“Ons wens elkeen op aarde kon dit lees!”
DIT is wat ’n man geskryf het uit waardering vir die boek Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? Sy brief toon hoe miljoene mense voel wat hierdie geïllustreerde boek met 256 bladsye van onskatbare waarde gevind het om vrae oor die oorsprong en die doel van lewe op aarde te beantwoord.
Miljoene eksemplare van die boek, wat verlede jaar by byeenkomste van Jehovah se Getuies in verskillende lande bekendgestel is, is in talle tale versprei. Dit het mense gehelp om uit die wetenskaplike en Bybelse getuienis te sien dat daar inderdaad ’n Skepper is wat ons gemaak het en dat hy ’n wonderlike voorneme met die mensdom het.
‘Maklik om te verstaan’
Die boek is so geskryf dat dit maklik is om te verstaan. Soos een brief gesê het: “Ek moet vir julle sê hoe beïndruk ek met julle publikasie is. Watter rasionele persoon kan julle suiwer logika weerstaan? Julle het daarin geslaag om hierdie uiters diep onderwerp baie maklik verstaanbaar te maak—nogal ’n prestasie as ’n mens dink aan die uiters vakkundige navorsing wat hierdie boek bevat.”
’n Voormalige evolusionis met ’n agtergrond in die natuurwetenskap het eweneens gesê: “Ek is verstom oor die helderheid en krag van hierdie nuwe boek. Ek dink dis die beste natuurwetenskapboek wat ek nog gelees het om waardering vir die lewe op te bou. Dit is hoogs wetenskaplik, maar tog op ’n vlak wat enigiemand kan verstaan.”
’n Ander het gesê: “Die hele boek is ’n meesterstuk. Die kunsinhoud en gedrukte woord vorm so ’n aantreklike geheel dat selfs die wat wegskram van hierdie soort materiaal beïndruk sal wees met die eenvoudige en saaklike styl. Die waardige en beleefde manier waarop die waarheid uiteengesit word, sal oorweldigende bewys lewer om die vraag in die boek se titel ondubbelsinnig te beantwoord.”
Illustrasies help om die hart te bereik
Een persoon het oor die kleurprente geskryf: “Hoe kan ons julle ooit vir hierdie pragtige boek bedank? Die illustrasies is pragtige kunsgawes.”
Maar die etlike honderde illustrasies, met inbegrip van foto’s, is nie net pragtige kuns nie. Hulle is leersaam en bevestig die gedagtes in die teks. Soos ’n gesin geskryf het: “Die illustrasies en eenvoud van die boek was ’n groot hulp vir diegene van ons vir wie dit moeilik is om die wetenskap te verstaan.” ’n Ander brief het gesê: “Die illustrasies en die aanhalings in die kantruimte help jou baie om die punt te snap en te onthou.”
Hoofstuk 19, “’n Aardse paradys is voor die deur”, het mense veral geroer. ’n Australiese gesin het oor die illustrasies in daardie hoofstuk geskryf: “Hulle maak ’n groot indruk op mense. Ons het ons as ’n gesin daar in die Paradys probeer voorstel. Die Paradys en om Jehovah vir ewig te dien, is gewis enige inspanning werd. Die illustrasies het ons oë vol trane laat skiet.”
’n Ander het geskryf: “Dit is die pragtigste publikasie wat ek nog van Jehovah se Getuies gesien het. Teen die tyd dat ek by bladsy 243 gekom en die prentjie van die dogtertjie en die tiers gesien het, het my oë vol trane geskiet.” Iemand anders het gesê: “Ek het gehuil toe ek dit deurgekyk het. Ek het van geluk gehuil.” Nog iemand, in Kanada, het vertel: “My hartsnare word geroer soos nog nooit tevore nie en my oë raak vol trane van vreugde.”