Bybelglanspunte Ester 1:1–10:3
Goddelike verlossing van volksmoord
Die slagting sal dodelik doeltreffend wees: jonk en oud, kinders en vroue, almal sal voor die voet uitgewis word. Niemand sal die plan durf teenstaan nie, want die teregstellingsbevel dra die seël van die koning. Ja, die Jode sal sterf soos hulpelose beeste!
So lyk dinge altans vir Haman, die eerste minister van eertydse Persië. Hy het hierdie massamoord beplan uit blinde wrewel teen die Jood Mordegai. Maar terwyl Haman selfvoldaan op sy oorwinning wag, bid die Joodse volk om verlossing. Die uitslag? Dit word in die dramatiese Bybelboek Ester verhaal. Hierdie geloofversterkende verhaal, deur Mordegai self geskryf, vertel hoe goddelike tussenkoms—en die geloof van ’n jong vrou—’n volk gered het.
Ester word koningin
Lees asseblief Ester 1:1–2:23. Omstreeks 484 v.G.J. reël die Persiese koning Ahasveros (Xerxes I) ’n groot feesmaal. Maar koningin Vasti weier om te kom wanneer die koning haar daarheen ontbied. Die vertoornde koning onthef haar van haar posisie en doen stappe om ’n nuwe koningin te kry. Nadat hy die mooiste vroue in die ryk deurgekyk het, kies hy ’n beskeie Jodin met die naam Hadassa, wat vir hierdie rol voorberei is deur haar neef Mordegai. Die jong vrou verberg die feit dat sy Joods is en gebruik haar Persiese naam Ester.
♦ 1:3-5—Waarom is hierdie fees gehou?
Volgens geskiedskrywer Herodotus het Xerxes eenmaal ’n samekoms gereël om ’n militêre veldtog teen Griekeland te beplan. Dit is moontlik dieselfde geleentheid. Xerxes het waarskynlik met sy glorie en die rykdom van sy koninkryk gepronk om die vorste te oortuig van sy vermoë om met die Griekse veldtog te slaag.
♦ 1:8—Wat was die wet in verband met drankgebruik?
Die Perse het skynbaar die gewoonte gehad om mekaar aan te por om ’n bepaalde hoeveelheid by sulke geleenthede te drink. Die koning wou egter hierdie keer ’n uitsondering maak. Die Bybel sê nie of dit matiger of onbeteuelde drinkery tot gevolg gehad het nie.
♦ 2:19, 20—Hoekom het Mordegai ‘in die poort van die koning gesit’?
Dit wil voorkom of Mordegai een van koning Ahasveros se amptenare was. Sulke manne van gesag het gewoonlik by die poort gesit, gereed om op ’n koninklike versoek te reageer. Mordegai moes ’n taamlik verantwoordelike posisie beklee het, anders sou Haman hom waarskynlik op die plek kon ontslaan het. Mordegai kon derhalwe die moordkomplot teen die koning te wete kom en dit verydel.
Les vir ons: Ester het die waarde van beskeidenheid toegelig deur nie juwele of mooi klere te vra toe sy voor die koning verskyn het nie. Sy het die verborge mens van die hart, met sy “sagmoedige en stille gees”, die koning se guns laat wen (1 Petrus 3:1-5). Op soortgelyke wyse het die lede van die gesalfde oorblyfsel wat sedert 1919 versamel is die guns van die koning Jesus Christus gewen.
Haman se sameswering
Lees 3:1–5:14. Ahasveros maak ’n Amalekiet met die naam Haman eerste minister. Maar Mordegai, gedagtig aan Jehovah se besluit om ‘oorlog te voer teen Amalek van geslag tot geslag’, weier om hom voor Haman neer te buig (Exodus 17:8-16). Uit weerwraak oorreed die trotse Haman die koning om die Jode uit te roei!
Mordegai vra Ester om tussenbeide te tree en herinner haar daaraan dat, as sy sou swyg, “daar van ’n ander kant af verligting en redding vir die Jode tot stand [sal] kom”. Aangesien die lot van Jehovah se volk en sy oordeel teen die Amalekiete in die gedrang is, is Mordegai vol vertroue dat God die uitkoms sal gee (1 Samuel 12:22). Ester verskyn ongenooid voor die koning—potensieel ’n halsmisdaad! Ahasveros spaar egter haar lewe en woon ’n maaltyd by wat sy reël. Haman, opnuut ontstoke oor Mordegai se weiering om aan hom eer te bewys, smee by die huis planne om hom tereg te stel.
♦ 3:7—Wat was betrokke by die werp van Pur?
“Pur” is skynbaar ’n Persiese woord wat “lot” beteken. Die lot is dikwels deur sterrewiggelaars gewerp as ’n vorm van waarsêery. Dit is bes moontlik gedoen sodat Haman die gunstigste tyd kon bepaal om sy volksmoordplan uit te voer.
♦ 4:3—Waarom het Mordegai en die Jode gevas?
Omdat ’n onheil oor die volk gehang het, was dit ’n tyd vir sombere, ernstige denke (Prediker 3:4). Hulle het goddelike leiding dringend nodig gehad. Deur te vas, het hulle aangedui dat hulle hulle tot Jehovah wend vir die nodige krag en wysheid. Wend jy jou ook in die gebed tot God wanneer jy voor beproewinge te staan kom?—Hebreërs 5:7.
♦ 5:6-8—Waarom het Ester nie dadelik die saak aan die koning bekend gemaak nie?
Ester se moed het haar sekerlik nie begewe nie, want sy het alreeds haar lewe gewaag. Sy wou waarskynlik eers die koning se guns wen. Daarom het sy hom na ’n tweede maaltyd genooi. Goddelike leiding was ook by die saak betrokke, want die gevolglike tussenperiode het die geleentheid gebied vir sekere ontwikkelings.
Les vir ons: Ester het geloof en moed getoon, asook gewilligheid om Mordegai se raad toe te pas. Die wat sedert 1919 ’n deel van die gesalfde oorblyfsel geword het, het vergelyklike geloof en moed getoon, tesame met die bereidwilligheid om met die ouer lede van die bruid van Christus saam te werk. Voorwaar goeie voorbeelde!
Die sameswering word verydel
Lees 6:1–7:10. Ahasveros kan een nag nie slaap nie, ongetwyfeld deur God so bewerk. Moontlik omdat hy dink dat hy in die een of ander opsig sy plig versuim het, laat hy die kroniekboek, miskien die koninklike dagboek, aan hom voorlees. Hy ontdek dat Mordegai nie beloon is omdat hy die sluipmoordkomplot onthul het nie, en die koning vra Haman om ’n gepaste beloning aan die hand te doen. Haman dink dat hy die eer gaan kry en stel ’n swierige seremonie voor. Maar hoe geskok is hy nie om te verneem dat hy Mordegai hierdie eer moet aandoen nie! Haman se raadgewers beskou dit as ’n voorbode van sy ondergang.
Hierdie vernederende ondervinding is nouliks verby of Haman word na Ester se tweede maaltyd begelei. Daar vra die koning Ester om ’n versoek te doen. “Laat my lewe my geskenk word op my bede en my volk op my versoek”, smeek die moedige koningin. Ester maak bekend dat sy ’n Jodin is en lê Haman se komplot bloot. Die verskrikte Haman smeek om sy lewe maar word tereggestel—op die einste galg wat hy vir Mordegai laat bou het!
♦ 7:4—Waarom sou die vernietiging van die Jode vir die koning ’n verlies wees?
As Haman planne gesmee het om die Jode as slawe te verkoop, sou dit waarskynlik groot wins vir Ahasveros meegebring het. Maar die vernietiging van ’n hele volk sou ’n veel groter finansiële verlies tot gevolg hê as die 10 000 talente silwer wat Haman beloof het om te betaal. As die volksmoordkomplot geslaag het, sou die koning boonop sy koningin verloor—voorwaar ’n baie persoonlike verlies!
♦ 7:8—Waarom is Haman se gesig bedek?
Haman het nie sy eie gesig uit skaamte of berou bedek nie. Die hofbeamptes het blykbaar sy gesig bedek, moontlik as teken van skande of verdoeming. Dit was waarskynlik die eerste stap in die voltrekking van die doodvonnis.
Les vir ons: Ester het haar lewe gewaag deur moedig bekend te maak dat sy ’n Jodin is. Sedert 1931 het God se volk hulle eweneens aan vervolging blootgestel deur hulle as Jehovah se Getuies te identifiseer (Jesaja 43:10-12). Is jy so moedig?
God se volk word verlos!
Lees 8:1–10:3. Mordegai word eerste minister in die plek van Haman. Ester waag weer haar lewe deur die koning ongenooid te nader, en sy smeek dat stappe gedoen word om die plan van Haman ongedaan te maak. Die koning stem in en laat Mordegai toe om ’n teenbevel in Ahasveros se naam uit te vaardig. Ofskoon die vroeëre uitdelgingsbevel volgens Persiese gebruik nie herroep kan word nie, laat die nuwe wet die Jode toe om hulleself te verdedig.
Daar is groot vrolikheid onder die Jode! Hulle is nie meer hulpelose slagoffers nie, maar het nou etlike maande om hulle verdediging te organiseer. Uiteindelik breek 13 Adar (Februarie-Maart) aan. Sowat 75 000 wat ‘hulle onheil soek’, word deur die Jode gedood. Sodat hulle nie vergeet dat hierdie oorwinning van Jehovah kom nie, beveel Mordegai dat die jaarlikse Purimfees op die 14de en 15de Adar gehou word.
♦ 8:5—Hoe het Ester insig getoon?
Ester het haar woorde sorgvuldig gekies en die koning versoek om die dokumente van die konkelende Haman, “wat hy geskrywe het”, te herroep. Sy het taktvol enige melding van die koning se verantwoordelikheid in hierdie saak vermy. Christene is eweneens taktvol wanneer hulle voor regeringsamptenare getuig.
♦ 8:17—Hoe het mense “Jode geword”?
Die Septuaginta sê dat hierdie Perse “hulle laat besny het en gejudäiseer is”. Baie Perse het die teenbevel blykbaar as ’n teken van goddelike steun vir die Jode beskou en Joodse proseliete geword. Net so het “’n groot menigte” “ander skape” hulle vandag aan die kant van die gesalfde oorblyfsel geskaar.—Openbaring 7:9; Johannes 10:16; Sagaria 8:23.
♦ 9:10, 15, 16—Waarom het die Jode nie buit geneem nie?
Die koning se bevel het hulle die reg gegee om buit te neem. Hulle weiering om dit te doen, het egter getoon dat hulle doel selfbehoud was, nie selfverryking nie.
Les vir ons: Soos die Jode van Ester se dag beroep Jehovah se Getuies hulle tereg op regerings en howe vir beskerming teen vyande. Veral gedurende die Tweede Wêreldoorlog was dit nodig weens die aanvalle, deur geestelikes aangestook, teen God se volk. Met Jehovah se seën is talle belangrike regsoorwinnings behaal.
Die boek Ester dien vandag as ’n bron van hoop en bemoediging vir Jehovah se Getuies. Hulle weet dat Satan se intense haat binnekort ’n hoogtepunt sal bereik wanneer hy ’n volskaalse poging gaan aanwend om hulle uit te roei. Die tyd sal leer hoe Jehovah hulle presies gaan beskerm (Esegiël 38:16-23). Maar hulle is vol vertroue dat Jehovah, net soos in Ester se dag, nie sy volk in die steek sal laat nie. Op die regte tyd sal hy vir hulle “verligting en redding” gee.