Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w94 1/1 bl. 20-25
  • Die Wagtoring en die Ontwaak!—tydige tydskrifte van waarheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Wagtoring en die Ontwaak!—tydige tydskrifte van waarheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tydskrifte wat die waarheid verkondig
  • Tydige artikels wat ’n invloed op mense se lewe het
  • Laat hulle by ander mense!
  • Gebruik tydskrifte in jou bediening
    Ons Koninkryksbediening—2005
  • Bied die goeie nuus aan—Met tydskrifte
    Ons Koninkryksbediening—1990
  • Tydskrifte kondig die Koninkryk aan
    Ons Koninkryksbediening—1998
  • Lees jy die tydskrifte?
    Ons Koninkryksbediening—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
w94 1/1 bl. 20-25

Die Wagtoring en die Ontwaak!—tydige tydskrifte van waarheid

“U het my verlos, o Jehovah, die God van waarheid.”—PSALM 31:5, NW.

1, 2. (a) Hoe het ’n suster gevoel oor iets wat sy in Die Wagtoring gelees het? (b) Watter vrae word oor ons tydskrifte gestel?

“BAIE DANKIE”, het ’n Christensuster geskryf, “vir die wonderlike inligting in Die Wagtoring se artikel ‘Jy kan vertroosting vind in tye van benoudheid’.a Soveel van die gedagtes wat julle bespreek het, was ’n presiese beskrywing van die gevoelens wat ek moes verwerk; dit is asof hierdie artikel spesifiek vir my geskryf is. Toe ek dit die eerste keer gelees het, was daar trane in my oë. Dit is so wonderlik om te besef dat iemand anders weet hoe ek voel! Ek is baie dankbaar om een van Jehovah se Getuies te wees. Waar anders kan ons beloftes van die ewige lewe in die Paradys in die nabye toekoms en nóú vertroosting vir ons siel vind! Dankie. Duisend maal dankie.”

2 Het jy al ooit so gevoel? Het jy al ooit gedink dat iets in Die Wagtoring of sy medetydskrif die Ontwaak! spesiaal vir jou geskryf is? Wat is dit omtrent ons tydskrifte wat mense se harte roer? Hoe kan ons ander help om by die lewensreddende boodskap daarin baat te vind?—1 Timotheüs 4:16.

Tydskrifte wat die waarheid verkondig

3. Om watter goeie rede het Die Wagtoring en die Ontwaak! so baie lesers se harte geraak?

3 Jehovah is “die God van waarheid” (Psalm 31:5, NW). Sy Woord, die Bybel, is ’n boek van waarheid (Johannes 17:17). Opregtes van hart reageer gunstig op die waarheid. (Vergelyk Johannes 4:23, 24.) Een rede waarom Die Wagtoring en die Ontwaak! so ’n diep indruk op miljoene lesers maak, is dat dit tydskrifte van integriteit en waarheid is. Trouens, dit was as gevolg van die kwessie van lojaliteit teenoor Bybelwaarheid dat daar begin is om Die Wagtoring uit te gee.

4, 5. (a) Watter omstandighede het daartoe gelei dat C. T. Russell die Watch Tower begin uitgee het? (b) Hoe gebruik “die getroue en verstandige dienskneg” Die Wagtoring?

4 In 1876 het Charles T. Russell by Nelson H. Barbour van Rochester, New York, aangesluit. Broer Russell het die geld voorsien sodat mnr. Barbour se godsdienstydskrif Herald of the Morning weer gedruk kon word, met mnr. Barbour as die hoofredakteur en broer Russell as die assistentredakteur. Ongeveer een en ’n half jaar later het mnr. Barbour egter ’n artikel in die Herald se nommer vir Augustus 1878 geskryf wat die verlossingswaarde van Christus se dood ontken het. Broer Russell, wat byna 30 jaar jonger as mnr. Barbour was, het met ’n artikel in die volgende nommer daarop gereageer waarin hy die losprys verdedig en dit “een van die belangrikste leringe van God se Woord” genoem het (Mattheüs 20:28). Nadat hy herhaaldelik probeer het om uit die Skrif met mnr. Barbour te redeneer, het broer Russell finaal besluit om alle bande met die Herald te verbreek. Van die nommer vir Junie 1879 af het broer Russell se naam nie meer as ’n assistentredakteur in daardie tydskrif verskyn nie. ’n Maand later het die 27-jarige broer Russell die Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence (wat nou as Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan bekend staan) begin uitgee wat van die begin af skriftuurlike waarhede, soos die losprys, voorgestaan het.

5 Die Wagtoring het die afgelope 114 jaar bewys dat dit, soos ’n bekwame regsgeleerde, ’n verdediger van Bybelwaarheid en -leerstellings is. Mettertyd het dit die vertroue van miljoene waarderende lesers gewen. Dit is steeds ’n kragtige voorstander van die losprys. (Sien byvoorbeeld die nommer van 15 Februarie 1991.) En dit is steeds “die getroue en verstandige dienskneg” en sy Bestuursliggaam se vernaamste instrument om Jehovah se opgerigte Koninkryk aan te kondig en geestelike voedsel “op tyd” te voorsien.—Mattheüs 24:14, 45.

6, 7. Wat was The Golden Age se doel, en wat toon dat denkende mense op sy boodskap gereageer het?

6 Dan is daar die Ontwaak! Die Ontwaak! het ook van die begin af die waarheid verkondig. Dit is oorspronklik The Golden Age genoem en was vir verspreiding onder die publiek bedoel. Sy eerste nommer, die nommer van 1 Oktober 1919, het oor sy doel gesê: “Die doel daarvan is om die ware betekenis van die groot verskynsels van vandag in die lig van Goddelike wysheid te verduidelik en om aan denkende mense deur onweerlegbare en oortuigende bewyse te toon dat die tyd nou op hande is wanneer die mensdom groter seëninge gaan geniet.” Denkende mense het gunstig op The Golden Age se boodskap gereageer. Dit het selfs ’n paar jaar lank ’n groter verspreiding as Die Wagtoring geniet.b

7 Die trefkrag van Die Wagtoring en die Ontwaak! strek egter verder as die feit dat hulle leerstellige waarhede verkondig en die profetiese belangrikheid van wêreldtoestande verduidelik. Ons tydskrifte het mense se harte veral die afgelope dekade of twee om ’n ander rede ook geroer.

Tydige artikels wat ’n invloed op mense se lewe het

8. By watter situasie het Judas hom aangepas, en watter invloede in die gemeente het hy sy lesers aangespoor om te weerstaan?

8 Ongeveer 30 jaar ná Jesus Christus se dood en opstanding het die Bybelskrywer Judas voor ’n uitdaging te staan gekom. Onsedelike, dierlike mense het onder die Christene ingesluip. Judas wou oorspronklik aan mede-Christene oor ’n leerstellige onderwerp skryf—die redding wat gesalfde Christene in gemeen het. Maar die heilige gees het hom gerig om sy lesers eerder aan te spoor om die verderflike invloede in die gemeente te weerstaan (Judas 3, 4, 19-23). Judas het hom by die situasie aangepas en tydige raad gegee wat in die behoeftes van sy Christenbroers voorsien het.

9. Wat is daarby betrokke om tydige artikels vir ons tydskrifte te voorsien?

9 Dit is eweneens ’n groot uitdaging om tydige artikels vir ons tydskrifte voor te berei. Tye verander en mense ook—hulle behoeftes en die dinge waarin hulle belangstel, is nie dieselfde as selfs ’n dekade of twee gelede nie. ’n Reisende opsiener het onlangs opgemerk: “Toe ek in die vyftigerjare ’n Getuie geword het, het ons hoofsaaklik leerstellings tydens ons Bybelstudies met mense bespreek—ons het hulle die waarheid oor die Drie-eenheid, die helse vuur, die siel, ensovoorts geleer. Maar dit lyk of mense nou soveel probleme en moeilikhede in hulle lewe ervaar dat ons hulle moet leer hoe om te lewe.” Waarom is dit so?

10. Waarom moet dit ons nie verbaas dat daar sedert 1914 ’n voortdurende agteruitgang in menseaangeleenthede is nie?

10 Die Bybel het oor “die laaste dae” voorspel: “Goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word” (2 Timotheüs 3:1, 13). Dit moet ons dus nie verbaas dat daar sedert die tyd van die einde in 1914 begin het ’n voortdurende agteruitgang in menseaangeleenthede is nie. Satan, wie se oorblywende tyd nog nooit só kort was nie, koel sy woede op ’n ongekende skaal op die mensegemeenskap (Openbaring 12:9, 12). Sedes en gesinswaardes is gevolglik hoegenaamd nie wat dit skaars 30 of 40 jaar gelede was nie. Mense is oor die algemeen nie so godsdienstig as in vorige dekades nie. Misdaad is so algemeen dat mense maatreëls neem wat net 20 of 30 jaar gelede iets ongekends was.—Mattheüs 24:12.

11. (a) Oor watter dinge bekommer mense hulle, en hoe het die “getroue en verstandige dienskneg”-klas in hierdie behoeftes voorsien? (b) Gee ’n voorbeeld van ’n Wagtoring- of Ontwaak!-artikel wat ’n invloed op jou lewe gehad het.

11 Dit is dus geen wonder dat baie mense hulle oor emosionele, maatskaplike en gesinsvraagstukke bekommer nie. Die “getroue en verstandige dienskneg”-klas het moedig in Die Wagtoring en die Ontwaak! daarop gereageer deur tydige artikels te publiseer wat in die werklike behoeftes van mense voorsien en waarlik ’n invloed op hulle lewe het. Beskou ’n paar voorbeelde.

12. (a) Waarom is artikels oor eenouergesinne in 1980 vir Die Wagtoring voorberei? (b) Hoe het een suster haar waardering vir die artikels oor eenouergesinne uitgespreek?

12 Gesinsvraagstukke. Toe daar wêreldwyd berig is dat die aantal eenouergesinne vinnig toeneem, is nuwe artikels oor die onderwerp “Hoe gesinne met net een ouer probleme die hoof kan bied” voorberei vir Die Wagtoring van 1 Desember 1980. Die artikels het ’n tweeledige doel gehad: (1) om enkelouers te help om hulle unieke probleme die hoof te bied en (2) om ander te help om die situasie beter te verstaan sodat hulle ‘medelye’ kan toon en opreg na eenouergesinne kan ‘omsien’ (1 Petrus 3:8; Jakobus 1:27, NW). Baie lesers het geskryf om hulle waardering vir die artikels uit te spreek. “Die buiteblad het werklik trane in my oë laat opwel”, het ’n enkelouer geskryf, “en toe ek die tydskrif oopgemaak en gelees het, was my hart vol waardering teenoor Jehovah wat hierdie inligting op die regte tyd voorsien het.”

13. Watter diepgaande bespreking oor depressie het in 1982 in die Ontwaak! verskyn, en wat het een leser daaroor gesê?

13 Emosionele vraagstukke. Depressie is sedert die sestigerjare in Die Wagtoring en die Ontwaak! bespreek (1 Thessalonicense 5:14). Maar die onderwerp is in die voorbladartikels “Jy kan teen neerslagtigheid stry!” in die Ontwaak! van 8 Januarie 1982 op ’n nuwe en positiewe wyse benader. Briewe van waardering aan die Wagtoringgenootskap het gou uit alle wêrelddele begin instroom. “Hoe kan ek die gevoelens in my hart op papier uitdruk?” het een suster geskryf. “Ek is 24 jaar oud, en die afgelope tien jaar het ek baie tye van neerslagtigheid deurgemaak. Maar nou voel ek nader aan Jehovah en is ek dankbaar dat hy met hierdie liefdevolle artikels in die behoeftes van neerslagtige mense voorsien het, en ek wou dit graag vir julle sê.”

14, 15. (a) Hoe het ons tydskrifte die onderwerp van kindermolestering behandel? (b) Watter tydskrifartikels het ’n jokkie in Australië beïndruk?

14 Maatskaplike vraagstukke. Die Bybel het voorspel dat mense in ‘die laaste dae liefhebbers van hulleself sal wees, . . . sonder natuurlike liefde, . . . bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie’ (2 Timotheüs 3:1-3). Dit behoort ons dus nie te verbaas dat kindermolestering vandag iets algemeens is nie. Hierdie onderwerp is openhartig bespreek in die artikel “Hulp vir die slagoffers van bloedskande” in Die Wagtoring van 15 Desember 1983. Agt jaar later is die voorbladartikels “Hoe die letsels van kindermolestering genees kan word” in die Ontwaak! van 8 Oktober 1991 sorgvuldig voorberei om vir slagoffers te toon dat daar begrip vir hulle probleem is en dat daar vir hulle hoop is, asook om ander in te lig sodat hulle praktiese hulp kan aanbied. Hierdie reeks artikels het die grootste lesersreaksie tot nog toe in die geskiedenis van ons tydskrifte uitgelok. Een leser het geskryf: “Die vertroostende gedagtes en skriftuurlike verwysings in hierdie artikels het grootliks tot my herstel bygedra. Die wete dat Jehovah nie minder van my dink nie, was ’n baie groot verligting. Die wete dat ek nie op myself aangewese is nie, was net so vertroostend.”

15 ’n Jokkie in Melbourne, Australië, het ’n hooflynoproep na die Wagtoringgenootskap se kantoor in Sydney gemaak en sy ontevredenheid oor die perdewedrenmilieu uitgespreek. Hy het gesê dat hy so pas die Ontwaak! van 8 Maart 1993 oor “Verkragting—’n vrou se grootste vrees” gelees het en skaars kon glo dat daar so ’n nuttige tydskrif is. Hy het sowat 30 minute lank vrae gevra en was verheug oor die antwoorde.

16. Hoe kan jy jou waardering vir ons tydskrifte toon?

16 Wat van jou? Het ’n spesifieke artikel in Die Wagtoring of die Ontwaak! al ’n invloed op jou lewe gehad? As dit die geval is, ervaar jy ongetwyfeld ’n diep gevoel van waardering vir ons tydskrifte. Hoe kan jy jou waardering toon? Beslis deur elke nommer self te lees. Jy kan ook ’n aandeel daaraan hê om hierdie kosbare tydskrifte by soveel mense moontlik te laat. Hoe kan dit gedoen word?

Laat hulle by ander mense!

17. Wat kan gemeentes doen om tydskrifverspreiding te verbeter?

17 Vir eers is daar iets wat alle gemeentes kan doen. Die Voorligter (nou Ons Koninkryksbediening) het in sy nommer vir Oktober 1952 gesê: “Die doeltreffendste manier om tydskrifte te versprei, is van huis tot huis en van winkel tot winkel. Daarom beveel die Genootskap aan dat hierdie vorme van tydskrifverspreiding gereeld deel van die Tydskrifdagbedrywigheid uitmaak.” Daardie raad geld vandag nog. Gemeentes het moontlik ’n gereelde Tydskrifdag, ’n dag wat hoofsaaklik vir tydskrifgetuieniswerk opsygesit word. Spesifieke Saterdae sal ongetwyfeld vir die meeste gemeentes ’n geskikte tyd wees. Ja, elke gemeente kan gerus spesiale dae of aande vir tydskrifgetuieniswerk—van huis tot huis, van winkel tot winkel, op straat en vir tydskrifroetes—opsysit. Wat kan jy, die Koninkryksverkondiger, nog doen om die verspreiding van tydskrifte te help verbeter?

18, 19. (a) Hoe kan dit jou help om tydskrifte te versprei as jy Wagtoring- en Ontwaak!-bewus is? (b) Wat is die voordeel van ’n kort, saaklike aanbieding wanneer jy tydskrifte aanbied? (c) Wat toon die waarde daarvan om die tydskrifte in mense se huise te kry?

18 Wees “Wagtoring”- en “Ontwaak!”-bewus is die eerste stap. Lees die tydskrifte voor die tyd. Vra jou af terwyl jy elke artikel lees: ‘Wie sal in hierdie artikel belangstel?’ Dink aan ’n paar woorde wat jy kan sê om belangstelling in die artikel te wek. Hoewel jy die gereelde Tydskrifdag ondersteun, kan jy gerus ook tydskrifte by jou dra sodat jy elke geleentheid kan benut om hulle by ander mense te laat—wanneer jy op reis is of inkopies doen en wanneer jy met medewerkers, bure, skoolmaats of onderwysers gesels.

19 Hou dit eenvoudig is ’n tweede wenk. Die Wagtoring van 15 Februarie 1957 het gesê: “’n Kort, saaklike aanbieding [is] die beste . . . wanneer tydskrifte aangebied word. Die doel is om baie eksemplare te versprei. Hulle sal self ‘praat’.” Party verkondigers het gevind dat dit goed werk om een gedagte in ’n artikel te kies, dit in ’n paar woorde te verduidelik en die tydskrifte aan te bied. Wanneer die tydskrifte eers in die huis is, kan hulle met ander “praat” benewens die persoon wat hulle by jou geneem het. In Ierland het ’n jong universiteitstudent Die Wagtoring se nommer van 1 September 1991 gelees wat haar pa by ’n Getuie geneem het. Die artikels oor kommunikasie en ander onderwerpe het haar belangstelling gewek. Nadat sy die tydskrif gelees het, het sy die Getuies dadelik by die nommer in die telefoongids geskakel. ’n Bybelstudie is spoedig begin en die jong vrou is in Julie 1993 by die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkoms gedoop. Ons moet beslis probeer om die tydskrifte in mense se huise te kry waar hulle met die mense kan “praat”! ’n Reisende opsiener het nog ’n eenvoudige wenk gegee: “Haal die tydskrifte uit jou boeketas.” As dít wat jy sê nie die huisbewoner se belangstelling wek nie, kan die aantreklike buitebladillustrasies dit dalk vir jou doen.

20, 21. (a) Hoe kan jy aanpasbaar wees wanneer jy tydskrifwerk doen? (b) Wat kan jy doen om elke maand meer tydskrifte te versprei?

20 ’n Derde wenk is om aanpasbaar te wees. (Vergelyk 1 Korinthiërs 9:19-23.) Berei ’n paar kort aanbiedings voor. Hou een artikel wat by mans en een wat by vroue ingang sal vind in gedagte. Vir jongmense kan jy moontlik ’n “Jongmense vra . . .”-artikel gebruik. Wees ook aanpasbaar wanneer jy aan die tydskrifwerk deelneem. Jy sal dalk vind dat die aandgetuieniswerk benewens die Tydskrifdag ook ’n uitstekende geleentheid bied om tydskrifte van huis tot huis aan te bied.

21 ’n Vierde wenk is dat jy ’n persoonlike doelwit moet stel. Die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Mei 1984, “Tydskrifte wys die weg na die lewe”, het gesê: “Verkondigers kan na gelang van hulle omstandighede byvoorbeeld ’n doel van 10 tydskrifte per maand stel; pioniers kan 90 probeer haal. Party verkondigers kan natuurlik meer tydskrifte in ’n maand versprei en sal dus ’n hoër persoonlike doelwit stel. Maar weens swak gesondheid, die gebied of ander goeie redes sal ander se doelwitte laer wees. Hulle diens aan Jehovah is egter net so aanneemlik (Matt. 13:23; Luk. 21:3, 4). Die belangrike ding is dat jy ’n persoonlike doelwit stel.”

22. Hoe kan ons toon dat ons dankbaar teenoor Jehovah is vir ons tydige tydskrifte van waarheid?

22 Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah, “die God van waarheid”, die “getroue en verstandige dienskneg”-klas en sy Bestuursliggaam gebruik om ons van hierdie tydige tydskrifte te voorsien! (Psalm 31:5, NW). Solank dit Jehovah se wil is, sal hierdie tydskrifte aanhou om in die werklike behoeftes van mense te voorsien. Hulle sal aanhou om Jehovah se hoë sedelike standaarde voor te staan. Hulle sal nie ophou om regte leerstellings te bevorder nie. En hulle sal aanhou om die aandag te vestig op die vervulling van profesieë wat ons dae kenmerk as die tyd wanneer God se Koninkryk regeer en wanneer ’n toenemende aantal van Jehovah se ware aanbidders God se wil op ongekende skaal op die aarde doen (Mattheüs 6:10; Openbaring 11:15). Wat ’n kosbare skat is Die Wagtoring en die Ontwaak! tog nie. Laat ons elke geleentheid benut om hierdie belangrike tydskrifte wat ’n invloed op mense se lewe het en wat Koninkrykswaarhede voorstaan by sagmoediges te laat.

[Voetnote]

a 15 Julie 1992, bladsye 19-22.

b Die Wagtoring is baie jare lank hoofsaaklik as ’n tydskrif vir gesalfde Christene beskou. Maar sedert 1935 is al hoe meer klem daarop gelê om die “groot menigte”, wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, aan te moedig om Die Wagtoring te kry en te lees (Openbaring 7:9). ’n Paar jaar later, in 1940, is Die Wagtoring op ’n gereelde grondslag vir mense op straat aangebied. Daarna het die verspreiding van die tydskrif vinnig toegeneem.

Wat is jou antwoord?

◻ Wat toon dat Die Wagtoring en die Ontwaak! tydskrifte van waarheid is?

◻ Hoe het Die Wagtoring en die Ontwaak! al ’n invloed op mense se lewe gehad?

◻ Wat kan gemeentes doen om tydskrifverspreiding te verbeter?

◻ Watter wenke kan jou help om meer tydskrifte te versprei?

[Venster op bladsy 22]

Party artikels wat ’n invloed op mense se lewe gehad het

Baie lesers het oor die jare heen geskryf om hulle waardering vir spesifieke artikels in Die Wagtoring en die Ontwaak! uit te spreek. Hieronder is net ’n paar van die baie onderwerpe wat ’n invloed op ons lesers gehad het. Het hierdie of ander artikels jou lewe verander?

Die Wagtoring

“Aanvaar God se hulp om verborge foute te bowe te kom” (15 April 1985)

“Beoefen godvrugtige toegewydheid teenoor bejaarde ouers” (1 Junie 1987)

“Opvoeding met ’n doel” (1 November 1992)

Ontwaak!

“Jy kan teen neerslagtigheid stry!” (8 Januarie 1982)

“Wanneer ’n geliefde sterf . . .” (22 Desember 1985)

“Beskerm jou kinders!” (8 Oktober 1993)

[Prent op bladsy 23]

In Kanada—tydskrifte word van huis tot huis aangebied

[Prent op bladsy 24]

In Myanma—die tydskrifte, wat die weg na die lewe wys, word aangebied

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel