Wees onpartydig in die bediening
1 ‘God is geen aannemer van die persoon nie’, het Petrus gesê, maar ‘in elke nasie is die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig’ (Hand. 10:34, 35). Ons bediening word vandag voortgesit in volle erkenning van daardie waarheid wat so duidelik gestel is. Daarom is dit belangrik dat ons alles probeer om enige hindernis te oorkom wat ons verhinder om almal met die goeie nuus te bereik.
2 In onlangse tye het mense van verskeie nasionaliteite dalk in julle gemeente se gebied ingetrek. Veral in metropolitaanse gebiede is dit nie vreemd om mense te vind wat een of meer van die volkstale praat nie. Voorheen was party gebiede dalk oorwegend Engelssprekend. Dit is egter in die meeste gebiede nie meer die geval nie. Selfs in gebiede waar daar oorwegend Zulu gepraat is, kom broers nou mense teë wat Tsonga, Portugees, Venda of ander tale praat. Wat kan gedoen word om al hierdie mense te help om tot ’n kennis van die waarheid te kom?
3 Eerstens moet ons persoonlik verantwoordelik voel vir elke belangstellende wat ons in die veld ontmoet, ongeag daardie persoon se ras of taal. Die ouere manne, veral die diensopsiener, moet toesien dat daar voldoende na alle taalgroepe omgesien word, in die veld sowel as by die gemeentelike vergaderinge.
4 Elke gemeente moet seker maak dat hulle ’n voorraad lektuur het in al die tale wat in hulle gebied voorkom. Verkondigers en pioniers moet ’n klein voorraad van hierdie publikasies by hulle hê wanneer hulle aan die bediening deelneem. In baie gevalle kan die persoon ten minste Engels of een van die ander hooftale van die gebied praat. In die verlede het ons miskien te gou hulle naam en adres aan die Genootskap gestuur en gevra dat iemand van hulle eie taal hulle moet besoek. As daar nie ’n gemeente of ’n groep in die omgewing is wat ’n getuienis in die nodige taal kan gee nie, is daar dalk ’n verkondiger in een van die plaaslike gemeentes wat die taal ken en die besoek kan doen. As dit egter nie moontlik is nie, kan jy daardie belangstelling gerus self verder ontwikkel. Party verkondigers het al ’n ander taal geleer, selfs gebaretaal, sodat hulle ’n belangstellende kon help om die Bybel te bestudeer. As dit onmoontlik is om met die persoon te kommunikeer, moet jy met die diensopsiener praat wat dan met die stadsopsiener in aanraking sal kom. As niemand gevind kan word wat die taal praat nie, selfs nadat die stadsopsiener geraadpleeg is, moet die plaaslike broers hulle bes probeer om toe te sien dat ’n getuienis gegee word. Die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! was al baie nuttig in sulke omstandighede.
5 In die meeste gemeentes in ons veld word daar ’n hele paar tale gepraat. Dit kan vir die ouere manne ’n ware uitdaging bied. As diegene wat ons vergaderinge bywoon in een van die hooftale kan antwoord, moet ons hulle aanmoedig om dit te doen. Maar party kan dalk net in hulle eie taal antwoord. Waar dit moontlik en prakties is, kan die ouere manne reël dat ’n boekstudie of selfs ’n aparte Wagtoring-studie in daardie taal gehou word. As hulle nie hulle toesprake in die Teokratiese Bedieningskool kan hou in een van die hooftale wat in die gemeente gepraat word nie, kan die skoolopsiener reël dat hulle hulle toesprake in die tweede of derde skool hou en miskien reël dat die hele tweede skool daardie aand in daardie spesifieke taal gehou word. Dit het tot die stigting van gemeentes van ander tale in die gebied gelei. Ons stel ook voor dat julle op die gemeente se bord waarop vergaderingtye verskyn, aandui dat alle mense by julle vergaderinge welkom is en dit nie net in die gemeente se hooftaal doen nie, maar ook in een of meer van die volkstale wat in julle gebied gepraat word.
6 Deur ons ten volle in te span om alle mense, ongeag hulle taal, met die goeie nuus te bereik, sal ons die liefde weerspieël van ons God, Jehovah, “wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom”.—1 Tim. 2:4.