Voorsien deur erkenning in ’n basiese menslike behoefte
’NOPREGTE “Mooi so!” “Knap gedaan!” of “Jy het jou bes gedoen; ons is trots op jou” help baie om jou eiewaarde te verhoog, veral wanneer dit van iemand kom wat jy respekteer. Mense floreer op erkenning. Dit laat hulle beter presteer en maak hulle gelukkiger. Verdiende erkenning is inderdaad net so noodsaaklik vir die verstand en die hart as wat gesonde kos vir die liggaam is.
Een woordeboek omskryf erkenning as “die aanvaarding dat iemand daarop geregtig is om in aanmerking geneem te word of om aandag te ontvang” en “buitengewone kennisname of aandag”. Dit is nou verwant aan respek, die gevoel van agting wat, wanneer dit betoon word, dui op ’n beredeneerde beoordeling of evaluasie van ’n persoon en die hoeveelheid erkenning wat hom toekom.
Erkenning—’n basiese behoefte
Om eer te gee waar dit iemand toekom, is billik en regverdig. Jesus het die voorbeeld gestel in sy illustrasie van die diensknegte aan wie die heer sy besittings toevertrou het. Die heer het besef dat sy bates goed bestuur is en het gesê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg” (Mattheüs 25:19-23). Maar hierdie verdiende beleefdheid word heel dikwels nagelaat. Wanneer daar versuim word om erkenning te gee, onderdruk dit geesdrif en inisiatief. Iona stel dit so: “Erkenning laat jou voel dat jy nodig is, welkom is en waardeer word . . . Dit gee jou inisiatief. As jy oor die hoof gesien word, voel jy mismoedig en teleurgesteld.” Patrick voeg by: “Dan is dit moeilik om ’n hoë vlak van kwaliteit en produksie te handhaaf.” Hoe belangrik is dit derhalwe dat ons leer hoe en wanneer ons erkenning moet gee. Ons almal hunker na die gevoel van veiligheid wat spruit uit die wete dat ons êrens hoort. Dit is ’n basiese menslike behoefte.
’n Woordjie van lof, groter verantwoordelikheid of selfs ’n geskenk spoor ’n mens aan om voortdurend jou bes te doen. Dit geld of jy nou ’n ouer, ’n man, ’n vrou, ’n kind, ’n gemeentelid of ’n opsiener is. “Wanneer ek erkenning kry”, sê Margaret, “voel ek gelukkig, dat ek nodig is en het ek ’n begeerte om beter te doen.” Andrew stem saam, en hy sê: “Ek voel uitgelate, en dit stimuleer my om selfs harder te werk.” Maar om aan iemand erkenning te gee en respek te betoon, vereis dat ’n mens sorgvuldig daaroor nadink en goeie oordeel aan die dag lê.
Volg Jehovah se voorbeeld wanneer jy erkenning gee
Die belangrikste voorbeeld van iemand wat ander se waarde erken, is Jehovah God. Hy gee erkenning aan diegene wat dit verdien. Hy het van manne soos Abel, Henog en Noag kennis geneem (Genesis 4:4; 6:8; Judas 14). Jehovah het aan Dawid erkenning gegee vir sy uitsonderlike getrouheid (2 Samuel 7:16). Samuel, wat Jehovah as ’n profeet jare lank geëer het, is op sy beurt deur God geëer, wat gou op Samuel se gebed om hulp gereageer het om die Filistyne te verslaan (1 Samuel 7:7-13). Sal jy nie geëerd voel as jy sulke Goddelike erkenning kry nie?
Dankbaarheid en waardering hou noue verband met erkenning. Die Bybel spoor ons aan om ons ‘dankbaar te betoon’ en om erkentlik te wees vir wat om ons ontwil gedoen word (Kolossense 3:15, NW; 1 Thessalonicense 5:18). Hoewel dit spesifiek op ons dankbaarheid teenoor Jehovah betrekking het, geld dit ook in ons daaglikse lewensaangeleenthede. Die apostel Paulus het dit besef. Hy het erkenning gegee aan Febe omdat sy “vir baie ’n beskermster” was en aan Priscilla en Aquila omdat hulle om sy ontwil en dié van ander “hulle lewe gewaag het” (Romeine 16:1-4). Stel jou voor hoe hulle moes gevoel het toe hulle sulke openlike betuigings van dankbaarheid ontvang het. Dit het Paulus ook goed gedoen om die geluk te smaak wat met die gee van erkenning, eer en aanmoediging gepaardgaan. Ons kan ook Jehovah en sy waarderende aanbidders navolg deur die gepaste erkenning te gee aan diegene wat dit toekom.—Handelinge 20:35.
Erkenning binne die gesinskring
“’n Bietjie erkenning help baie om die lewe aangenaam te maak”, sê Mitchell, ’n eggenoot en Christen- ouere man. “Dit laat jou, waarskynlik vir ewig, aangetrokke voel tot die persoon wat jou erkenning gee.” ’n Christenman dra byvoorbeeld ’n swaar las van verantwoordelikheid en neem belangrike besluite wat die gesin se welsyn raak. Hy moet in die gesin se geestelike, materiële en emosionele behoeftes voorsien (1 Timotheüs 5:8). Hoe dankbaar is hy tog wanneer hy gepaste erkenning ontvang vir sy godgegewe toewysing as gesinshoof en wanneer sy vrou aan hom “diep respek” betoon!—Efesiërs 5:33, NW.
Die werk van ’n huisvrou, wat nie deur baie gesien word nie, moenie vergeet word nie. Hedendaagse beskouings verlaag sulke werk dalk en ontneem dit van sy status en deug. Maar sulke werk behaag God (Titus 2:4, 5). Hoe verkwikkend is dit tog wanneer ’n man met onderskeidingsvermoë sy vrou prys, veral in al die aspekte van die lewe waarin sy uitblink, en hy haar onder sy hoofskap sulke erkenning gee! (Spreuke 31:28). Rowena sê van haar man: “Wanneer hy erkenning gee vir dít wat ek doen, vind ek dit makliker om aan hom onderdanig te wees en hom te eer en te respekteer.”
Die Amerikaanse opvoedkundige Christian Bovee het eenmaal gesê: “Oordeelkundige lof vir kinders is wat die son vir blomme is.” Ja, selfs ’n baie jong kindjie het voortdurend die versekering nodig dat hy ’n kosbare gesinslid is. Gedurende die wordingsjare van tieners, wat vol nuwe emosionele en fisiese veranderinge is, neem hulle selfbewustheid oor hulle voorkoms toe en smag hulle na onafhanklikheid en erkenning. Dit is veral gedurende hierdie tyd dat ’n tiener wil weet dat sy ouers hom liefhet en dat hy met begrip en mensliewendheid behandel wil word. Bejaarde ouers en grootouers het eweneens die versekering nodig dat hulle steeds nuttig en geliefd is, dat hulle nie in hulle ‘ouderdom verwerp is nie’ (Psalm 71:9; Levitikus 19:32; Spreuke 23:22). As daar behoorlik in die behoefte aan erkenning voorsien word, bring dit groter geluk en sukses in die gesinskring mee.
Erkenning binne die Christengemeente
Dit is van onskatbare waarde om ’n opregte belangstelling in ander in die Christengemeente aan te kweek en geredelik waardering vir hulle dade en pogings uit te spreek. Christen- ouere manne moet die leiding neem deur ander in die gemeente se prestasies en pogings te erken. “Dit was eers nadat ek ’n hele paar herdersbesoeke ontvang het dat ek besef het hoeveel dit ten opsigte van aanmoediging, bevrediging en geluk beteken”, sê Margaret. “Ek het besef wat ’n mens verbeur wanneer daar nie algemene erkenning gegee word nie.” Wat ’n goeie rede is dit tog om ware, liefdevolle, persoonlike belangstelling in almal in die gemeente te toon! Erken hulle goeie werk. Loof en bemoedig ander geredelik. In baie gemeentes is daar enkelouers wat hard werk om geestelike waardes by hulle kinders in te skerp. Hulle verdien spesiale lof. Beklemtoon die positiewe pleks van die negatiewe. Laat ander jou broederlike geneentheid vir hulle sien. Laat hulle sien dat jy omgee. Op hierdie manier bou liefdevolle opsieners die gemeente op (2 Korinthiërs 10:8). Persone in die gemeente vergoed hulle hiervoor deur aan sulke getroue manne wat om hulle ontwil hard werk verdiende erkenning te gee en respek te betoon.—1 Timotheüs 5:17; Hebreërs 13:17.
Maar hierdie saak het ’n ander sy. Die begeerte na erkenning is weliswaar baie sterk. In Jesus se dag het die godsdiensleiers daarmee behep geraak. Jesus moes sy dissipels se verkeerde beskouing in hierdie verband regstel (Markus 9:33-37; Lukas 20:46). Christene moet redelik en gebalanseerd wees. As dit nie in toom gehou word nie, kan die begeerte na erkenning geestelike gevaar inhou (Jakobus 3:14-16). Hoe tragies sal dit byvoorbeeld wees as ’n ouere man hoogmoedig word en daarop begin aandring dat ander sy verhewe dunk van homself aanvaar.—Romeine 12:3.
Die apostel Paulus het mede-Christene in Rome wyslik vermaan: “Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde; die een moet die ander voorgaan in eerbetoning” (Romeine 12:10). Hierdie woorde is hoofsaaklik op Christen- ouere manne van toepassing wat te alle tye Christus as die Hoof van die gemeente moet erken. Hulle toon dat hulle aan sy regterhand van gesag onderdanig is wanneer hulle Christus se leiding deur middel van die heilige gees, Bybelbeginsels en die Bestuursliggaam van “die getroue en verstandige dienskneg” soek.—Mattheüs 24:45-47; sien Openbaring 1:16, 20; 2:1.
Wanneer ouere manne dus vergader en hulle om Jehovah se leiding bid sodat hulle as herders oor die kudde van God kan toesig hou, sal hulle besluite probeer neem wat op die Skrif gegrond is. Christelike beskeidenheid, sagmoedigheid en nederigheid sal voorkom dat enige ouere man probeer om homself te verhoog, sy broers te oorheers en sy eie mening by hierdie vergaderinge voor te skryf (Mattheüs 20:25-27; Kolossense 3:12). Wanneer dit ook al moontlik is, kan die voorsitter van die liggaam van ouere manne gerus vooraf vir enige voorstelle van sy mede- ouere manne vra en dan lank genoeg vooruit ’n agenda voorsien sodat hulle genoeg tyd kan hê om elke punt op die agenda noukeurig en biddend te oordink. Tydens die oueremanvergadering sal hy nie hulle menings probeer vorm nie, maar hulle eerder aanmoedig om met “vrymoedigheid” oor sake onder bespreking te praat (1 Timotheüs 3:13). Mede- ouere manne moet op hulle beurt sorgvuldig na mekaar se gedagtes luister en bly wees om te kan baat vind by die insig van ouere manne wat al baie jare ondervinding as Christene het.—Exodus 18:21, 22.
Maar opsieners verstaan dat Christus enige ouere man op die liggaam kan gebruik om die Bybelbeginsels te voorsien wat nodig is om ’n situasie te hanteer of om ’n belangrike besluit te neem. Daar sal ’n goeie gees in die liggaam heers wanneer elke ouere man gepaste erkenning kry vir sy bydrae in die versorging van die gemeente se geestelike belange.—Handelinge 15:6-15; Filippense 2:19, 20.
Span jou in om verdiende erkenning te gee en erkenning te verdien
Erkenning is opbouend. Dit bemoedig mense en laat hulle van jou hou. “Selfs as ons voel dat ons maar net gewone mense is”, sê Mary, “het ons aanmoediging nodig vir ons eiewaarde.” Gee opregte erkenning aan die daaglikse pogings van ander. Dit maak die lewe vir hulle soveel lonender en aangenamer. Ouers, kinders, opsieners en lede van die Christengemeente, julle kan erkenning verdien deur die manier waarop julle praat en optree. Die Bybel praat gunstig van hardwerkende, beskeie en nederige mense (Spreuke 11:2; 29:23; Hebreërs 6:1-12). Leer om die waarde van ander groothartig te erken. Neem ander se gevoelens in ag terwyl jy saam met hulle werk. Die apostel Petrus gee hierdie vermaning: “Wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik” (1 Petrus 3:8). Dit vereis dat ons aan ander erkenning gee en sodoende in ’n basiese behoefte voorsien.