Skenk voortdurend aandag aan jou leer
“Skenk voortdurend aandag aan jouself en aan jou leer. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat na jou luister.”—1 TIMOTHEÜS 4:16.
1. Waarom is dit nie nou die tyd vir ons om in ons Koninkrykspredikingswerk te verslap nie?
JEHOVAH bespoedig nou die insameling van sagmoediges. Dit is beslis dan nie nou die tyd vir sy volk om in hulle Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk te verslap nie (Jesaja 60:8, 22, vgl. NW; Mattheüs 24:14; 28:19). Ons moet optree ooreenkomstig die gees van wat God in ons tyd doen. Namate die einde nader kom, sal ons meer dikwels na ons naaste teruggaan. Die groter getuieniswerk deur soveel meer verkondigers en pioniers laat inderdaad nou die wêreldveld gons. En die tempo van hierdie vreugdevolle insameling sal nog toeneem.—Jesaja 60:11; vergelyk Psalm 126:5, 6.
2. (a) Op watter bron van energie kan ons volgens Jesaja 40:28-31 staatmaak vir die nodige krag om die Koninkrykspredikingswerk te voltooi? (b) Watter goeie rede is daar om nou ekstra aandag aan die gehalte van ons bediening te skenk?
2 In plaas van te swig voor enige gevoel om ‘moeg’ te wees omdat party gebiede dikwels gedek word, moet ons besef dat dit nou die tyd is vir ons om tot Jehovah te bid om die nodige “dinamiese energie” om die werk te voltooi (Jesaja 40:28-31, NW; 1 Johannes 5:14). Miljoene van die “groot menigte” “ander skape” is inderdaad reeds ingesamel. Maar wat voorheen sekere mense met welslae gehelp het, is moontlik nie meer doeltreffend om ander wat nog in ons gebiede is te help nie (Openbaring 7:9, 10; Johannes 10:16). Die gehalte van ons bediening het derhalwe ekstra aandag nodig.
3. Hoe kan ons veldbediening met nuwe geesdrif vervul word?
3 Ons kan ons met hernieude vasbeslotenheid daarop toelê om ons bekwaamheid in die bediening te verbeter. Dit kan ons velddiens met nuwe geesdrif vervul. Maar hoe kan dit gedoen word? Deur ‘voortdurend aandag aan onsself en ons leer te skenk’ en nie net ons bediening volgens die roetine te verrig nie (1 Timotheüs 4:16). Ons lippe moet meer as ’n oppervlakkige “lofoffer” bring (Hebreërs 13:15). Ons moet vaardig wees in ons werk (Spreuke 22:29). Wat dan nodig is, is dat ons gebied op vaardige wyse gedek word. Hier is ’n paar aspekte van ons bediening waaraan ons ‘voortdurend aandag moet skenk’.
Hoe om “nuwe” gebied te skep
4. Hoe kan ons “nuwe” gebied in ons gemeente se toewysing skep?
4 Kom ons beskou die situasie op ’n praktiese manier. In baie plekke is daar geen nuwe of min gedekte gebied nie. Ons kan dus gerus “nuwe” gebied in die gemeente se toewysing skep. Hoe? Wel, as ons dikwels êrens werk, kan ons nie maak asof ons nooit tevore by daardie huis aangeklop het deur net te sê wat ons gewoonlik by die deure gesê het nie. Die huisbewoner sal ons waarskynlik in elk geval herken as ons die gebied dikwels gedek het. Die boek Redenering uit die Skrif bevat meer as 40 inleidings wat ons in ons bediening kan gebruik. Ons moet hulle goed voorberei as iets nuuts en interessants deur dit in verband te bring met aangeleenthede van plaaslike en aktuele belang. In plaas van apologeties te voel omdat ons dikwels daar besoek aflê, moet ons ’n positiewe gesindheid hê en ons gebied met goeie aanbiedinge “nuut” maak. Maar sal dít help as huisbewoners onvriendelik is?
5. (a) Hoe kan ons ’n eens onvriendelike gesindheid benut? (b) Wat vind jy behaal plaaslik goeie resultate? (c) Waarom is dit nuttig om te luister en opregte lof te gee?
5 As jy weet wat die huisbewoner se gesindheid in die verlede was, kan dit tot negatiewe gevoelens oor verdere besoeke lei. Maar jy kan gerus daardie kennis benut. Hoe? Miskien deur eers te meld en dan te bou op wat gedurende die vorige besoek gesê is. Jy kan sê: “Goeiemore, mnr. Harris!” As dit gepas lyk, kan jy byvoeg: “Hoe gaan dit?” Dan kan jy sê: “Toe ek verlede week hier was, het u vir my gesê dat u kerk goed na al u geestelike behoeftes omsien en dat u ’n bedrywige lidmaat is. Mag ek, as ’n buurman wat godsdiens ook ernstig opneem, vra wat u kerk oor die hoop op oorlewing in die kerneeu se?” Laat hy jou dan vertel. Prys die huisbewoner wanneer jy werklik kan. Dit kan sy gesindheid laat verander as jy na hom luister en hom prys. Mense sal dikwels nog ’n besoek toelaat as hulle self van die praatwerk kan doen. Jy sal natuurlik jou boodskap moet aanpas by wat die huisbewoner sê.
6. (a) Hoe kan ons huisbewoners leer om gereelde besoeke van ons te verwag? (b) Watter sleuteluitdrukkings kan ons help om welslae te behaal? (c) Wat behaal goeie resultate in die plaaslike gebied?
6 Jy kan huisbewoners leer om gereelde besoeke van ons te verwag deur wat jy sê. Probeer om te sê: “Hallo, mev. Fredericks! Hoe gaan dit vandag? Met hierdie besoek aan ons bure bespreek ons . . . ” Of jy kan sê: “Goeiemôre! Ons doen ons weeklikse besoeke. Dit is aangenaam om weer hier te wees. U bure het die nuwe onderwerp geniet wat ons met hierdie besoek bespreek.” Gaan dan voort. Dit help ook om die gebied vir jou “nuut” te maak. Die bewoording self verskil miskien ietwat in jou land, maar dit gee die hoofgedagte. Jy kan gerus die grootste voordeel daaruit probeer trek.
7. (a) Hoe berei party Getuies met hulle vertrek die huisbewoner op nog ’n besoek voor? (b) Wat behaal in hierdie opsig welslae in die plaaslike gebied?
7 Om die huisbewoner op die volgende besoek voor te berei, behaal party Getuies welslae met ’n slot soos: “Ons sien daarna uit om u weer binnekort te besoek.” Vir diegene wat aanvanklik ietwat teësinnig was om met jou te praat, kan jy miskien sê: “Ek het ons bespreking geniet. U het beslis ’n paar goeie punte gemeld. Dit het ’n paar minute gekos, maar ons het ten minste nie oor slegte nuus, wat ons enige tyd kan boor, gepraat nie. Dit was werklik opbouend.” Jy sal ongetwyfeld ander gepaste maniere uitwerk om met huisbewoners te praat. Probeer om die publiek in ieder geval deur middel van positiewe uitdrukkings, goeie aanbiedinge en vriendelikheid te help om nie gegrief te voel oor ons gereelde besoeke nie.
Lewer ’n deeglike getuienis
8, 9. Watter wenke word aan die hand gedoen om deeglik na waardige persone te soek?
8 Nog iets waaraan ons aandag kan skenk wat ons sal help om ons geesdrif sterk te hou, is om deeglik na waardige persone te soek (Handelinge 8:25; 20:24). ’n Broer kan byvoorbeeld vra om met die man van die huis te praat as ’n vrou of ’n kind oor die naweek of saans die deur oopmaak. Dit is waarskynlik die vrou met wie ons meestal gesels het. Ons kan dus ’n nuwe begin met ’n huisgesin maak deur met die gesinshoof te praat. Ons kan dan die boodskap by hom aanpas deur dinge te sê soos: “Wat dink u sal u gesin van ’n gelukkige toekoms verseker?” of: “Let op hoe die Bybel gesinseenheid bevorder.” Prys die man vir goeie gedagtes wat hy dalk uitspreek.
9 Nog ’n manier om “nuwe” gebied te vind, is om ander gesinslede wat onder dieselfde dak woon te probeer bereik—’n ouma, ’n neef of ’n niggie wat skool toe gaan, ’n skoonsuster wat gedurende die week werk. Dit is ook prakties om op te let hoeveel elektrisiteitsmeters of posbusse daar by ’n woning is. Dit kan aandui waar mense ’n kelderverdieping, ’n dakkamer of ’n ander deel reggemaak het om te verhuur. Probeer om met daardie huurders in aanraking te kom—studente, ongetroude werkers, weduwees en ander. Dit kan ook help om beskikbare gebied verder te laat strek.
10. Wat is nog ’n manier om ons huis-tot-huisgebied verder te laat strek, en wat het party gedoen om met nagwerkers in aanraking te kom?
10 Nog ’n manier om ons huis-tot-huisgebied verder te laat strek, is om dit soms te laat rus terwyl ons aan ander aspekte van ons bediening deelneem. Ter afwisseling kan ons gebied dek met ’n regstreekse aanbod van ’n gratis gesinstuisbybelstudie. Party mense wat nie tuis is wanneer ons daar aanklop nie, kan by hulle werkplek gevind word. En getuieniswerk in sakegebiede kan baie vrugbaar wees. Ons kan ook met party van hierdie mense in aanraking kom as ons op gepaste, produktiewe tye straatgetuieniswerk doen. In Kanada het pioniers goeie resultate behaal deur saans laat besoek of te lê by werknemers by vulstasies en winkels wat heelnag oop is, asook by hotelle waar ontvangsklerke gedurende daardie tyd gewoonlik nie besig is nie en dit dikwels waardeer om iets te hê om te lees. Susters in die besonder moet natuurlik sekere gebiede laat in die aand vermy.
11. (a) Wat doen party Getuies waar baie nie met die eerste besoek tuis is nie? (b) Watter uitwerking kan ywerige besoeke waar niemand tuis was nie op ons gebied hê, met watter resultate in die bediening?
11 Wat van diegene wat nie tuis is wanneer ons hulle besoek nie? Ons moet weer eens deeglik wees. Party Getuies gebruik hulle agtermekaar huis-tot-huisverslae direk na hulle huis-tot-huiswerk en gaan terug na plekke waar mense vroeër daardie dag nie tuis was nie. Dikwels het huisbewoners huis toe gekom of is nagwerkers teen daardie tyd wakker. In baie gebiede is 50 persent of meer bedags nie tuis nie. Ons kan dus in werklikheid daardie gebied verdubbel deur op verskillende tye terug te gaan na waar niemand tuis was nie totdat ons wel iemand tuis vind. Pioniers en ervare verkondigers is dit eens dat ons dikwels beter resultate behaal wanneer ons ywerig teruggaan na huise waar niemand tuis was nie as wanneer ons die gebied aanvanklik dek. As ons aandag aan hierdie aspek van ons bediening skenk, sal ons waarskynlik baie seëninge maai.—Spreuke 10:22.
Diegene wat kla
12. Hoe moet ons reageer wanneer mense kla dat ons hulle te dikwels besoek? Waarom?
12 Wat kan ons vir mense sê wat kla dat ons hulle te dikwels besoek? Ons moet bowenal begrip toon (Mattheüs 7:12). Vir hulle lyk dit asof ons baie gou teruggekom het. Maar dit is goed om te onthou dat mense selfs jare gelede gesê het: ‘Julle was verlede week hier’, toe ons baie goed geweet het dat ons ses maande of langer gelede daar was. Daarbenewens kan veelvuldige besoeke belangstelling aanwakker. In Guadeloupe het ’n man agter ’n Getuie aangehardloop en gesê: “Ek hou jou nou al weke lank dop. Ek luister gewoonlik nie na die Getuies nie, maar ek moet weet waarom jy die mense so dikwels besoek!” Dit het tot ’n nuwe Bybelstudie gelei.
13, 14. Hoe hanteer party medegelowiges sake wanneer huisbewoners kla?
13 Party broers het vriendelik vir klaers die presiese datum van die vorige besoek gemeld en het die jongste tydskrifte aangebied, terwyl hulle duidelik getoon het dat die artikels verskil van die in die tydskrifte wat ons tydens ons vorige besoek gehad het. In ons redenasie met sulke huisbewoners kan ons sê dat hulle moontlik baie koerante en tydskrifte sedert ons laaste besoek ontvang het, maar dat dit nie altyd goeie nuus bevat het nie. Ons kan verduidelik dat ons goeie nuus bring en dat ons besoeke nie lank duur nie. Maar as ’n huisbewoner te besig is, kan ons sê: “As dit nie nou die beste tyd is om met u te praat nie, kan ek u op ons volgende besoek oor ’n week of so sien.”
14 Wat anders kan ons sê? Dit hang af van die huisbewoner se gesindheid en die gebruiklike beleefdhede wat verwag word waar ons woon. Een suster in Japan verduidelik ons veelvuldige besoeke soos volg: ‘Die televisienuus sal oor en oor verslag doen oor die verloop van ’n tifoon en die inligting dikwels herhaal tot nut van diegene wat vorige uitsendings moontlik nie gesien het nie. Dit word gedoen omdat lewens daarby betrokke is. Die berigte neem toe namate die storm nader kom. Namate die storm van Armageddon nader kom, moet die waarskuwingsboodskap derhalwe so dikwels moontlik verkondig word om lewens te red.’ Ons sal natuurlik so ’n stelling op ’n vriendelike wyse en met opregtheid maak en hoop dat ons die hart van die luisteraar bereik.
Bied die uitdaging van onverskilligheid die hoof
15. (a) Wat kan ’n toenemende uitdaging wees wanneer ons ons gebied dikwels dek? (b) Waarom is party mense onverskillig?
15 Namate ons besoeke toeneem, is die onverskilligheid wat ons dikwels teëkom ’n toenemende uitdaging. Maar as ons party van die oorsake van onverskilligheid ondersoek, kan dit ons aanmoedig om daarop te let dat dit dalk nog moontlik sal wees om die harte van party van hierdie mense te bereik. Hulle onverskilligheid weerspieël dalk hulle frustrasie en wanhoop. Hulle dink moontlik dat daar geen uitkoms uit die huidige wêreldsituasie is nie en redeneer dat hulle eenvoudig hulle lewens na die beste van hulle vermoë moet lei. Ander is ontevrede omdat sommige godsdiensleiers by die politiek betrokke raak, hulle aan onsedelike gedrag skuldig maak of versuim om ’n ferm standpunt teen geslagsonsedelikheid in te neem. Hierdie huisbewoners is dus ontnugter en lewe net vir vandag.
16. Hoe kan ons die hart van ’n onverskillige persoon bereik?
16 Ons weet dat vroeë Christenbedienaars dieselfde gesindheid met welslae die hoof gebied het, want party mense het destyds gesê: “Laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!” (1 Korinthiërs 15:32). Ons weet derhalwe dat ons presies het wat sulke persone moet hoor. Maar hoe kan ons hulle hart bereik? Een manier is om vir die oomblik ons Bybellektuur weg te pak, en hulle te laat sien dat ons dit doen. Dan kan ons hulle weldeurdagte vrae vra soos: “Dink u dat daar ’n oplossing vir vandag se probleme is? Is dit dat die meeste mense eenvoudig nog nie oplossings gevind het nie? Dink u dat ons positief moet wees en moet aanhou soek?” Vir ander kan ons sê: “Ek is seker u stem saam dat dit beter is om in hoop te lewe as sonder enige vooruitsig op beter dinge. Wat hoop u om te sien?” Ons kan vra: “Wat dink u is die grootste hindernis in die weg van wêreldeenheid en -vrede?” Ander kan weer gevra word: “Dink u alle godsdienste is soos wat u beskryf het?” Sulke vrae sal huisbewoners dikwels hulle menings laat gee. Wanneer hulle antwoord, moet ons dan gewis luister. Ja, laat hulle hul hart aan jou uitstort. Baie van hulle ‘sug en steun oor al die gruwels wat nou gedoen word’.—Esegiël 9:4.
17. Hoe kan ons publikasies gebruik word om party te bereik selfs wanneer hulle aanvanklik volhou dat hulle nie belangstel nie?
17 ’n Ander manier om onverskilligheid te benader, is om te let op ’n gedagte of beswaar wat die huisbewoner meld en terug te gaan met ’n tydskrif of ander Wagtoringpublikasie wat oor die kwessie handel. Dit kan aanvanklik selfs ’n niegodsdienstige onderwerp wees, soos ’n artikel oor skielike sterftes by suigelinge of die afsterwe van die woude. Verduidelik dat jy gedink het aan waarin die huisbewoner belangstel en hierdie artikel onthou het. Vestig dan die aandag op sleutelgedagtes in die materiaal. ’n Vrou wat kort tevore ons lektuur van die hand gewys het, het net oomblikke later ’n tydskrif aanvaar. Waarom? Omdat die Getuie gevra het of die vrou geweet het dat daar jaarliks 55 miljoen aborsies is. Sy was geskok om dit te hoor en het die tydskrif aangevra wat daardie inligting bevat het.
Voer dit deur
18, 19. (a) Aan watter bykomende aspekte moet ons ‘aandag skenk’ wanneer ons ons bediening verrig? (b) Watter bevooroordeelde idees het party mense van ons en ons opvattinge, en hoe kan ons hulle antwoord?
18 Ons moet bowenal geduldig wees met mense. Praat stadig en wees hartlik. Toon liefde en vriendelikheid (Galasiërs 5:22). Voor ons na die volgende huis gaan, moet ons nadink oor wat by die vorige huis plaasgevind het om te kyk waar ons kan verbeter. Toon begrip, want baie mense het verkeerde idees oor Jehovah se Getuies. Hulle sê dalk: ‘Julle vermy die politiek en burgerpligte’, ‘Julie weier om militêre diens te doen’ of ‘Julle breek gesinne op’. Maar hierdie gesindheid is soos die van die wêreld teenoor ons medegelowiges van die eerste eeu. Wys dit vir huisbewoners, miskien deur aanhalings onder die opskrif “Neutraliteit” in die Redenering-boek te gebruik.
19 Geskiedskrywer Will Durant het aangaande die vroeë Christene geskryf: “Vir ’n Christen was sy godsdiens iets wat afgeskeie van en verhewe bo die politieke gemeenskap was; sy trou was allereers aan Christus, nie die keiser nie. . . . Die Christen se afsydigheid ten opsigte van aardse aangeleenthede het vir die heiden na ’n ontduiking van burgerplig, ’n ondermyning van die volksaard en -wil, gelyk. Tertullianus het Christene aangeraai om militêre diens te weier; . . . Christene is deur hulle leiers aangespoor om nie-Christene te ontwyk, hulle feesspele as barbaars en hulle teaters as bordele van obseniteit te vermy. . . . Die Christelike godsdiens is [wanneer dit bekeerlinge gemaak het] daarvan beskuldig dat dit gesinne opbreek.”—Caesar and Christ, bladsy 647.
20, 21. (a) Waarvan wil ons seker wees wanneer mense nie luister nie? (b) Waarom moet ons ‘nie moeg word nie’, maar ons goeie werk, naamlik die Koninkrykspredikingswerk, voortsit?
20 Party mense sal nie luister nie, ongeag wat ons sê. Maar dit moet wees omdat hulle die Koninkryksboodskap verwerp, nie omdat ons versuim om goeie aanbiedinge in ons bediening te doen nie (Lukas 10:8-11; Handelinge 17:32; Esegiël 3:17-19). Ons moet met God se hulp ons bes doen, en Jehovah sal die werk voleindig.—Vergelyk Filippense 1:6.
21 Wees dus, met volle vertroue, steeds “oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie” (1 Korinthiërs 15:58). “Skenk voortdurend aandag aan jouself en aan jou leer. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat na jou luister” (1 Timotheüs 4:16, NW). Laat ons bowenal “nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie”.—Galasiërs 6:9.
Kan jy onthou?
◻ Wat is party maniere waarop ons ’n positiewe gesindheid in dikwels gedekte gebied kan behou?
◻ Hoe kan ons deegliker na waardige persone soek?
◻ Hoe kan ons diegene probeer antwoord wat kla dat ons hulle te dikwels besoek?
◻ Op watter maniere kan ons die uitdaging van onverskilligheid die hoof bied?
◻ Wat sal die gehalte van ons bediening verbeter?
[Venster op bladsy 20]
NAMATE GEBIED MEER DIKWELS GEDEK WORD,
moet ons ‘voortdurend aandag skenk’ daaraan om:
▫ positiewe benaderings en aanbiedings te gebruik
▫ deegliker na die waardige persone te soek
▫ geduldig te wees met diegene wat kla
▫ die uitdagings van onverskilligheid en misverstande die hoof te bied