Sien om na die geestelike behoeftes van die dowes
1 ’n Toenemende aantal dowe mense word tot die Goeie Herder aangetrek en wy hulle toe aan Jehovah God (Joh. 10:3, 11). Ander mense in die gemeente, veral die ouere manne, moet bewus wees van die geestelike behoeftes van ons dowe broers en susters.
2 Hoe daar in die behoeftes van die dowes voorsien word: Daar word reëlings getref om die gemeente se vergaderinge in gebaretaal te vertolk waar bekwame tolke ook al beskikbaar is. As niemand in die gemeente gebaretaal ken nie, sal dit dalk gepas wees om dowe mense na ’n naburige gemeente te verwys wat hierdie diens kan voorsien. Maar as daar glad nie so ’n reëling in julle gebied bestaan nie, kan verkondigers aangewys word om om die beurt langs dowe mense te sit en vir hulle aantekeninge te maak oor die hoofpunte wat bespreek word.
3 Kringbyeenkoms- en gemeentelike reëlings: Reëlings vir gebaretaal by kringbyeenkomste en spesiale byeenkomsdae word deur middel van die kringopsiener getref. ’n Ouere man of ’n bekwame bedieningskneg kan as koördineerder gekies word. Voorbeeldige, bekwame broers en susters kan toegewys word om die byeenkomsprogram beurtelings te vertolk. Dieselfde beginsel kan in die gemeente gevolg word, wat sal verseker dat daar behoorlik na die behoeftes van die dowes omgesien word.
4 Dit is verkieslik dat die dowes sit waar hulle terselfdertyd die tolke en die verhoog kan sien. Dit geld vir gemeentelike vergaderinge sowel as kringbyeenkomste. By gemeentelike vergaderinge moet die tolk verkieslik sit as daar nie baie dowes is wat die vergaderinge bywoon nie. Dit sal goed wees as die ouere manne ’n ervare dowe broer se mening kan vra sodat hy, indien moontlik, spesifieke raad vir gepaste sitplekreëlings kan gee.
5 As daar ’n bekwame tolk beskikbaar is wat as ’n ouere man of bedieningskneg dien, en die getal dowe broers en susters dit regverdig, kan die ouere manne besluit dat sommige vergaderinge heeltemal in gebaretaal gehou moet word. Die Gemeentelike Boekstudie kan moontlik die eerste weeklikse vergadering wees wat so gereël word. As die gemeente graag enige van die ander vyf weeklikse vergaderinge in gebaretaal wil hou, of in enige ander taal buiten die vernaamste taal/tale wat in die gemeente gebruik word, moet die ouere manne die Genootskap daarvan in kennis stel.
6 Hoewel kommunikasie tussen dowe mense en mense wat kan hoor spesiale inspanning van albei groepe sal verg, moet alle gemeentelede probeer om mekaar beter te leer ken sodat daar ware onderlinge bemoediging kan wees (Hebr. 10:24). Hierdie gees onder die broers sal alle nuwelinge welkom laat voel.