Verkondig God se weg na vrede en veiligheid
1 Mense het al met baie voorstelle vir vrede en veiligheid vorendag gekom, maar nie een van hulle voorsien in die ware behoeftes van mense wêreldwyd nie. Hoewel godsdiens- en rassehaat en haat tussen nasies, sowel as politieke ambisie en gierigheid oënskynlik die vernaamste versperrings op die weg na ’n veilige en vreedsame wêreld is, weet ware Christene dat Satan die Duiwel sowel as die mens se weiering om hom aan Jehovah God te onderwerp die eintlike struikelblokke is.—Ps. 127:1; Jer. 8:9; 1 Joh. 5:19.
2 Ons sal gedurende Januarie ons bure probeer help om te besef dat God se weg na vrede en veiligheid die enigste weg is en dat Jehovah die wesenlike oplossing vir al die mensdom se probleme het.
3 Die gebruik van die aanbod: Ons kan hierdie opbouende boodskap oordra deur die voorgestelde aanbod vir Januarie te gebruik. Enige van die volgende drie boeke kan teen ’n bydrae van R2,60 elk aangebied word: Ware Vrede en Veiligheid—Hoe kan jy dit vind?, Oorlewing tot in ’n nuwe aarde en Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”. (Let wel: Ander publikasies word dalk in ander tale aangebied. Raadpleeg asseblief die aankondigings in die betrokke taal om uit te vind watter boeke aangebied moet word.)
4 Miljoene mense is vandag terneergedruk, en hulle smag na ’n tyd van genesing en van ware vrede, veiligheid en kalmte. Ware Vrede en Veiligheid—Hoe kan jy dit vind? kan vir baie ’n ware bron van bemoediging wees. Ware vrede en veiligheid kan net van een bron, Jehovah God, af kom. Aangesien Jehovah die enigste bron van ware vrede is, moet mense “optrek na die berg van die HERE” en in sy weë geleer word (Miga 4:2, 3). Hierdie publikasie sal regskapenes help om te leer hoe Jehovah, deur middel van sy Koninkryk, blywende vrede en veiligheid op hierdie aarde sal bewerkstellig.
5 Oorlewing tot in ’n nuwe aarde is nog ’n uitstekende hulpmiddel wat ons gedurende Januarie kan gebruik. Oorlewing is iets waaroor baie mense bekommerd is. Hulle is besorg oor die skending van die omgewing. Uit die mens se oogpunt beskou, lyk die toekoms van die aarde en sy bewoners baie duister. Waar kan ’n mens ’n vaste grondslag vind waarvolgens jy die verwagting kan koester dat jy ’n veilige lewe kan geniet?
6 Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors” wys op die heerskappy van die “Vredevors” en sal sy lesers help om te sien wat hulle moet doen om hulle op daardie heerskappy voor te berei. Opwindende profesieë word in hierdie voortreflike publikasie bespreek en verduidelik. Hersien gerus die inhoudsopgawe sowel as die hoofstukke in die boek waarin mense in ons gebied moontlik sal belangstel.
7 Begin Bybelstudies: ’n Bybelstudie kan met enige van die bogemelde publikasies begin word. Ons is ook al aangemoedig om studies met ’n traktaat, ’n brosjure of ’n tydskrif te begin. As jy uitvind dat ’n huisbewoner reeds een van ons publikasies het, kan jy taktvol aanbied om te demonstreer hoe dit in ’n Bybelstudie gebruik kan word. Die traktate en brosjures is uitstekende hulpmiddels wat gebruik kan word waar mense dalk nie een van ons hardebandboeke kan bekostig nie.
8 Ware veiligheid kan net van die Skepper, Jehovah God, af kom. Ons wil soveel mense as moontlik help om hulle hart en verstand toeganklik te maak vir die waarheid van God se Woord en die hoop aan te neem wat dit vir ons uithou. Laat ons die onderrigmiddele wat ons het ten volle benut om God se weg na vrede en veiligheid te verkondig.—Jes. 2:3, 4.