Hoofstuk 30
Jesus antwoord sy beskuldigers
WANNEER die Joodse godsdiensleiers Jesus daarvan beskuldig dat hy die Sabbat skend, antwoord hy: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”
Ondanks die Fariseërs se bewering, is Jesus se werk nie die soort wat deur die Sabbatswet verbied word nie. Sy predikings- en genesingswerk is ’n toewysing van God, en in navolging van God se voorbeeld doen hy dit daagliks. Maar sy antwoord maak die Jode nog kwater as wat hulle was, en hulle probeer hom doodmaak. Waarom?
Dit is omdat hulle nou nie net meen dat Jesus die Sabbat skend nie, maar hulle beskou sy bewering dat hy God se eie Seun is as godslasterlik. Jesus is egter onbevrees en antwoord hulle verder aangaande sy begunstigde verhouding met God. “Die Vader het die Seun lief”, sê hy, “en toon Hom alles wat Hy self doen.”
“Soos die Vader die dode opwek en lewend maak”, sê Jesus voorts, “so maak ook die Seun lewend wie Hy wil.” Trouens, die Seun wek reeds diegene op wat in geestelike sin dood is! “Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het”, sê Jesus, “het oorgegaan uit die dood in die lewe.” Ja, hy sê verder: “Daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.”
Hoewel Jesus, sover dit bekend is, tot dusver nog niemand letterlik uit die dood opgewek het nie, sê hy vir sy beskuldigers dat so ’n letterlike opstanding van die dode sal plaasvind. “Moenie julle hieroor verwonder nie”, sê hy, “want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan.”
Jesus het blykbaar nooit tevore sy lewensbelangrike rol in God se voorneme so duidelik en presies in die openbaar beskryf nie. Maar Jesus se beskuldigers het nie net sy eie getuienis oor hierdie dinge nie. “Julle het na Johannes gestuur”, herinner Jesus hulle, “en hy het vir die waarheid getuig.”
Net twee jaar tevore het Johannes die Doper hierdie Joodse godsdiensleiers vertel van die Een wat ná hom sou kom. Jesus herinner hulle aan die hoë agting wat hulle eens vir Johannes, wat nou in die tronk is, gehad het en sê: “Julle was gewillig om julle vir ’n tyd in sy lig te verbly.” Jesus herinner hulle hieraan in die hoop om hulle te help, ja, om hulle te red. Maar hy maak nie staat op die getuienis van Johannes nie.
“Die werke self wat Ek doen [die wonderwerk wat hy pas verrig het inkluis] , getuig van My dat die Vader My gestuur het.” Maar Jesus gaan selfs verder: “Die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig.” God het byvoorbeeld by Jesus se doop van hom getuig en gesê: “Dit is my geliefde Seun.”
Jesus se beskuldigers het werklik geen verskoning om hom te verwerp nie. Die einste Geskrifte, wat hulle beweer dat hulle ondersoek, getuig van hom! “As julle Moses geglo het, sou julle My glo”, sê Jesus ten slotte, “want hy het van My geskrywe. En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?” Johannes 5:17-47; 1:19-27; Mattheüs 3:17.
▪ Waarom is Jesus se werk nie ’n skending van die Sabbat nie?
▪ Hoe beskryf Jesus sy lewensbelangrike rol in God se voorneme?
▪ Na wie se getuienis verwys Jesus om te bewys dat hy die Seun van God is?