Bied die goeie nuus aan—In gebied wat dikwels gedek word
1 Dit bied spesiale uitdagings om in gebied te werk wat dikwels gedek word. Hoe kan jy die boodskap oorspronklik en interessant hou? Hoe moet ’n mens diegene benader wat blykbaar besluit het dat hulle beslis nie in die boodskap belangstel nie? Wat kan ’n mens vir diegene sê wat sê dat ons hulle te dikwels besoek?
WEES POSITIEF
2 In teenstelling met wat sommige dink, lewer gebied wat dikwels en deeglik gedek word gewoonlik beter resultate op as gebied wat minder dikwels gedek word. Een van die eerste hindernisse wat ons dus moet oorkom, is negatiewe denke omdat ons te dikwels aan dieselfde deure klop. Mense moet elke geleentheid gegee word om die Koninkryksboodskap te hoor. Dit sal verkeerd wees van ons om tot die slotsom te kom dat Jehovah diegene nie waardig ag wat nie gunstig gereageer het nie ten spyte daarvan dat ons hulle al baie besoek het.
3 Dit is veral belangrik om empatie te toon in gebied wat dikwels gedek word. As ’n mens ’n spesifieke boodskap het wat oor probleme handel wat mense in hulle buurt raak, sal dit waarskynlik ’n gunstige reaksie uitlok by sommige wat andersins nie sou luister nie. Bly jy op die hoogte van onlangse gebeure, en is jy daarop bedag om te toon hoe die Bybel se boodskap mense kan help om hulle probleme die hoof te bied?
WISSEL JOU BENADERING AF
4 Wissel jou benadering af in gebied wat dikwels gedek word. Jy kan soms ’n traktaat as deel van jou inleiding gebruik. By ’n ander geleentheid kan jy een van die meer as 40 inleidings wat die Redenering-boek op bladsye 9-15 aangee, aanpas om te toon hoe plaaslike probleme die hoof gebied kan word. Jy kan selfs jou laaste besoek in die buurt meld, en sodoende die kanse verminder dat hulle dit as ’n beswaar sal gebruik. As jy aantekeninge gemaak het van ’n betekenisvolle kommentaar wat die huisbewoner tydens jou laaste besoek gemaak het, kan dit gebruik word as ’n stap tot nog ’n belangwekkende gesprek.
5 Beskou mense soos Jehovah hulle beskou, en hou aan om belangstelling te toon in diegene wat vir ons gesê het dat hulle beslis nie belangstel nie. Jehovah het herhaaldelik pleidooie tot sy eertydse volk gerig ten spyte van hulle onverskilligheid teenoor sy boodskappers (2 Kron. 36:15; Jer. 7:13). Baie wat vroeër gemeen het dat hulle nie belangstel nie, is vandag ons broers en susters. Selfs mense wat die waarheid baie teengestaan het, het dit later aangeneem. Hulle is nou dankbaar dat iemand geduldig aangehou het om hulle met die goeie nuus te besoek.
HOU GOEIE AANTEKENINGE
6 Dit is uiters belangrik om ’n goeie huis-tot-huisverslag te hou. As ons teruggaan na diegene wat nie tuis was nie, sal dit verseker dat ons ons gebied deeglik dek en sal ons sorg dat daar meer tyd verloop tussen ons besoeke op mense wat wel tuis is. Sommige het dit ook goed gevind om huis-tot-huisverslae van velddiens wat gedurende die week gedoen is, uit te ruil met diegene wat oor naweke in daardie gebied werk. Dit is ’n doeltreffende manier om die tye wanneer jy aan deure klop af te wissel en dit vergroot die moontlikheid om mense te vind wat sekere tye van die dag en sekere tye van die week nooit tuis is nie. Bykomende wenke kan gevind word in Die Wagtoring van 15 Julie 1988, bladsye 15-20.
7 Jehovah weet wanneer ons ons genoeg ingespan het om almal te bereik wat sal luister. Onder Christus se leiding sal ons aanhou om hom te gehoorsaam met die vertroue dat die werk in die toegewese tyd gedoen sal word.—Eseg. 9:11.