Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 1/15 bl. 14-19
  • Jehovah het blymoedige gewers lief

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah het blymoedige gewers lief
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Aangespoor deur gewillige harte
  • Wat spoor mense aan om blymoedige gewers te wees?
  • Noukeurige beheer oor bydraes
  • Nie uit dwang nie
  • Betoon jou dankbaarheid vir God se gawes
  • “God het ’n blymoedige gewer lief”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • “God het ’n blymoedige gewer lief”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • “God het ’n blymoedige gewer lief”
    Sing lofliedere voor Jehovah
  • Jehovah het ’n blymoedige gewer lief
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2019
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 1/15 bl. 14-19

Jehovah het blymoedige gewers lief

“Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.”—2 KORINTHIËRS 9:7, NAV.

1. Hoe was God en Christus blymoedige gewers?

JEHOVAH was die eerste blymoedige gewer. Hy het met vreugde lewe aan sy eniggebore Seun gegee en hom gebruik om die engele en die mensdom te skep (Spreuke 8:30, 31; Kolossense 1:13-17). God het ons lewe en asem en alles, asook reën uit die hemel en vrugbare tye, gegee en ons harte met vrolikheid vervul (Handelinge 14:17; 17:25). God en sy Seun, Jesus Christus, is inderdaad blymoedige gewers. Hulle gee onselfsugtig met blydskap. Jehovah het die mensewêreld so lief gehad dat “Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê”. En Jesus het sonder teensin ‘sy lewe as ’n losprys vir baie gegee’.—Johannes 3:16; Mattheüs 20:28.

2. Watter soort gewer het God volgens Paulus lief?

2 Knegte van God en Christus moet derhalwe blymoedige gewers wees. Die apostel Paulus het dit aangemoedig in sy tweede brief aan Christene in Korinthe, wat omstreeks 55 G.J. geskryf is. Paulus het blykbaar na vrywillige en privaat geldelike bydraes verwys wat spesiaal gegee is om behoeftige Christene in Jerusalem en Judea te help, en gesê: “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief” (2 Korinthiërs 9:7, NAV; Romeine 15:26; 1 Korinthiërs 16:1, 2; Galasiërs 2:10). Hoe het God se volk gereageer op geleenthede om te gee? En wat kan ons uit Paulus se raad oor gee leer?

Aangespoor deur gewillige harte

3. In watter mate het die Israeliete die konstruksie van die tabernakel vir Jehovah se aanbidding ondersteun?

3 Gewillige harte spoor God se volk aan om hulleself in te span en van hulle geldmiddele te gee ter ondersteuning van die goddelike voorneme. Die Israeliete van Moses se dag het byvoorbeeld die konstruksie van die tabernakel vir Jehovah se aanbidding met vreugde ondersteun. Die harte van party vroue het hulle beweeg om bokhaar te spin, terwyl sekere mans as ambagsmanne gedien het. Die volk het blymoedig goud, silwer, hout, linne en ander dinge gegee as ’n vrywillige “offergawe aan die HERE” (Exodus 35:4-35). Hulle was so vrygewig dat die boustof wat bygedra is “vir hulle genoeg [was] om die hele werk tot stand te bring; ja, daar het oorgebly”.—Exodus 36:4-7.

4. Met watter gesindheid het Dawid en ander bygedra tot die tempel?

4 Eeue later het koning Dawid oorvloedig bygedra tot die tempel van Jehovah wat deur sy seun Salomo gebou sou word. Aangesien Dawid ‘behae gehad het in die huis van God’ het hy sy “spesiale eiendom” in goud en silwer gegee. Vorste, owerstes en ander ‘het hulle hande gevul vir ’n offer aan Jehovah’. Wat was die resultaat? Wel, “die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met ’n volkome hart het hulle vrywillig aan die HERE gegee”! (1 Kronieke 29:3-9, vgl. NW). Hulle was blymoedige gewers.

5. Hoe het die Israeliete deur die eeue heen ware aanbidding ondersteun?

5 Deur die eeue heen was die Israeliete bevoorreg om die tabernakel, die latere tempels en die priesterlike en Levitiese dienste aldaar te ondersteun. In Nehemia se dag het die Jode hulle byvoorbeeld voorgeneem om bydraes te gee om suiwer aanbidding te bewaar, omdat hulle daarvan bewus was dat hulle nie God se huis moes verwaarloos nie (Nehemia 10:32-39). Jehovah se Getuies gee vandag eweneens blymoedig vrywillige bydraes om vergaderplekke te bou en in stand te hou en om ware aanbidding te ondersteun.

6. Gee voorbeelde van blymoedige Christengewers.

6 Vroeë Christene was blymoedige gewers. Gaius het byvoorbeeld “’n getroue werk” gedoen deur gasvry te wees teenoor diegene wat in die belang van die Koninkryk gereis het, net soos Jehovah se Getuies gasvryheid betoon aan reisende opsieners wat nou deur die Wagtoring-, Bybel- en Traktaatgenootskap uitgestuur word (3 Johannes 5-8, NW). Dit kos iets om hierdie broers na gemeentes te laat reis en om gasvryheid aan hulle te betoon, maar hoe heilsaam is dit tog geestelik!—Romeine 1:11, 12.

7. Hoe het die Filippense hulle materiële middele gebruik?

7 Gemeentes as geheel het hulle materiële middele gebruik om Koninkryksbelange te bevorder. Paulus het byvoorbeeld vir gelowiges in Filippi gesê: “Ook in Thessalonika het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur. Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening” (Filippense 4:15-17). Die Filippense het met blymoedigheid gegee, maar watter faktore spoor mense aan om sulke blymoedige gewers te wees?

Wat spoor mense aan om blymoedige gewers te wees?

8. Hoe sal jy bewys dat God se gees sy volk beweeg om blymoedige gewers te wees?

8 Jehovah se heilige gees, of werkende krag, beweeg sy volk om blymoedige gewers te wees. Toe Christene in Juda behoeftig was, het God se gees ander gelowiges beweeg om hulle materieel te help. Om Christene in Korinthe aan te moedig om hulle bes te doen om sulke bydraes te gee, het Paulus die voorbeeld van die gemeentes in Macedonië aangehaal. Hoewel gelowiges in Macedonië vervolging en armoede ondervind het, het hulle broederlike liefde betoon deur bo hulle vermoë te gee. Hulle het selfs gesmeek om die voorreg om te gee! (2 Korinthiërs 8:1-5). God se saak is nie geheel en al afhanklik van die bydraes van die rykes nie (Jakobus 2:5). Sy toegewyde knegte wat materieel arm is, is die vernaamste ondersteuners in die finansiering van die Koninkrykspredikingswerk (Mattheüs 24:14). Maar hulle ly nie gebrek vanweë hulle vrygewigheid nie, want God voorsien getrou in die behoeftes van sy volk in hierdie werk, en die krag agter die voortsetting en uitbreiding daarvan is sy gees.

9. Watter verband is daar tussen geloof, kennis, liefde en ’n blymoedige gewer?

9 Geloof, kennis en liefde spoor Christene aan om blymoedig te gee. Paulus het gesê: “Maar soos julle [Korinthiërs] in alles oorvloedig is—in geloof en woord en kennis en alle ywer en in julle liefde vir ons—sorg dat julle ook in hierdie liefdedaad oorvloedig is. Ek sê dit nie as ’n bevel nie, maar om deur die ywer van ander ook die egtheid van julle liefde op die proef te stel” (2 Korinthiërs 8:7, 8). Om tot Jehovah se saak by te dra, veral wanneer die gewer se vermoë beperk is, verg geloof in God se toekomstige voorsienings. Christene wat oorvloedige kennis het, wil Jehovah se wil doen, en diegene wat in liefde vir hom en sy volk oorvloedig is, gebruik hulle geldmiddele blymoedig om sy saak te bevorder.

10. Waarom kan daar gesê word dat Jesus se voorbeeld Christene beweeg om blymoedig te gee?

10 Jesus se voorbeeld beweeg Christene om blymoedig te gee. Nadat Paulus die Korinthiërs aangespoor het om uit liefde te gee, het hy gesê: “Julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word” (2 Korinthiërs 8:9). Jesus, wat in die hemel ryker as enige ander seun van God was, het homself van al hierdie dinge ontledig en die lewe van ’n mens aangeneem (Filippense 2:5-8). Deur op hierdie onselfsugtige manier arm te word, het Jesus tot die heiliging van Jehovah se naam bygedra en sy lewe as ’n losprys afgelê tot die voordeel van mense wat dit sou aanneem. Behoort ons nie, in ooreenstemming met Jesus se voorbeeld, blymoedig te gee om ander te help en tot die heiliging van Jehovah se naam by te dra nie?

11, 12. Hoe kan goeie beplanning blymoedige gewers van ons maak?

11 Goeie beplanning maak dit vir ons moontlik om blymoedige gewers te wees. Paulus het aan die Korinthiërs gesê: “Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie” (1 Korinthiërs 16:1, 2). Dit sal goed wees as diegene wat graag bydraes wil gee om die hedendaagse Koninkrykswerk te bevorder op soortgelyke wyse privaat en vrywillig van hulle verdienste vir daardie doel opsy sit. As gevolg van sulke goeie beplanning kan individuele Getuies, gesinne en gemeentes bydraes gee om ware aanbidding te bevorder.

12 Dit sal ons blymoedig maak as ons bydra soos ons beplan het. Soos Jesus gesê het: “Dit is gelukkiger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35, NW). Die Korinthiërs kon dus hulle vreugde vermeerder deur Paulus se raad te volg en hulle jaarlange plan om geld na Jerusalem te stuur uit te voer. ‘Dit is welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie’, het hy gesê. Wanneer iemand bydraes gee volgens wat hy het, moet dit hoog op prys gestel word. As ons op God vertrou, kan hy dinge gelykmaak sodat diegene wat baie het vrygewig is, nie spandabel nie, en sodat diegene wat min het nie gebrek ly wat hulle krag en vermoë om hom te dien, laat afneem nie.—2 Korinthiërs 8:10-15.

Noukeurige beheer oor bydraes

13. Waarom kon die Korinthiërs vertroue hê in Paulus se toesig oor bydraes?

13 Hoewel Paulus toesig gehou het oor die reëling vir bydraes sodat behoeftige gelowiges materieel verligting kon kry en meer krag kon hê om aan die predikingswerk deel te neem, het nóg hy nóg ander van die geld vir hulle dienste geneem (2 Korinthiërs 8:16-24; 12:17, 18). Paulus het gewerk om in sy eie materiële behoeftes te voorsien pleks van finansiële laste op enige gemeente te plaas (1 Korinthiërs 4:12; 2 Thessalonicense 3:8). Die Korinthiërs het derhalwe hulle bydraes aan ’n betroubare, hardwerkende kneg van God toevertrou toe hulle dit aan hom oorhandig het.

14. Watter rekord het die Wagtoringgenootskap wat die gebruik van bydraes betref?

14 Sedert die stigting van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap in 1884 het bydraers bewys gesien dat die Genootskap ’n betroubare bestuurder is van alle bydraes wat ten behoewe van Jehovah se Koninkrykswerk aan hom toevertrou word. Volgens sy stigtingsakte streef die Genootskap daarna om in alle mense se grootste behoefte, naamlik die behoefte aan geestelike dinge, te voorsien. Dit word gedoen in die vorm van Bybellektuur en -onderrigting oor hoe om redding te verkry. Jehovah bespoedig vandag die insameling van skaapgeaarde mense in sy groter wordende organisasie, en sy seën op die verstandige gebruik van bydraes in die Koninkrykspredikingswerk is duidelike bewys van goddelike goedkeuring (Jesaja 60:8, 22, NW). Ons is vol vertroue dat hy sal aanhou om die harte van blymoedige gewers oop te maak.

15. Waarom meld hierdie tydskrif van tyd tot tyd bydraes?

15 Die Genootskap gebruik nou en dan artikels in hierdie tydskrif om lesers bewus te maak van hulle voorreg om vrywillige bydraes te gee vir die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk. Dit is nie om te bedel nie, maar dit is ’n herinnering aan almal wat graag “die heilige werk van die goeie nuus” wil ondersteun terwyl God hulle seën (Romeine 15:16, NW; 3 Johannes 2). Die Genootskap gebruik al die geld wat geskenk word op die ekonomiesste manier moontlik sodat Jehovah se naam en Koninkryk bekend gemaak kan word. Alle bydraes word met dank ontvang, erken en gebruik om die goeie nuus van God se Koninkryk te versprei. Deur middel van hierdie bydraes word sendingbedrywighede byvoorbeeld in talle lande ondersteun, en drukfasiliteite wat noodsaaklik is vir die verspreiding van Bybelkennis word in stand gehou en uitgebrei. Daarbenewens word bydraes tot die wêreldwye werk gebruik om die stygende koste van die publisering van Bybels en Bybelse publikasies, asook audio- en videobande, te dek. Op hierdie maniere word Koninkryksbelange deur blymoedige gewers bevorder.

Nie uit dwang nie

16. Waarom word die bydraes van Jehovah se Getuies waardeer, hoewel min van hulle materieel ryk is?

16 Min Getuies van Jehovah is materieel ryk. Hoewel hulle dus beskeie bedrae gee om Koninkryksbelange te bevorder, is hulle bydraes nogtans belangrik. Toe Jesus gesien het hoe ’n arm weduwee twee geldstukkies in ’n tempelskatkis gooi, het hy gesê: “Hierdie arm weduwee [het] meer as almal ingegooi . . . Want hulle almal [die ander bydraers] het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe” (Lukas 21:1-4). Hoewel haar gawe klein was, was sy ’n blymoedige gewer—en haar bydrae is waardeer.

17, 18. Wat is die kern van Paulus se woorde in 2 Korinthiërs 9:7, en wat dui die Griekse woord wat met ‘blymoedig’ vertaal word aan?

17 Paulus het aangaande die hulp aan Judese Christene gesê: “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief” (2 Korinthiërs 9:7, NAV). Die apostel het moontlik gesinspeel op ’n gedeelte van Spreuke 22:8 in die Septuagintvertaling, wat sê: “God seën ’n blymoedige gewer; en sal voorsien waar sy werke te kort skiet” (The Septuagint Bible, Engelse vertaling deur Charles Thomson). Paulus het “seën” met ‘liefhê’ vervang, maar daar is ’n verband, want God se liefde bring ’n oorvloed van seëninge mee.

18 Die blymoedige gewer is waarlik gelukkig om te gee. Die Engelse woord “hilarious” (uitbundige vrolikheid) kom van die Griekse woord wat in 2 Korinthiërs 9:7 met ‘blymoedig’ vertaal word! Toe geleerde R. C. H. Lenski die aandag hierop gevestig het, het hy gesê: “God het die opgewekte, vreugdevolle, gelukkige gewer lief . . . [wie se] geloof geklee is in ’n breë glimlag wanneer nog ’n geleentheid om te gee vir hom opduik.” Iemand met so ’n vreugdevolle gesindheid gee nie met teensin of uit dwang nie, maar hy gee van harte. Is jy so blymoedig by die gedagte om te gee ter ondersteuning van Koninkryksbelange?

19. Hoe het vroeë Christene bygedra?

19 Vroeë Christene het nie kollekteborde rondgestuur of tiendeheffing beoefen deur ’n tiende van hulle inkomste vir godsdiensdoeleindes te skenk nie. Inteendeel, hulle bydraes was geheel en al vrywillig. Tertullianus, wat omstreeks 190 G.J. tot die Christelike godsdiens bekeer is, het geskryf: “Hoewel ons ons skatkis het, bestaan dit nie uit losgeld nie, asof dit ’n godsdiens is waarvoor jy moet betaal nie. Elkeen kan op die maandelikse dag [blykbaar een keer per maand] ’n klein bydrae insit as hy wil; maar net as hy dit graag wil doen, en net as hy dit kan doen; want daar is geen verpligting nie; alles is vrywillig.”—Apologie, hoofstuk XXXIX.

20, 21. (a) Wat het ’n vroeë nommer van hierdie tydskrif gesê aangaande die voorreg om God se saak finansieel te ondersteun, en hoe is dit selfs nou van toepassing? (b) Wat gebeur wanneer ons Jehovah met ons waardevolle dinge eer?

20 Om vrywillig te gee, was nog altyd ’n gebruik onder Jehovah se hedendaagse knegte. Maar soms het party nie hulle voorreg ten volle benut om God se saak te ondersteun deur bydraes te gee nie. In Februarie 1883 het hierdie tydskrif byvoorbeeld gesê: “Sommige dra so ’n groot geldelike las ter wille van ander, dat hulle krag om finansiële hulp te gee afneem weens te veel werk en uitputting, en hulle nuttigheid word dus benadeel; en dit is nie al nie, maar diegene wat . . . die situasie nie ten volle begryp nie, is verloorders omdat hulle nie bydra nie.”

21 Noudat die groot menigte in Jehovah se organisasie instroom en God se werk uitbrei in Oos-Europa en ander lande waar daar voorheen beperkings was, is daar ’n groter behoefte aan die uitbreiding van drukkerye en ander fasiliteite. Meer Bybels en ander publikasies moet gedruk word. Talle teokratiese projekte is aan die gang; maar sommige sou vinniger afgehandel kon word as daar genoeg geld was. Ons het natuurlik geloof dat God die nodige dinge sal voorsien, en ons weet dat diegene wat ‘Jehovah met hulle waardevolle dinge eer’, geseën sal word (Spreuke 3:9, 10, vgl. NW). “Wie volop saai, sal” beslis “ook volop maai.” Jehovah sal ‘ons in alle milddadigheid laat ryk word’, en ons blymoedige bydraes sal baie aanspoor om hom te dank en te loof.—2 Korinthiërs 9:6-14.

Betoon jou dankbaarheid vir God se gawes

22, 23. (a) Wat is God se onbeskryflike vrye gawe? (b) Wat moet ons uit waardering vir Jehovah se gawes doen?

22 Paulus is self deur innige dankbaarheid beweeg en het gesê: “God sy dank vir sy onbeskryflike vrye gawe” (2 Korinthiërs 9:15, NW). Jesus is as “soenoffer” vir die sondes van gesalfde Christene en vir dié van die wêreld die grondslag en kanaal vir Jehovah se onbeskryflike vrye gawe (1 Johannes 2:1, 2). Daardie gawe is “die allesoortreffende onverdiende goedhartigheid van God” wat hy deur Jesus Christus teenoor sy volk op die aarde geopenbaar het, en dit is oorvloedig tot hulle redding en tot Jehovah se heerlikheid en regverdiging.—2 Korinthiërs 9:14, NW.

23 Ons is Jehovah innig dankbaar vir sy onbeskryflike vrye gawe en talle ander geestelike en materiële gawes aan sy volk. Ons hemelse Vader se goedheid teenoor ons is so wonderlik dat ’n mens nie woorde daarvoor het nie! En dit behoort ons beslis aan te spoor om blymoedige gewers te wees. Laat ons dan met hartgrondige waardering alles moontlik doen om die saak van ons vrygewige God, Jehovah, die allereerste blymoedige Gewer, te bevorder!

Onthou jy?

◻ Gewillige harte het Jehovah se volk beweeg om wat te doen?

◻ Wat spoor mense aan om blymoedig te gee?

◻ Hoe gebruik die Wagtoringgenootskap alle bydraes wat ontvang word?

◻ Watter soort gewer het God lief, en hoe moet ons ons dankbaarheid vir Sy talle gawes toon?

[Prente op bladsy 15]

Toe die tabernakel gebou is, het die Israeliete hard gewerk en oorvloedige bydraes vir Jehovah gegee

[Prent op bladsy 18]

Bydraes soos dié van die arm weduwee word waardeer en is belangrik

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel