Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 10/95 bl. 3-10
  • “Vreugdevolle Lowers”-Streekbyeenkoms vir 1995

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Vreugdevolle Lowers”-Streekbyeenkoms vir 1995
  • Ons Koninkryksbediening—1995
  • Soortgelyke materiaal
  • “Boodskappers van Goddelike Vrede”-streekbyeenkoms vir 1996
    Ons Koninkryksbediening—1996
  • “Geloof in God se Woord”- streekbyeenkoms vir 1997
    Ons Koninkryksbediening—1997
  • Die “God se weg”-internasionale en streekbyeenkomste vir 1998
    Ons Koninkryksbediening—1998
  • Die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms vir 1994
    Ons Koninkryksbediening—1994
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1995
km 10/95 bl. 3-10

“Vreugdevolle Lowers”-Streekbyeenkoms vir 1995

1 Hoeveel redes het ons om vreugdevol te wees? Min van ons het hulle waarskynlik al almal probeer opnoem. Ondanks die feit dat ons in ’n wêreld vol beroeringe en onsekerheid lewe, het ons soveel redes om vreugdevol te wees. Soos in Die Wagtoring van 1 Mei 1995 aangekondig is, is “Vreugdevolle Lowers” die aanmoedigende tema vir die streekbyeenkomste vir 1995.

2 Ons loof Jehovah omdat hy ons die waarheid geleer het (Jes. 54:13; Joh. 8:32). Op ons beurt vertel ons vreugdevol die waarheid aan almal wat na veiligheid en geluk soek (Eseg. 9:4; Hand. 20:35). Ons Christenbroederskap verskaf ons ook vreugde. ’n Liefdevolle geestelike gesin bring tevredenheid en geluk mee. Dit is net ’n paar van die redes vir ons vreugde wat ons beweeg om Jehovah te loof. Die toesprake en demonstrasies by die byeenkoms sal ons aandag vestig op bykomende skriftuurlike redes vir vreugde in hierdie veelbewoë laaste dae.

3 ’n Driedaagse byeenkoms: Het jy al met jou werkgewer gereël vir verlof sodat jy al drie dae van die byeenkoms teenwoordig kan wees? Waar is die naaste byeenkoms aan jou? Ons Koninkryksbediening vir Mei het ’n lys gegee van die datums en stede van al 30 byeenkomste in die gebied van die Suid-Afrikaanse takkantoor. Teen dié tyd het julle gemeentelike sekretaris julle al ingelig oor die besonderhede vir julle gemeente. Behalwe Engels sal daar byeenkomste in Afrikaans, Kwanyama, Portugees, Sepedi, Suid-Sotho, Tsonga, Tswana, Venda, Xhosa, Zulu en Vingertaal wees.

4 Die program sal om 9:40vm. op die eerste dag begin en omstreeks 3:50nm. op die laaste dag eindig. Op die tweede en derde dag sal die program om 9:30vm. begin. Deure sal om 8:00vm. oopgemaak word. Net dié met spesifieke werkstoewysings sal toegelaat word om vroeër in te gaan.

5 Gaan jy teenwoordig wees?: Ons word aangespoor om al drie dae van die byeenkoms by te woon. Waarom? Jehovah wil hê dat ons daar moet wees. Ons geloof en geestelike gesondheid verduur vandag hewige aanslae. Paulus het die raad om ‘nie ons onderlinge vergadering na te laat nie’ in ’n tyd gegee toe Christene in Judea groot druk ondervind het (Heb. 3:12,13; 10:25). Die Filippense het “te midde van ’n krom en verdraaide geslag” gelewe. Tog het hulle ‘as ligte in die wêreld geskyn’ (Fil. 2:15). Waarom was hierdie eerste-eeuse Christene anders? Omdat hulle gehoorsaam was aan die leiding van die heilige gees wat hulle gerig het om te vergader “om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor”.—Heb. 10:24.

6 Die wêreld het die teenoorgestelde uitwerking op ons deurdat dit ons begeerte verswak om met ons broers te vergader en Jehovah te loof. Ons word hierdie somer genooi om ons aan Jehovah se gees te onderwerp en al drie dae van die byeenkoms te geniet. Is ons vasbeslote om met ons hele gesin teenwoordig te wees? Ons moet ons liefde en geloof gereeld versterk. Jehovah voorsien jaarlikse byeenkomste om ons in hierdie opsig te help.

7 Neem ’n skat huis toe: Hoe kan jy die grootste voordeel uit die byeenkoms trek? Kortom: “konsentrasie”. In vandag se gejaagde samelewing waarin mense baie gespanne is, is dit nie so maklik nie. Energieke jongmense vind dit dalk moeilik om te konsentreer, maar dit is vir ons almal ’n uitdaging wanneer ons ’n streekbyeenkoms bywoon. Ons sal vind dat dit makliker is om te konsentreer as ons vooruit beplan. Vra jou af: ‘Wat is die byeenkomstema?’ Peins daaroor! ‘Waarom gaan ek, en wat gaan ek gedurende die drie dae doen? Gaan ek elke aand net vir ontspanning gebruik, of het ek genoeg tyd opsy gesit om te rus en byeenkomshoogtepunte te hersien?’

8 Die artikel “Peins jy of dagdroom jy net?” in die Ontwaak! van 8 Maart 1985 het verskeie wenke gegee oor hoe ons die grootste voordeel uit ’n vergadering kan trek en dit het toe tot hierdie gevolgtrekking gekom: “Verstandelike dissipline is miskien die belangrikste faktor.” Ons skenk gewoonlik aandag wanneer ’n spreker begin, maar ons laat miskien in die loop van die toespraak ons verstand ‘uit rat glip’. Hoe kan ons keer dat dit gebeur?

9 Wenke wat in die verlede gegee is, werk, en daarom is dit goed om hulle te herhaal. As dit enigsins moontlik is, moet jy probeer om elke aand genoeg rus te kry. Dit is nie altyd maklik nie omdat jy dalk heen en weer moet reis, en as jy huisvesting huur, gaan jy dalk nie so vroeg bed toe nie of rus jy dalk nie so goed soos by die huis nie. Met goeie beplanning kan jy gewoonlik die nodige rus kry.

10 As jy eenvoudige aantekeninge maak, sal dit jou help om te konsentreer. As jy te veel inligting probeer neerskryf, kan sommige belangrike punte heeltemal verlore gaan. ’n Goeie wenk is dalk om aantekeninge te maak met die doel om ’n opsomming van die program vir ’n Bybelstudent of ’n invalide aan te bied. Selfs al het jy nie ’n spesifieke persoon in gedagte nie sal jy met ’n bepaalde doel voor oë aantekeninge maak, en ná die byeenkoms sal jy dalk geleenthede vind om hoogtepunte van die program met ongelowige familielede te bespreek terwyl jy informeel getuig. As jy aantekeninge maak en oor die dinge praat wat jy gehoor het, sal jy die inligting nie gou vergeet nie. Jy onthou dinge langer as jy daaroor praat.

11 Hoewel voedsel nie meer voorsien gaan word nie, is daar steeds aansienlike koste verbonde aan die huur van die byeenkomsfasiliteite, wat dikwels bykomende koste vir luidsprekertoerusting, ensovoorts insluit. Hoe word hierdie koste gedek? Deur ons vrywillige bydraes, of dit nou kontant is of ’n tjek wat aan “Watch Tower Convention” uitgemaak is. Dit is in ooreenstemming met Psalm 96:8 en 2 Kronieke 31:12.

12 Vreugdevolle lowers eer Jehovah deur goddelike gedrag: Verlede jaar het hotelpersoneel en die werknemers by byeenkomsfasiliteite in die Verenigde State aanmoedigende, positiewe opmerkings oor ons gedrag gemaak. ’n Hotelbestuurder het gesê: “Dit is altyd ’n plesier om die Getuies te huisves omdat hulle geduldig is, hulle samewerking gee en goed toesig oor hulle kinders hou.” ’n Ander hotelbestuurder het gesê dat die Getuies blykbaar gelukkiger en meer georganiseerd as ander groepe is. Hoewel ons byeenkoms die grootste in die gebied was, het hy gesê: “Ons het minder klagtes en probleme as met groepe wat nie naastenby so groot is nie.”

13 ’n Ander hotelwerker het gesê dat ’n onlangse byeenkoms wat voor ons s’n gehou is tot baie skade sowel as diefstal gelei het, hoewel al die hotelwerkers aan diens was. Maar hy het toe oor ons byeenkoms gesê: “Met die Getuies hoef ons nie daaroor bekommerd te wees nie. ... Wanneer hulle hier is, hoef net een of twee mense aan diens te wees vir instandhoudingswerk, en dit is slegs om na onvoorsiene probleme met masjinerie om te sien.”

14 Ons wens dat al die verslae wat ons ontvang het soortgelyk was, maar ongelukkig is dit nie so nie. Een byeenkomsvoorsitter het gesê: “Ná die sessies kom baie van die tieners laat in die aand in groot groepe in die [hotel]portaal bymekaar waar hulle hard lag en skreeu. Dit steur ander gaste ..., vir wie dit blykbaar irriteer. Party jongmense hardloop in die gange en slaan die deure hard toe terwyl hulle mekaar in hulle kamers besoek en baie hard in die kamers gesels.”

15 Nog ’n probleem wat oor die jare voortgeduur het, is die groot aantal broers wat gedurende die sessies in gange en buite die ouditorium met mekaar gesels. By een byeenkoms verlede jaar is ’n nota van ’n Bybelstudent in die bydraebussie gevind. Dit het gesê: “Ek was nog nooit so geskok en ontsteld oor die geraas, bedrywigheid, gepraat en onbehoorlike gedrag in die gange tydens die toesprake nie ... Ek is nog nie ’n Getuie nie, net iemand wat nog studeer en godvrugtige vrees en eerbied aankweek.” Nie een van ons wil tog die indruk skep dat ons nie Jehovah se voorsienings waardeer nie.

16 Ons moet ons te alle tye afvra: ‘Wie verteenwoordig ek, en waarom woon ek hierdie byeenkoms by?’ Ons geestelikheid en godvrugtige toegewydheid word in ons spraak, gedrag en waardering vir geestelike voorsienings weerspieël (Jak. 3:13; 1 Pet. 2:2, 3,12). Daar word dikwels gesien dat broers wat van gebiede kom waar die werk jare lank beperk en verbied was baie oplettender en eerbiediger by byeenkomste is deur in hulle sitplek te bly en aandagtig te luister na die toesprake en demonstrasies.

17 Jou kleredrag en persoonsversorging dra ’n boodskap oor: In 1 Samuel 16:7 word ons daaraan herinner dat ‘die mens aansien wat voor oë is, maar die HERE die hart aansien’. Mense oordeel ons dus dikwels op grond van ons voorkoms. Ons kleredrag en persoonsversorging word noukeurig waargeneem, veral wanneer ons ’n byeenkoms bywoon vir aanbidding en onderrigting oor hoe ons as Christene moet lewe. As jy ’n skoolgaande jongmens is of as jou werk jou in noue aanraking bring met mense wat wêreldse style volg, kan dit ’n uitdaging wees om te bly by Christelike standaarde vir beskeie kleredrag.

18 Daar is verskillende standaarde vir kleredrag en persoonsversorging oor die hele wêreld. Daar word van Christene verwag om beskeie, goed versorgde klere te dra. Wie moet dit bepaal? Ouers moet sorg dat hulle tienderjarige kinders nie aantrek soos wêreldse jongmense op skool nie. Nuttige riglyne is gegee om ons te help om verstandige besluite met betrekking tot hierdie sensitiewe saak te neem. Ons moedig julle aan om die artikel “Wat beteken klere vir jou?” in die Ontwaak! van 8 Februarie 1987 te hersien. Wat is verlede jaar by party van ons byeenkomste opgemerk?

19 Ná een van die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkomste het ons hierdie kommentaar ontvang: “Die broers en susters het by die byeenkoms hierdie jaar heelwat verbeter wat hulle kleredrag, persoonsversorging en gedrag betref. ... Maar daar is steeds sekere sake en gewoontes wat verder verbeter moet word.” Ná ’n ander byeenkoms is daar berig dat onbeskeie kleredrag baie opmerklik was. Die verslag het genoem dat party se kleredrag ander aanstoot gegee het. Sommige buitestanders wat teenwoordig was, het ook die onbeskeie kleredrag opgemerk. Party se klere was te gewaagd sowel as te noupassend.

20 Die meeste broers en susters dra beskeie, ordentlike klere terwyl hulle by die byeenkomsterrein is. Maar later, by hotelle of in restaurante, was party broers en susters, wat nog hulle lapelkaarte aangehad het, geklee in “moulose T-hempies, ou denimbroeke, skrapse kortbroekies en ... uitheemse klere wat nie betaamlik is vir God se volk nie”. As die ouer manne opmerk dat party geneig is om so aan te trek wanneer hulle ontspan, sal dit gepas wees om voor die byeenkoms vriendelike dog ferm raad te gee dat sulke kleredrag nie gepas is nie, veral nie vir byeenkomsgangers wat ’n Christelike byeenkoms bywoon nie. Hersien asseblief die bogenoemde riglyne oor gedrag en kleredrag met jou Bybelstudente wat die byeenkoms gaan bywoon.

21 Hotelle: Daar word elke jaar groot moeite gedoen om huisvesting teen verlaagde koste te voorsien sodat niemand finansieel belas word nie. Onthou asseblief om geduldig en vriendelik te wees wanneer jy met hotelpersoneel te doen kry. Ons is dalk moeg weens die rit en die diens is dalk stadig, maar jou geduld sal nie ongemerk gaan nie. Ons moet ook onthou dat dit belangrik is om gepaste fooitjies te gee.—Die Ontwaak! van 22 Junie 1986.

22 Kameras en opneemapparate: Dit is gepas om ’n paar vriendelike herinneringe oor die gebruik van kameras en opneemtoerusting te gee. Onthou asseblief, as jy van plan is om kameras, videokameras of enige soort opneemtoerusting te gebruik, moet jy die mense om jou in ag neem. Dit kan ander se aandag aftrek as jy tydens die sessies rondbeweeg of selfs vanuit jou sitplek die program opneem. Geen opneemapparate mag aan die elektriese of klankstelsels gekoppel word nie, en toerusting moet ook nie gange of loopareas versper nie. Of jy nou besluit om foto’s te neem of besluit om dele van die program met ’n videokamera of ’n bandopnemer op te neem, dit is ’n persoonlike saak. Foto’s en opnames kan mooi herinneringe terugroep wanneer ’n mens later daarna kyk. Al sulke toerusting moet met goeie oordeel gebruik word, op ’n manier wat nie ander se aandag aftrek of jou verhinder om die grootste voordeel uit die program te trek nie. Sal daar tyd wees om die opnames te gebruik nadat jy na jou huis teruggekeer het? Jy sal dalk vind dat dit voldoende is om aantekeninge te maak.

23 Sitplekke: Het jy by die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms vir 1994 ’n verbetering opgemerk wat die hou van sitplekke betref? Daar was ’n verbetering, maar ons moet steeds bewus wees van hierdie herinnering: SITPLEKKE MAG SLEGS GEHOU WORD VIR JOU EIE GESIN EN ENIGIEMAND WAT SAAM MET JOU IN JOU MOTOR RY. Ons is daar as gaste van die Genootskap. Die huur van die ouditorium is met vrywillige bydraes betaal. Sal dit liefdevol en bedagsaam wees om ’n sitplek te hou as ons nie seker is dat dit gevul gaan word nie? Ons kan ongelukkig nie aan versoeke voldoen om aparte areas of kamers beskikbaar te stel vir diegene met omgewingsprobleme, soos allergieë, nie.

24 Elke byeenkoms maak voorsiening vir diegene met spesiale behoeftes, soos die bejaardes en dié met liggaamlike gebreke. Maak asseblief seker dat jy nie in hierdie dele sit as jy nie in hierdie kategorie val nie. Wees ook wakker om diegene met spesiale behoeftes te help om ’n sitplek te vind as daar niemand by hulle is om na hulle om te sien nie.

25 Jou voedselbehoeftes by die byeenkoms: Soos jy weet, het Ons Koninkryksbediening vir Julie 1995 aangekondig: “By die kringbyeenkomste en spesiale byeenkomsdae vanaf September 1995 en by die ‘Vreugdevolle Lowers’-Streekbyeenkomste aan die einde van die jaar sal daar geen voedsel verskaf word nie. Elkeen moet sy eie eet- en drinkgoed bring.” Toe het die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir September 1995 verduidelik waarom hierdie aanpassing gemaak is en het goeie wenke gegee oor hoe elkeen by die byeenkoms na sy eie behoeftes kan omsien wat eet- en drinkgoed betref. Dit sal goed wees as almal nie net self daardie byvoegsel hersien nie maar dit ook met hulle Bybelstudente bespreek terwyl hulle voorberei om die byeenkoms by te woon. Dit is belangrik dat Bybelstudente in kennis gestel word dat almal wat die byeenkoms bywoon hulle eie eet- en drinkgoed moet saamneem.

26 Ter beklemtoning wil ons julle herinner aan ’n paar dinge wat julle vir die middagpouse kan saambring: ligte, eenvoudige en voedsame middagetes soortgelyk aan wat mense dikwels saamneem na ’n sekulêre werk, soos toebroodjies, droë vrugte, neute, gebak en vars vrugte. Drinkgoed kan koffie, koeldranke, vrugtesappe of gebottelde water in ’n onbreekbare houer of ’n warmfles insluit. As klein koelhouers nodig is, kan jy hulle gebruik as hulle onder jou sitplek geplaas kan word. Maar geen gesinsgrootte piekniekkoelhouers, sterk drank of glashouers moet in die byeenkomsfasiliteite ingebring word nie. Daar moenie gedurende die sessies geëet of gepeusel word nie. Dit sal ’n gebrek aan respek toon vir die geestelike maal wat voorgesit word.

27 ’n Bykomende vermaning is dat geen kos in hotelkamers gaargemaak moet word nie tensy hulle ’n kombuisie daarvoor het. Dit is goed om in gedagte te hou dat die tyd wat vir die middagpouse toegelaat word, bedoel is om ligte verversings en teokratiese omgang met ons broers en susters te kan geniet. As Jehovah se volk besef ons dat die geestelike voedsel by die byeenkomste, in vergelyking met materiele dinge, van die grootste belang is, en ons moet dienooreenkomstig beplan.

28 Op 24 November 1995 sal die eerste van die “Vreugdevolle Lowers”-Streekbyeenkomste begin. Is al jou voorbereidsels afgehandel, en is jy nou gereed om drie dae van gelukkige assosiasie en geestelike goeie dinge te geniet? Dit is ons opregte bede dat Jehovah jou pogings sal seën om hierdie somer se byeenkoms saam met jou broers en susters by te woon terwyl ons nadink oor hoe ons vreugdevolle lowers van Jehovah kan wees.

[Venster op bladsy 10]

Herinneringe in verband met die streekbyeenkoms

Doop: Doopkandidate moet hulle sitplekke in die aangewese gedeelte inneem vóór die program op die tweede oggend begin. Daar is opgemerk dat sommige klere dra wat nie smaakvol is nie en aan die geleentheid afbreuk doen. Elkeen wat beplan om hom te laat doop, moet ’n beskeie baaikostuum en ’n handdoek saambring. Ná die dooptoespraak en gebed deur die spreker sal die sessievoorsitter kortliks instruksies aan die doopkandidate gee en dan die lied aankondig. Ná die laaste vers gesing is, sal die saalwagters die doopkandidate na die doopplek lei. Aangesien doop as ’n simbool van ’n mens se toewyding ’n intieme en persoonlike saak tussen die individu en Jehovah is, is daar geen voorsiening vir gesamentlike doop waartydens twee of meer doopkandidate mekaar omhels of hande vashou terwyl hulle gedoop word nie.

Lapelkaarte: Dra asseblief die lapelkaart vir 1995 by die byeenkoms en terwyl julle na en van die byeenkomsterrein reis. Dit bied ons dikwels die geleentheid om ’n goeie getuienis te gee terwyl ons reis. Julle moet die lapelkaarte en -houers by julle gemeente kry, aangesien dit nie by die byeenkoms beskikbaar sal wees nie. Onthou om julle nuwe “Advance Medical Directive/Release”-kaart by julle te hê. Lede van die Bethelgesin en pioniers moet hulle identifikasiekaart by hullehê.

Huisvesting: Ons vra die samewerking van almal wat die huisvesting gebruik wat deur die byeenkoms voorsien word. Gemeentelike sekretarisse moet seker maak dat Kameraansoekvorms onmiddellik na die betrokke byeenkomsadres gestuur word. As jy huisvesting moet kanselleer wat deur die Huisvestingsafdeling gereël is, moet jy die eienaar of die hotel sowel as die byeenkoms se Huisvestingsafdeling onmiddellik daarvan in kennis stel sodat die kamer weer beskikbaar gestel kan word. Ons moedig alle broers in die stede of dorpe aan waar die byeenkomste gehou gaan word om soveel byeenkomsgangers moontlik in hulle huise te huisves.

Kinderwaentjies: In baie gebiede kan kinderwaentjies nie in openbare byeenkomsplekke gebruik word nie. Die Brandweer stel voor dat dit nie in ’n ouditorium ingeneem word en dan in deurgange en paadjies of tussen rye sitplekke geplaas word nie. Aangesien groot skares samedromming kan veroorsaak, is kinderwaentjies potensieel gevaarlik, nie net vir die baba nie, maar ook vir enigiemand wat daaroor kan struikel. Moet dit dus asseblief nie in die ouditorium inbring nie. Babastoeltjies of reisstoeltjies is egter toelaatbaar, aangesien dit aan stoele langs die ouers vasgemaak kan word. Julle samewerking in hierdie verband word waardeer.

Vrywilligerdiens: Kan jy tyd by die byeenkoms inruim om in een van die afdelings te help? Om ons broers selfs net ’n paar uur te dien, kan baie nuttig wees en ’n mens groot bevrediging verskaf. As jy kan help, moet jy jou asseblief by die Vrywilligerafdeling by die byeenkoms aanmeld. Kinders onder 16 kan ook ’n goeie bydrae lewer deur saam met ’n ouer of ’n ander verantwoordelike volwassene te werk.

’n Woordjie van waarskuwing: Ons kan onnodige probleme vermy as ons op potensiële probleme bedag is. Mense wat weg van hulle tuiste af is, word dikwels die prooi van diewe en ander gewetenlose mense. Maak seker dat jou motor te alle tye gesluit is, en moet nooit enigiets oop en bloot in jou motor laat sodat iemand in die versoeking kom om in te breek nie. Diewe en sakkerollers word deur groot byeenkomste gelok. Dit sal onverstandig wees om enige waardevolle artikels by jou sitplek te laat. Jy kan nie seker wees dat almal om jou Christene is nie. Waarom iemand in die versoeking lei? Daar was al berigte dat buitestanders kinders probeer weglok het. HOU JULLE KINDERS TE ALLE TYE IN DIE OOG.

Onsedelike, pornografiese rolprente word dikwels op televisie in party hotelle vertoon. Wees op jou hoede vir hierdie strik, en moenie toelaat dat kinders die televisie sonder toesig in hierdie plekke gebruik nie.

Moet asseblief nie die bestuur van die byeenkomsouditorium skakel vir inligting oor byeenkomssake nie. As die ouer manne nie die inligting het nie, moet jy aan die Byeenkomskomitee skryf nadat jy die adres by julle gemeentelike sekretaris gekry het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel