Jy word uitgenooi na die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkoms vir 1989!
1 Die uitdrukking “godvrugtige toegewydheid” verwys na eerbied vir, aanbidding van en diens aan God met lojaliteit teenoor sy universele soewereiniteit. Jesus Christus is die toonbeeld van godvrugtige toegewydheid. Hy was die een man wat tot sy dood toe volmaakte godvrugtige toegewydheid onder moeilike toestande gehandhaaf het (1 Tim. 3:16; Hebr. 7:26). As navolgers van Christus moet ons met inspanning oefen as ons godvrugtige toegewydheid wil openbaar. Dit behels dat ons, net soos Jesus, teenstand sal moet verduur (2 Tim. 3:12). As ons oefen met godvrugtige toegewydheid as ons doel het dit “die belofte van die teenwoordige” lewe, naamlik geestelike gesondheid, tevredenheid, geluk en ’n doel in die lewe tot gevolg. Dit hou ook vir ons die belofte van die “toekomende” lewe in (1 Tim. 4:7, 8). Sulke oefening is derhalwe nie vir materialistiese gewin nie. As gevolg daarvan is ons eerder tevrede met die basiese lewensmiddele terwyl ons Jehovah dien.—1 Tim. 6:6-8.
2 Hoewel vervolging en teenspoed kan kom, hoef ware Christene nie bevrees te wees nie, want “Jehovah weet hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te bevry” (2 Petrus 2:9, NW). Hy vermaan hulle om deur “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” gekenmerk te word ten einde die oordeel van Jehovah se dag te oorleef (2 Pet. 3:10, 11, NW). Wil jy maniere leer om jou godvrugtige toegewydheid te versterk sodat jy in die moeilike dae wat voorlê lojaal aan Jehovah kan bly? Heelwat nuttige raad en aanmoediging in hierdie verband sal by die driedaagse “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkomste aangebied word wat hierdie somer vir ons tak se gebied beplan word. Tref nou reëlings om dit by te woon en om te deel in die puik geestelike verkwikking wat aangebied sal word.
3 KOM VROEG: Jehovah se Getuies is bekend vir hulle betroubaarheid en stiptheid (Luk. 16:10). Dit is belangrik wanneer ons ’n byeenkoms bywoon. Ons moet elke dag vroeg kom en in ons sitplek wees voor die program begin. Dit vereis dat ons genoeg tyd toelaat om nodige sake af te handel, soos om ons voertuig te parkeer, geskikte sitplekke vir ons gesin te kry en byeenkomsvoedselkoepons te koop.
4 Die byeenkomstyd bied ’n goeie geleentheid om aangename omgang te geniet. Maar as ons tot laat in die nag by vriende kuier, kan dit ons pogings belemmer om die volgende dag betyds te wees. Dit kan tot baie spanning en frustrasie lei as ons laat aan die gang kom en dus in die oggend moet jaag. Om dit te voorkom, vind sommige gesinne dit nuttig om ’n redelike tyd vas te stel om te gaan slaap. Deur getrou by ’n rooster te bly, is daar ’n groter kans dat hulle ’n goeie nagrus sal kry en die volgende dag vroeg sal kan begin. Dit voorkom dat hulle daar aankom terwyl die program aan die gang is, wat steurend is en ’n ontstigting kan wees vir die wat alreeds sit. Ons bedagsaamheid in hierdie verband kan ons eerbied en ontsag vir Jehovah weerspieël en is ’n blyk van ware godvrugtige toegewydheid.
5’N DRIEDAAGSE BYEENKOMS: Die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkoms sal drie dae duur. Versigtig gekose inligting wat noodsaaklik is vir ons geestelike gesondheid sal by elke sessie aangebied word, ’n Verskeidenheid van onderwerpe wat op godvrugtige toegewydheid betrekking het, sal in toesprake, demonstrasies en ’n hedendaagse drama bespreek word.
6 Neem jou voor om nie eers een sessie te mis nie. Dit kan persoonlike opofferinge en aanpassings in jou rooster verg. Sommige moet spesiale reëlings met hulle werkgewer tref. Talle offer finansiële voordele op om al die sessies by te woon. Jehovah sal beslis diegene seën wat dit ’n saak van opregte gebed maak en ’n hartgrondige poging aanwend om daar te wees.—Luk. 13:24.
7 LUISTER AANDAGTIG: Moenie toelaat dat jou aandag gedurende die byeenkomsprogram afgetrek word deur dinge wat jy sien en hoor wat nie verband hou met die materiaal wat van die verhoog aangebied word nie. Hoe dankbaar is ons teenoor Jehovah wat ons die vermoë gegee het om “aandagtig” te konsentreer op gedagtes van ons keuse. Ons godvrugtige toegewydheid moet ons aanspoor om ’n keuse te doen wat ooreenstem met Jehovah se versoek in Jesaja 55:2: “Luister aandagtig na My.”
8 Hoewel die hooftoespraak weliswaar vir die gewone publiek geadverteer word, is die meeste van die materiaal wat by hierdie byeenkoms aangebied sal word veral voorberei vir diegene wat reeds aan Jehovah toegewy is. Die byeenkoms sal ons op hoogte bring van huidige behoeftes en ons help om tred te hou met Jehovah se progressiewe organisasie. Onoplettendheid sal tot gevolg hê dat ons agterbly. Ons moet die hele tyd noukeurig aandag skenk aan die program sodat ons ten volle kan baat vind by die ryk geestelike voedsel.—1 Pet. 2:2.
9 Deur die jare heen het baie byeenkomsgangers die nuttige gewoonte aangeleer om aantekeninge gedurende die program te maak. Gepaste toerusting om aantekeninge mee te maak moet saam met Bybels en liedereboeke as standaardtoerusting beskou word wanneer ons ’n byeenkoms bywoon. Sommige was dalk skepties oor die maak van aantekeninge en het gedink dat dit nie werklik voordeel inhou nie. As jy so gedink het, kan jy gerus probeer om aantekeninge te maak gedurende die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkoms. Soos baie ander sal jy dalk vind dat dit ’n goeie manier is om jou aandag gevestig te hou op wat gesê word en dat dit jou teen dagdromery of dwalende gedagtes beskerm.
10 Aantekeninge hoef nie omvattend of uitvoerig te wees nie. Gewoonlik sal ’n frase of twee voldoende wees vir ’n sleutelgedagte. Ouere manne vind dit voordelig om netjiese aantekeninge te hê sodat hulle ’n betekenisvolle hersiening van die byeenkomsprogram op die Diensvergadering kan hou. Hulle kan ook baie van die gedagtes wat by die streekbyeenkoms aangebied is daarna in hulle onderrigtings- en herderswerk insluit.
11 Ons moet almal let op hoe ons luister, want dit beteken ons geluk en ons lewe. Terwyl ons die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkoms bywoon, moet ons Jehovah se vermaning in Spreuke 8:33-35 in gedagte hou: “Luister na tug en word wys, en verwerp dit nie. Gelukkig is die mens wat na my luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte die wag te hou. Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry ’n welbehae van die HERE.”
12 GEBED EN SANG: Een van die pragtigste versierings van ons godvrugtige toegewydheid is die sing van lofliedere voor Jehovah God. Dit lyk of die sing van liedere ’n kenmerk van die ware Christelike godsdiens in die eerste eeu was (1 Kor. 14:15). Jehovah is ook bly wanneer sy volk hom in opregte gebed nader. Streekbyeenkomste bied ons ’n unieke geleentheid om met duisende van ons broers en susters verenig te wees en Jehovah deur lied sowel as gebed te loof. Sommige het egter ’n gebrek aan waardering vir hierdie belangrike aspekte van ons aanbidding getoon. Hoe? Deur onnodig gedurende of na die openingslied en gebed by die byeenkoms aan te kom. Aan die einde van die program verlaat sommige hulle sitplekke gedurende die lied en voor die gebed. Waarom? By seldsame geleenthede is daar moontlik goeie redes hiervoor. Maar sommige gee dalk die voorreg om te sing en saam te bid op net sodat hulle vroeg by hulle motors kan kom. Ander het hulle sitplekke verlaat om onder die eerstes in die tou vir nuwe publikasies of kos te wees. Ons moet versigtig wees dat ons nie in die najaging van persoonlike gerief toelaat dat die wêreld se “ek eerste”-gesindheid of goddelose eienskappe soos hebsug of selfsug ons geestelike groei belemmer nie. As ’n volk van godvrugtige toegewydheid strewe ons daarna om gepaste respek vir sulke verhewe aspekte van ons aanbidding, naamlik ons gebede en sang tot Jehovah, te toon.
13 ONS CHRISTELIKE MANIERE: Met die verloop van die jare het ons Christelike maniere en voorkoms by byeenkomste ons ’n goeie reputasie as Jehovah se Getuies besorg. Dit is omdat ons ons byeenkomste tereg beskou as geestelike feeste, nie sosiale uitstappies nie. Ons probeer gevolglik om ’n geestelike gemoedstemming aan die dag te lê en om ons as bedienaars te gedra.
14 Let op hierdie puik ondervinding wat ’n Getuiegesin gehad het terwyl hulle verlede somer in ’n byeenkomsstad by ’n restaurant geëet het. Die broer het geskryf: “’n Man en sy vrou was by ’n tafel langs ons s’n. Toe hulle klaar geëet het, het die man ons tafel genader, verskoning gevra en gesê dat hy ons wil prys vir ons netjiese en skoon voorkoms. My vrou het vir die man gesê dat ons daardie naweek die Wagtoring-Streekbyeenkoms bywoon. Hy het gesê hy kon dit sien. Hy het baie van ons broers en susters by die motel gesien terwyl hy en sy vrou daar tuisgegaan het, en hulle gedrag en kleredrag was baie voorbeeldig. Hy het gesê dat die jongmense in die kerk waarna hy gaan, nie soos ons jongmense aantrek of optree nie. Dit laat my besef hoe belangrik dit is om ons kinders van kleins af te leer om te alle tye voorbeeldige Christene te wees. Dit is te danke aan die reguit raad en leiding van Jehovah se organisasie om ’n goeie voorbeeld te stel.”
15 Ongelukkig het sommige wat die byeenkomste bywoon uitermate informeel in hulle gesindheid, kleredrag, spraak en gedrag geword. Wanneer dit in die plaaslike gemeente of tydens ’n byeenkoms opgemerk word, moet die met geestelike hoedanighede liefdevolle raad gee met die doel om die persoon reg te help (Gal. 6:1; Ef. 4:11,12). Ons godvrugtige toegewydheid moet ons beweeg om ons daarop toe te lê om ons goeie reputasie en hoe gedragstandaarde te alle tye te handhaaf.
16 VIR OUERS: Jong kinders en tieners word in die besonder uitgenooi om die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkoms by te woon. Baie van die inligting sal veral vir hulle aanmoedigend wees. Hoe goed is dit om die godvrugtige toegewydheid te sien van jongmense wat geleer het om noukeurig aandag te skenk by alle Christenvergaderinge en wat intens belangstel in die byeenkomsprogram! (Ps. 148:12, 13). Maar baie hang af van die voorbeeld en toesig van die ouers. Baie kinders is goed opgelei om aantekeninge te maak. As jy as ’n ouer jou kinders nog nie geleer het hoe om aantekeninge te maak nie, kan jy gerus die tyd wat voor julle streekbyeenkoms oorbly, gebruik om dit te doen. Selfs klein kindertjies kan aangemoedig word om teksverwysings en verwante sleutelwoorde wat die sprekers gebruik neer te skryf. Sommige ouers reël om hoofgedagtes van die dag se program te hersien nadat hulle na hulle verblyfplek teruggekeer het of terwyl hulle huis toe ry.
17 Die meeste ouers besef natuurlik dat dit die natuurlike neiging van kinders is om spelerig te wees. Hulle het ’n gebrek aan lewensondervinding en is onvolwasse. Hulle moet derhalwe geleer word wanneer om aandag te skenk en hoe om hulle by vergaderinge te gedra. Dit verg goeie toesig deur hulle ouers. Sommige ouers was nalatig op hierdie gebied. Hoewel ouers dalk gedurende gebed behoorlike eerbied vir Jehovah toon, speel hulle kinders soms en trek ander se aandag af. Ouers moet weet wat kinders gedurende gebede doen. Wat doen hulle wanneer hulle gedurende die program hulle sitplekke verlaat? Word kinders gedurende of na die byeenkomsprogram sonder toesig gelaat? Ware godvrugtige toegewydheid moet ouers beweeg om te alle tye streng toesig oor hulle kinders te hou terwyl hulle hulle “in die tug en vermaning van die Here” opvoed.—Ef. 6:4.
18 JOU VOLLE SAMEWERKING WORD WAARDEER: Dit het baie beplanning en werk geverg om te sorg dat daar genoeg sitplek, lektuur, voedsel en ander voorsienings is vir almal wat die byeenkoms bywoon. Om die doeltreffendheid van hierdie reëlings te verseker, is elke gemeente na ’n spesifieke byeenkoms aangewys. Jou volle samewerking is belangrik om te voorkom dat ons mekaar verdring. Daar kan natuurlik omstandighede wees wat dit vir ’n paar nodig maak om ’n byeenkoms in ’n ander gebied by te woon. Die meeste sal egter die byeenkoms kan bywoon waarheen hulle aangewys is.—1 Kor. 13:5; Filip. 2:4.
19 Julle volle samewerking word versoek wat die hou van sitplekke betref. Hou asseblief in gedagte dat SITPLEKKE SLEGS GEHOU MAG WORD VIR JOU EIE GESIN EN PERSONE WAT SAAM MET JOU IN JOU MOTOR RY. Moet asseblief nie vir ander sitplekke hou nie. Soms word ekstra sitplekke bespreek vir niemand in die besonder nie. Dit is liefdeloos en verwar die saalwagters en ander wat na oop sitplekke soek. Ooreenkomstig Bybelraad moet ons ons godvrugtige toegewydheid met broederlike geneentheid aanvul en ten volle met die goedgekeurde reëling vir die hou van sitplekke saamwerk.—2 Pet. 1:5-8, NW.
20 Daar word voorgestel dat goeie oordeel aan die dag gelê word oor die persoonlike items wat na die byeenkomsterrein gebring word. In die verlede het sommige groot koelhouers of ander groot items gebring wat nie onder die sitplekke kon inpas nie. Dit is in paadjies of op stoele gesit. Dit het veroorsaak dat ander nie sitplekke gehad het nie, en het soms brand-en veiligheidsregulasies geskend. Ons moet bedagsaam wees in sulke aangeleenthede.
21 VOEDSELBEDIENING: ’n Vereenvoudigde reëling vir voedselbediening soortgelyk aan verlede jaar word vir 1989 beplan. Dit verlig die werklas grootliks en maak dit moontlik om meer aandag aan die geestelike aspekte van die byeenkoms te skenk, aangesien die werkers meer van die program kan geniet. (Ex. 12: 16b; Deut. 31:12; it dl. 1 bl. 503-4, 821; vergelyk Lukas 10:38-42.) Die spyskaart maak voorsiening vir genoeg voedsel vir die oggend en middag. (Vergelyk Mattheüs 14:14-20.) Vir aandetes kan elkeen hulle eie reëlings tref, hoewel ’n bietjie kos by die byeenkoms beskikbaar sal wees.
22 Die Genootskap stel die goeie ondersteuning wat julle broers en susters deur die jare heen aan die voedselreëlings gegee het, hoog op prys. Dit het dit moontlik gemaak om goeie fasiliteite te huur en die byeenkomsonkoste te dek. Die huurgeld vir sommige fasiliteite het gedurende die afgelope paar jaar skerp gestyg. Alle bydraes om sulke koste te help dek, word dus baie waardeer. Enige bydraes vir voorbyeenkomsonkoste kan aan die Streekbyeenkomskomitee in jou gebied gestuur word.
23 DOOP: Doopkandidate moet probeer om hulle sitplekke in die aangewese gedeelte in te neem voor die program Saterdagoggend begin. (By die byeenkomste wat Saterdag begin, sal die doop Sondagoggend plaasvind.) Elke persoon wat beplan om hom te laat doop, moet ’n beskeie baaikostuum en ’n handdoek saambring. Na die dooptoespraak en gebed deur die spreker sal die sessievoorsitter kortliks instruksies aan doopkandidate gee en dan die lied aankondig. Aan die begin van die laaste vers sal die saalwagters doopkandidate lei na die doopplek of na voertuie wat hulle daarheen sal neem, terwyl die res van die gehoor die lied klaar sing. Aangesien doop as simbool van ’n mens se toewyding ’n intieme en persoonlike saak tussen die individu en Jehovah is, is daar geen voorsiening vir gesamentlike doop waartydens twee of meer kandidate mekaar omhels of hande vashou terwyl hulle gedoop word nie.
24 VRYWILLIGERDIENS: Die klem op vereenvoudiging is veral opmerklik in verband met die man-ure wat nodig is om ’n streekbyeenkoms te organiseer en te laat vlot. Diegene wat al baie jare in die waarheid is, onthou dat duisende vrywilligers voor en gedurende groot byeenkomste nodig was en dat hulle baie ure in verskeie byeenkomsafdelings bestee het. Daardie liefdedade is innig waardeer, maar dit het dikwels daartoe gelei dat baie van die vrywilligers heelwat van die program gemis het.
25 Hoewel minder vrywilligers en minder tyd nou nodig is om die werk te doen, is vrywilligerhulp steeds nodig om ’n streekbyeenkoms glad te laat verloop. Kan jy ’n aandeel daarin hê? Niemand moet dink dat hy die grootste deel van die program sal mis as hy vrywilligerdiens doen, soos dit al in die verlede die geval was nie.
26 Meld aan by die Vrywilligerafdeling wanneer jy by die byeenkomsterrein aankom. Selfs as jy net vir ’n gedeelte van die byeenkoms kan werk, sal jou dienste waardeer word. Jy sal dit geestelik lonend vind om by die byeenkoms te werk. Kinders onder 16 jaar kan ook bydra tot die sukses van die byeenkoms, maar hulle moet onder toesig van ’n ouer of ’n ander volwassene werk.
27OPNAMES: Die gebruik van videokameras en bandopnemers word by die byeenkomste toegelaat. Diegene wat sulke toerusting gebruik, moet egter versigtig wees om nie ander te steur of hulle aandag af te trek nie. Sulke toerusting moet nie in gangetjies of deure opgestel word nie en mag ook nie aan die luidsprekerstelsel of elektriese kontaksokke gekoppel word nie. Spreiligte sal nie toegelaat word nie. Diegene wat ’n steurnis veroorsaak of enige van die bogenoemde riglyne veronagsaam, moet die saak sonder versuim regstel wanneer dit onder hulle aandag gebring word. Saalwagters en ander wat toesig hou, moet wakker wees om die skending van hierdie riglyne reg te stel, en diegene wat sulke toerusting gebruik, moet saalwagters hulle volle samewerking gee.
28 ONS GODVRUGTIGE TOEGEWYDHEID sal in die nabye toekoms voor swaar toetse te staan kom. “Trouens, almal wat met godvrugtige toegewydheid in vereniging met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Tim. 3:12, NW). Hoe dankbaar is ons teenoor Jehovah vir geestelike voorsienings soos die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkomste, waar hy ons sal oplei en ‘onderrig dat ons goddeloosheid en wêreldse begeerte moet verloën en met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van die teenwoordige stelsel van dinge moet lewe’.—Tit. 2:12, NW.
[Box on page 10]
Herinneringe in verband met die Streekbyeenkoms
HUISVESTING: Die meeste verkondigers sal hulle eie reëlings vir huisvesting tref. As jy egter wil hê dat die byeenkomsorganisasie vir jou huisvesting moet reël en jy nog nie om huisvesting aansoek gedoen het nie, moet jy asseblief jou Kameraansoekvorm onmiddellik aan hulle stuur.
LIEDERE: Aangesien sang ’n deel van ons aanbidding is, moedig ons almal aan om die volgende liedere wat deel van die program sal wees te oefen: 155, 217,100,160,164, 221, 69,174, 202, 19, 42, 180, 204, 191, 177, 181, 187 en 45. Ons stel voor dat julle die Genootskap se kassette gebruik wanneer julle die liedere oefen.
PROGRAMTYE: Dit is verstandig en toon waardering as ons in ons sitplekke is wanneer die program begin. Dit sal 9:50 vm. op die eerste dag wees. Tref reëlings om tot aan die einde van die sessies te bly. Die program sal op die laaste dag om 4:00 nm. met ’n lied en gebed afsluit.
BETHELVERGADERING: Daar sal op die tweede dag ’n vergadering gehou word vir enige toegewyde verkondiger tussen 19 en 35 jaar wat graag in Bethel wil dien. Aankondigings oor die presiese tyd en plek van hierdie vergadering sal by die byeenkoms gedoen word.
PIONIERIDENTIFIKASIE: Alle gewone en spesiale pioniers, reisende opsieners, sendelinge en Bethelwerkers moet hulle identifikasiekaart (S-202) na die byeenkoms saambring. Diegene wat ten tyde van die streekbyeenkoms reeds ses maande aangestelde pioniers is, kan slegs by daardie een byeenkoms byeenkomskoepons ter waarde van R18 ontvang wanneer hulle hulle identifikasiekaart toon. Pas die kaart op soos jy kontant sal oppas. Dit kan nie by die byeenkoms vervang word nie. Enige gratis publikasie of ander lektuur teen pioniertarief sal net by die boekekamer vir die pioniers beskikbaar wees.
LAPELKAARTE: Hierdie kaarte word voorsien as ’n middel om die byeenkoms te adverteer en om ons broers en susters wat teenwoordig is te identifiseer. Dra dus asseblief die spesiaal ontwerpte lapelkaarte terwyl julle by die byeenkoms is en terwyl julle na en van die byeenkoms reis. Die kaart is nie net ’n identifikasiemiddel nie, maar lei dikwels daartoe dat ’n goeie getuienis gelewer kan word terwyl ons reis. Julle moet die kaarte by julle gemeente kry, aangesien dit nie by die byeenkomste beskikbaar sal wees nie. Die lapelkaarte kos 5c elk en die plastiekhouers 50c elk.
’N WOORDJIE VAN WAARSKUW1NG: Sluit te alle tye jou motor en moet nooit enigiets oop en bloot in ’n motor laat nie, ongeag waar jy jou motor parkeer. Sluit jou goed in die bagasiebak toe, indien moontlik. Pas ook op vir diewe en sakkerollers wat deur groot byeenkomste gelok word. Dit beteken dat geen waardevolle artikels onbewaak op sitplekke by die byeenkoms gelaat moet word nie. Daar is ook gemeld dat susters met hoëhakskoene makliker op die trappe kan val. Wees asseblief versigtig.
STREEKBYEENKOMSTE VIR 1989
Hieronder verstrek ons die datums, plekke en tale
17-19 November:
ST. HELENA, Levelwood-Koninkryksaal (Engels)
8-10 Desember:
WINDHOEK, Atletiek- en Sokkerstadion (tweetalige program in Afrikaans/Engels, Kwanyama)
15-17 Desember:
BLOEMFONTEIN, Vrystaatstadion (tweetalige program in Afrikaans/Engels, Suid-Sotho)
KAAPSTAD, Goodwood-skouterrein (Afrikaans, Engels, Xhosa)
JOHANNESBURG, Nasionale Uitstalsentrum (Engels, ’n bietjie Grieks, Portugees, Suid-Sotho, Zulu)
MAFIKENG, Mafikeng-rugbystadion (tentatief) (Tswana)
MANZINI, Skouterrein (’n bietjie Engels, Zulu)
NKOWANKOWA, Sportstadion (Tsonga, ’n bietjie Venda)
van elke streekbyeenkoms.
23-25 Desember:
DURBAN, King’s Park-rugbystadion (Engels, Zulu)
GABORONE, Nasionale Stadion (’n bietjie Engels, Tswana)
MASERU, Pitso-terrein (tentatief) (’n bietjie Engels, Suid-Sotho)
MDANTSANE, Sisa Dukashe-stadion (Xhosa)
29-31 Desember:
PRETORIA, Skouterrein (Afrikaans, Engels, Sepedi, tweetalige program in Suid-Sotho/Zulu. Neem asseblief kennis dat dit die enigste program in Sepedi sal wees wat hierdie jaar aangebied word)
KANYAMAZANE, KaNyamazane-stadion (Zulu)
NEWCASTLE, R. K. Rumelin-stadion (Zulu)
PORT ELIZABETH, Boet Erasmus-stadion (tweetalige program in Afrikaans/Engels)
UMTATA, Onafhanklikheidstadion (Xhosa)