Help Bybelstudente om vir hulle studie voor te berei
1 Bybelstudente wat elke week vir hulle studie voorberei, toon dat hulle werklik in die studie belangstel en maak gewoonlik vinniger geestelik vooruitgang as diegene wat nie voorberei nie. Soms berei ’n student dalk nie voor nie omdat hy nie weet hoe nie. Hy moet moontlik geleer word hoe om voor te berei. Hoe kan dit gedoen word?
2 Bestee reg van die begin af ’n bietjie tyd daaraan om seker te maak die student verstaan dat voorbereiding persoonlike studie behels. Baie mense kan lees, maar is nie geleer hoe om te studeer nie. Bladsye 33-43 in die Teokratiese Bedieningskool-handleiding voorsien talle nuttige wenke waarvan jy die student na gelang van die behoefte kan vertel.
3 Toon vir die student hoe waardevol studie is: Jy kan vir die student jou studieboek wys waarin jy sleutelwoorde en -frases gemerk of onderstreep het. Wys hom hoe die gemerkte gedeeltes hom met die eerste oogopslag aan gedagtes kan herinner wat hy in sy eie woorde kan uitdruk. Sodoende sal hy nie in die versoeking kom om hele gedeeltes uit die boek te lees wanneer hy vrae beantwoord nie. Die regte opleiding in hierdie stadium sal hom help om later sinvolle kommentare tydens gemeentelike vergaderinge te lewer. Sy kommentare sal sy waardering vir die materiaal onder bespreking weerspieël en toon of hy dit goed verstaan.
4 Leer hom om die Bybel te gebruik: Die student moet leer hoe om die tekste te vind waarna daar in die studiemateriaal verwys word. Wanneer hy dit goed kan doen, sal hy beter besef dat hy in werklikheid ’n Bybelstudent is. Hoewel hy aanvanklik dalk die lys van Bybelboeke voor in die Bybel sal moet gebruik, moet die student aangemoedig word om met die volgorde van die 66 Bybelboeke vertroud te raak. Wanneer hy ’n teks naslaan en lees, moet jy hom help om vas te stel watter gedeelte die gedagte steun in die paragraaf wat bespreek word, en hy moenie toelaat dat sy aandag afgetrek word deur gedeeltes wat nie regstreeks met die studie onder bespreking verband hou nie.
5 Namate die student vooruitgang maak, moet jy hom aanmoedig om die Bybel heeltemal deur te lees. Beklemtoon dat die hele Bybel die geïnspireerde Woord van God is en dat ware Christene geestelik daardeur gevoed moet word.—Matt. 4:4; 2 Tim. 3:16, 17.
6 Stel ander teokratiese bronne aan hom bekend: Wanneer die student genoeg vordering gemaak het, kan hy ander teokratiese bronne begin gebruik. Lê onderskeidingsvermoë aan die dag, en moedig hom aan om bykomende inligting na te slaan in die Genootskap se publikasies waarmee hy vertroud sal raak wanneer hy gemeentelike vergaderinge bywoon. Leer hom hoe om spesiale aspekte van die New World Translation, soos “Bible Words Indexed”, te gebruik. Namate hy sy eie teokratiese biblioteek begin opbou, moet jy hom wys hoe om die Comprehensive Concordance, Redenering uit die Skrif, die Index en die Insight-boeke te gebruik.
7 As ons ons Bybelstudente leer hoe om vir hulle Bybelstudie voor te berei, sal ons hulle toerus om as bekwame Bybelstudente voortdurend vooruitgang in die waarheid te maak selfs wanneer hulle nie meer hulle persoonlike tuisbybelstudie het nie.