Jou waardering vir Christus se dood
1 ‘Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie’ (Matt. 20:28). Geen ander mens wat ooit op aarde geleef het, kon doen wat Jesus Christus vir die mensdom gedoen het nie. Deur sy lewenswyse en uiteindelike dood aan ’n folterpaal is daar vir ons getoon hoe ons die grootste gawe kan ontvang wat enigeen kan verkry—die ewige lewe. Tog het die meeste mense min waardering vir wat Christus gedoen het.
2 Dink na oor ’n ontmoeting wat Jesus met tien melaatses gehad het. Toe hulle Jesus sien, het hulle uitgeroep: “Jesus, Meester, wees ons barmhartig” (Luk. 17:13). Hy het barmhartigheid teenoor hulle getoon en vir hulle gesê om, volgens die Wet, na die priesters te gaan en hulle aan die priesters te toon. Op pad daarheen het al tien melaatses gesond geword.
3 Maar net een het omgedraai en na Jesus teruggegaan om hom te bedank. Wat van die ander nege? Hulle het op hulle weg voortgegaan sonder om daaraan te dink om hulle weldoener te bedank (Luk. 17:15-17). Wie se voorbeeld volg ons na? Ons wil soos die man wees wat teruggegaan het. Hy het opregte waardering gehad. Is dit hoe ons oor Christus se dood voel?
4 Hoe ons waardering toon: Die Genootskap voorsien elke jaar spesifieke Bybelverse wat gedurende die week voor die Gedenkmaal gelees moet word. Die voorgestelde dele vir die Bybellesing kan onder 12-17 April op die Kalender van Jehovah se Getuies vir 1992 gevind word. Ons kan ons waardering toon deur hierdie gedeeltes te lees en oor die gebeure te peins wat voor Jesus se dood in sy lewe plaasgevind het.
5 Ons velddiens hou verband met ons waardering vir die Gedenkmaal. Ouere manne moet goed georganiseerde reëlings tref sodat pioniers en verkondigers kan beplan om gedurende April meer velddiens te doen.
6 April is gewoonlik ’n maand wanneer duisende aan die hulppionierdiens deelneem. Verlede April het 6559 in Suid-Afrika aan die hulppionierdiens deelgeneem. Kan jy dit hierdie April doen? As jy nie hulppionierdiens kan doen nie, kan jy beplan om ’n groter aandeel aan die predikingswerk te hê soos jou omstandighede dit toelaat.
7 Skerp waardering by ander in: Elke jaar vergader talle belangstellendes saam met ons vir die Gedenkmaal. Van die 10 650 158 mense wat die Gedenkmaal verlede Maart wêreldwyd bygewoon het, was 6370 000 byvoorbeeld belangstellendes. Dit toon watter groot potensiaal daar vir groei in die organisasie is.
8 Ons moet die Genootskap se gedrukte uitnodigings gebruik en reëlings tref om vervoer aan Bybelstudente en belangstellendes te verskaf as dit nodig is. Wees hartlik en geesdriftig wanneer jy hulle uitnooi.
9 Help hulle om te besef waarom die Gedenkmaal ingestel is, wie die embleme gebruik en wat die embleme voorstel (1 Kor. 11:23-26). Verduidelik ook die hoop van diegene wat die embleme gebruik en die hoop van die toeskouers wat dit nie gebruik nie (Joh. 10:16; Openb. 14:3, 4). Dit sal belangstellendes help om te besef dat almal ‘geloof moet beoefen’ en dat dit nie genoeg is om net die herdenking van Christus se dood een keer per jaar by te woon nie.—Joh. 3:16, NW.
10 Die herdenking van Christus se dood is ’n baie spesiale gebeurtenis. Deur deeglik daarvoor voor te berei, toon ons dat ons werklik waardeer wat Jehovah en Christus alles vir ons gedoen het. As ons waardering vir hierdie geleentheid by ons Bybelstudente en ander belangstellendes inskerp, sal dit hulle help om ook geloof in Jehovah se losprysvoorsiening deur Jesus Christus te stel.