Vind ten volle baat by die Teokratiese Bedieningskool
1 Die Teokratiese Bedieningskool het gehelp om ons in die “onderrigkuns” op te lei sodat ons Bybelwaarhede op ’n doeltreffende wyse aan ander kan oordra (2 Tim. 4:2, NW). Ons kry elke week waardevolle insig in ’n verskeidenheid van Bybelonderwerpe. Hoe kan ons seker maak dat ons ten volle baat vind by die belangrike onderrigting wat hierdie skool voorsien?
2 Luister aandagtig na die skoolopsiener se inleidingskommentare, terwyl hy van die interessante punte beklemtoon waarvan jy gedurende die vergadering kan leer. Dink na oor enige vrae wat hy moontlik opper en oor hoe jy die antwoorde daarop in jou bediening kan toepas.
3 Die instruksietoespraak is nie net ’n hersiening van die gedrukte materiaal nie. Dit vestig die aandag op die praktiese waarde van die inligting en hoe jy persoonlik daarby baat kan vind. As jy voor die tyd voorberei, sal dit jou help om beter op die hoofpunte te konsentreer en om daarna aan die mondelinge hersiening deel te neem.
4 As jy by die rooster vir die weeklikse Bybellees hou, kan dit jou waardering vir God se Woord verdiep. Bykomende navorsing kan ’n magdom nuwe en interessante besonderhede onthul wat jou begrip van die waarheid sal vergroot. Die aanbieding van die Bybelglanspunte is meer as net ’n herhaling van die Bybelverslag. Ná ’n kort, algehele oorsig sal die spreker uitsonderlike punte in die aangewese deel beklemtoon en toon hoe hulle met ons lewe en aanbidding verband hou. Luister aandagtig sodat jy kan leer hoe om Bybelonderrig beter toe te pas.—Ps. 119:105.
5 As jy ’n toewysing vir ’n studentetoespraak kry, moet jy let op watter punt van raadgewing jy werk. Hersien die wenke in die Skoolhandleiding-boek oor daardie spraakhoedanigheid en probeer hulle toepas. Wanneer jy materiaal vir jou toespraak kies, moet jy punte probeer beklemtoon wat in die veldbediening prakties toegepas kan word.—sg-AF bl. 96-9.
6 As jy ’n suster is wat toespraak nr. 3 of toespraak nr. 4 moet hou, moet jy probeer om ’n realistiese agtergrond vir die materiaal te kies. Die huisbewoner hoef nie noodwendig met alles saam te stem wat jy sê nie; probeer toon hoe jy die persoon sal help om oor die onderliggende Bybelbeginsels te redeneer (sg-AF bl. 153-8). Dit help die gehoor om te sien hoe hulle soortgelyke besware in die veldbediening kan oorkom. Berei lank voor die tyd voor en reël om jou toespraak vroeg genoeg met jou huisbewoner te oefen. Dit behoort nie nodig te wees om die toespraak te oefen wanneer die vergadering al begin het nie.
7 Studente wat toesprake het, word aangemoedig om voor in die saal te sit. Dit spaar tyd en maak dit vir die skoolopsiener moontlik om sy kommentare meer persoonlik tot die studente te rig. Almal kan by die vriendelike, spesifieke wenke baat vind wat hy op grond van die Skoolhandleiding-boek gee. Hy volg nie noodwendig die punte in die volgorde wat dit op die spraakraadgewingstrokie verskyn nie; hy sal ’n punt kies waarop jy op daardie tydstip moet werk sodat jy die beste vordering kan maak.
8 Al hierdie dinge is goeie redes waarom ons elke week vir die Teokratiese Bedieningskool moet voorberei en dit moet bywoon. Die onderrigting wat ons ontvang, kan ons help om verstandig en bekwaam in ons bediening te wees.—Spr. 1:5.