Wat is jou prioriteite?
1 Een definisie van die woord “prioriteit” is die “reg om iets voor ander te doen of te hê”. Aangesien ons in die laaste dae van hierdie stelsel van dinge lewe, is dit vir Christene noodsaaklik om aandag te skenk aan hulle prioriteite sodat hulle aandag nie deur minder belangrike sake afgelei word nie. Christus Jesus het dit heel eenvoudig gestel toe hy gesê het: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matt. 6: 33). Wat moet dus ons belangrikste prioriteit wees? God se Koninkryk en sy belange! Ja, elke Christen moet probeer om die geestelike dinge, nie die materiële dinge nie, eerste in sy lewe te stel.—Matt. 5:3.
2 Hoe kan elkeen van ons toon dat geestelike dinge ons grootste prioriteit is? Een manier is deur die regte beskouing te he van die verskillende vertakkings van die voltydse diens en van diegene wat van hulleself gegee het om ’n aandeel in daardie diens te hê. Gesinne word aangespoor om soveel van hulle lede as moontlik, of ten minste een, in die een of ander vertakking van die voltydse diens te hê. (Kyk wAF 6/15/75, bl. 284, par. 12, 13; wAF 5/15/82 bl. 24, par. 11; bl. 28.) Hoewel hulle nie almal in die voltydse diens sal wees nie, sal gesinne op hierdie manier toon dat hulle geestelike dinge eerste stel deur lede van die gesin wat in die voltydse diens kan wees te ondersteun. Dit sal duidelik wees dat hulle prioriteite reg is. Sulke gesinne geniet baie seëninge, net soos die gesinslid wat in die voltydse diens is.
3 Wanneer onvoorsiene omstandighede in ’n gesin opduik, of bejaarde ouers sorg nodig het, verwag gesinslede dikwels dat diegene in die voltydse diens na sulke verantwoordelikhede moet omsien. By Bethel is broers wat noodsaaklike Koninkrykswerk doen al by verskeie geleenthede deur ander gesinslede gevra om na sulke verantwoordelikhede om te sien. In sommige gevalle is daar weliswaar nie ander wat dit kan doen nie, en dan sal die wat in die voltydse diens is hulle voorregte moet opgee om sulke skriftuurlike verantwoordelikhede na te kom. As daar andersyds gesinslede is wat nie in die een of ander vertakking van die voltydse diens is nie en wat na sulke verantwoordelikhede kan omsien, behoort dit hulle begeerte te wees om dit te doen sodat die wat alreeds in die voltydse diens is, kan aanhou om die belange van Jehovah se Koninkryk op hierdie manier te bevorder, nie waar nie? (Kyk wAF 6/1/87, bl. 15, 16.) Sal dit nie ’n regte beskouing van prioriteite toon nie?
4 Ouers moet ook versigtig wees dat hulle nie hulle geld vermors en ’n onnodige las vir hulle kinders word nie (Spr. 13:22). Sover moontlik moet ouers voorsiening maak vir hulle oudag deur geld opsy te sit en reëlings te tref sodat daar vir hulle gesorg sal word (Spr. 21:5). Die regte gesindheid is noodsaaklik. Ouers moenie onredelik of te veeleisend wees nie en moet die Bybel se raad onthou: “Dit is nie die kinders wat vir die ouers moet opgaar nie, maar die ouers vir die kinders.”—2 Kor. 12:14.
5 Terselfdertyd moet ons almal besef dat, wanneer skriftuurlike verantwoordelikhede opduik, ons dalk sekere voorregte sal moet prysgee om sulke verantwoordelikhede na te kom(1 Tim. 5:4). As ons die bostaande skriftuurlike beginsels in gedagte hou, kan dit ons almal help om onsself te ondersoek om te verseker dat ons die regte gesindheid teenoor Jesus se woorde in Mattheüs 6:33 het. As ons die regte gesindheid het, sal alle ander dinge vir ons bygevoeg word soos God se Seun beloof het. Hou jou prioriteite reg deur seker te maak dat geestelike dinge altyd eerste in jou lewe kom.