“Hou aan waak”
1 Toe Jesus die woorde geuiter het wat in Matteus 26:38-41 opgeteken staan, het hy die mees kritieke tyd van sy mensebestaan genader. Dit sou die belangrikste tyd in die hele mensegeskiedenis wees. Die redding van die hele mensdom was op die spel. Jesus se dissipels moes ‘aanhou waak’.
2 Ons is vandag aan die vooraand van Jesus se koms in die tweeledige rol van verlosser en skerpregter. As waaksame Christene wat die dringendheid van die tye besef, vou ons nie net ons arms en wag op verlossing nie. Ons weet dat ons ten alle tye gereed moet wees. Dit is noodsaaklik dat ons aanhou ‘hard werk en ons inspan’ in ons diens aan Jehovah (1 Tim. 4:10). Wat van elkeen van ons as individue? Hou ons aan om te waak?
3 Ondersoek onsself: Jesus het ook gewaarsku: “Let op julleself” (Luk. 21:34, 35). Ons moet goed op onsself let en seker maak dat ons “onberispelik en onskuldig ... te midde van ’n krom en verdraaide geslag” is (Fil. 2:15). Lewe ons elke dag soos Christene deur Jesus na te volg en in ooreenstemming met die beginsels te wandel wat in God se Woord uiteengesit word? Ons moet onchristelike gedrag vermy wat kenmerkend is van ’n wêreld wat ‘in die mag van die bose lê’ (1 Joh. 5:19; Rom. 13:11-14). Vind ons, wanneer ons ons in die lig van die Skrif ondersoek, dat ons werklik waak soos Jesus ons beveel het?
4 Ouer manne moet daarop ingestel wees om hulle toewysings in die gemeente ywerig uit te voer, en besef dat hulle rekenskap sal gee van hoe hulle vir die kudde sorg (Heb. 13:17). Gesinshoofde het ’n spesiale verpligting om hulle huisgesin in die weë van Jehovah te rig. (Gen. 18:19; Jos. 24:15; vergelyk 1 Timoteus 3:4,5.) Hoe belangrik is dit eweneens dat ons almal die skriftuurlike bevel nakom om mekaar lief te hê! Dit is die kenmerk van die ware Christelike geloof.—Joh. 13:35.
5 Wees wakker om ander te waarsku: Om aan te hou waak, behels meer as om net op onsself te let. Ons het ’n opdrag om dissipels van ander te maak (Matt. 28:19, 20). Naasteliefde behoort ons te beweeg om ander te waarsku sodat hulle die vernietiging kan oorleef wat vir hierdie wêreld voorlê. Dit is ’n verantwoordelikheid wat op alle Christene rus. Dit is ’n noodsaaklike deel van ons aanbidding (Rom. 10:9, 10; 1 Kor. 9:16). Ons ondervind dikwels dat mense onverskillig staan teenoor hierdie lewensreddende werk of dit openlik teëstaan. Ons het ’n verpligting om aan te hou, al ignoreer die meerderheid ons waarskuwing (Eseg. 33:8,9). Opregte liefde vir God en ons naaste sal ons beweeg om te volhard.
6 Dit is nie nou die tyd om oorgerus te wees nie. Ons moenie toelaat dat die alledaagse sorge van die lewe ons aandag aflei nie, en ons moenie so by die genietinge van hierdie stelsel betrokke raak dat dit vir ons ’n strik is nie (Luk. 21:34, 35). Dit is nou meer as ooit nodig om ’n gevoel van dringendheid te hê. Die tyd kom vinnig nader vir Jesus Christus om oordeel aan hierdie goddelose stelsel te voltrek. Slegs diegene wat wakker, gereed en waaksaam is, sal dit oorleef. Hoe dankbaar sal ons tog nie wees nie as ons Jesus se bevele gehoorsaam en ‘daarin slaag om aan al hierdie dinge te ontkom’!—Luk. 21:36.