Waak teen misplaaste goedhartigheid
1 Jehovah se volk is bekend vir hulle goedhartige en vrygewige gees. Dikwels word dit op ’n materiële wyse geopenbaar wanneer ons die barmhartige Samaritaan navolg waarvan Jesus in sy hartroerende gelykenis vertel het (Luk. 10:29-37). Tog kan sommige wat nie materiële hulp waardig is nie, probeer om van ons goedheid misbruik te maak. Ons liefde vir ander moet dus met “juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë” gebalanseer word.—Filip. 1:9,NW.
2 Binne die gemeente: Iemand sê dalk byvoorbeeld dat hy werkloos is of voer ander redes aan waarom hy hulp nodig het. Soms is hierdie individue nie op soek na werk nie, maar wil net hê dat ander hulle van hulle lewensbenodigdhede moet voorsien. Die apostel Paulus het ons aangaande sulke mense beveel: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.”—2 Thess. 3:10.
3 “Tyd en lotgeval” tref ons almal, en daarom moet ons ons nie oormatig bekommer wanneer ons materieel behoeftig is en nie “ons daaglikse brood” het nie, want Jehovah sorg vir diegene wat hom liefhet en sy wil doen (Pred. 9:11; Matt. 6:11, 31, 32). ’n Behoeftige sal dit dalk nuttig vind om met een van die ouere manne te praat. Die ouere manne is moontlik bewus van staatsprogramme wat daargestel is om hulp te voorsien en hulle kan dalk help om die vorms in te vul, of hulle verstaan dalk die vereistes vir so ’n program. Hoe dit ook al sy, die ouere manne kan die omstandighede van elkeen wat om hulp vra, evalueer en bepaal wat gedoen kan word.—Vergelyk 1 Timotheüs 5:3-16.
4 Reisende bedrieërs: Die Genootskap ontvang voortdurend verslae dat party in die gemeentes deur reisende bedrieërs van hulle geld en materiële besittings beroof is. Dit behoort ons nie te verbaas nie, aangesien die Skrif ons waarsku dat “goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word” (2 Tim. 3:13). Hierdie bedrieërs sê dikwels dat hulle gestrand is en geld nodig het vir vervoer en kos sodat hulle kan teruggaan huis toe. Hoewel hulle dalk opreg klink, is hulle in die meeste gevalle glad nie Getuies van Jehovah nie, maar gee net voor dat hulleis.
5 As ’n vreemdeling om hulp vra, sal dit verstandig wees om een van die gemeentelike ouere manne te nader, wat die leiding kan neem en kan bepaal of hierdie persoon ons broer is. Een van die ouere manne in daardie persoon se gemeente moet gewoonlik geskakel word sodat daar vasgestel kan word wat die persoon se reputasie is. Opregte broers en susters wat hulle onverwags in die nood bevind, sal verstaan dat hierdie soort navrae gedoen word vir die beskerming van almal wat betrokke is. Aan die ander kant sal bedrieërs deur hierdie soort ondersoek aan die kaak gestel word. Dit is nie nodig om uitermate agterdogtig te wees teenoor almal wat ons nie ken nie, maar ons moet op ons hoede wees vir bose bedrieërs.—Sien ook kmAF11/80, bladsy 8.
6 Die wyse koning Salomo het vermaan: “Hou ’n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie” (Spr. 3:27). Deur ons wyse onderskeidingsvermoë kan ons voortgaan om barmhartig te wees terwyl ons teen misplaaste goedhartigheid waak.