Vrae van lesers
▪ Het Jonatan in onguns by God geraak toe hy heuning geëet het nadat koning Saul enige soldaat vervloek het wat voor die einde van die geveg sou eet?
Saul se voortvarende eed het Israel aan ’n vloek blootgestel, maar dit lyk nie of Jonatan by Jehovah in onguns geraak het omdat hy in stryd met die eed opgetree het nie.
Eerste Samuel 14:24-45 verhaal hierdie voorval. Die Israeliete, aangespoor deur Jonatan se kordaatstukke, het teen die vyandelike Filistyne geveg. Koning Saul het gesê: “Vervloek is die man wat iets eet tot vanaand, sodat ek my op my vyande kan wreek” (1Sam 14 Vers 24). Onbewus van sy vader se eed, het Jonatan homself versterk deur heuning te eet. Ander Israelitiese manskappe, wat ook uitgeput was, het gesondig deur beeste te slag en vleis met bloed en al gulsig te eet. Saul het ’n altaar as gevolg van daardie sonde gebou, maar hy het nie geweet wat sy seun gedoen het nie.
Toe Saul God vra of hy die vyand moet agtervolg, wou Jehovah nie antwoord nie. Deur die gebruik van die Tummim (wat moontlik ’n heilige lot behels het) het Saul te wete gekom dat sy seun die onverstandige eed geskend het. Maar hoe skuldig was Jonatan in werklikheid?
Dink aan die koning se gesindheid toe hy die eed gedoen het. Hy het nie ’n begeerte geopenbaar om God deur ’n oorwinning oor die Filistyne te eer nie. Saul het eerder voortvarend ’n vloek uitgespreek oor enigiemand wat eet, “sodat ek my op my vyande kan wreek”. Ja, die eed was die gevolg van ’n misplaaste beskouing van koninklike mag of van valse ywer. Daardie eed sou nie God se steun hê nie. Die eed het tot die Israelitiese manskappe se sonde ten opsigte van die dierebloed bygedra. As hulle nie deur die eed gekortwiek is nie, kon hulle moontlik voedsel gevind het en so die krag gehad het om die Filistyne te agtervolg totdat ’n volslae oorwinning behaal is.
God het toegelaat dat die Tummim gebruik word om vas te stel dat Jonatan (onwetend) Saul se eed geskend het, maar dit beteken nie dat Hy die voortvarende eed goedgekeur het nie. Die verslag sê nêrens dat Jonatan in God se oë skuldig was nie. Trouens, hoewel Jonatan bereid was om die gevolge te dra van sy skending van sy vader se oorhaastige eed, was die omstandighede van so ’n aard dat Jonatan se lewe gespaar is. Die Israelitiese manskappe het gesê dat Jonatan sy prestasies “met God” verrig het, en hulle het Jonatan op die een of ander manier verlos. In die daaropvolgende jare was dit Jonatan wat Jehovah se goedkeuring behou het terwyl Saul die een fout na die ander begaan het.
▪ Hoeveel rigters, soos Simson en Gideon, was daar?
Wanneer jy die rigters tel, hang die totaal af van hoe jy sekere Israeliete beskou. Maar daar kan met veiligheid gesê word dat 12 manne tussen Josua en Samuel as rigters gedien het.
In Moses en Josua se dae was sommige oudstes in die vergadering regters, daar hulle gekies is om regsake aan te hoor en te beslis (Exodus 18:21,22; Josua 8:33; 23:2). Na Josua se dood het Israel afvallig geword van ware aanbidding en is hulle deur ander volke verdruk. Rigters 2:16 sê: “Die HERE [verwek] rigters wat hulle verlos uit die hand van hulle berowers.” Die eerste rigter, of ‘verlosser’, wat Jehovah verwek het, was die man met die naam Otniël (Rigters 3:9). Daarna het Ehud, Samgar, Barak, Gideon, Tola, Jaïr, Jefta, Ebsan, Elon, Abdon en Simson gevolg.
Benewens hierdie 12 meld die Bybel dat Debora, Eli en Samuel die nasie gerig het (Rigters 4:4; 1 Samuel 4:16-18; 7:15, 16). Maar Debora word eerstens ’n profetes genoem, en sy word verbind met rigter Barak, wat in die besonder die leiding geneem het om die volk van verdrukking te bevry. Eli was eweneens hoofsaaklik ’n hoëpriester, nie ’n ‘verlosser’ wat Israel deur oorlog na vryheid gelei het nie (Nehemia 9:27). Hoewel Debora en Eli Israel in sekere mate gerig het, is daar derhalwe rede om hulle nie te tel by die 12 manne wat duidelik en spesifiek as rigters ‘verwek’ is nie. Handelinge 13:20 sê dat “rigters gegee [is] tot op Samuel, die profeet”. Dit beperk wat bekend kan staan as die tydperk van die rigters, en dit toon waarom Samuel en sy seuns gewoonlik nie onder die rigters getel word nie.—1 Samuel 8:1.