Ons moet die regte beskouing hê van God se genade
DIE dokter was vriendelik en baie bekommerd. Dit het werklik vir hom gelyk of sy pasiënt dringend ’n operasie sou moes ondergaan om haar lewe te red. Toe sy geaarsel en die kwessie van bloedoortappings aangeroer het, was hy verbaas. Toe sy verduidelik het dat sy om godsdiensredes nie toestemming kon gee vir ’n operasie waarby daar ’n bloedoortapping betrokke is nie, was hy verstom. Hy het aan ’n manier probeer dink om haar te help. Eindelik het hy gedink dat hy ’n oplossing gevind het. Hy het gesê: “Jy weet, as jy nie ’n bloedoortapping aanvaar nie, sal jy sterf. Jy wil dit mos nie hê nie, né?”
“Natuurlik nie”, het sy pasiënt gesê.
“Maar as jy een aanvaar, sal dit blykbaar in stryd wees met jou godsdiensoortuiging, wat ook vir jou belangrik is. Wel, hier is my voorstel. Waarom aanvaar jy nie ’n bloedoortapping en red so jou lewe nie. Daarna bely jy jou sonde voor God en toon berou. Sodoende sal jy ook weer in jou geloof herstel wees.”
Die welmenende dokter het gedink dat hy die volmaakte antwoord gevind het. Hy het geweet dat sy pasiënt in ’n barmhartige God glo. Wat ’n gulde geleentheid om van God se genade gebruik te maak! Maar was sy voorstel so redelik as wat dit geklink het?
Redeneer ons ooit so?
Ons redeneer moontlik soms soos die dokter. Ons is miskien bang as gevolg van ’n onverwagte uitbarsting van teëstand by die skool of by die werk. Of ons bevind ons moontlik in die moeilike situasie waar ons onder druk is om iets te doen wat teen ons gewete indruis. Omdat ons onverhoeds betrap is, is ons dalk geneig om die maklike uitweg te kies en te doen wat ons weet verkeerd is, met die voorneme om later om vergifnis te vra.
Of mense kan deur hulle eie verkeerde neigings in die versoeking gelei word. ’n Jong man kan hom byvoorbeeld in ’n situasie bevind waar hy in ’n groot versoeking verkeer om onsedelik te wees. Pleks van teen die verkeerde begeerte te stry, gee hy dalk in, met die voorneme om sake later met God reg te stel. Sommige het al selfs ’n ernstige sonde gepleeg hoewel hulle geweet het dat hulle waarskynlik uit die Christengemeente gesit sou word. Hulle het blykbaar geredeneer: ‘Ek sal ’n ruk wag. Dan sal ek berou toon en herstel word.’
Al hierdie situasies het twee dinge gemeen. Eerstens, mense gooi eerder tou op as om te probeer doen wat reg is. Tweedens, hulle meen dat God hulle, nadat hulle gesondig het, vanselfsprekend sal vergewe as hulle maar net vra.
Wat is die regte beskouing?
Toon dit gepaste waardering vir God se genade? Wel, dink ’n oomblik oor daardie genade na. Jesus het gesê: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die apostel Johannes het verduidelik hoe daardie genade werk toe hy gesê het: “Ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige” (1 Johannes 2:1). As ons derhalwe wel vanweë onvolmaaktheid sondig, kan ons ons tot God in gebed wend en hom op grond van Jesus se losprysoffer om vergifnis smeek.
Beteken dit egter dat dit nie saak maak of ons sondig of nie, solank ons net agterna om vergifnis vra? Beslis nie. Onthou die eerste woorde van daardie aanhaling: “Ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie.” Johannes se volgende woorde in daardie vers toon watter liefdevolle reëling Jehovah ter wille van ons onvolmaaktheid ingestel het. Ons moet nogtans so hard as moontlik probeer om nie te sondig nie. Anders toon ons betreurenswaardige minagting vir God se liefde, amper soos diegene van wie Judas praat wat God se onverdiende goedhartigheid as ’n verontskuldiging vir losbandige gedrag gebruik het.—Judas 4, vgl. NW.
As ons God se genade as ’n soort veiligheidsnet beskou wat ons altyd sal vang ongeag wat ons doen, word God se genade niksbeduidend en lyk dit asof sonde nie só verkeerd is nie. Dit is alles behalwe die waarheid. Die apostel Paulus het vir Titus gesê: “Die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe.”—Titus 2:11, 12.
Paulus het sy waardering vir God se genade getoon in die wyse waarop hy teen sy eie onvolmaaktheid gestry het. Hy het gesê: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Korinthiërs 9:27). Paulus het dit nie sommer as vanselfsprekend aanvaar dat hy van tyd tot tyd sou sondig nie. Moet ons?
Jesus se beskouing
Jesus het by een geleentheid getoon hoe hy dit beskou as ’n mens prysgee wat reg is en die makliker weg kies om lyding te vermy. Toe hy sy dissipels van sy naderende offerdood begin vertel het, het Petrus hom probeer ompraat en gesê: “[“Wees goed vir uself”, NW] Here, dit sal U nooit oorkom nie!” Wat was Jesus se reaksie? “Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.”—Mattheüs 16:22, 23.
Jesus se streng teregwysing van Petrus het op dramatiese wyse getoon dat Jesus geweier het om ’n maklike weg te volg wat sou beteken dat hy teen God se wil optree. Die geskiedenis toon dat hy onversetlik op die regte weg gebly het al het Satan hom onophoudelik geteister. Aan die einde is hy bespot, wreed geslaan en het hy ’n folterdood gesterf. Hy het nogtans nie ’n kompromis aangegaan nie, en daarom kon hy sy lewe as ’n losprys vir ons opoffer. Hy het beslis nie al hierdie dinge verduur dat ons ‘goed vir onsself’ kan wees wanneer ons voor probleme of versoekings te staan kom nie!
Van Jesus word daar gesê: “U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid [of, “wetteloosheid”, NW] gehaat” (Hebreërs 1:9). Om die maklike uitweg te kies, behels gewoonlik wetteloosheid. As ons dit dus werklik haat—soos Jesus dit gehaat het—sal ons altyd weier om ’n kompromis aan te gaan. In die boek Spreuke sê Jehovah: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee” (Spreuke 27:11). Jesus se gebalanseerde maar onbuigsame geregtigheid het Jehovah se hart baie verbly. Ons kan Jehovah op soortgelyke wyse behaag as ons Jesus se weg van onkreukbaarheid volg.—1 Petrus 2:23.
Opleiding deur volharding
Die apostel Petrus het geskryf: “Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:6, 7). Omdat ons onvolmaak is en in Satan se wêreld lewe, sal ons voortdurend voor toetse en versoekings te staan kom. Soos Petrus toon, kan dit ’n goeie doel dien. Dit stel ons geloof op die proef en toon of dit swak of sterk is.
Dit help ook om ons op te lei. Jesus “het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het” (Hebreërs 5:8). Ons kan ook gehoorsaamheid leer sowel as om ons vertroue op Jehovah te stel as ons beproewinge verduur. En hierdie leerproses sal aanhou totdat dit voltooi is, aangesien Petrus gesê het: “God . . . [sal] self julle opleiding voltooi‚ hy sal julle standvastig maak‚ hy sal julle sterk maak.”—1 Petrus 5:10, NW.
Maar as ons nie tydens beproewinge getrou bly nie, toon ons dat ons lafhartig of swak is, nie ’n sterk liefde vir Jehovah en vir geregtigheid het nie of dat ons selfbeheersing kortkom. Hierdie soort swakhede stel ons verhouding met God in groot gevaar. Paulus se waarskuwing kan inderdaad in ons geval bewaarheid word: “As ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie” (Hebreërs 10:26). Hoeveel beter is dit tog om in die eerste plek nie te sondig nie as om voor swakheid te swig en die gevaar te loop om alle vooruitsigte op die lewe te verloor!
Onvoorwaardelike onkreukbaarheid
In die dae van die profeet Daniël is drie Hebreërs met ’n vuurdood gedreig indien hulle sou weier om ’n afgod te aanbid. Hulle antwoord? “As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.”—Daniël 3:17, 18.
Hulle het hulle standpunt ingeneem omdat hulle wou doen wat reg is. As dit tot hulle dood sou lei, moes dit so wees. Hulle het hulle vertroue in die opstanding gestel. Maar as God hulle sou verlos, des te beter. Hulle ferm standpunt was egter onvoorwaardelik. Dit moet altyd die geval met God se knegte wees.
In ons dag is sommige wat geweier het om ’n kompromis aan te gaan al in die gevangenis gewerp, gemartel, selfs doodgemaak. Ander het al materiële opofferinge gemaak en verkies om eerder arm te bly as om ten koste van die regte beginsels ryk te word. Wat het met die Christenvrou gebeur wat aan die begin van die artikel genoem is? Sy het die dokter se vriendelike, dog ondeurdagte raad waardeer, maar sy het nie haar geloof prysgegee nie. Haar respek vir Jehovah se wet het eerder daartoe gelei dat sy die operasie geweier het. Gelukkig het sy tog herstel en aangehou om Jehovah aktief te dien. Toe sy haar standpunt ingeneem het, het sy nie geweet wat die uiteinde sou wees nie, maar sy was bereid om die hele saak in Jehovah se hande te laat.
Wat het haar gehelp om so standvastig onder druk te bly? Sy het nie op haar eie krag probeer staatmaak nie, en geen kneg van God behoort dit te doen nie. Onthou, “God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef” (Psalm 46:2). Hoeveel beter is dit tog nie om ons tot God om hulp te wend wanneer ons beproef word as om te sondig en ons dán tot hom om genade te moet wend nie!
Ja, laat ons nooit God se groot genade geringag nie. Ons moet eerder ’n opregte begeerte ontwikkel om te doen wat reg is, selfs wanneer ons voor probleme te staan kom. Dit sal ons verhouding met Jehovah verinnig, ons die opleiding gee wat ons nodig het vir die ewige lewe en toon dat ons behoorlike respek vir God se genade het. Sulke wyse optrede sal die hart van ons hemelse Vader verbly.
[Prent op bladsy 24]
Absolute vertroue in die opstanding het die drie Hebreërs gehelp om hulle onkreukbaarheid te handhaaf