat met ’n rubberkombers bedek is en die afdruk dan op die papier oor te dra.
e Van 1959 tot 1971 het die Genootskap ’n velgevoerde rubberdrukpers in sy Brooklynse fabriek gebruik om kalenders in vier kleure te druk, waarop temas in verband met die verkondiging van die goeie nuus verskyn het.
[Lokteks op bladsy 578]
“Kom ons maak steenkool die toets”
[Lokteks op bladsy 595]
Die hele wêreldwye netwerk van Wagtoringfabrieke is vir rubberdrukwerk toegerus
[Lokteks op bladsy 596]
“Ons het net lof vir . . . die Wagtoringmense”
[Venster/Prente op bladsy 581]
Setwerk
Aanvanklik is alle setwerk letter vir letter met die hand gedoen
Suid-Afrika
Van 1920 tot die tagtigerjare is Linotype-masjiene gebruik
Verenigde State
Op party plekke is die setwerk met Monotype-toerusting gedoen
Japan
Nou word ’n gerekenariseerde fotosetproses gebruik
Duitsland
[Venster/Prente op bladsy 582]
Plaatmaakwerk
Van die twintiger- tot die tagtigerjare is loodplate vir hoogdruk gemaak
[Prente]
1. Gesette reëls van die materiaal wat gedruk moes word, is in bladsye saamgestel en in metaalrame, wat vormrame genoem word, vasgesluit
2. ’n Afdruk van die setsel is in materiaal ingepers wat as ’n gietvorm gebruik kon word
3. Warm lood is dan teen die matrys (of gietvorm) gegiet om geronde metaaldrukplate te maak
4. Onnodige metaal is van die plaatoppervlak afgeskaaf
5. Die plate is vernikkel om hulle sterker te maak
Later is negatiewe van foto-elektronies gesette bladsye in posisie gelê en die prente ingepas. Groepe bladsye is fotografies op buigbare rubberdrukplate oorgedrxa
[Venster/Prent op bladsy 585]
‘’n Bewys van Jehovah se gees’
“Die welslae waarmee boeke en Bybels op rotasieperse gedruk is deur mense wat weinig of geen ondervinding gehad het nie [en dít op ’n tydstip toe ander dit nog nie gedoen het nie], is ’n bewys van Jehovah se toesig en die leiding van sy gees”, het Charles Fekel gesê. Broer Fekel het geweet waarvan hy praat, want hy het meer as ’n halfeeu lank ’n aandeel aan die ontwikkeling van die drukwerk by die Genootskap se hoofkwartier gehad. In sy latere jare het hy as ’n lid van die Bestuursliggaam gedien.
[Prent]
Charles Fekel
[Venster/Prent op bladsy 586]
Hulle het op die almagtige God vertrou
’n Ondervinding wat Hugo Riemer, ’n voormalige aankoper vir die Wagtoringgenootskap, vertel het, wys hoe die Wagtoringgenootskap te werk gaan.
Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is drukpapier in die Verenigde State gerantsoeneer. Aansoeke om voorrade moes by ’n staatsaangestelde komitee ingedien word. By een geleentheid het een van die vername Bybelgenootskappe regsverteenwoordigers, vooraanstaande sakemanne, leraars en ander daar gehad om hulle voor die komitee te verteenwoordig. Daar is aan hulle baie minder papier toegestaan as wat hulle wou hê. Nadat hulle aansoek afgehandel is, het die komitee die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap geroep. Toe Hugo Riemer en Max Larson vorentoe kom, het die voorsitter gevra: “Net julle twee?” Die antwoord: “Ja. Ons hoop dat die almagtige God ook met ons is.” Hulle het al die papier gekry wat hulle nodig gehad het.
[Prent]
Hugo Riemer
[Prente op bladsy 587]
Drukperse
’n Groot verskeidenheid perse is deur die Wagtoringgenootskap in sy drukwerk gebruik
[Prente]
Allerlei platvormperse is baie jare gebruik (Duitsland)
Smoutperse is gebruik, nie net om vorms en strooibiljette te druk nie, maar ook tydskrifte (VSA)
In sy verskillende drukkerye is 58 van hierdie MAN-rotasiehoogdrukperse wat in Duitsland gemaak is, gebruik (Kanada)
Vandag word snelrolrubberdrukperse wat in volkleur druk en in verskeie lande vervaardig word in die Genootskap se vernaamste drukkerye gebruik
Italië
Duitsland
[Prente op bladsy 588, 589]
Boekbindery
Van die vroeë boeke wat in die Wagtoringfabrieke gebind is, is met die hand gedoen (Switserland)
Grootskaalse produksie in die Verenigde State het talle stappe vereis
1. Die katerns word versamel
2. Hulle word aanmekaar gewerk
3. Skutblaaie word aangeplak
4. Afkanting
5. Bosselering van die omslae
6. Die omslae word aan die boeke vasgeplak
7. Die boeke word onder druk geplaas totdat die gom droog is
Vandag word barsbindwerk pleks van vaswerk dikwels gebruik, en snelmasjiene kan elk 20 000 of meer boeke per dag bind
[Venster/Prente op bladsy 594]
Om kennis aangaande God se Koninkryk te bevorder
Die Wagtoringgenootskap het by verskillende tye lektuur in meer as 290 tale uitgegee. In 1992 het hulle lektuur in sowat 210 tale gepubliseer. Dit is alles gedoen om mense aangaande God se Koninkryk en wat dit vir hulle beteken, in te lig. Die volgende is van hulle Bybelstudiehulpe wat tot op hede die grootste verspreiding geniet het:
“Die waarheid wat lei tot die ewige lewe” (1968 in Engels): 107 553 888 eksemplare, in 117 tale
“Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe” (1982): 62 428 231 eksemplare, in 115 tale
“Jy kan vir ewig op die aarde lewe!” (1982): 76 203 646 eksemplare, in 200 tale
Syfers wat hierbo aangegee word, is vir die jaar 1992.
[Venster/Prente op bladsy 598]
Kassetopnames
Die Wagtoringgenootskap gebruik nie net leesstof om sy evangelisasiewerk te doen nie, maar het ook van 1978 af kassetopnames gemaak—meer as 65 miljoen kopieë op sy eie toerusting in die Verenigde State en Duitsland.
Die hele “New World Translation” is op kassette in Duits, Engels, Frans, Italiaans, Japannees en Spaans. En teen 1992 was kleiner of groter dele van hierdie Bybelvertaling ook reeds in agt ander tale op kassette beskikbaar.
As ’n hulpmiddel in die onderrigting van jong kinders is daar ook bandopnames gemaak van “My boek met Bybelverhale” en “Luister na die Groot Onderwyser”, publikasies wat spesifiek vir kinders geskryf is.
In party lande word kassetopnames vir radio-uitsendings gemaak.
Opnames word gemaak deur ’n orkes wat net uit Getuies bestaan. Hierdie bande word gebruik vir sangbegeleiding by byeenkomste van Jehovah se Getuies. Lieflike orkesverwerkings van hierdie musiek is ook beskikbaar vir die wat dit tuis wil geniet.
Bandopnames van dramas (met ’n hedendaagse agtergrond asook Bybelverhale) word by byeen- komste gebruik waar Getuietoneelspelers die gehoor help om die gebeure te visualiseer. Sommige van hierdie drama-opnames word later vir opbouende en genotvolle gesinsvermaak gebruik.
“Die Wagtoring” sowel as die “Ontwaak!” is in Engels en Fins op kassette beskikbaar. “Die Wagtoring” is ook in Frans, Duits, Deens, Noors en Sweeds beskikbaar. Hierdie opnames was aanvanklik bedoel vir mense met swak oë, maar duisende ander waardeer hulle ook.
[Prent]
J. E. Barr in die opname-ateljee
[Venster/Prente op bladsy 600, 601]
Die gebruik van videokassette in die Koninkryksverkondiging
In 1990 het die Wagtoringgenootskap ’n nuwe veld betree deur sy eerste video vir algemene verspreiding vry te stel.
Dit is daardie jaar geraam dat meer as 200 000 000 gesinne dwarsoor die aarde die een of ander soort videomasjien besit het. Selfs in lande waar daar geen televisiestasies was nie, is videomasjiene gebruik. Die gebruik van videokassette vir onderrigting het dus ’n nuwe weg geopen om ’n wydverspreide gehoor te bereik.
Reeds in 1985 is begin met die voorbereiding van ’n video-aanbieding om aan diegene wat die Genootskap se fasiliteite besoek sommige van die bedrywighede by die Genootskap se wêreldhoofkwartier te wys. Dit het ook mettertyd geblyk dat video-aanbiedings tyd bespaar in die oriëntering van nuwe Bethelgesinslede. Sou hierdie onderrigmetode ook op ander maniere aangewend kon word om die wêreldwye dissipelmaakwerk te bevorder? Van die broers het geglo dat dit wel gedoen kon word.
So het dit gekom dat die videokasset “Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name” in Oktober 1990 vrygestel is. Dit is besonder gunstig ontvang. Versoeke dat meer sulke programme gemaak moet word, het ingestroom. Om in die behoefte te voorsien, is ’n nuwe afdeling, Videodienste, in die lewe geroep.
Getuies wat kundiges op die gebied is, het met genoeë aangebied om te help. Toerusting is aangeskaf. Ateljees is ingerig. ’n Span fotograwe het na verskillende lande begin reis om films van mense en voorwerpe te maak wat gebruik kon word in video-aanbiedings wat geloofversterkend sou wees. Die internasionale orkes wat net uit Getuies bestaan en wat herhaaldelik met spesiale projekte gehelp het, het musiek verskaf wat die video-aanbiedings se trefkrag sou verhoog.
Planne is in werking gestel om meer taalgroepe te bereik. Teen die middel van 1992 is die video “Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name” in ’n stuk of twaalf tale uitgestuur. Dit is reeds oorge-klank in 25 tale, insluitende ’n paar vir Oos-Europa. Reëlings was ook op dreef om dit vir die Chinese in Mandarynetaal asook Kantonees oor te klank. Die Genootskap het ook die reg verkry om kopieë van “Purple Triangles” te maak en te versprei, ’n video wat handel oor die onkreukbaarheid van ’n Getuiegesin in Duitsland gedurende die Nazi-tydperk. Binne twee jaar is ver oor ’n miljoen videokassette vervaardig vir die gebruik van Jehovah se Getuies in hulle bediening.
Spesiale aandag is gewy aan die behoeftes van die dowes. ’n Uitgawe van “Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name” is in Amerikaanse gebaretaal gemaak. Dit is gevolg deur nog materiaal vir die dowes. En navorsing is gedoen met die oog daarop om video’s te voorsien wat vir dowes in ander lande geskik sal wees.
Terwyl hierdie werk aan die gang was, is daar begin met die vervaardiging van ’n reeks wat geloof sou opbou in die boek wat inderdaad die fondament van die Christelike geloof is, naamlik die Bybel. Teen September 1992 is die eerste deel van hierdie program, “The Bible—Accurate History, Reliable Prophecy”, in Engels voltooi, en is daar aan uitgawes in ander tale gewerk.
Videokassette neem geensins die plek van leesstof of persoonlike getuieniswerk nie. Die Genootskap se publikasies speel steeds ’n uiters belangrike rol in die verspreiding van die goeie nuus. Die huis-tot-huis-werk van Jehovah se Getuies is steeds ’n sy van hulle bediening wat ’n vaste Bybelse grondslag het. Maar videokassette vul nou hierdie aspekte van die bediening aan deur as waardevolle instrumente te dien om geloof in Jehovah se kosbare beloftes op te bou en waardering vir die werk wat hy in ons dag op die aarde laat doen, aan te wakker.
[Prente]
1. Nadat daar oor die basiese inhoud besluit is, word die video-opname gedoen namate die draaiboek vorder
2. Beeldmateriaal word gekies en die volgorde daarvan word gedurende nie-gekoppelde redigering bepaal
3. Orkesmusiek wat spesiaal gekomponeer is, word opgeneem om die aanbieding se trefkrag te verhoog
4. Digitale musiek en byklanke word geredigeer en met die vertelling en beeldmateriaal gesinchroniseer
5. Die klank en beeldmateriaal word vir oulaas geredigeer
[Prent op bladsy 576]
Hierdie vroeë publikasies is deur handelsdrukkers gedruk
[Prent op bladsy 577]
C. A. Wise het ’n toets gedoen om te sien of die Bybelstudente weer hulle hoofkwartier in Brooklyn moes vestig
[Prente op bladsy 579]
Die Genootskap se eerste rotasiepers is gebruik om 4 000 000 eksemplare van die kragtige “Golden Age” nr. 27 te druk
[Prent op bladsy 580]
R. J. Martin (regs), die eerste opsiener van die Genootskap se Brooklynse fabriek, beraadslaag met broer Rutherford
[Prent op bladsy 583]
Een van die Genootskap se eerste drukkerye in Europa (Bern, Switserland)
[Prente op bladsy 584]
In Maagdenburg, Duitsland, het die Genootskap gedurende die twintigerjare ’n drukkery geopen
[Prente op bladsye 590, 591]
Elandsfontein, Suid-Afrika (1972)
[Prent op bladsy 590]
Numazu, Japan (1972)
[Prent op bladsy 590]
Strathfield, Australië (1972)
[Prent op bladsy 590]
Sao Paulo, Brasilië (1973)
[Prent op bladsy 591]
Lagos, Nigerië (1974)
[Prent op bladsy 591]
Wiesbaden, Duitsland (1975)
[Prent op bladsy 591]
Toronto, Kanada (1975)
[Prent op bladsy 597]
Intensiewe fontversyfering is deur die Getuies gedoen om in hulle behoefte aan Bybellektuur in baie tale te voorsien (Brooklyn, NY)
[Prent op bladsy 599]
Kleurrekenaarwerkstasies stel grafiese ontwerpers in staat om prente elektronies op hulle plek in te voeg, reg te sny en te verskerp
[Prent op bladsy 602]
Jehovah se Getuies gebruik rekenaarstelsels om die werk aan Bybelvertaling te bespoedig en te verfyn (Korea)