Die video The Bible—Mankind’s Oldest Modern Book
1 Die Bybel is die boek met die grootste verspreiding in die hele geskiedenis. Geen ander boek is in soveel tale vertaal nie. Daarbenewens was nog geen groep mense so ywerig soos Jehovah se Getuies om die Bybel te versprei en dit in die openbaar as die Woord van God voor te hou nie.
2 Aangesien dit God se Woord is, kan ons vol vertroue wees dat dit praktiese antwoorde op hedendaagse probleme voorsien. En Jehovah se organisasie voorsien praktiese hulp om sulke antwoorde in publikasies sowel as video’s te vind. Soos in Ons Koninkryksbediening vir Junie 1994 aangekondig is, is die Engelse video The Bible—Mankind’s Oldest Modern Book, die tweede van drie wat bewys dat die Bybel geïnspireer is, nou beskikbaar en kan dit deur julle gemeente bestel word. Die video is 40 minute lank.
3 Soos die eerste video in hierdie reeks, versterk hierdie tweede video ook vertroue in die Bybel as ’n Goddelike gids. Dit gebruik materiaal wat in Bybellande en in museums oor die hele wêreld opgeneem is om ons te help besef hoe Jehovah God die Bybel deur die eeue heen tot in ons dag bewaar het. Julle sal sien hoe die akkuraatheid van die Bybel ondanks herhaalde kopieerwerk en vertalings gehandhaaf is. Julle sal sien hoe hierdie Goddelike boek bewaar is ten spyte van uiterste teëstand teen sy verspreiding. Julle sal ook lewende getuienis sien van hoe die Bybel mense se lewe ten goede verander het.
4 Hierdie video sal—net soos die eerste video—van onskatbare waarde wees tydens die gesin se Bybelbesprekings en vir talle ander praktiese doeleindes. Ons is seker dat Jehovah die gebruik daarvan sal seën. Diegene wat dit nog nie bestel het nie, kan dit onmiddellik deur die gemeente se lektuurafdeling bestel. Die video’s The Bible—Accurate History, Reliable Prophecy en Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name is ook nog beskikbaar.